FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Toekomsdrome

Almal droom altyd oor die toekoms, oor geluk en prestasies en welvaart, oor dit wat hulle graag wil hê moet in hul lewe gebeur.

In verhale maak skrywers dikwels sterk staat op karakters se toekomsdrome om ’n storie aan die gang te kry. In ’n liefdesverhaal droom die vroulike hoofkarakter gewoonlik van geluk en natuurlik om met die man van haar drome te trou. Al is die ridder op die witperd ’n stereotipe, is dit tog een wat werk in romans. Dis mos ’n fiktiewe wêreld waar alle probleme tot ’n einde kom en daar ’n gelukkige einde moet wees. Wat sal die toekomsdrome van die ‘baddie’ hoofkarakter van ’n misdaadverhaal behels? Sal dit wees om die polisie te fnuik? Of om die beste moordenaar ooit te wees? En die goeie ou, wat sal sy toekomsdrome wees? Mens wonder. Ek weet net dat in die werklike lewe is toekomsdrome presies dit wat die woord sê: toekomsdrome. Wanneer jy werk, leef en dinge doen, moet jy maar jou geluk vind in die hier en die nou. Drome bly drome – behalwe as jy met ’n plan werk soos in ’n verhaal!

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

The Vintage Girl, Hester Browne (Quercus, R155)
Alice en Evie is susters, hulle verskil hemelsbreed van mekaar. Evie is die opgaarder wat mal is oor alles wat uit die verlede kom en Alice, die minimalis, wil alles organiseer. Alice reël dat Evie na Kettlesheer-kasteel  in Skotland gaan. Sy moet die waardevolle besittings van die eienaars gaan evalueer vir ’n verkoping sodat hulle die kasteel kan behou. Terselfdertyd moet Alice haar kêrel, Frasier, vergesel (ook na Skotland toe), om ’n Valenstynbal by te woon by Kettlesheer. Alice kry koue voete, omdat sy nie regkom met die danspassies nie en Evie moet instaan. Intussen ontmoet Evie vir Robert, die seun van Kettlesheer se eienaars. Stadig maar seker gedurende die week wat Evie daar spandeer, ontwikkel daar ’n sterk band tussen hulle. Evie, die ewige romantikus, leef haar behoorlik in in die geskiedenis van die kasteel en die lewe van Robert se oumagrootjie. Sy het van Amerika gekom, was baie welaf en moes die kasteel red van verval. Violet word Evie se heldin en muse. Nadat Violet se man egter vroeg sterf, moet sy haar wend na ’n industrie wat nie so eerlik is nie om Kettlesheer aan die gang te hou. Kan die kasteel nou weer gered word van ondergang? – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Proposal, Tasmina Perry (Headline, R265)
Hierdie is die verhaal van twee vroue en hul verlore liefdes. Eerstens is daar Amy Carrell uit ’n doodgewone Amerikaanse gesin, ’n aspirant danseres wat Londen toe gekom het en tydelik ’n kelnerin moet wees. Haar verhouding met ’n ryk jong aristokraat, met ’n loopbaan in die Foreign Service, eindig net voor Kersfees toe hy uitmaak met haar. Sy kan nie bekostig om Kersfees huis toe te gaan nie, maar sien ’n advertensie waar ’n ryk ouer vrou ’n metgesel vir ’n “Manhattan adventure” soek en doen aansoek. Georgia Hamilton was eentyd arm, maar sy was ’n debutante en het glansryk, ryk, verfynd en suksesvol geword. Sy is egter eensaam. Sy leer Amy die beginsels van ware elegansie. Amy ontdek Georgia se geheime. Gaandeweg lei hulle mekaar weer na geluk. Die roman wissel tussen verlede en hede. Dit is ’n heerlike chicklit-feeverhaal.Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Island Hideaway, Louise Candlish (Little Brown, R154)
Eleanor glo Will is haar trouman en hulle trek saam in en raak verloof. Hy is egter baie halfhartig in hierdie verhouding en nadat hy ’n aktrise, Frannie, ontmoet verbreek hy dan ook die verlowing. Eleanor is teen die grond. By haar woonstelmaat hoor sy dat Will en Frannie vakansie hou op Panarea, ’n klein Sisiliaanse eiland. Sonder versuim klim sy op die vliegtuig en hidro-boot na dieselfde bestemming. Sy agtervolg en beloer Will op ’n afstand. Onder ’n skuilnaam ontmoet sy Frannie en maak kennis met Lewis, ’n medehotelgas. Terwyl sy so wegkruip en afloer, kuier sy heel lekker met van die ander hotelgaste. Sy het selfs een aand ’n stomende sessie met ’n veel ouer Italianer. Stadig maar seker besef sy, sy het nie meer so fiksasie op Will nie en dat dit eintlik half pateties en desperaat is wat sy doen. ’n Paar aande voor haar terugkeer na Londen beland sy en twee medegaste in ’n krisis-situasie op ’n afgeleë piek op die eiland. Al nommer wat sy kan onthou om te bel sodat iemand tot hul redding kan kom, is Will s’n. Daar ontvou ’n hele ander prentjie as wat sy verwag.
Dis nogal verrassend en onverwags. ’n Oulike boek wat lekker maklik lees. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Emergence of Judy Taylor, Angela Jackson (Constable & Robinson, R145)
Wat doen jy as jy een oggend wakker word en besef jou lewe is nie die een wat jy wil lei nie?  Judy is baie gelukkig getroud met Oliver, of is sy?  Hy is die soort man wat enige ouer as die perfekte lewensmaat vir hul dogter sal beskryf.  Judy is ’n musiekonderwyseres en Oliver is ’n prokureur, albei kom uit baie goeie ouerhuise. Vir ’n hele rukkie al vind Judy dat sy geen sprankel meer het nie, en dat sy maar elke dag net voortgaan soos die meganisme van ’n outydse staanhorlosie. Sy kry baie teenkanting vanuit alle hoeke wanneer sy besluit om Oliver te verlaat.  Hy reageer deur in woede uit te bars, net om dan weer te soebat en te pleit dat sy hom nie verlaat nie. Judy gee nie in nie en trek na Edinburgh. Daar is meer in die lewe en sy is geregtig daarop. Gaan sy daar kan aanpas?  Die skuif kom nie sonder terugslae nie.  Was dit alles die moeite werd? – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Leaving Haven, Kathleen McCleary (HarperCollins, R195)
Minute nadat sy haar pasgebore babaseuntjie geborsvoed het, stap Georgia Bing by die hospitaal uit en los vir Haven alleen agter. Dit is hoe hierdie verhaal deur Kathleen McCleary begin en die leser besef dadelik daar is groot fout. Die storie word dan stuk vir stuk vertel deur rond te spring tussen verskillende tydlyne voor die geboorte. Georgia se beste vriendin is Alice en al het hulle mekaar nog altyd deur dik en dun bygestaan, het die atmosfeer tussen hulle verander.
Alhoewel die storielyn redelik voorspelbaar is en die pas taamlik rustig is, is dit steeds ’n mooi verhaal oor vriendskap en liefde, oor hartseer, vergifnis en heling. Die karakters het nog lank by my gebly nadat ek klaargelees het en ek kon nie help om te wonder hoe ek anders sou optree in hulle posisie nie. Dit is ’n lekker boek vir ’n boekklub. – Danica Steyn

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Haar beste bruidegom, Dirna Ackermann (Melodie, R94,95)
Annemé en De Wet is albei deur vorige liefdes geskaad. Sy het voor hom grootgeword en hy is haar “broer” wat sy met alles vertrou. Die mooi Annemé is ’n eiewys, parmantige snip en hy is ’n soliede sakeman, betroubaar, aantreklik. Annemé wil weer trou en hy moet haar help om ’n bruidegom te kies. Sy stel belang in die man wat hy afkeur. Sy keur die vrou af wat in hom belangstel. Albei kom gaandeweg tot die besef dat hulle gevoelens vir mekaar alles behalwe ’n broer-suster-verhouding geword het. Hulle stamp koppe met mekaar, en met ander, totdat sy haar beste bruidegom vind. Oulik geskryf. – Malene Breytenbach

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Fractured, Dani Atkins (Headline, R250)
Rachel se lewe is perfek. ’n Mooi kêrel, wonderlike vriende en die vooruitsig van die begin van universiteit oor ’n paar dae. Sy was nog nooit so gelukkig nie. Maar ’n enkele onbesonne motorbestuurder verander alles in ’n hartklop.
Vyf jaar later bly Rachel in ’n klein woonstelletjie, het ’n vervelige werk en sukkel steeds om die tragedie te verwerk. En dan is daar die hoofpyne. Sy moet terugkeer na haar tuisdorp, maar daar is so baie spoke en herinneringe dat sy onseker is of sy in staat sal wees om dit te hanteer. Na ’n skielike val word sy in die hospitaal wakker en ontdek dat die lewe waaroor sy gedroom het, dalk net werklik mag wees.
Hierdie verhaal is emosioneel, hartseer en wonderlik – alles te gelyk. Dis vol hoop, liefde en “tweede kanse” en boei mens dadelik en dwing jou om verder te lees. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Americanah, Chimamanda Ngozi Adichie (Knopf Publishing Group, R357)
Nigerië word deur ’n diktator regeer. In die lig van onstabiele politieke omstandighede en op soek na beter geleenthede verlaat diegene wat kan hul geboorteland. Ifemelu is ’n jong vrou wat gedurende die universiteitsstakings ’n geleentheid kry om Nigerië te verlaat om in Amerika verder te gaan studeer. Sy laat haar hoërskoolkêrel en die liefde van haar lewe, Obinze, in Nigerië agter met die idee dat hy later by haar sal aansluit. Dinge gebeur egter nie soos beplan nie en in die volgende paar jaar van Ifemelu se lewe leer sy van die rasseverskille in Amerika, om op te staan na terugslae en om getrou te bly aan haarself.
Toe die skrywer gevra is waaroor haar nuutste boek gaan, het sy grappenderwys gesê dis ’n storie oor hare.  Americanah is ’n storie oor ras, kultuurverskille en liefde. Dis die verhaal van een vrou se aanpassings in ’n vreemde land, maar dit word so eerlik en menslik weergegee dat almal met die hoofkarakter kan vereenselwig.  
Ek was mal oor die boek en alhoewel dit ernstige temas aanraak, lees dit lekker en maklik. Mens kan sien hoekom Chimamanda Ngozi Adichie al ’n hele paar prestasies onder haar belt het. – Danica Steyn