FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Ter nagedagtenis aan Nelson Rolihlahla Mandela (1918 – 2013)

 

Al doen die sel niks anders nie, gee dit jou die geleentheid om daagliks jou gedrag te bekyk, om dit wat sleg is te oorkom en wat ook al goed is in jou te ontwikkel.”

Hierdie aanhaling deur een van die wêreld se grootste ikone en leiers is ’n duidelike aanduiding van sy positiewe ingesteldheid. Mandela was ’n man wat sy lewe geleef het streng volgens dit waarin hy geglo het. Hy het baklei vir ons land, sy mense en regverdigheid vir almal. Hy was die simbool van hoop in ’n tyd waar niemand geglo het in die voortbestaan van hierdie land nie. Mense van alle rasse, geslagte en kulture het hom leer ken as die lang , nederige man met die groot glimlag. Ons het hom respekteer en lief gehad. Met sy dood op die aand van 5 Desember 2013 het ’n nasie bymekaar gekom om hom finaal te groet. Vanselfsprekend het talle boeke oor sy lewe, Robbeneiland en sy politieke oortuiginge verskyn.

Mari Rheeder bespreek ’n paar uit die wye keuse wat beskikbaar is in die mark.

Gesprekke met myself, Nelson Mandela (Lapa Uitgewers, R299,95)
Die man agter die legende: Wie was hy regtig? Wat het hy gedink? Ons sien hom as die nederige man, met baie respek, dissipline en uithouvermoë, maar ons kan nie sê dat ons hom ken nie, buiten as die openbare figuur waaroor dikwels in die media geskryf is. Hierdie boek is die Afrikaanse weergawe van sy eie boek waarin sy briewe, notas, dagboekinskrywings, gesprekke, te-doen-lysies en krabbels verskyn het (Conversations with myself). Dit gee ons die geleentheid om Mandela díe mens te leer ken, om meer te sien van sy persoonlike gedagtes en mymeringe. Nou raak Mandela minder onbereikbaar, en is hy as mens meer toeganklik vir die breër publiek. Ons besef dat hy ook maar net ’n mens was. In ’n stadium in die boek teken hy sy gewig en bloeddruktelling aan. Nog so ’n mense-mens-oomblik gebeur waar Mandela op sy eie skryfpapier, kompleet met ’n spotprent van Garfield die kat, sy toekomstige derde vrou, Graça Machel se adres neerskryf. Dié insiggewende boek verryk mens se kennis oor die ontslape ikoon.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Opposite Mandela, Tony Leon (Jonathan Ball Publishers, R210)
Met bekende politieke figure, soos die DA se Tony Leon en oudpresident Nelson Mandela van die ANC, voorspel ek voordat ek enigsins hierdie boek lees dat mens gaan hoor van relletjies en ernstige debatte tussen hierdie twee leiers. Daar is talle boeke oor Mandela se lewe in die tronk en sy goeie dade vir hierdie land. Wat lekker is van hierdie tipe boek is dit gee insig in die politieke binnewerking tussen individue met verskillende politieke uitgangspunte. Tony Leon vertel van argumente tussen die twee opposisie partye, maar ons lees ook van ’n sterk vriendskapsverhouding wat tussen hom en Mandela gevorm het. Van die vrae wat Leon vra is hoe Mandela as politieke leier was en hoe hy vergelyk het met ander politieke figure. Wat opvallend is, is dat alhoewel Mandela beskryf word as ’n vurige politieke figuur,verloor hy nooit sy nederige en sagmoedige persoonlikheid waarvan ons so dikwels lees nie. Hy bly die mense-mens wat ons geken het. As jy belangstel in die land se politiek is hierdie boek vir jou. Volg ’n tydlyn vanaf Mandela se vrylating tot en met sy uittrede.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Sporting Madiba – 50 Famous Photos (Jonathan Ball Publishers, R230)
Sport is iets wat meeste Suid-Afrikaners na aan die hart lê, of dit nou rugby, krieket, gholf of sokker is. Een van ons land se grootste sportgeesdriftiges was Nelson Mandela. Vir hom was dit iets om ’n nasie mee te bou en wêrelde bymekaar te bring. Hy het sport gebruik om die brug te bou tussen die verskillende kulture in die land. In hierdie indrukwekkende versameling foto’s van Gallo Images word Madiba se onvergeetlike sport-oomblikke verewig. Verwag om nasionale- en internasionale sportlegendes te sien soos Kepler Wessels, Francois Pienaar, Ernie Els, Tiger Woods, Lennox Lewis en David Beckham. Mandela het altyd vir fotograwe geleenthede geskep om hom saam met sportmanne af te neem, nie omdat hy moes nie, maar omdat hy bewus was van die mag en impak wat sport in die wêreld het. Dié pragtige boek is die perfekte geskenk vir enige sportliefhebber.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The lighter side of life on Robben Island, onder redaksie van Fred Khumalo, Paddy Harper en Gugu Kunene (Makana Investment Corporation PTY LTD, R200)
Soos wat ek deur hierdie boek se 20 hoofstukke blaai, raak ek meegevoer in die persoonlike vertellings van voormalige gevangenes. Hulle deel baie interessante en ligter oomblikke wat efgespeel het op Robbeneiland en dis verfrissend om hierdie sy van die bekende eiland te leer ken. Hoe het hulle die daaglikse tronklewe ervaar en oorleef? Hulle manewales sorg vir ’n groot snaaksigheid soos wat hulle vertel van die musiek, liefdes, interessante modes en sport. Jy raak emosioneel betrokke by hierdie mense deur hul eie woorde. Jy voel deel van hulle dag tot dag stryd, maar wil saam met hulle lag oor al die snaakse herinneringe. Een punt van kritiek: Die skrif raak soms moeilik om te lees, maar druk deur, want dis beslis die moeite werd as jy lus voel vir lekker, ligte leesstof.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Robben Island, Charlene Smith (Random House Struik, R160)
“Robben Island was a place of harshness and brutality; its history steeped in the suffering of those banished there. Yet it has also become a universal symbol of hope, forgiveness and triumph”. So word die boek op sy agterblad beskryf. Die fokus is hier wel op die bekende tronk en eiland waar Nelson Mandela 18 jaar tronkstraf uitgedien het, maar wil jou, as leser, eerder meer vertel van die eiland en sy ryk geskiedenis. Mens leer meer oor die see, land- en voëlspesies op die eiland, die besienswaardighede, spookstories, skeepswrakke en slawe. Moenie hierdie boek optel as jy nie van geskiedenis hou nie, want hierin gaan jy lees van die Xhosas, vroeër bewoners van die eiland en die Tweede wêreldoorlog. Maar tog is hier iets interessant aan hierdie boek, iets dieper as net daardie lappie grond wat van die Kaap af gesien kan word – trots Suid-Afrikaans.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

A Prisoner in the garden, kollektiewe produksie van die Nelson Mandela trustfonds (Penguin Books, R176)
Soms het invloedryke mense in die geskiedenis nie juis geskiedkundige dokumente nie, bloot omdat dit nooit bewaar is deur hul lewens nie. Gelukkig met Nelson Mandela is daar ’n groot versameling van dokumente, foto’s en nog meer. Die Nelson Mandela Centre of Memory and commeration is juis deur hom geopen in ’n poging om sy herinneringe te bewaar vir die nageslag. In hierdie boek kan jy Mandela se tronk-argief van nader beskou. Daar is verrassings, nuwe beginne, herinneringe – goed of sleg en doodloopstrate. ’n Foto wat in 1977 deur ’n joernalis op besoek aan Robbeneiland geneem is, is die inspirasie vir die argief van sy dokumente, asook ook die boek. Mandela, netjies in sy tronkklere, met ’n sonbril en graaf werk in die tronk se tuin, ikonies van die lang, nederige man wat ons almal “ken” en liefhet. Nie almal het toegang tot die argief nie, maar in hierdie boek kan hulle hul darem so bietjie daarin deel en hul eie herinneringe skep. So sal Mandela bly voortleef.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mandela (Macmillan in samewerking met PQ Blackwell, R201)
Nog ’n boek oor Nelson Mandela se lewe? Nee tog nie, dié koffietafel boek is die handlanger van die rolprent gebaseer op Mandela se outobiografie, A Long walk to freedom. Vertellings deur die film se vervaardiger, regisseur, ontwerper en draaiboekskrywer lei die boek in. Dit gee onmiddellik ’n dieper betekenis aan die rolprent. Hierdie groep mense wou nie net nog ’n rolprent maak nie, maar sien dit eerder as ’n verering van ’n man se lewe wat eintlik nie in sowat twee ure vasgevang kan word nie. ’n Lekker mengsel van foto’s en vertellings uit Mandela se outobiografie, asook uit die film maak dit ’n kyk-boek. So word jy deel van die rolprent. Die boek is juis so ontwerp om voort te leef lank nadat die laaste name op die skerm weggesterf het.