FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Spioene en donker karakters

Spioene en donker karakters fassineer my. Dis die misterie en geheimhouding wat hulle omvou wat my so aantrek.

Ek het al dikwels gewonder hoe dit moet wees om ’n spioen te wees? Wat verg dit om so dubbele lewe te lei? Dit kan nie maklik wees nie. Die gevaar van om uitgevang te word. Jy moet die heeltyd op jou hoede wees. Tog is daar mense wat kies om ’n spioen te word, en daar was al baie suksesvolle spioene in die geskiedenis van die wêreld. Een van die bekendstes is seker Mata Hari wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog vir die Duitsers gespioeneer het. Sy het haar vaardigheid in die katel gebruik om inligting te versamel by die politici en militêre offisiere by wie sy geslaap het. Die Nederlandse vrou is gebore as Margaretha Geertruida Zelle, maar Mata Hari klink darem net baie meer eksoties! In die Suid-Afrikaanse geskiedenis het ons ook ’n goeie kwota spioene. Party is bekend, maar meer onlangs het Olivia Forsyth, oftewel Agent 407, besluit om haar lewe van spioenasie ook met gewone mense te deel. Hierdie week het ek boeke gekies oor spioene en donker karakters. Sommige was ware spioene en ander is net fassinerende karakters in fiktiewe verhale.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

AGENT 407, Olivia Forsyth (Jonathan Ball Publishers, R230)
Sy was jonk en ietwat naïef toe sy die oproep na Craig Williamson, die land se Super Spioen gemaak het om vir werk by die destydse Veiligheidstak van die Suid-Afrikaanse Polisie te vra. Dit was vroeg in die 1980’s en die Apartheid-staat was die wêreld se muishond, maar Olivia Forsyth was verveeld in haar kantoor by Buitelandse Sake in die Uniegebou. Sy wou die wêreld sien en het gehoop Craig en sy manne sou haar stuur om op die ANC in die buiteland te spioeneer. Hulle het egter ander planne vir die slim “biker chick” uit Pietersburg gehad en haar Britse paspoort was ’n ekstra bonus.

Oor die volgende paar jaar het Olivia elke linkse organisasie op die kampus van die Rhodes-universiteit in Grahamstad geïnfiltreer en selfs die redakteur van die studentekoerant geword. En toe was dit tyd om direk met ANC-gesindes in Afrika kontak te maak.

Olivia was lankal nie meer seker dat sy vir die regte kant spioeneer nie en toe sy na die “vyand” oorloop, het die ANC haar nie vertrou nie en haar summier in die berugte Quatro-kamp in Angola gegooi. Daar is sy maande lank saam met ander vroue in ’n beknopte sel opgesluit. Maar in die verstrengelde 007-wêreld is situasies nie altyd wat dit voorgee om te wees nie.

Olivia se lewensverhaal maak vir boeiende leesstof en haar eerlike vertelling skets ’n dinamiese vrou met beide menslike swakhede en ongelooflike innerlike krag. Dis ’n boek wat die leser in ’n dag of twee kan en wil verslind, want Olivia Forsyth se verstommende storie is eenvoudig aangrypend. – Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Geheime revolusie, Memoires van ’n Spioenbaas, Niël Barnard soos vertel aan Tobie Wiese (Tafelberg, R250)
Skaars 30 jaar oud word Niël Barnard Suid-Afrika se spioenbaas, die hoof van die Nasionale Intelligensiediens. Gewapen met ’n doktorsgraad onder die arm stuur PW Botha hom later om gesprekke met Nelson Mandela, die land se Vyand No. 1 te voer.

Die eerste ontmoeting tussen die twee was op 25 Mei 1988. Die res is – soos hulle sê – geskiedenis en die boek lig nou vir die eerste keer die sluier oor wat in daardie gesprekke bespreek is. Die projek se kodenaam was “Sagmoedige Neelsie” en selfs die kabinet het nie van die ontmoetings met Mandela geweet nie. Dit het in die strengste geheimhouding geskied. Buiten vir Barnard het die onderhandelingspan nog drie lede gehad.

Die boek vertel ook van Nelson en Winnie se ontstuimige huwelik en hoe dit hom verpletter het en hy moes kies tussen sy mooi vrou en sy land toe die twee uiteindelik hul eie paadjies gevolg het.

Dis ’n onvergeetlike verhaal, geskryf in pragtige Afrikaans en beslis ’n nalatingskap vir alle Suid-Afrikaners. –Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Target, David Baldacci (Panmacmillan, R250)
Die spanningsverhaal speel teen ’n vinnige pas af, kenmerkend van David Baldacci se styl, en hierdie verhaal stel nie teleur nie.

Dis die jongste in die Agent Assassin-reeks. Will Robie en Jessica Reel het wonderbaarlik hul laaste sending in Sirië oorleef. Hul baas, Will Tucker haat hulle steeds daaroor. ’n Staatsgreep word beplan en Tucker stuur die twee agente na vyandige Noord-Korea. Sy hoop is dat hulle nooit daarvandaan sal terugkeer nie, sou hulle die oefenkamp oorleef. Maar die sameswering word onthul en alles verander.

Die verhaal herinner aan die Russiese Koueoorlog spioenasie-verhale. Daar is komplot binne komplot en dit hou jou aan die lees. Robie en Reel is die heeltyd kniediep in die moeilikheid, natuurlik met die hulp van bose Koreane en agterbakse vriendelikes.

Baie een op een gevegte en genoeg wapens . . . ’n Heerlike verhaal. – Deirdre Holtzer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die 13de kaart, Madelein Rust (Lapa Uitgewers, R215)
Doktor Belia Bell, forensiese sielkundige, moet ’n profiel van die moordenaar wat deur die koerante “Die Tarotmoordenaar” gedoop is, opstel. Sy besef opnuut daar is baie af te lei uit die misdaadtoneel waarna sy kyk. Dié moordenaar was in ’n toestand van onbeheerste woede. Op die ander moordtonele kon sy aflei alles het gebeur volgens ’n baie fyn uitgewerkte plan. Die leser is geboei van die eerste hoofstuk af. Al gaan die boek oor ’n ou tema van moord en doodslag besef mens gou dis nie sommer net so ’n storie nie. Sonder dat jy dit agterkom, begin jy net so hard somme maak soos Belia en besef jy nes sy die getal 13 staan orals uit. Jy maak ook jou eie afleidings van wie jy dink die moordenaar is.

Madelein Rust sleur jou mee op die soektog na ’n reeksmoordenaar en haar geloofwaardige karakters maak die boek ’n boeiende leeservaring tot op die heel laaste bladsy. - Anna-Mari Bosman

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Bloody Meadow, William Ryan (Panmacmillan, R105)
Dis 1937 in Rusland, net mooi in die middel van Stalin se skrikbewind. Meeste burgers leef in vrees vir hul lewens, ongeag hul rang of magsposisie. Kaptein Korolev, inspekteur van Moskou, ken die korrupsie van sy land baie goed. Hy word in die middel van die nag ontbied na die Oekraïne, waar sommige van Stalin se gruwelikste misdade plaasgevind het. Hy moet die moord van ’n jong aktrise ondersoek. Korolev kom gou agter die aktrise het konneksies met belangrike mense gehad en hy besef hy is besig om ’n komplot teen die kommunistiese Russiese regering te ontrafel.

Dis die tweede boek in die Korolev-reeks en alhoewel dit ’n komplekse era is om as agtergrond vir ’n misdaadverhaal te gebruik, is dit duidelik Ryan se navorsing oor hierdie geheimsinnige tydperk in Rusland se geskiedenis is uitstekend.
Hy skryf gemaklik, die storielyn is boeiend genoeg en Korolev is ’n baie innemende karakter wat gou die leser se simpatie verkry. – Danica Steyn

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Devil’s Workshop, Alex Grecian, (Penguin, R170)
Walter Day is ’n speurder wat in Scotland Yard se moordafdeling in Londen werk. In die vroeë oggendure in April 1880 is daar ’n massa-tronkontsnapping wanneer ’n trein deur die tronkmure bars. Day en sy kollegas moet probeer om die ontsnaptes aan te keer voordat hulle in die agterstegies van Londen kan verdwyn.

Teen dagbreek is nog net vier op vrye voet. Een van hulle gaan die netwerk van rioolpype onder die stad binne. Daar kom hy af op ’n tronksel waarin ’n man vasgeketting is. Hy bevry hom. Dis ‘Jack the Ripper’ alhoewel die hele Londen glo hy is maande tevore dood. Jack is daarop uit om wraak te neem op die wat hom daar toegesluit het.
So begin ’n gekompliseerde verhaal van komplotte, geheime organisasies en wraak. Hierdie speurverhaal met heelwat intriges boei tot die einde. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The HandsomeMan’s Deluxe Café, Alexander McCall Smith (Little Brown, R285)
McCall Smith se reeks boeke oor Precious Ramotswe, baasspeurder van The No.1 Ladies’ Detective Agency, is hoogs vermaaklike leesstof. In hierdie aflewering moet Precious probeer uitvind wie is die vrou sonder geheue en verlede wat skielik in hul geweste opgedaag het. Grace Makutsi, Precious se oorywerige sekretaresse wil ’n restaurant begin – die einste Handsome Man’s Deluxe Café. Natuurlik het sy geen ervaring of kennis van die kosbedryf nie, maar dit sit haar nie af nie. Ook nie die waarskuwings van almal om haar nie. Sy moet eindelik toegee dat sy tog nie alles weet nie en moet hulp aanvaar van haar vriende om die eetplek aan die gang te hou.

Niks gebeur vinnig in hierdie verhaal nie; tog word die saak uiteindelik opgelos, die eetplek word gered van ondergang en vriendskappe bly behoue. Dis ’n bekoorlike reeks verhale en ek kan nie wag vir die volgende aflewering nie. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Lost Library, A. M. Dean (Pan Books, R200)
Emily Wess se lewe verander onherroeplik weens die moord op Arno Holmstrand, haar kollega en mentor. Haar effe saai en veilige lewe as professor aan ’n Amerikaanse universiteit word in ’n ommesientjie iets van die verlede; Arno het vir haar ’n boodskap nagelaat waarin hy beweer dat die verlore Biblioteek van Aleksandrië steeds bestaan en dat hy weet waar dit is. Gewapen met ’n handvol obskure leidrade vertrek Emily op ’n speurtog na Engeland, Egipte en Turkye, maar gou blyk dit dat sy agtervolg word deur lede van ’n geheime gilde wat beplan om die inhoud van die biblioteek vir kriminele doeleindes te gebruik.

  1. M. Dean (pseudoniem van ’n vooraanstaande akademikus op die gebied van klassieke kultuur en die geskiedenis van geloofsleer) se eersteling skop stof in die oë van Dan Brown se oordrewe konkelromans; Dean se storielyne is afgerond, sy historiese gegewens is korrek en boonop is hy sonder twyfel ’n beter skrywer. – Emsie Viljoen

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Weeping Girl, Häkan Nesser (Pan Books, R135)
’n Gemeenskap is verbyster dat ’n geliefde onderwyser, Arnold Maager, aangekla word vir die moord op een van sy leerders, Winnie Maas.

Jare later hoor Maager se dogter, Mikeala, op haar agtiende verjaardag vir die eerste keer van sy bestaan. Desperaat vir antwoorde besluit sy om hom te gaan besoek waar hy al vir 16 jaar in Lejnice, ’n klein kusdorpie, in ’n inrigting is na sy verhoor. Na haar besoek aan hom, verdwyn sy spoorloos. Haar ma is baie bekommerd en kontak die polisie.

Polisie Inspekteur Ewa Morena was op dieselfde trein as Mikeala op pad na haar vakansie in die kusdorpie, Lijnice. Sy word ingetrek by die saak van Mikeala se verdwyning. Dit veroorsaak wrywing tussen haar en haar vriend by wie sy kom kuier het. Voordat Ewa enige vordering in die saak kan maak, verdwyn Arnold Maager uit die inrigting en ’n skrikwekkende ontdekking word deur twee kinders op die strand gemaak! Dit word gou vir Ewa duidelik sy gaan net die misdaad oplos as sy eers die verlede kan uitpluis.

Aangehaal uit die boek: “A human being is an animal with a very dirty soul – but an amazing ability to wash it.”

Die boek spring rond in die verlede en hede, maar dis’n lekker spanningsverhaal. – Nicolene Carstens

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Waar boosheid broei, Peet Venter (Lapa Uitgewers, R215)
Thys Krige, ’n oudspeurder-kaptein wat nou vir homself werk, wat mense kan doodmaak as dit moet en geen bang haar op sy kop het, is die hoofkarakter van die speurverhaal. ’n Joernalis, Henk Human, het iets in Zimbabwe gesien en is lank in ’n tronk aangehou. Thys word gevra om te gaan ondersoek instel.

Hyself word amper gevang, maar slaag om met inligting terug te keer na Suid-Afrika en verder ondersoek in te stel. Daar is ook ’n meisie in Krige se lewe. Robyn, ’n joernalis wat self met ondersoekende joernalistiek besig is, wat haar lewe nie so veilig maak nie. Dan word Robyn deur iemand wat haar wil help met haar storie om die bos gelei en gevange geneem.

As jy hou van aksie, geheimsinnige militêre manne wat allerlei dinge bewimpel en bekonkel, ’n held wat nie baie tyd het vir emosies nie, maar die skelms goed op hul dinges gee, kan hierdie boek van Venter dalk in jou smaak val. – Alida Vos