smug_tim
Boeke

5 Boekminute met Tim Sandham

Hierdie is omtrent ‘n idiot’s guide tot sokker. Hy skryf kort en bondig, oor waar die spel vandaan kom, oor die sokkerlegendes, die huidige sokkersterre, die spelposisies, -formasies en natuurlik die reëls van die spel. Ek moet bieg, ek verstaan steeds nie die onkantreël nie. Hier is ook ‘n kort opsomming van al die spanne in die wêreld, hul kleure, byname, afrigter, kanse vir wen in die Wêreldbeker en waar hulle op die ranglys is. Wat die boekie nog ouliker maak, is die sokker-aksieboek in die middel, gemik op die kinders in die huis. Lekker aktiwiteite soos inkleur, vasvraspeletjies, raaisels en sudoko.
Phyllis Green het per e-pos met die skrywer gesels.

Kan jy sokker speel?
Ja. Ek wag nog vir die oproep van Carlos Alberto Pareira waarin hy vra of ek asseblief kans sien om die plekkie regs agter vir hom te kom vul.

Vir iemand wat niks weet van sokker nie, wat is die een ding wat daai mens moet weet oor die spel?
Moenie ophou kyk nie, tot die eindfluitjie blaas.

Is die spelreëls regtig maklik verstaanbaar?
Almal, behalwe die onkantreël en dis soos wiskunde – of jy kan dit verstaan of jy kan nie?

Wat is vir jou die interessantste feit waarop jy afgekom het toe jy die boek geskryf het?

Die speler van Chippenham Town, wat ná drie sekondes met ‘n rooikaart afgestuur is. Wat het hy oor die skeidsregter se ma gesê? (Mens kan dit nie in goeie geselskap herhaal nie!)

Het jy ‘n gunstelingspan/speler?
Klubspan – Arsenal (Engelse Premierliga)
Nasionale Span – (Italië).
Speler (huidig) – Robin van Persie (Holland & Arsenal)
Legende – Roberto Baggio (Italië en Juventus)

Wie is volgens jou die grootste speler wat die spel al opgelewer het?
Johan Cruyff – Nederland en Barcelona

Wat is BafanaBafana se sterkste aspek van hul spel?
Hul onvoorspelbaarheid en hul vermoë om deur die skare gelig te word.

Wie is SA se beste speler ooit?
Steve ‘Kalamazoo’ Mokone. Sy dade in Europa in die 50’s het hom ‘n held gemaak in Italië en Holland waar daar ‘n film oor hom gemaak is en ‘n straat na hom genoem is. Maar Lucas Radebe was ook ‘n reuse-ster in Engeland. In Leeds is daar ook ‘n straat na hom genoem – sy werk as SA kaptein en as ambassadeur van die spel kan nie onderskat word nie.

Dink jy daar is ‘n speler in die huidige span wat ‘n sportlegende kan word?
Steven Pienaar is ‘n gelukbringer wat as spelskepper dalk die geleentheid gaan aangryp om met ‘n magiese oomblik ‘n sportlegende te word. Benni McCarthy is eintlik reeds legendaries en as hy fiks is en speelkans kry, kan hy sy status verewig.

Waarna sien jy uit met die Wêreldbekersokker?
Mooi Brasiliaanse meisies wat met bikinis in die strate dans elke keer as hul span wen!