sue_williamson
Boeke

5 Boekminute met Sue Williamson

South African Art Now deur Sue Williamson (Collins Design) beskryf Suid-Afrikaanse kuns vanaf die apartheidsjare tot die huidige. Elton John sê oor Williamson se boek:”It is a chorus of so many different kinds of voices who have contributed to the visual history of their beloved country. Without prejudice she includes all media and all ways of dealing with the world through art: from old-fashioned painting to photography to performance, from anger to euphoria to humour to illumination.” Die boek vertel eintlik die verhaal van transformasie van Suid-Afrika deur die oë van die kunstenaars en is nie net visueel nie, maar ook ‘n deeglike verwysingsbron vir versamelaars, kurators en enigeen wat belangstel in kuns. Die boek is baie toeganklik geskryf en skilder ‘n baie goeie oorsig van die invloede wat kunstenaars op sosiale en politieke kwessies gehad het. Phyllis Green het met Sue Williamson gesels.

Is die boek jou eie konsep en volg dit op jou vorige boeke?
Nee. Ek bedryf die kunswebwerf Artthrob en dit is deur die webwerf dat ek deur ‘n internasionale uitgewer genader is om ‘n boek oor Suid-Afrika te doen gesien deur die oë van kunstenaars. Dit was in 2006 en dit het my nogal besig gehou. Die idee was oorspronklik dat ek ander skrywers sou kry om my met die boek te help, maar ek het besluit om alles self te skryf. Ek is altyd besorgd oor wat ek skryf en hoe toeganklik en universeel verstaanbaar die teks is.

Nadine Gordimer praat in die inleiding van haar voorwoord hoe die teks die politieke veranderinge in Suid-Afrika volg. Is kuns as ‘n politieke  stelling sentraal in Suid-Afrikaanse kontemporêre kuns en die geskiedenis van SA kunstenaars?
Ek dink dit is. Nie alle kuns moet polities wees of besig wees met sosiale kwessies nie. Tydens apartheid het ons werk gedoen wat kritiek gelewer het op kwessies oor onregverdigheid en onbillikheid. En dit moet voortduur, ongeag watter regering in plek is.

Wat behoort die rol van kunstenaars in die Suid-Afrikaanse gemeenskap te wees?
Mens kan nie regtig voorskryf nie. Elke kunstenaar moet vir homself besluit. As hulle net landskappe wil verf, is dit oukei. Ek persoonlik vind werk baie interessanter wanneer dit wel handel oor sosiale kwessies soos HIV/vigs, ens. Kunstenaars is die sieners van die gemeenskap.

Elton John skryf in jou boek oor die gebrek aan inligting in die wyer wêreld oor Suid-Afrikaanse kuns. Wie is jou teikengehoor – internasionaal of plaaslik?
Die teikengehoor is die VSA sowel as mense in Suid-Afrika wat belangstel in kuns. Die doel van die boek is om ‘n breër gehoor te skep internasionaal, maar dit is ook vir Suid-Afrikaners om meer te leer oor plaaslike kunstenaars en die kuns wat hulle beoefen. Ek sien interessante goed oorsee, maar ek sien baie meer boeiende werk op eie bodem.

Met politiek wat verander het, moes kunstenaars se fokus ook verskuif van “Resistance art” na die internasionale tendens van “Installation and performance art”. Die kunsvorme is nogal ontoeganklik vir Jan en Alleman. Hoe gemaak om gewone mense meer waardering daarvoor te gee?
Die waarde van performance art is maar soos die meeste dinge. Hoe meer agtergrond en kennis jy het oor die kwessies waaroor die kunstenaar se werk gaan, hoe meer verstaanbaar word dit. Mens kan bos toe gaan en die natuurskoon bewonder, maar as jy meer kennis het oor die fauna en flora sal jy dit nog meer waardeer. Installasie-kuns, sowel as performance art gaan oor die kunstenaar se gedagtes wat hy wil hê jy moet sien en ervaar.

Jy skryf oor die belangrikheid van handwerk in kuns. Word handwerk ooit as kuns beskou en hoe belangrik is die invloed van handwerk in vandag se kuns?
Die invloed van handwerk in kuns is aansienlik. Kunstenaars maak deesdae gebruik van kralewerkers en ander vakmanne om groot konsepte saam met hulle uit te voer. Baie werke wat ons sien, is beïnvloed deur mandjiewerk en kralewerk en ander handwerk. ‘n Vakman kan ‘n baie mooi objek maak en het dan die vermoë om daardie selfde objek weer en weer te kan maak – dit sal dus ‘n handwerk bly. In teenstelling daarmee maak ‘n kunstenaar een enkele mooi ding, ‘n unieke objek.

Jy skryf oor spotprente en die invloed daarvan. Iemand soos Zapiro konfronteer elke dag lesers met sy skerp politieke en sosiale kommentaar. Is spotprente ernstige kuns?
Spotprente kwalifiseer nooit werklik as ernstige kuns nie, dit bly spotprente. Maar dit het beslis ‘n waarde, net soos graffiti wat toepaslike sosiale kommentaar lewer.

Dokumentêre fotografie teenoor kunsfotografie. Waarvoor moet ons kyk in kunsfotografie?
Dokumentêre fotografie kan in galerye uitgestal word, solank kopers weet wat hulle koop en besef dokumentêre fotografie kan nie as beperkte uitgawes verkoop word nie. Om kunsfoto’s te koop – as ‘n versamelaar is die eerste kriterium waarna jy moet kyk, of jy regtig van die werk hou. Dit moet iets vir jou beteken, jy moet daarmee kan leef en nooit moeg word om daarna te kyk nie.

Hoe het jy besluit watter kunstenaars en hul werk sluit jy in, siende dat daar soveel kunstenaars in Suid-Afrika is?
Dit was besonder moeilik. Maar die boek is nie ‘n kunstenaar tot kunstenaar soort boek nie. Dis teen die agtergrond van Suid-Afrika en ek het gekyk watter kunstenaars pas in by die tema. Ek wou die beste kunstenaars insluit en het soms na ‘n groep kunstenaars wat min of meer dieselfde kwessies toelig, gekyk en die mees verteenwoordigende en sterkste stem gekies. Daarom is daar mense soos William Kentridge, Penny Siopis en Marlene Dumas. Al het ek nog 300 bladsye meer gehad, sou daar steeds kunstenaars wees wat voel hulle moes ingesluit wees.

Kuns word in sommige sirkels steeds as ontoeganklik vir die grootste persentasie van die bevolking beskou. Hoe kan dit meer toeganklik gemaak word?
Ek wil mense aanmoedig om nie geïntimideer te voel deur galerye nie en om na die werke te gaan kyk en hulself af te vra waartoe spreek die werk in hulle. Hulle moet ook nie skaam voel om vrae te vra nie. As mens meer weet oor ‘n kunstenaar dan het jy meer waardering vir die werk.

Hoe lyk die tendens in kuns vir 2010?
Daar gaan ‘n groot klem geplaas word op sportiwiteit, veral in die lig van die sokker. Baie kuns sal gemik word juis op daardie mark. En dan is daar natuurlik die green thing. Globaal is daar ‘n klomp kunstenaars wat in die kwessie belangstel en werk lewer daaroor.

Wat lê vir jou voor?
Ek gaan vir ‘n wyle ophou skryf en my weer toespits op my eie kuns. Ek is uitgenooi om deel te neem aan ‘n groot uitstalling in Linz, Oostenryk, die Biënnale Cuveé. Dan gaan my reeks, Darkroom, later in die jaar uitgestal word in die Museum of Fine Arts, Richmond. Ek gaan ook aan met my reeks werk, Other Voices, in ander stede. Die werk het ontstaan uit iets in Kuba en dit ondersoek wat dit beteken om op ‘n spesifieke plek te woon.