FOTO: Colin Thomas

FOTO: Colin Thomas

Boeke

Televisie het my geleer hoe om te skryf

Televisie het Susan Lewis se skrywersloopbaan afgeskop en het haar voorberei op die werk van ’n skrywer.

In haar middel 20’s het sy by ’n televisiestasie beland, omdat sy ’n vervaardiger wou word. Daar het sy al die ervaring opgedoen wat haar eendag sou help om die skrywer te word wat al met menige topverkopers kan spog. Sy het draaiboeke geskryf en toe iemand voorstel sy stuur die storielyn aan ’n agent, het sy nie op haar laat wag nie. Tot haar verrassing het die agent haar gebel en gevra om haar te sien. Vir dié ontmoeting koop sy spesiaal ’n hoed. Daar sit sy in die kwaai en baie ‘posh’ agent se kantoor. En sy voel onnosel in haar hoed. Maar die agent moedig haar aan om die storielyn in ’n boek te omskep, wat sy toe ook doen. Dit het nie sonder stampe en stote gegaan nie, want eers wou die boek glad nie werk nie, totdat ’n kollega haar die raad gee om die verhaal in die verlede tyd te skryf. En siedaar, nou het Susan al 33 boeke op haar kerfstok, waarvan die jongste Never Say Goodbye (Century, R210) is. Vandag, jare later, het sy nie meer die hoed nie, maar sy het steeds die agent, en sy is nie meer bang vir hom nie.

Never Say GoodbyeHaar jongste verhaal gaan oor borskanker, ’n kwessie wat baie mense raak, veral vroue. Josie Clark kom uit ’n minderbevoorregte agtergrond en werk as ’n skoonmaker en kelnerin. Haar man, Jeff, het sy eie huurmotor.Haar dogter is op universiteit en haar seun is in die tronk. Dit gaan broekskeur om elke maand met hul geld uit te kom. Tog is Josie blymoedig en maak altyd ’n plan. Sy gaan dokter toe om die pyn in haar bors te laat ondersoek en tot haar skok word sy met borskanker gediagnoseer. Eers probeer sy die pad met borskanker alleen aanpak, totdat sy ’n onwaarskynlike vriendskap met die ryk Bel Monkton ontwikkel. Bel se suster is aan borskanker dood, daarom raak sy betrokke by Josie. Al die karakters word uiteindelik geraak deur Josie se siekte, en meestal ten goede. Al is dit ’n ernstige onderwerp, is die boek glad nie swaarmoedig nie. Dit neem jou deur elke stap van ’n borskankerlyer se behandeling en jy het beter begrip na die lees van die verhaal.

Waarom ’n storie oor borskanker skryf?
Niemand van ons is onaangeraak deur borskanker nie. Of dit nou jy self is, ’n familielid, ’n vriend of ’n kennis, ons almal ken iemand wat borskanker het. Niemand van ons is immuun daarteen nie.

Maar borskanker is vir jou ’n baie persoonlike onderwerp, want jou ma het daaraan gesterf. Waarom het jy nou eers ’n storie oor borskanker geskryf?
Ek wou eintlik nie oor borskanker skryf nie, maar my uitgewer het gedink dit sal ’n goeie idee vir my wees om daaroor te skryf. ’n Goeie uitgewer ken jou sterk en swak punte. Sy het ’n hele paar jaar borskanker as tema bly ophaal. Ek wou nie daaroor skryf nie, juis omdat ek reeds die memoires, Just One More Day, oor my ma se borskanker geskryf het. Dit het gevoel of ek myself net sal herhaal. Breastcancer Care, ’n liefdadigheidsorganisasie in Brittanje, het egter gesê dis dalk ’n goeie plan dat ek daaroor skryf en hulle sal my al die ondersteuning gee wat ek nodig het. Dit het die prentjie nogal verander, want om toegang tot mediese inligting en spesialiste te hê, sou die navorsing vir so ’n boek aansienlik vergemaklik. Dit het my die selfvertroue gegee om wel dié onderwerp aan te durf.
Toe moes ek besluit hoe ek die storie gaan vertel: wie is die karakters; wie gaan kanker hê en wie gaan die ondersteuner wees en hoe kom die twee by mekaar uit? Ek wou die positiewe aspekte rondom borskanker aan lesers oordra, want ons almal ken die negatiewe aspekte tog te goed. Dit was vir my belangrik om lesers vir Josie deur die hele proses te sien gaan, van hoe sy moed moet bymekaar skraap om haar gesin te vertel, die behandeling en natuurlik hoe belangrik haar vriendskap met Bel is. As dit nie vir borskanker was nie, sou hulle nooit vriende geword het nie, sy sou tien teen een Bel se huisbediende wees.

Josie en Bel kom uit baie uiteenlopende agtergronde. Josie woon in ’n “council estate”, terwyl Bel finansieel baie beter daaraantoe is, met haar eie eiendomsbesigheid in ’n gegoede omgewing. Was dit belangrik vir jou om twee sulke uiteenlopende mense bymekaar te bring?
Ja, ek wou wys hoe ’n gelykmaker kanker is. Ons is almal moontlike slagoffers, ongeag wie jy is of wat jou status in die samelewing is. As jy kanker het, is jy bang. Om dan hulp van ’n onwaarskynlike persoon te kry, is ’n bemoedigende en verrykende ervaring.Ek dink dis hoekom ek die twee wêrelde bymekaar wou bring. Maar Josie gee ook haar ondersteuning aan Bel, so sy is nie die enigste een wat baat uit die vriendskap nie.

Het jy Bel en Josie op iemand wat jy ken gebaseer?
Ek het so bietjie soos ’n toeskouer gevoel soos wat hulle karakters ontwikkel het en soos wat die storie sy eie loop geneem het. Hulle het as suiwer fiktiewe karakters ontstaan, maar nou voel hulle vir my soos vlees en bloed! Hulle is nie gebaseer op iemand nie. Mense het al gesê Josie is op my ma gebaseer. Dis nie so nie, sy is baie ouer as my ma, toe my ma dood is – nie dat Josie sterf nie. My ma was baie jonger, baie sterker en meer uitgesproke en heel moonlik ook meer angsbevange, omdat daar in daardie jare nie oor kanker gepraat is nie. Sy sou ook nie vir die dokter vrae gevra het nie. Ek dink Josie is ’n sterk karakter, sy weet dit net nie. Sy is altyd besig om almal te ondersteun en dis hoe ek wou hê sy moes wees. Haar diagnose het haar lewe ’n hele nuwe rigting laat inslaan, en dis wat haar sterk gemaak het. Hoe sy moes leer om hulp te aanvaar en hoe sy ook moes leer dat ander mense iets vir haar doen. Sy was gewoond daaraan om te gee en die een te wees wat ondersteun.

Waarom het jy arme Josie se lewe so gekompliseer, want Jeff het ’n affair met haar beste vriendin gehad, boonop is haar seun in die tronk?
Soms is mense maar net ongelukkig, en soos Josie, is dit maar die storie van hul lewe. Mense sukkel, hulle het kinders wat in en uit tronke is, of kinders wat te vroeg trou. Hul mans het affairs en is ook nie juis spraaksamig nie. Hulle moet probeer om uit te kom met die bietjie geld wat hulle het en dan is daar ook nog die vrees dat die regering hul welsyntoelaes sal wegneem. Ek dink nie Josie is so uitsonderlik nie, inteendeel sy is eintlik baie tipies van ’n groot groep vroue.

Ten spyte van haar eie probleme word Bel ’n groot steunpilaar vir Josie. Hoe so?
Eenvoudig, dis makliker om sterk te wees vir iemand anders as vir jouself. Dis vir Bel makliker om haar eie probleme weg te steek en op Josie te fokus, totdat Josie besluit sy kan Bel ook konfronteer oor haar probleme. Sy sou dit nie doen aan die begin van die boek nie, maar na haar kankerdiagnose is sy ’n ander mens wat wel haar man kan staan.

Is verhoudings belangrik vir jou, want dit vorm die basis van die verhaal?
Dis waar van al my boeke, want ek dink verhoudings is die belangrikste ding in almal se lewe. Mense en hoe ons aansluiting bymekaar vind, is belangrik. Kwessies is altyd sekondêr. Ons is almal bekommerd oor dieselfde goed, of dit nou kindermishandeling, kanker of wat ook al is – dit raak ons almal. Hoe ons kwessies verstaan, hang baie af van die verhoudings tussen mense wat daarmee probeer deel.

Was hierdie ’n emosionele verhaal om te skryf?
Ja, dit was. Vir ’n groot deel van die boek was ek Josie, en het ek geleef met die diagnose en behandeling. Terwyl ek geskryf het, was ek die heel tyd bewus van hoeveel vroue op daardie spesifieke tyd besig was om chemoterapie te ondergaan. Ek moes myself bietjie gedistansieer van die boek vir ’n wyle, want dit was net te oorweldigend. Dis aaklig om chemoterapie te kry.

Hoe het jy die navorsing benader?
Breastcancer Care het my ondersteuning met al die navorsingwat ek nodig gehad het. Hulle het my gehelp om met ’n spesialis oor borskanker te praat, wat my weer voorgestel het aan ’n onkoloog. Ek het vooraf baie goed voorberei, omdat ek nie hul tyd wou mors nie. Ons het lang gesprekke gehad waarin hulle die proses vir my uiteengesit het. Elke keer nadat ek die mediese gedeeltes geskryf het, het ek dit aan dr. Emma Pennery van Breast Cancer Care gestuur. Sy het dan gekyk of ek die korrekte inligting weergegee het en dan voorstelle gemaak en dit onmiddellik terug gestuur aan my. Dit was baie navorsing, maar op ’n manier eintlik die maklikste, weens die ondersteuning wat ek gekry het.

Was dit moeilik om die storie vloeiend te hou sonder om dit dood te gooi met mediese feite?
As ek ’n jonger, meer onervare skrywer was, sou ek gesukkel het om daardie balans reg te kry. Oor die jare het ek geleer om ongenaakbaar te wees – as iets nie relevant is vir die storie of karakter nie, dan kom dit nie in die boek nie. Ek wou hê die storie moet gemaklik vloei en dit sou nie as ek lang stukke onverwerkte navorsing ingesluit het nie.

Jy is ’n oorvloedige skrywer met baie boeke op jou kerfstok. Hoe doen jy dit?
Ek skryf twee boeke ’n jaar.Ek is geweldig gedissiplineerd. Hierdie boek het my drie maande geneem om te skryf. Gewoonlik neem dit ses maande. Skryf is my werk. Ek is teen tienuur soggens in my studeerkamer en skryf tot sesuur. Saans is ek uitgeput van al die konsentrasie. Soms neem ek ’n dag af net om my energie weer te herlaai, veral as die storie ophou vloei het. Ek vind as ek bietjie terugstaan, kry ek weer perspektief en kan weer opnuut aangaan met die storie.

Kry jy nog tyd om self te lees?
Ek lees die hele tyd, maar die skrywers waarvan ek hou, verander konstant. Nou is dit Hilary Mantel en Rose Tremain. Ek is gek oor oor die inligting in Hilary se verhale, want sy het die vermoë om lewe in te blaas in geskiedkundige karakters. Ek hou baie van Rose Tremain se skryfstyl.