FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Sportboeke as geskenke

Ek voel altyd asof ek ‘n bieg-oomblik moet hou oor my verslawing aan sport. Ja, ek is verslaaf aan sport!
Dit kan seker ook nie anders wees nie. Ek het immers vier broers. Hulle is ook almal gek oor sport. Een van hulle is selfs ‘n rugbyskrywer. Die jare wat ek by die koerant gewerk het, het natuurlik my sportliefde nog verder versterk. Maar my groot liefde met krieket het in die beginjare van my loopbaan begin. My eerste regtige ernstige werk was by die ou SAUK, waar ek met klank gewerk het. Krieket is toe nog gespeel by die sportgronde by Bereapark in Pretoria. Die legendariese kommentator, Charles Fortune het vir die Engelse Radiodiens uitgesaai. Hy was toe reeds oud en het teetyd in die uitsaaihokkie gebly. As die junior in die span was dit my taak om vir hom ‘n koppie tee te gaan haal en dan by hom te bly tydens die teetyd. Toe besluit hy om my te leer hoe hierdie spel in mekaar steek, wat die fyner tegniek is van die ‘gentleman’s game’ waarvoor hy so lief was. Wat ‘n voorreg. En so het my groot liefdesverhouding met krieket begin. Dan is daar rugby. En atletiek, gimnastiek, tennis . . . . en al die ander sportsoorte ook! Hierdie week deel ek ‘n klompie sportboeke met julle. Elkeen gaan ‘n trotste plek op my boekrak inneem.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Bokspronge, Stephen Nell  (Tafelberg Uitgewers, R175)
Kom ons begin met ‘n aanhaling uit die voorwoord. Dis geskryf deur die voormalige Springbok-senter Brenden Venter wat deesdae wêreldwyd groot indruk maak  met sy afrigting.
“Soms is dit vir ons as afrigters en spelers verstommend om te sien hoe sommige joernaliste die pot heeltemal mis sit,” skryf Venter.
Ek kan daarby aanlas dat dit vir sommige rugbyskrywers net so frustrerend is om van hul kollegas se skryfsels te lees. Gelukkig tel Stephen Nell nie onder laasgenoemde groepie nie.
Venter reken Nell se boek is “uitstekend geskryf en uniek”. Ek sou nie so ver gaan as om dit “uniek” te noem nie, maar dis beslis ‘n goeie aanwins vir enige rugbyliefhebber se boekrak.
Nell is ‘n gesoute rugbyskrywer wat al baie saam met die Bokke rondgereis en oor hulle geskryf het. Hy begin sy boek met Suid-Afrika se terugkeer uit isolasie in 1992 en vul beskrywings van groot wedstryde aan met aanhalings uit onderhoude wat hy met rolspelers, soos Venter, Chester Williams, Nic Mallett en Bryan Habana gevoer het.
Van die wedstryde is nog redelik vars in ‘n mens se geheue en bied dalk nie nou sulke lekker leesgenot soos van die vroeëres nie. Oor ‘n paar jaar sal dit sekerlik verander.
Ja, dis ‘n boek wat rugbyliefhebbers gerus kan aanskaf en mettertyd herlees. Goue oomblikke in Springbokrugby bly mos darem maar bleddie lekker! – Michael Green (rugbyskrywer van Sport 24)

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Springbok Factory, Liz McGregor (Jonathan Ball, R195)
Seker omdat Liz McGregor ‘n vrou is en ‘n mens al so gewoond geraak het aan rugbyboeke wat deur mans geskryf is dat Springbok Factory soos ‘n spuit asemverfrisser is.
McGregor het glo twee jaar agter die skerms gewoel om inligting vir die boek te versamel. Sy het met spelers, afrigters, vroue, nooiens, ma’s, onderwysers en nog ‘n klomp ander belanghebbendes gesels.
McGregor is ‘n knap skrywer en die mense met wie sy gesels bied soms ‘n verrassende kykie na bekende spelers soos Jannie en Bismarck du Plessis en Jean de Villiers. Beamptes wat maar meestal in  die media afgeskeep word, soos Charles Wessels, die Bokke se logistieke bestuurder, kry ook lewe uit haar pen.
Minder indrukwekkend, en selfs ‘n bietjie irriterend, is McGregor se “raad” teen die einde van die boek aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Dit dui dalk op ‘n tikkie naïwiteit en gebrek aan insig oor wat aan die gebeur is en wat al gebeur het in die landmynbesaaide SA-rugbywêreld.
Maar die boek is beslis die moeite werd om te lees deur rugbyliefhebbers van alle geslagte. – Michael Green (rugbyskrywer van Sport 24)

Foto: verskaf

Foto: verskaf

Hou by die Blou: 75 Jaar van die Blou Bulle Rugbyunie, Wim van den Berg (Lapa Uitgewers, R250)
Hierdie boek is die amptelike 75 jaar verjaardagvieringboek wat deur die Blou Bulle Rugbyunie onderskryf word. Hierdie boek is by uitstek vir ondersteuners van die Blou Bulle, maar is ook ‘n baie goeie dokumentasie van die geskiedenis van die rugbyunie en sy spelers. Die ding wat my die meeste opval wanneer ek deur die foto’s kyk van die spelers wat in die sestigs gespeel het, dan lyk hulle almal soos harde baarde en manne met wie jy nie skoor gaan soek nie. Die spelers van die afgelope paar seisoene is baie meer afgerond, meesal met gladde gesigte, modieuse haarstyle  . . . Ek hoop nie dit hou enigsins verband met die vertonings wat ons op die rugbyveld sien nie. Dis regtig interessant om weer te lees oor karakters soos Frik du Preez, Thys Lourens, Moaner van Heerden en natuurlik die legendariese afrigter, Buurman van Zyl. Ek vind dit altyd interessant om bietjie meer van die geskiedenis te leer. Wie van julle weet wie was Loftus Versfeld nou eintlik? In die boek kry jy die antwoord. Die boek is goed geïllustreer met baie foto’s en dit bevat ook al die relevante statistieke. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Bouch, Mark Boucher (Jonathan Ball, R200)
As ek Mark Boucher in twee woorde moet beskryf na die lees van hierdie outobiografie dan is dit vasberade en gedrewe. Vasberade om ‘n uitmuntende sportman te wees. Gedrewe  in alles wat hy doen. Vasberade om teenstanders die loef af te steek. Gedrewe om suksesvol te wees. As kind was dit nooit nodig om hom te sê om te gaan oefen nie. Hy was so gedrewe dat hy dit self gedoen het. Dis Boucher se eie dissipline – iemand wat hard werk om sy doelwitte te bereik. Sy rekords op die krieketveld in sy vyftien jaar as professionele krieketspeler spreek vanself. Maar wat hierdie boek vir my besonder maak, is die kykie wat mens van die mens Mark Boucher kry. Reg deur sy lewe was hy maar karig oor wat hy van homself en sy persoonlike lewe in die media ontbloot het. Hierdie boek gee mens effe meer inligting oor hom, waar hy vandaan kom, hoe hy as kind was, hoe sy gesinslewe hom help vorm het en natuurlik die vriendskappe wat sy lewe help betekenis gee. Sy groot vriend, Jacques Kallis skryf in die voorwoord:”It’s good to think you have a friend to turn to, for any reason or at any time, but I never really needed to turn to Mark – because he was already there. He knew when he was needed and there was nothing, literally, he wouldn’t do for a friend.” Met Boucher is dinge reg of weg, hy is eerlik, reguit en soms ongenaakbaar, maar uiters lojaal aan sy mense. Boucher se lewensverhaal is boeiend en aan die einde van die boek voel mens dat hy okei gaan wees. Hy sal dinge vir hom maak werk. Die boek lees baie maklik en is nie net vir krieketliefhebbers nie. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jacques Kallis and 12 Other Great South African All-rounders, Ali Bacher en David Williams ( Penguin Books, R158)
As jy belangstel in krieket sal hierdie boek beslis ‘n aanwins vir jou wees. Suid-Afrika het meer all-rounders in krieket geproduseer as enige ander land en in hierdie boek bespreek Bacher en Williams 13 krieketspelers wat volgens hulle die beste all-rounders was. Al word Jacques Kallis in die titel van die boek genoem, word hy heel laaste in die boek onder oë geneem. Elke speler word bekyk vanuit sy bydrae tot die spel en dan sy wedstryd-statistiek. Maar interessante staaltjies op en van die veld af maak dit ‘n baie onderhoudende vertelling. Dis nie net droë statistieke nie, maar ‘n boek met lekker baie vleis om die lyf. Die ander spelers wat bespreek word is Jimmy Sinclair, Aubrey Faulkner, Trevor Goddard, Eddie Barlow, Tiger Lance, Basil D’Oliveira, Mike Proctor, Clive Rice, Tony Greig, Brian McMillan, Shaun Pollock en Lance Klusener. Ek het onmiddellik na my gunsteling-speler, Brian McMillan se hoofstuk geblaai om te lees wat oor hom geskryf word. Nou is ek nog meer beïndruk! – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Pacemen, Drew Forrest (Pan MacMillan, R188)
As jy niks weet van die manne in Suid-Afrika wat ‘n krieketbal vinniger kan gooi as wat jy mes kan sê nie, is hierdie boek vir jou. Hierin word geskryf oor die afgelope 100 jaar se snelboulers wat vir Suid-Afrika gespeel het. Dis glad nie ‘n droë, tegniese dissertasie nie, maar eerder ‘n boek waarin jy kort karaktersketse oor elk van die boulers lees. Die skrywer verduidelik ook wat elk van die manne se boulaksie uniek maak en wat hulle bydrae tot krieket op provinsiale, sowel as nasionale vlak is, of was in die geval van die wat jare gelede gespeel het. Die rede vir hul uittrede uit krieket word ook uitgelig, hetsy dit weens beserings, ouderdom of rusie met ‘n unie of kaptein was. “Cricket is acutely conscious of its past and the perspective is more than antiquarian: knowing the history of the game is intrinsic to appreciating and understanding its present.” Dít is die bydrae wat hierdie boek lewer – die geskiedenis van hierdie snelboulers maak dat jy soveel meer waardering het vir die manne wat vandag in aksie is. – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Making Champions, Michael Jenkins (Penguin Books, R230)
Daar word duisende mense gebore wat ‘n aangebore sporttalent het, maar nie almal word kampioene nie. Michael Jenkins wou uitvind waarom sommige sportmanne en –vroue meer uitblink as ander en of daar sekere eienskappe is wat hierdie uitblinkers deel. Sy mening is ook dat Suid-Afrikaanse sporthelde eintlik ‘n tipe van nasionale skat is – ‘n bron waaruit die nasie inspirasie kan put en wat ook kan help om aan gewone mense se lewens rigting te gee. Hy wou nie ‘n boek skryf wat bloot die gedeelde eienskappe lys nie, maar het besluit om met 13 uiteenlopende sportmanne en –vroue te gesels en die storie agter die storie te vertel, soos wat hy sê “flesh-and-blood inspiration.” Dit is dan presies wat die boek doen. Dit vertel in elke held se eie woorde hul verhaal, maar met toeligtende kommentaar wat gerugsteun word deur die navorsing wat Jenkins oor elkeen van die sportmense gedoen het. Vir my is Sifiso Nhlapo, ons BMX-kampioen se verhaal regtig inspirerend. Niks kry hom onder nie, selfs nie eens toe hy sy nek gebreek het nie en maande lank moes herstel en weer van vooraf sy kragte herwin en oefen om sy vorige peil te bereik nie. Elkeen van die sporsterre se verhaal is die moeite werd om te lees. – PG