FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Spotprente is Zapiro se roeping

Van kleins af het Zapiro geweet hy wil eendag spotprente teken. Dit doen hy nou al vir langer as 30 jaar.

In Democrazy, SA’s Twenty-year Trip (Jacana, R202) gee hy deur sy spotprente ’n oorsig oor die geskiedenis van Suid-Afrika se demokrasie die afgelope twintig jaar. Wanneer jy deur die boek blaai, besef jy spotprent word nie geteken bloot net om snaaks en vermaaklik te wees nie. Ja, meeste is snaaks, maar lewer ook sosiale kommentaar oor gebeure in ons samelewing. Dikwels op ’n manier wat mens met ander oë na mense en hul optrede laat kyk. Jonathan Shapiro sê in die inleiding dat hy nooit ’n gebrek het aan materiaal om te teken nie. In teendeel dikwels was dinge wat gebeur het so gek, dat hy dit kwalik sou kon uitdink. Die uitdaging was om dié gebeure met die regte hoeveelheid humor te probeer weergee.
Hierdie boek is ’n juweel en gee mens ’n andersoortige oorsig oor die laaste twintig jaar in ons demokrasie. Ek wil weer en weer daardeur blaai, want ek sien elke keer ’n ander prent wat my dieper laat dink. Ek het met Jonathan gesels oor sy lang en roemryke loopbaan.

Toe jy ’n kind was, het jy ooit gedink jy sal ’n spotprenttekenaar word?
My vroegste herinnering aan wat ek wou word, was toe ek as sesjarige seuntjie aan ’n kunskompetisie deelgeneem het. Ek het twee sketse van myself gemaak, een as ’n brandweerman en een as ’n nar. Teen die tyd wat ek agtjaar oud was, wou ek vir Hergé (skepper van Tintin) of vir Charles Shulz (skepper van Peanuts) assisteer. Ek het myself gesien strokiesprente teken, terwyl ek by hulle geleer het. Toe ek ’n tiener was, het ek steeds gedink dis ’n moontlikheid, maar het toe al wyer begin dink en selfs politieke spotprenttekenaar as beroep gesien. Maar die weermag het ’n stokkie daarvoor gesteek, want ek moes planne beraam oor hoe om diensplig te ontduik. Dit was in die sewentigs en ek wou nie weermag toe gaan nie. Ek het toe argitektuur gaan studeer, maar na vyf jaar het ek die handdoek ingegooi. My ouers het vir my studies betaal en was baie ondersteunend toe ek hulle vertel dat ek eerder ’n spotprenttekenaar wou word. Die oomblik toe ek finaal besluit het dis wat ek wou doen, het die weermag my beetgekry en ek moes aanmeld vir diensplig. Die weermag wou niks daarvan weet dat ek besig was om my kursus te verander nie en het gevoel ek wou net weer my diensplig uitstel. Toe ek in die weermag aanland, het ek geweier om ’n geweer te dra en moes in plek daarvan ’n loodpyp dra. Hierdie insident het my verpolitiseer en het daartoe gelei dat ek ’n aktivis geword het. Terwyl ek in die weermag was het ek probeer om myself op te lei as spotprenttekenaar.

Wat was jou eerste werk as spotprenttekenaar en wat beskou jy as jou deurbraak?
Ek het in 1983 aktief geraak in die politiek. Een van my eerste sketse was vir my UDF-tak in Claremont, natuurlik sonder betaling. Omtrent alles wat polities was wat ek daardie tyd geskets het, was natuurlik verniet of ek is absoluut belaglik betaal. Maar dit was op ’n manier so bietjie van ’n deurbraak . Om darem geld te maak, het ek as ’n bysaak opdragwerk gedoen vir maatskappye. Ek het iemand by Wooltru geken en het illustrasies gemaak vir, van alle dinge, die Wooltruhouse News, die maatskappy se interne tydskrif. Dit het my die geleentheid gegee om allerhande dinge te doen wat ek nooit andersins sou kon doen nie. Ek kon eksperimenteer met ’n diere-strokie en het spesiale sketse gemaak vir hul Kersuitgawe. Dit was vir my ook ’n deurbraak. Ek het baie hierdeur geleer.

Wanneer het jou loopbaan by koerante begin?
Aan die einde van 1985 het ek twee spotprente van P.W. Botha gemaak waarin ek my styl getoets het en ook gekyk het in watter rigting ek wou beweeg. Ek was nog besig om my eie styl te ontwikkel en was beïnvloed deur Britse grafiese kunstenaars soos Ralph Steadman en Gerald Scarfe. Op die tuisfront was ek beïnvloed deur Derek Bauer, die spotprenttekenaar van Weekly Mail. My styl was nogal skel, maar die beelde was kragtig. Ek het dit aan die Weekly Mail gestuur om te kyk of hulle sou belangstel. Hulle was gek daaroor en het dit gepubliseer in twee opvolgende weke. In 1987 het ’n populistiese struggle koerant, genaamd South begin en hulle was op soek na ’n spotprenttekenaar. Ek het my portefeulje voorgelê, hulle het daarvan gehou en ek was vir die volgende jaar en ’n half hulle spotprenttekenaar. Dit was eintlik die begin van my loopbaan by koerante.

Daar is ’n fyn lyn tussen om iemand as ’n blote karikatuur uit te beeld en om ’n goeie spotprentkarakter te skep. Hoe hou jy die balans?
Daar is spotprentkunstenaars wat hulself primêr as karikaturiste sien en daarop sal fokus.
Ek probeer om sterk karikature te skep, maar in die styl en formaat van ’n redaksionele spotprent. Dit was ’n bewuste besluit om weg te beweeg van die skel styl waardeur ek oorspronklik beïnvloed was. Ek dink ook my politieke wortels het my ’n beter begrip gegee van wat aangaan. Ek het my styl getemper sodat ek mense kon kry om hulself met my spotprente te vereenselwig. Ek wou hê my spotprente moet die boodskap wat ek probeer oordra, so toeganklik moontlik vir mense maak.

Jy het selfs die spot gedryf met Madiba in jou spotprente. Waarom kon jy dit doen sonder dat jy gekritiseer is daaroor?
Ek dink my struggle agtergrond het bygedra tot my geloofwaardigheid. Dit het my nie net ’n beter begrip gegee nie, maar ek is ook bietjie meer beweegruimte toegelaat deur mense. Hulle het geweet ek kritiseer hom nie ligtelik nie. Aanvanklik was dit nie net Nelson Mandela nie, maar ook kritiek oor dit wat besig was om te gebeur in die regering en die ANC. Ek het die ‘Saint Rolihlahla the Righteous’- spotprent geteken; dit was die eerste keer dat ek krities was oor hom. Hy het een of twee goed gedoen in daardie tyd in 1995 wat sy lojaliteit gewys het aan dinge wat mense gedoen het tydens die struggle. Byvoorbeeld, Allan Boesak het ’n hoë pos gekry ten spyte daarvan dat hy geld onregmatig gevat het van die organisasies wat dit aan weeskinders geskenk het. Ek het gevoel ek moes sosiale kommentaar hieroor lewer op ’n ironiese manier, so amper asof ons vra dat hy wat Madiba is, moet nie onbetaamlike goed doen nie, want ons het nodig dat hy ons rots en fondasie moet wees. Ek het daarmee weggekom. Madiba self was baie ondersteunend oor die idee van satire.

Wat laat jou ’n spotprent teken?
Woede is die grootste drywer van spotprente. In die ou dae was dit woede oor onderdrukking deur die apartheid regering. Deesdae maak jy ’n koerant oop en iemand word in die winter uitgesit op straat. Dit het in die verlede gebeur en nou gebeur dit weer. Hoe kan hierdie mens wat ek vetrou het, nou geld onwettig aanvaar vir dinge wat eintlik deel van hul werk moet wees? Ek dink vrees is nog ’n drywer van spotprente, vrees vir spertye. Daar is ’n dringendheid aan redaksionele spotprente, veral wanneer jy iets vinnig moet oordra. Jy put uit dit waaroor mense praat, dit waaroor hulle ontsteld en verontwaardig is. Jy moet op ’n vars en verrassende manier hierdie sake oordra, of deur humor of deur die vorming van ’n serebrale konneksie in die brein.

Beïnvloed kritiek die manier waarop jy sekere onderwerpe en mense benader?
Dit sal oppervlakkig wees om te sê dit het geen impak nie. Ek probeer baie hard om nie geïntimideer te word tot selfsensorskap nie. Ek is altyd in gesprek met redakteurs en ander mense om te peil of ’n spotprent werk of nie. As ek iets verkeerd doen en steeds glo dis die regte ding, al aanvaar ander mense dit nie, dan is dit steeds vir my aanvaarbaar. Maar as my spotprent nie ervaar word soos ek dit bedoel het nie, dan was dit seker nie aanvaarbaar nie. Dit sal my dryf om sekere kwessies op ’n ander manier te benader. Maar ek probeer my bes dat die hofsake my nie affekteer nie.

Hoe het jy die spotprente vir die boek gekies?
Ek het ’n basiese idee gehad van wat ek wou hê, omdat ek reeds in die verlede heelwat praatjies gedoen het oor “10 jaar van demokrasie” en “15 jaar van demokrasie”, waarvoor ek spotprente gekies het. Mike Wills wat die teks geskryf het, het ook die proses bymekaar gehou. Hy het ook ’n eerste seleksie van sy eie gemaak en dit was nogal vir my fassinerend. In breë terme het ons saamgestem, maar daar was party waarvan ek nie gehou het nie, omdat hulle lomp was en ek hulle nie in die boek wou hê nie. Ons het ’n goeie werksverhouding gehad. Ek is ook baie gelukkig dat ek met hierdie boek saam met die koloris, Roberto, kon werk. Hy was verantwoordelik vir die inkleur van baie van die werk. Die formaat van hierdie boek verskil van my ander en ons kon meer spotprente op ’n bladsy gebruik.

Gebeur dit dat jy geen inspirasie het om ’n spotprent te maak nie?
Meer kere as waarvan ek hou! Ek kry nie dikwels ‘leë papier-sindroom’ nie. As ek eers begin werk en konsepte neerskryf waarmee ek wil werk, begin die klein sketsies oppop. Maar ek kry dalk nie een wat goed genoeg werk nie. Wat ek dan doen, is om myself te vra wat dit is wat ek weet, en baie keer is dit hoe ek die dooiepunt baasraak. Somtyds wanneer ek hiermee besig is, skop my regterbrein in en dit maak my kreatiwiteit dan wakker. Ek weet nie altyd waar dit vandaan kom nie. Maar ek het ook tricks of the trade waarmee ek gangbare spotprente kan skep as dit moet.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

 

 

  • bastaan

    What mitricksubjects did you need