kom_ons_dans
Boeke

Top 5 ‘kreatiewe’ boeke

Kom ons dans!, Tina Piek (Centre for the Book, R120)
Lekker boeiende staaltjies oor Piek en die dansers van Indlovu Link-dansgeselskap se ervaringe op die verhoog en van die verhoog af. Die wêreld van dans is ‘n tawwe een en Piek skryf met passie, humor en ook aangedaanheid oor haar ervaring as choreograaf van haar gemeenskapsdansgroep. Of dit nou is deur die beskrywing van polsende lywe wat ritmies beweeg op musiek, of die benoude taxi-ritte na vertonings, of die massahisterie verwek deur ‘n dans – alles skets die wonderwêreld van dans. Lekker om iets te lees wat deur ‘n danser self geskryf is. Bestel by www.komonsdans.co.za of kontak Piek by africastage@yebo.co.za.

Botsotso publikasies Sections of Six, saamgestel deur Allan Horwitz (Botsotso, R120)
Ses digters van baie uiteenlopende agtergronde se werk word langs mekaar geplaas. Elke moontlike emosie, van die alledaagse tot die intiemste, word beskryf Die gefragmenteerdheid van die gemeenskap se samestelling word ook uitgelig en skep begrip vir hoe kompleks ons multi-kulturele samelewing is. Botsotso spesialiseer in Suid-Afrikaanse letterkunde en woordkuns oor die hele spektrum van die samelewing. Onlangse publikasies sluit in: 100 Papers, Liesl Jobson; Izinhlungu Zamphefumulo, Bongekile Mbanjwa en Out of the wreckage, Allan Kolski Horwitz. Besoek www.botsotso.org.za vir meer oor ander publikasies en fotografie-uitstallings.
Veld Sketchbook

Veld Sketchbook, Jeff Huntly (Sunbird Publishers, R224)
Huntly het vir 23 jaar ‘n rubriek geskryf in die koerant The Witness oor sy waarnemings in die veld. Hy het die teks geïllustreer ook, aan die begin met sketse en later met skilderwerk. Hierdie boek is ‘n samevatting van sy rubrieke. Hy is ‘n baie fyn waarnemer en sy werk is uiters gedetailleerd. Sy liefde vir die natuur het hy geërf van sy pa, wat ‘n grootwildjagter in die destydse Rhodesië was. Vir meer oor die skrywer, besoek www.sunbirdpublishers.co.za.

99 Fears Nedko Solakov – 99 Fears, Nedko Solakov en Suzaan Boettger (Phaidon, R384)
Die boek is ‘n katalogus van 99 skilderye deur die Bulgaarse kunstenaar Solakof. Elke skildery het ‘n onderskrif wat een van die vrese, bekommernisse of fobies beskryf, soms op ‘n baie intense manier en ander kere skreeusnaaks. In haar essay oor die kunstenaar en sy werk skryf Boettger dat hy nie net sy eie vrese beskryf nie, maar dat dit aanklank vind by almal van ons se diep en inherente bekommernisse oor sake wat ons lewens raak. Om meer oor die kunstenaar te lees, besoek www.coolhunting.com/archives/2008/02/nedko_solakov.php en www.phaidon.com.
Mario Testino Stern Portfolio 53: Mario Testino (te Neues, R539,95)
Testino is een van my gunsteling-fotograwe, nie net oor sy fantastiese foto’s nie, maar ook oor sy filosofie oor fotografie. Al neem hy al vir jare foto’s is elke keer wanneer hy agter sy kamera inskuif vir hom ‘n onsekere oomblik en stuur hy ‘n skietgebedjie op dat hy tog net die regte oomblik op film moet vasvang. Dis hierdie onsekerheid wat maak dat hy homself en sy werk altyd uitdaag en altyd probeer om al die elemente van lig, mens en komposisie perfek reg te kry. Hy het ‘n liefde vir klere en alles wat met mode te doen het en wou van jongs af deel wees van dié wêreld. En vandag word hy aangeslaan as een van die top-modefotograwe. Al is hy nou deel van daardie wêreld, bly hy buite staan en kyk in op wat hy die wêreld se grootste sirkus noem!




  • Philippa Huntly

    Veldsketchbook is great.

    Kom ons Dans – great.