Boeke

WEN een van 3 boeke van Stephan Joubert en Johan Smith

Die koffieoggende is ‘n gereelde affêre die afgelope twee jaar en Johan praat met toegeneentheid van die “kwetterende vroue” saam met wie hy en Stephan al ‘n paadjie geloop het. Die gesamentlike projek kon hulle doen omdat hul “harte dieselfde is – dit klop vir Jesus”, sê hy. Daar is twee dinge wat albei dié onkonvensionele dominees na aan die hart lê: goeie koffie en die verspreiding van die Woord. By die koffieoggende kry hulle die geleentheid om die twee behoeftes te bevredig. Ek het ná die bekendstelling met Johan en Stephan gesels oor Vrou-wees (Christelike Uitgewersmaatskappy, R79,95) en hulle het soos ou vriende saam geantwoord en plek-plek mekaar se gedagtes voltooi.

Waar het die boek begin?
Twee jaar gelede het die twee Venter-broers my en Stephan vir middagete genooi. Natuurlik was daar goeie koffie ook! Hulle het opgemerk dat daar so baie geestelike uitreikaksies vir mans gedoen word, maar dat daar eintlik nie veel vir vroue gedoen word nie. Hulle het toe aangebied om hul deli in Silver Lakes, Pretoria, elke Vrydagoggend te skenk om iets vir vroue te doen. Hulle vra toe of ons so iets wil doen. Ons wou en daarom is hierdie boek ook aan Johan en Elizabeth en Charl en Ilanza opgedra. Só het die ontbyt vir vroue begin en later was die deli te klein en moes ons skuif na die kerk se stoep. Die boek het ontstaan uit die gesprekke wat by die oggende gedeel is.

Wat is die doel van die boek?
Elkeen wat dit lees, moet hul eie Kalkutta kry, na aanleiding van Moeder Theresa se verhaal in die boek. Maak ‘n verskil in jóú gemeenskap. Die boodskap van die boek moet vroue aanraak en hulle moet dit uitleef.

Gaan die koffieoggende nog aan?
Ja, dis belangrik dat vroue iets geesteliks doen op ‘n gereelde basis en die koffieoggende is nie bloot net ‘n sosiale geleentheid nie. Daar word geestelike berading gedoen en dan is die vroue ook betrokke by welwillendheidsprojekte. Die oggende is gratis en die vroue gee vrywillige bydraes om te help met dié projekte. Ons het al ‘n huis gebou in ‘n township; ons is betrokke by ‘n Vigsprojek in Ikageng; ons gee 20 bejaardes aan die Oos-Rand kos; ons ondersteun mense wat in ‘n wit plakkerskamp woon en ons het al gehelp met studiegeld vir behoeftige studente. Die oggende gaan nie net oor glamour en glitz nie, maar ook oor om die Evangelie uit te dra.

Julle skryf oor die materialistiese aard van vandag se lewe. Is ons gemeenskap te materialisties?
Die een ding wat ons waardesisteem bepaal, is vrygewigheid. Jesus het nie gekom om guilt trips op ons te sit nie. As ek gee, moet dit ‘n offer wees en nie bloot ‘n bydrae uit my sak nie. Dis ‘n kopskuif. Die Evangelie is nie net reëls en regulasies nie – dit maak jou ook vry. Ons moet hard werk sodat vroue wat invloed het, oop hande kan hê.

Daar is heelwat in die boek oor vergifnis. Vergifnis is nie ‘n maklike proses nie, veral nie deesdae met al die aanslae wat mense in die gemeenskap en ook in hul persoonlike lewens beleef nie. Is dit iets waaraan deurlopend gewerk moet word om ‘n vergewensgesindheid te kweek?
Wat is die werklike simbool van vergifnis? kan ons vra. Jesus aan die kruis. Dis nie maklik nie, want vergifnis volg altyd die onreg wat aan jou gedoen is. Vergifnis gebeur nie oornag nie. Pyn en emosie word verwerk oor ‘n lang tyd. Jesus sê jy moet jou vyande liefhê – so jy moet ‘n radikale keuse maak om net te begin. Dis ‘n wilsbesluit.

Daar is twee hoofstukke oor die killers in vroue se lewens. Sit vroue te veel druk op hulself?
Ek wil sommer begin deur te sê: Kry die regte spieël, begin anders kyk na jouself. Jou identiteit kom weer terug ná materialisme – wat ek ry, wat ek kry en waar ek bly. Dit het die waardesisteem geword wêreldwyd en moet reggestel word. Begin by jouself en by een persoon op ‘n slag.

Verniet!

 3 eksemplare van Vrou-wees, Stephan Joubert en Johan Smith (Christelike Uitgewersmaatskappy, R79,95).

  • Dit klink of die boek presies is wat my ma nou in haar lewe nodig het. Sy is gedurig te besig met ander mense se probleme en kom nooit by haarself en God uit nie. Ek dink sy het net weer nodig om in haarself te begin glo van vooraf en ou "issues" uit te sorteer deur vergifnis te spreek. Dis hoekom ek dink die boek is nou brood nodig is in my ma se lewe.

    Vir wat dit werd is klink die boek of dit baie vroue se lewens sal kan verander.