FOTO: Phyllis Green

Boeke

Steve Hofmeyr gesels oor sy nuwe boek

Oscar Pistorius speel ’n rol in Steve Hofmeyr se jongste boek, Laaste dans, Drienie. n Baie klein rolletjie.

Die verhaal begin waar luitenant Muller Joubert vertel hoe Oscar Pistorius moet aanmeld by die polisiekantoor in Pretoria om te voldoen aan sy borgvoorwaardes. Dis hier waar hy wat Muller is tydelik sy brood moet verdien. Hy is ’n “floating SAP liaison”  en soos hy self vertel: “My werk was nooit om kroeks vas te trek in ’n wolk van spervuur en traangas nie. . . Ek toets die water en doenbaarheid vir sake met aandagpotensiaal.” Ironies genoeg, nou ’n jaar later, is Oscar Pistorius in die hof op ’n  aanklag van moord en Steve Hofmeyr se boek, Laaste dans, Drienie (Zebra Press, R144,32) is op die winkelrakke.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Daar beland ’n baie eienaardige saak op Muller se lessenaar. Hy moet ondersoek of die polisie aandag moet gee aan die anonieme oproep waarin mev. BC Engelbrecht (91) van moord beskuldig word.
Die verhaal trek jou onmiddellik in en jy raak eerstens betrokke by Muller se hopelose verliefdheid op sy kollega, Sonja en sy geselsies met Betanie Engelbrecht. Die storielyn wissel tussen die hede en die verlede.  Dit vertel luitenant Muller Joubert se verhaal, maar ook die van tannie Drienie, oftewel Betanie Engelbrecht,  wat hom vertel van haar laaste dans in 1941 en die liefdesverhaal wat reeds 70 jaar wag om vertel te word.

Die geskiedkundige agtergrond waarteen Drienie se verhaal afspeel is boeiend en is ’n gedeelte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis waaroor daar nog relatief min geskryf is, die Stormjaers en die Ossewabrandwag. Twee broers, Dawid en Jurgen Bremer, speel hoofrolle in hierdie verhaal. Die storie hou jou die hele tyd aan die raai, jy wonder oor hoe Muller se dinge gaan verloop, en dan is daar die raaisels rondom Jurgen, Dawid en hoe hulle doen en late Betanie lei om sekere dinge te doen. Dis nie ’n verhaal wat mens in 50 woorde kan opsom nie, want dis een wat oor ’n lang tyd afspeel, met baie intrige en emosie. Die ontknoping kom eers aan die einde en dan besef jy weer soms is daar nie wenners nie. Mense leef bloot om te oorleef, omdat daar iets of iemand is wat hulle dryf.

Waar kom jou inspirasie vir hierdie verhaal vandaan?
 Velerlei. Eerstens my tannie, wie in Februarie oorlede is. Sy was 77. My en haar liefde vir geskiedenis. Die Tweede Wêreldoorlog was motiverend, asook die enkele Boere wat vir die SS van Hitler sou veg – alleen omdat dit sou beteken dat hulle teen die Britte kon veg. Maar die hoofstorielyn is ʼn liefdesdriehoek. En liefde is die grootste inspirasie.

Hoeveel van die storie is gebaseer op ware gebeure?
Die verhaal self is fiksie teen ‘n meer feitelike, historiese agtergrond, oor so 90 dekades.

Jy dra die verhaal op aan Beckie Smit. Wie is dit?
Beckie was my pa se suster, my tannie. Hulle vader (my oupa) was Steve Hofmeyr snr, die Owerste van die Ossewabrandwag. Daar is soveel verhale en mites om al die Rebelliegroepe van ons volk, maar die OB s’n steel soms die koek. Ek het Laaste dans, Drienie vir haar geskryf en rêrig gedink ek sou dit in persoon aan haar kon oorhandig. Maar tyd het haar ingehaal. Sy was sieklik en lewenslank ‘n poliolyer.

Waarom die storie afskop met Oscar Pistorius en sy rapportering aan die polisiekantoor?
Dis presies wanneer ek dit begin skryf het (Februarie 2013) en my verhaal begin by dieselfde polisiestasie waar Oscar moes rapporteer. Hy en my karakter sou gereeld by mekaar moes verby loop. Onvermydelik.

Jy wissel die storielyne af tussen die hede (2013) en die verlede vanaf 1939. Het jy twee aparte tydlyne gehad waaraan jy gewerk het, of het jy terselfdertyd aan beide gewerk?
Ek moes versigtig tussen die duwweltjies trap, maar het beide saam afgeskop. Dit was die plan van die begin af, en moeiliker as wat ek verwag het. Ek dink ek skryf eintlik baie duur flieks.

Hoeveel navorsing moes jy doen oor Dawid en Jurgen se agtergrond?
Ironies het ek afgekom op twee Suid-Afrikaners wat in die Duitse SS gedien het. Dis jammer dit is nog nie nagevors nie. Dis belangrik vir my storie. Maar ek kon die twee broers op Kain en Abel baseer, dan weer soms op myself en my vyf broers, en dan weer gereeld op klein Sebastian en Benjamin (my seuns). Veral hul psigiese verskille.

Die hoofkarakter, Muller Joubert is verlief op sy kollega, Sonja Basson, maar dis ‘n baie eensydige gevoel. Waarom het jy hom in so hopelose liefde laat beland? Daar is nogal ‘n ooreenkoms tussen sy gevoel vir Sonja en hoe Jurgen Bremer oor Betanie gevoel het.
Ek wou nie moraliseer nie, maar dit sou altyd waar wees dat Muller bietjie laat agtergekom het dat die ou tannie se storie hom sou kon help in sy eie verhouding. Uiteindelik is sy verhouding se einde minder geslaagd as tannie Drienie s’n. Niemand hou die morele hoë grond by sake van die hart nie. Dis soms mooi en onregverdig gelyk. Daar is min lesse te puur (te haal) uit my boeke, omdat ekself nie die hoë grond besit nie. Al wat ek weet is dat liefde ook kompleks kan wees.

Betanie Johanna Engelbrecht, genoem Bettie, maar sy is ook Drienie. Sy is ‘n komplekse karakter met verskillende fasette waarvan sy baie aan Muller openbaar. Waarom wou jy juis hê hy moes die verhaal vertel?
Hy verteenwoordig moontlik die “hapless” en self verwarde leser. Te besig met sy eie probleme en werk om enigsins die lewe van ‘n bejaarde as interessant te beskou. Ek wil hê die leser moet saam Muller afgebreek word deur ‘n tannie wat aanvanklik skadeloos en selfs bietjie koekoes oorkom. Ons kan nie meer verkeerd wees nie. Elke bejaarde wat jy onderskat, is jy ‘n ryk lewe en storie kwyt.

Was Betanie en Jurie se dans op die Capitalteater simbolies vir dit wat sou kom van hulle verhouding?
Nie opsetlik nie. Weereens is dit die prentjie wat my inspireer. Ek is self daar teen daai trappies uit om vir myself te gaan toets of mens sou kon dans op die dak. Daar is ongelukkig min oor van daardie eens majestueuse teater. Ek is totaal verlief op die Capitolteater (langs Kerkplein) alhoewel ek self nooit iets daar kon bywoon nie. My ouers het wel.

Betanie het tussen Dawid en Jurie gekom. Broer het teen broer gedraai. Hoe moeilik was dit om die twee broers se verhouding uit te beeld?
Daardie tema is al gedoen. Dit het myself darem nog nooit oorgekom nie, en ek het vyf broers! Dit was moeilik. Maar jy weet, mense ontgroei mekaar om verskillende redes, selfs broers en susters. Maar hierdie verhouding, waar ons nie kan raai wie is meer verlief op wie nie, is die as waarom alles draai. Ek skep nie stereotipes waar een party summier uitstaan as boef nie. Elkeen is bietjie skuldig, soos gewone mense, nie superhelde nie.

Wat is die ding in hierdie verhaal wat jou die meeste geraak het?
Die gesprekke tussen die jong offisier en die ou dame. Dit bring steeds trane na my oë, omdat dit my terugneem na my stoel langs tannie Beckie se bed, waaraan sy jare lank vasgekluister was. By haar begrafnis het ek die punt gemaak dat my tannie nie ledemate nodig gehad het om te kon dans nie.

Was dit ‘n emosionele verhaal om te skryf of het jy maklik daaraan geskryf?
Beide. Ek skryf vinnig, maar hierdie was emosioneel ‘n brutale proses. Ek is inderwaarheid heeltemal genees van skryf – tot volgende keer.

Wat verkies jy om te skryf, gedigte, novelle, lirieke of roman?
Tweets. Ek geniet die harde werk van nie-fiksie, aktualiteit, essays en debatte en die heerlike navorsing om sosiale kommentaar. Maar soos iemand wys gereken het: I find objects more eloquent than words.

Is jy besig om te werk aan ‘n volgende boek?
Ja, maar daar is min skrywe aan.