Boeke

Top-5 boeke vir terug skool toe

Ek is seker party ma’s was meer benoud as die kinders, veral as dit die eerste kuikentjie is wat skool toe gaan. Dit maak nie saak of dit kleuterskool of grootskool is nie. Vir party ma’s sal dit altyd moeilik wees om hul kinders by die deur te sien uitgaan. Ander ma’s is al so gewoond aan die oggendroetine om almal gereed en by die skool te kry. Maar die lekker van skool is dat iemand anders nou vir kleinboet en kleinsus gaan besig hou vir ‘n gedeelte van die dag. Die aanvang van ‘n nuwe skooljaar is ook net die regte tyd om goeie gewoontes aan te leer en daarom het ek die week spesiaal boeke gekies gemik daarop om kinders se vaardighede te verbeter.

Onthou, jy kan van die boeke by ons elektroniese boekwinkel bestel teen ‘n afslagprys.

My HAT Storiewoordeboek, redakteur Jana Luther (Pearson, R179,95)
My HAT storiewoordeboek is ‘n wonderlike woordeboek vir die jongspan so vanaf vierjarige ouderdom en ouer. Dis die opvolg op My Eerste HAT wat in 2009 verskyn het. Hierdie uitgawe bevat 1 000 komplekse woorde wat kinders nie altyd ken nie. Die doel van hierdie woordeboek is juis om daardie moeilike woorde op ‘n speelse en eenvoudige manier te verduidelik. Die kleurryke illustrasies, verhaaltjies en staaltjies sal kinders help om die betekenis van die woorde in ‘n japtrap te snap. Bykomend is die 300 dink-en-doen-aktiwiteite wat kinders sal help om begrippe beter vas te lê. Dit is ‘n moet-hê-woordeboek vir kinders, veral om hulle skoolgereed te kry. – Monique Bolton

 

Pharos Afrikaans-Engels Woordeboek

Pharos Afrikaans-Engels, Engels-Afrikaans Woordeboek, redakteur Madaleine du Plessis (Pharos, R525)
Dis die ideale woordeboek vir elke skrywer, onderwyser, student of enige persoon wat korrek wil kommunikeer. Of dit nou skryf of mondelings is of net om idiome reg te gebruik en te verstaan, dis die woordeboek om te hê.

Met meer as 200 000 trefwoorde en 120 000 frases en uitdrukkings is daar nie ‘n verskoning om die verkeerde woorde of uitdrukkings te gebruik nie. Ons wêreld het ingrypend verander oor die afgelope dekades, veral wat betref tegnologie, wetenskap en medisyne en dit beteken dat ons woordeskat in Afrikaans ook moet uitbrei om by te bly. Dis die groot voordeel van hierdie woordeboek, dat dit ‘n hele swetterjoel nuwe materiaal bevat.

Die woordeboek is baie gebruikersvriendelik en word beslis aanbeveel. – Monique Bolton

Skoolgereed Aktiwiteite

Skoolgereed: Aktiwiteite Deel 1, Cécile Marbehant en Christian Ortega (Human & Rousseau, R70)
Hierdie boek is gemik op kinders tussen vier en ses jaar. Dit bevat meer as 200 aktiwiteite wat hulle sal help om te leer lees, tel, teken en om kleure te herken en om hul woordeskat uit te brei. Die oefeninge is eenvoudig genoeg om hul aandag te behou en moeilik genoeg om dit ‘n uitdaging te maak.

Dis ‘n lekker speelse manier vir kinders om te leer en om hulself besig te hou. Van die oefeninge is ook so ontwerp om te help met handkoördinasie. Daar is ‘n tweede boek (Skoolgereed Aktiwiteite Deel 2) in die reeks waarin daar meer as 200 ander aktiwiteite is.

Ideaal vir ma’s wat kleintjies wil besig hou, en ook ‘n lekker stuk gereedskap vir kleuterskoolonderwyseresse. – Phyllis Green

Die Knal lekkerste wetenskapboek

Die knal-lekkerste wetenskapboek in die heelal – deur die slimkoppies, Claire Watts (Human & Rousseau, R154,99)
Ek is nooit seker wie van my of my nefies die meeste opgewonde is oor hierdie boek nie! Ek wens daar was so ‘n boek beskikbaar toe ek wetenskap as vak op skool gehad het.

Dis kleurryk geïllustreer deur Liza Swerling en Ralph Lazar en hul styl is herkenbaar. (Ek het al hulle ander boeke ook al bekyk en belees.) Die teks is eenvoudig, maar met genoeg feite om ‘n presiese uiteensetting te gee van die wetenskap en sy begrippe. Die illustrasies is prettig.

Die boek is gemik op kinders van tien jaar en ouer – maar eintlik is dit vir enigiemand wat ‘n idiote-gids oor die wetenskap nodig het! –PG

Kat in die pan vir die Fransman

Kat in die pan vir die Fransman, Jelleke Wierenga (Maskew Miller Longman, R69,95)
‘n Lekker leesstorie vir kinders van nege jaar en ouer. Dit gaan oor ‘n tweeling, Bruno en sy sussie, Bronnie, wie se kat, Kattebol, verdwyn.

Bruno vertel hoe hulle probeer om die misterieuse verdwyning van Kattebol op te los met die hulp van hul maat Ben. Daar is allerhande kinkels in die kabel en hulle drie moet ”underground” gaan en hulself vermom om speurwerk te doen, sodat hulle genoeg bewyse kry om die dief aan die pen te laat ry.

Die spanningslyn is goed en die storie is onderhoudend. Agterin die boek is werkopdragte vir elke hoofstuk wat lesers sal help om beter taal- en begripvaardighede te kweek. Die boek is ook uistekend vir gebruik in die klaskamer. Dit was die wenner van die MML Letterkundeprys 2010 in Afrikaans.

Lees ook Wieringa se ander boek, ‘n Bosluis red die koningshuis. Dis vir ‘n effe jonger gehoor, maar het dieselfde boeiende skryfstyl en is lekker leesmateriaal. –PG