bloot_mens
Boeke

Top 5: Dis in die skryf van die verhaal

Ek is seker julle almal het al so ‘n boek in die hand gehad. Die verhaal is eintlik dikwels baie eenvoudig en die tempo van gebeure is stadig. So stadig dat daar in die hele boek dalk net een ding gebeur. Maar dis hóé die skrywer die woorde agter mekaar, langs mekaar en oor mekaar laat vloei wat maak dat ek die boek nie wil neersit nie. ‘n Frase kan my vir dae in verwondering laat – net omdat dit poëties mooi is en aanklank vind by ‘n emosie in my. Miskien is dit ook omdat die skrywer dinge sê op ‘n manier waarop ek dit self graag sou wou sê, maar nie kan nie en juis daarom is die “niks gebeur”-verhale vir my so verslawend. Elke keer wanneer ek so ‘n boek in die hande kry, weet ek dis ‘n juweel en ek moet dit vertroetel, want taal is die kosbaarste gawe wat ons het. Die week is my keuse verhale wat nie noodwendig pryswenners is nie, maar die skrywers het ‘n besondere gawe met die woord.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek, om van die boeke teen afslag pryse aan te koop.

Bloot mens, Jelleke Wierenga (PROTEA, R130)

Die titel van hierdie sterk debuutdigbundel is goed gekies, want die mens met al sy swakhede en tekortkominge word ontbloot.

Die verskillende afdelings raak temas aan soos die woord, die self, gewese geliefdes, die bonatuurlike en reis. Wierenga takel ook gewigtige kwessies soos misdaad, omgewingsbewaring en kindermolestering. Afgewissel met meer humoristiese en ligter verse.

Sy kyk met ‘n vars oog. Só neem sy waar dat kunstenaars (dikwels) nie aan natuurlike oorsake sterf nie en dig dan oor onder andere Sylvia Plath, digter, Johannes Kerkorrel, sanger, en Vincent van Gogh, kunstenaar, wat almal selfmoord gepleeg het.

In die gedig Profiel word alliterasie op sy heel beste vertoon, maar in van die ander verse raak die opeenstapeling van klanke soms bietjie erg.  

Die digter tree in gesprek met woordmeesters soos Breyten Breytenbach en betrek ook N.P. van Wyk Louw se werk. Wanneer sy oor die betekenis van poësie bespiegel, sê/vra sy of digkuns dalk net vir “die blasé oog van een of twee of drie” is.

Hopelik nie hierdie bundel nie. Dis vir lees en herlees. Net nie vir sensitiewe lesers nie.    – Riette Rust

Difficult Daughters

Difficult Daughters, Manju Kapur (Faber & Faber, R124,95)

Dié roman speel hoofsaaklik af teen die agtergrond van Indië se onafhanklikwording van Brittanje, en die verdeling van Pakistan in 1947. Virmati, gebore in Amritsar, is jonk, mooi en intelligent. Sy is ook hardkoppig en weier om by haar ouers se planne in te val – haar dors na kennis is sterker as die tradisionele verwagting dat sy haar in ’n gereëlde huwelik moet begeef, by die huis moet bly en kinders grootmaak. Maar dan ontmoet sy die nuwe buurman, ’n professor; hulle raak verlief en hy sorg dat sy haar studies in Lahore kan voortsit. Die vangplek? Hy is reeds getroud, en kort voor lank trap sy in die strik van onwettige liefde, skeiding en pyn.

Die skryfstyl is liries en onderhoudend, deurspek met treffende beskrywings van die omgewing en politieke tydsgees; die verhaal is goed ontwikkel en die meerderheid karakters (veral Vrimati, en haar stryd om onafhanklikheid en erkenning) ontlok simpatie van die leser.

Oor die algemeen was dit ’n verrykende leeservaring, tog is daar ’n ding wat gepla het: Kapur het die gewoonte om Indiese terme te gebruik sonder om die betekenis daarvan te verklaar. – Emsie Viljoen

 

The Satrurday Big Tent Wedding Party

The Saturday Big Tent Wedding Party, Alexander McCall Smith (Little Brown, R220)

As jy van die ander boeke in die The No. 1 Ladies’ Detective Agency-reeks gelees het, sal hierdie een verseker dieselfde plesier verskaf. Al die ou bekendes van die speuragentskap in Botswana is op hul poste. Mma Ramotswe (eienares van die agentskap) probeer vasstel wie haar kliënt se beeste vermink – dis ‘n ernstige kwessie, want beeste is ‘n belangrike kommoditeit in die land.   Haar soektog neem haar op stofpaaie deur die landelike gebiede van Botswana, maar dit geskied sonder haas. En tussendeur die speurwerk om die skuldige te vind, is daar allerlei intriges en menslike dramas, wat die dames (hulle raak nooit rof en onbeskof nie) van die speuragentskappe se aandag vereis.

Mma Grace Makutsi, Mma Ramotswe se assistent, wat so goed by die sekretariële skool presteer het, staan op trou met Phuti Radiphuti en hoewel haar troureëlings en uitgebreide gastelys vir heelwat kopkrap sorg, kry sy nog kans om haar neus in ander se sake te steek en haar skerp tong is weer eens aktief.  Die kopery van skoene vir haar trourok loop taamlik skeef, maar uiteindelik is daar tog ‘n gelukkig oplossing … natuurlik  met ‘n lewensles daarby.

Normaalweg is daar heelwat woelinge  in speurverhale, maar McCall Smith se Mma Ramotswe is in ‘n liga van haar eie. Hoewel die aksie ontbreek, is die ervarings baie. Sy’s menslik, lewenswys met baie integriteit. Hier is nie skietgoed en vinnige motors nie, maar die karakters kom opreg voor en die dialoog is naïef-eerlik met  lewenswyshede daarby. Dis maklik om jou in te dink hoe hulle sit en rooibostee drink en peins oor kwessies en mense wat vir hulle saak maak. Die leser kry  selfs begrip, en ‘n glimlag, vir Mma Ramotswe se verlange na haar vorige  ryding wat sy teen wil en dank probeer opspoor. – Alida Vos.

The Wading

The Wading,  Tom Eaton (Penguin SA, R160)

‘n Verhaal wat mens angstig oor jou skouer laat kyk met ‘n sterk gevoel van afwagting oor ‘n ramp wat op pad is. ‘The Wading’ beteken, ironies genoeg, deurloop en is ‘n kanaal tussen ‘n eilandjie en die vasteland. Die roman speel af in ‘n verbeelde milieu, wat bydra tot die gevoel van verwydering van die werklikheid.

Muller sit en kyk hoe met ‘n nat leerbal en ‘n rowwe kolf gespeel word en sy irritasie met die draadwerk van karakters met wie hy noodgedwonge te veel kontak het, is duidelik.

Claudette land saam met haar oupa in sy vliegtuig en is verwant aan twee hoofkarakters, Muller en Bee, met ‘n geskiedenis van onopgeloste probleme.

Dis nie ‘n boek wat maklik of vinnig gelees word, of wat jou sal laat skater van pret nie. Eaton skryf ‘n onvergeetlike verhaal neer, waarvan die karakters en die ontknoping pynlik stadig beweeg, asof in water vasgehou. Nie een wat maklik vergeet sal word nie. – Mariette Postma

 

The Lacemakers of Glenmara

The Lacemakers of Glenmara, Heather Barbieri (PAN Books, R95)

Ek was aanvanklik nie seker of ek die boek sou geniet nie. By die derde hoofstuk was ek egter vasgevang in die sagmoedige verhaal van die verlore siel, Kate en die dorpie waarin sy haarself bevind.

Kate word gekasty deur die onlangse afsterwe van haar ma en die verbrokkeling van haar verhouding. Sy dryf doelloos rond totdat sy amper per ongeluk in die klein Ierse dorpie Glenmara land. Dit gaan ekonomies nie goed in die dorp nie en die inwoners is maar te goed geskool in teëspoed en teleurstelling.

Die verhaal lewer geen groot verrassings of sluipende, verdraaide plot op nie. Dit is tog ‘n genoeglike lees met innemende karakters wat jou tot die einde laat lees. Perfek vir ‘n boekklub.  – Julia Boltt