Boeke

Spanningsverhale!

Hierdie week is daar ‘n boek op my leeslysie wat ‘n klomp samesweringsteorieë opdis. En om als te kroon word die storie nogal geloofwaardig vertel. Dan is daar ook ‘n hele paar ander spanningsverhale wat net sowel waar kon gewees het! Vreemd hoe vinnig ‘n mens geneig is om iets wat jy lees as die waarheid te aanvaar!

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke te bestel.

Die lang generaal, Alan D Elsdon (Umuzi, R200)
As jy mal is oor conspiracy theories is hierdie boek beslis een vir jou. Die boek, deur ‘n oud-polisieman, handel oor die lewe van SA se mees berugte en bekende hoof van die veiligheidspolisie, generaal Lang Hendrik van den Bergh. Sy pad word gevolg van sy begindae af, van sy indirekte betrokkenheid by die politieke gebeure en direkte betrokkenheid by baie van die rolspelers van die apartheidsgeskiedenis. Alles wat Elsdon skryf, word gegrond op feite, maar op die skutblad word weliswaar gesê die boek is fiksie. So, as jy ‘n skrikwekkende weergawe van die geskiedenis wil lees, lees gerus dié boek. Moord, doodslag, sameswerings, bedrieëry en komplotte is daar genoeg. Hoeveel werklik waar is, sal ‘n mens eers weet as daar werke gepubliseer word wat gegrond is op sterk, onafhanklike navorsing. Nogtans ‘n boek wat ek nie kon neersit nie – en wat my laat besef het dat politiek (of dit nou in ons land is of elders in die wêreld) maar ‘n vuil spel is en elke regering het sy agterkamer-konkelaars. – Phyllis Green

U is for Undertow

U is for undertow, Sue Grafton (Macmillan, R201)
Kinsey Malone is een van daardie vreemde speurders wat sake op eienaardige maniere ontrafel. En boonop is die sake wat sy ondersoek net so vreemd. In die verhaal kom ‘n man, Michael, na haar en vertel haar van iets wat 20 jaar terug gebeur het toe hy ‘n kind was en dat hy dink dit wat hy gesien het, hou verband met die onopgeloste raaisel van ‘n dogtertjie wat daardie tyd verdwyn het. Sy begin grawe aan sy storie, ten spyte daarvan dat sy eie familie hom as ‘n leuenaar uitmaak. So tel sy rafels uit die verlede van die hele gemeenskap op wat haar help om die legkaart te laat pas. Daar is Country Club-ouers wie se kinders hippies was en wat betrokke was by ongure gebeure en nog meer ongure karakters. Die ongure karakters het ontpop as vooraanstaandes in die gemeenskap vandag en wil nie graag hul duister verlede oopgevlek hê nie. Dis ‘n interessante verhaal wat ‘n klompie draaie loop voordat sy uiteindelik kan verklaar wat die uiteinde van Michael se verhaal is. Het hy die waarheid gepraat of nie? – P.G. * Besoek Sue Grafton om meer oor die hele reeks te lees.

A Carrion Death A Carrion Death, Michael Stanley (Headline , R204,95)
Assistent-inspekteur David “Kubu” Bengu van die Botswana Polisie moet die moord op ‘n onbekende man help oplos. Die lyk, erg vergaan, word in die woestyn gekry, leidrade is min en Kubu moet lang afstande in die woestynhitte aflê om sy werk te doen. Sy speurtog neem hom na die diamantmyne, hul grootbase, ryk erfgename , ‘n psigiater in Suid-Afrika en ‘n wêreld van korrupsie en smokkelary met die blink klippies. ‘n Verskeidenheid van karakters, wat vir afwisseling sorg, maak hul verskyning soos Kubu se tydsame speurwerk vorder. Hoewel mens nou en dan voel sake behoort darem vinniger te beweeg, hou die skrywer wel jou aandag. Die woestyn-omgewing waarin die boek hom afspeel, is vir ‘n slag iets vars. – Alida Vos.
* Vir onderhoude met assistent-speurder Kubu en om ander interessante goed oor hom uit te vind, lees Michael Stanley se gedagtes.
Fever Fever, Christine Feehan (Penguin Group SA, R110)
Die boek bestaan uit twee verhale in een bundel. In The Awakening reis Maggie Odessa, ‘n veearts, na Borneo om die landgoed wat deur haar ouers aan haar nagelaat is te inspekteer. Beide is kort na haar geboorte oorlede. In Borneo vind sy meer uit oor haar familie en die ongewone erflating aan haar. Sy maak ook kennis met die Leopard people, ‘n sensuele mengsel tussen mens en dier wat in die oerwoude woon.
In Wild Rain vlug Rachel Lospostos om te ontsnap van die losprys wat op haar kop geplaas is. Duisende kilometer weg vind sy beskerming in die oerwoude van Borneo. Daar ontmoet sy Rio wat haar help, maar soos sy hom leer ken, besef sy hy is baie meer as wat hy voorgee. Is hy ‘n vriend of ‘n vyand? Kan sy hom vertrou om haar en haar geheime te beskerm. Twee spannende verhale oor die Luiperd-mense. – Karien Labuschagne *Om meer oor haar ander reeks boeke uit tevind, besoek Christine Feehan se webwerf.
Empire of Lies Empire of Lies, Andrew Klavan (Quercus, R270,95)
‘n Baie goeie spanningsverhaal wat jou geweldig boei. Maak jou reg vir eksplisiete sekstonele wat ‘n gevoelige leser dalk kan ontstel. Die hoofkarakter, Jason Harrow, gaan deur geweldige emosies wat spruit uit sy verlede. Hy probeer baie hard dat sy wilde verlede van drankmisbruik en seksverslawing nie oorspoel in sy huidige lewe nie. Hy sukkel om sy nuwe lewe met die oue te verbind. Hy word genoodsaak om vir sy vrou te jok. Sy gewese minnares kompliseer sy lewe en boonop raak sy tienerdogter deurmekaar met terroriste. ‘n Opwindende en vermaaklike boek. – Nicolene Carstens
* Lees ook op Andrew Klavan se blog wat hy te sê het oor die boek.