girl_who_played_with_fire
Boeke

Top-5 speurverhale

Een waar die crooks altyd gevang word en die speurder en polisie die helde is! En waar die arme slagoffer beter uit die stryd tree. Ek weet dit werk nie altyd so nie, maar ‘n lekker speurverhaal bly vir my een van die lekkerste leeservarings. Ek kan myself vir ‘n hele dag afsonder en net saam met die helde die slegte mense laat les opsê. As jy bietjie wil ontsnap, kry een van die top-5 dié week, sit die TV af en en sluit die deure.

The Girl Who Played With Fire, Stieg Larsson (Maclehose Press, R391)
Lisbeth Salander en Mikael Blomkvist is terug met ‘n nuwe dosis speurinspirasie. Ek was mal oor die eerste boek, The Girl with the Dragon Tattoo, waarin die twee vreemde karakters die eerste keer verskyn het. Toe reeds het ek verslaaf geraak aan die manier waarop Larsson sy boeiende speurverhaal met ‘n klomp kinkels en intriges vertel. Ek was bang dat die tweede boek sou teleurstel. Nee, wat, dis nog beter as die eerste! Lees verby die paar tekortkominge (wat moontlik uit die weg geruim sou wees as die skrywer ‘n tweede lees gegun was. Hy is dood voor die publikasie van sy boeke) en konsentreer op die verhaal self. Prostitusie, dwelmhandel en moord is die kernbestanddele. Salander word as ‘n verdagte betrek by die moorde en word een van die mees gesoekte misdadigers in Swede. Terwyl sy haar eie ondersoek loods om die misdadiger op te spoor, kry mens vir die eerste keer meer insig in wie en wat Salander is. Blomkvist, die joernalis, loods sy eie ondersoek omdat hy oortuig is Salander is onskuldig. Sjoe, daar is tonne draaie in die storie met sy vinnige pas. Maak jou klaar vir vele verrassings. Ek kan nie wag vir die derde boek in die reeks nie. Besoek ook www.stieglarsson.com vir meer oor die skrywer en bestel die boek by www.kalahari.net

- Phyllis Green

Blood Rose

Blood Rose, Margie Orford (Oshun Books, R 135)
Die uitstekende misdaadriller uit Orford se pen volg op haar suksesvolle debuut, Like Clockwork. Orford het as kind in Windhoek gewoon en gee genoeg agtergrond en kennis van die Walvisbaai-omgewing om die verhaal geloofwaardig te maak. Die inligting oor die Topnaar-gemeenskap in Namibië is interessant.
Die doelgerigte en tawwe dr. Clare Hart word gevra om te help ná ‘n reeks gru-kindermoorde in Walvisbaai. In ‘n vorige ondersoek het sy ‘n sindikaat in Walvisbaai oopgevlek en gaan hierdie keer nie met ope arms daar ontvang word nie. Gelukkig is Kaptein Tamar Damases, wat Hart se hulp gevra het, nie omgekrap deur Walvisbaai se politiek nie. Saam moet hulle die reeks gruwelmoorde ontrafel en die verdagtes een ná die ander ondersoek.
Stadigaan word Hart tog ingesleep by die plaaslike politiek, veral by die Topnaar-mense se nood in die omgewing. Intussen probeer sy haar liefdeslewe op ys sit, maar, helaas komplikasies: Die man in haar lewe daag in Walvisbaai op om haar te help met die ondersoek. Die opbou van gebeure lei tot ‘n uiters verrassende klimaks. Die spanning is realisties en die karakters, wat een vir een hul verskyning maak, het almal die potensiaal om dalk die moordenaar te wees. Jy bly wonder tot op die laaste blad. Klim onder ‘n komberse, hierdie boek gaan jou vasvang vir ‘n rukkie! Vir meer oor die skrywer besoek www.margieorford.com . – Estie van Heerden.

Dead line

Dead Line, Stella Rimington (Quercus, R189,95)
‘n Midde-Oosterse vredeskonferensie is geskeduleer om op Skotse bodem plaas te vind en verskeie staatshoofde het hulself reeds bereid verklaar om daaraan deel te neem. Maar dan kom die Siriese regering te hore dat twee buitestaanders beplan om die debatvoeringe te ontwrig en die blaam voor dié regering se deur te lê.

Stappe word gedoen om die agente te elimineer (al weet niemand wie hulle is, of wat hulle gaan aanvang nie) en dit val die fraaie Liz Carlyle, ‘n Britse Intelligensie-offisier verbonde aan M15, te beurt om agter die kap van die byl te kom. Maar soos die datum van die indaba nader kom, blyk dit dat die bedreiging meer kompleks is en verder uitkring as wat enigeen tot dusver vermoed het – die toekoms van die hele Midde-Ooste is op die spel!

‘n Heerlike spioenasieverhaal, goed geskryf en propvol intrige.

Klik vir meer oor die  skrywer en bestel die boek by www.kalahari.net

.- Emsie Viljoen

The Chicago Way

The Chicago Way, Michael Harvey (Quercus, R238)

Michael Kelly, ‘n private speurder, word deur ‘n voormalige kollega, John Gibbons, gehuur om ‘n verkragtingsaak, wat agt jaar oud is, te ondersoek. Die saak neem ‘n onverwagse wending, want John word vermoor en Michael roep die hulp in van ‘n groep vriende.

Hulle is: Diane Lindsay, ‘n verslaggewer, Nicole Andrews, ‘n forensiese DNS-kundige, Vince Rodrigues, ‘n speurder en Bennett Davies, ‘n advokaat. Hoe dieper hulle in die saak delwe, hoe meer ou, onopgeloste moorde en verkragtings kan hulle aan die huidige ondersoek verbind. Kort voor lank besef Michael dat ‘n veroordeelde reeksmoordenaar die sleutel tot die raaisel hou.

‘n Spannende speurverhaal vol verrassings.

Bestel by www.kalahari.net

- Karien Labuschagne

Wounded

Wounded, Percival Everett (Faber & Faber, R173)
In die woestynagtige Wyoming woon John Hunt en sy oom. John is alombekend en is ‘n gerespekteerde perdetemmer.

‘n Gay man word grusaam vermoor en dit skok dié rustige gemeenskap. ‘n Swerwer word aangekeer vir die moord. Die omgewing se mense is gevul met agterdog en vrees. Nog insidente ruk die gemeenskap as die Indiaanbevolking geteiken word.

John word vasgevang in die middel as almal na hom draai vir antwoorde en leiding. ‘n Spannende en skokkende boek vol verrassings.

Bestel by www.kahalari.net  

- Karien Labuschagne