FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Suid-Afrikaanse vrou se skokkende lewe in Amerikaanse sekte

Lesley Smiles se oorbruggingsjaar in Amerika het baie meer opgelewer as wat sy verwag het. ’n Huwelik met ’n man wat sy nie geken het nie en ’n tien jaar lange lidmaatskap van ’n sekte.

In haar boek, Cult Sister (Tafelberg, R225) kyk sy terug oor haar lewe in die Jim Roberts Group, die sekte waarin sy tien jaar lank vasgevang was. In 1983 het sy ná matriek met haar ma se goedkeuring na Amerika gegaan vir ’n oorbruggingsjaar. Haar tienerjare was nie maanskyn en rose nie. Sy is seksueel gemolesteer, verkrag en het dwelms en alkohol as ’n onstnappingsmeganisme ingespan. Nadat sy ’n wettige aborsie gehad het, het haar ma besluit dit sal Lelsey goed doen om weg te kom uit haar omgewing met sy depressiewe herinneringe. Op die lughawe het sy Lesley vermaan om nie ’n lid van ’n sekte te word nie en om tog nie te trou terwyl sy oorsee is nie. Profetiese woorde. Binne maande in Amerika het Lesley by ’n sekte aangesluit en boonop met ’n byna wildvreemde lid van die sekte getrou.

Die geheimsinnige sekte het onder die radar probeer leef volgens Bybelse standaarde. Hulle het die gerief en kommersialisme van die moderne wêreld afgesweer en het ’n swerwersbestaan gehad. Hulle het geplak in leë geboue, het in stortbakke (dumpsters) gesoek vir kos, het nie dokters of hospitale besoek nie. Stel jou ’n lewe voor sonder lopende water en elektrisiteit, stowe, baddens, beddens … en jy moet kinders so grootmaak! Dis presies wat Lesley moes doen. Sy en haar drie kinders het saam met haar man geswerf van plek na plek, hul aardse besittings in rugsakke. Haar kinders is die rede waarom sy uiteindelik teruggekeer het na Suid-Afrika. Dis ’n boeiende verhaal en jy hou aan lees om te sien wat sy gaan onthul oor die sekte. Maar as jy ’n sensasionele vertelling oor die sekte verwag, sal jy teleurgesteld wees. Die boek is eerder ’n eg menslike verhaal waarin die skrywer intens skryf oor haar persoonlike ervarings.

Ons het per e-pos oor haar boek gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Toe jy Suid-Afrika verlaat het, was jou ma se raad dat jy nie moet trou of by ’n sekte moet aansluit nie. Tog is dit presies wat jy gedoen het. Waarom het jy by die sekte aangesluit en boonop met ’n wildvreemde man getrou?
Toe ek die groep ontmoet het en besluit het om saam met hulle te reis het ek nie geweet dis ’n sekte nie. Hulle het vrede uitgestraal en dít het my aangetrek. Ek het gehou van hul leefwyse en stil manier en hoe vurig hulle was om hul lewe volgens Bybelse standaarde te vorm. Hul radikale weersin in die ‘wêreld’ het vir my baie edel voorgekom. Ek het daarvan gehou dat hulle ‘volgens geloof’ geleef het. Wat my gehelp het om die huwelik met ’n vreemdeling te hanteer, was dat ek so jonk was, met ’n lus vir avontuur en ’n begeerte om moreel regverdig op te tree. Die susters se geselskap het gehelp om dié ongemaklike situasie waarin ek my bevind het af te water.

Watter rol het jou ontstuimige tienerjare in jou aangetrokkenheid tot die sekte gespeel?
Dit het ’n groot rol gespeel in my aangetrokkenheid tot die sekte. Ek het dit gewaardeer dat die mans in die groep nie eens na my gekyk het nie. Ek het veilig by hulle gevoel. Die orde in die kerk was aanloklik en dit het gehelp dat ek stabiel en geborge gevoel het. Die susters se goedhartigheid en verstandigheid het my hardvogtige self versag en ek wou soos hulle wees.

Was dit emosionele aanvaarding of was dit jou manier om jou wilde jonger self te straf?
Ek dink nie ek het by die groep aangesluit om myself  te straf vir my wilde lewe in my jonger dae nie. Ek was moeg vir al die emosionele bagasie wat ek vir jare rondgesleep het en dit het gelyk na ’n manier om daarvan ontslae te raak. Ek wou oorbegin en die leer van Christus het my aangemoedig om dit te doen: “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers … en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.” Hierdie rus vir my siel is waarna ek gesmag het. Ek het daarvan gehou dat ek aangemoedig is om gewas te word deur die water van die woord en dat ek kon oorbegin en die dinge van die verlede agterlaat. Ek het die ‘nuwe lewe’ wat my aangebied is, aangegryp.

Die kerk het ’n nomadiese lewe gehad. Hoe moeilik was dit om die heeltyd op reis te wees met geen permanente tuiste nie?
Aanvanklik was dit nie moeilik nie. Die mens kan aanpas by verskillende omstandighede. Toe ek op my eie in Amerika gereis het, het ek John Bunyan se The Pilgrim’s Progress gelees en ek kon daarmee identifiseer. Ek het baie teksverse in die Bybel gevind oor om ‘pelgrims’ te wees op soek na ’n beter land. Dit het byna romanties gevoel om nes Jesus nie ’n plek te hê om my kop neer te lê nie. Ek wou so wees. Die baie reis het egter stresvol geraak, nadat ek my kinders gehad het.

Het dit kontak met jou familie in Suid-Afrika moeilik gemaak?
Kontak met familie was in die algemeen glad nie aangemoedig nie. Omdat ek egter met immigrasie kwessies besig was, is ek toegelaat om in kontak met my familie te bly, al was dit sporadies en my briewe was maar min. Snaaks genoeg is my ma en ouma toegelaat om my te besoek, asook my jonger broer en later sy vriendin. Ek is verstom dat ek so bevoorreg was. Ons het baie studiestukke gehad oor om alles wat ons het agter te laat, en dit sluit familie in.

 

Hoe groot aanpassing was die soeke na kos (dumpster diving) vir jou?
Susters het gewoonlik nie gesoek na kos nie, dit was die broers se werk. Ek was verstom en gefassineer deur wat as afval beskou is. Dit het so sinneloos en verkeerd gelyk dat soveel kos wat nog goed en heilsaam was weggegooi word. Wat ’n vermorsing as daar soveel mense in nood is! Dit gee my steeds plesier om goed te vind. Ek was ’n paar jaar gelede in Duitsland en dieselfde ding gebeur daar. Dis skokkend hoeveel gemors ons mensdom genereer. Ek hou daarvan om ongewenste kos, klere en goed te upcycle, te herwin en te versprei onder die armes. Daar is baie honger en behoeftige mense wat ons kan help as ons sou kies om dit te doen.

Hoe het jy stabiliteit vir jou kinders geskep as julle die heeltyd op reis was?
Ek het stabiliteit vir my kleintjies geskep deur hulle konstant te versorg, individuele aandag te gee en om grense te stel waarin hulle kon ontwikkel en groei. Ek het gordyne en bypassende slaapgoed gemaak waarmee ek binne minute ons kamer dieselfde kon laat lyk as ons vorige een. Deur die eeue was daar swerwers en sigeuners wat dieselfde gedoen het. Kinders benodig konstante leiding, liefdevolle versorging, goeie kos en verstandige opvoeding om reg te ontwikkel. Ek het dit vir my kinders gegee, so goed ek kon. Ek is skaam om te erken dat ons te streng was. Maar, soos my seun Reuben gesê het: “Eerder dit as geen dissipline nie.” My kinders is onafhanklik, goed aangepas en blink uit in wat hulle doen. Ek voel geëerd om hul ma te wees.

Wat het die skryf van die boek vir jou beteken?
Die skryf van Cult Sister was emosioneel bevrydend en ’n suiwerende ervaring. Ek moes diep delf om die herinnerings en emosies wat ek begrawe het op te diep. Ek het baie gehuil terwyl ek my memoires geskryf het en het genesing ervaar in die skryf en herskryf, lees en herlees van wat ek geskryf het. Ek is nou op ’n plek waar ek terug kan gaan na die ervaring en verwyderd voel daarvan. Dit was sielkundig en spiritueel genesend en ’n ongelooflike katarsis. Ek is so bly ek het dit gedoen.