Boeke

Top 5: Vroue se verhale

Hierdie week is my leeskeuse almal baie persoonlike verhale, geskryf deur vroue wat die een of ander krisis in hul lewe beleef het. Of dit nou seksuele mishandeling, fisieke mishandeling, die invloed van moord op ‘n ma, siekte of die verlies van ‘n eggenoot is, al hierdie goed word emosioneel en eerlik vertel, maar tog op so ‘n manier dat jy nie anders kan as om jou hoed vir hierdie vroue af te haal nie. Die lewensles wat ek van elkeen van hierdie vroue leer, is om nie vas te haak by dit wat gebeur het nie, maar om dit uit te pak, daarna te kyk, dit te verwerk en jou innerlike krag te gebruik om aan te gaan tot iets beters. Hoop jy  vind ook inspirasie in die uiteenlopende lewensverhale.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

 

‘n Hemelhoë Hekkie, Douwleen Bredenhann (Tafelberg, R150)

Wat doen jy as jou ergste nagmerrie waar word? Daar is nie riglyne of klasse oor hoe om so ‘n situasie te hanteer nie. Op 26 Februarie 1988 het Douwleen en Steph Bredenhann dit eerstehands ervaar. Hul negejarige dogtertjie, Liesl, is huppelend by die agterdeur uit om haar hondjie te gaan kos gee. Dis skaars donker buite, maar Liesl kom nie terug nie.  Toe Douwleen die oop kombuisdeur sien, het sy ‘n beklemming om haar hart gekry.  Steph sien die liggaampie by die swaai lê, maar skuif dit onbewustelik op die agtergrond, want hy roep en soek naarstigtelik na Liesl.

Na twintig jaar van worsteling en wroeging kry Douwleen haarself sover om ‘n boek te skryf oor die gebeure. Hierin deel sy hul diepste smart, woede en pad na herstel met mense daar buite. Die moordenaar is iemand wat hulle ken en is Sondag na Sondag in dieselfde kerk as hulle. Moet sy hom vergewe, kan sy hom vergewe? Hy was skaars agtien toe hy haar kosbaarste skat van haar weggeneem het?

Hierdie hartroerende boek gee jou tog ‘n skrefie insig in ‘n oomblik wanneer die onmoontlike waar word. Jy kan nie anders as om aangeraak te word deur Douwleen se verhaal van smart nie. – Trudy Booyens

 Indescribable  

Indescribable – It’s Easy to Keep a Bad Secret, Candice Derman (Tafelberg, R175)

Derman se verhaal is enige vrou se nagmerrie. Dis die onstellende waarheid van ‘n stiefpa wat met haar gelol het vandat sy agt jaar oud was. As jy die lysie lees van twaalf dinge wat sy geleer het toe sy agt was, wil jou hart breek. Hierdie goed behoort nie met ‘n kind te gebeur nie, en tog het dit. Sy skryf haar verhaal uit haar kinder-oogpunt en as vrou kan jy nie onaangeraak staan nie. Veral as sy haarself blameer vir dit wat haar stiefpa aan haar doen. Dit veroorsaak dat sy alles wat met haar gebeur in twee kategorieë verdeel: goed en sleg. En natuurlik leer sy hoe om ‘n geheim te hou, want dis ‘n geheim wat ‘n kind nie met iemand wil deel nie. Op ouderdom veertien besluit sy om haar suster te vertel. Dit sit ‘n hele ketting van gebeure aan die rol, van sielkundiges, ‘n besoek aan die polisie en ook aan ‘n ginekoloog en ‘n staatsaanklaer. Vir haar is die hele saak onwerklik, amper asof sy verwyderd daarvan is. Sy het ‘n pad na herstel aangedurf en al was dit met tye moeilik om die skuldgevoelens en verwyte te verwerk, het sy dit reggekry. Vandag is sy ‘n suksesvolle aktrise en getroud met iemand vir wie sy opreg lief is.

 Sin, Sushi & Survival  

Sin, Sushi & Survival, Erla-Mari Diedericks (Zebra Press, R150)

Hierdie boek is nie vir mense wat maklik ontsteld raak oor gekruide taal, vrouemishandeling of seks nie. As jy fynbesnaard is, hou liefs verby. Dis ‘n prontuit vertelling van hoe Diedericks haar man verlaat het na agt jaar van absolute hel in ‘n verwoestende huwelik. Nie alleen het haar eks haar fisiek aangerand nie, maar het hulle ook lelike bekgevegte gevoer. Ter wille van haar seuntjie se welstand het sy besef sy sal moet uitstap uit die vernietigende verhouding. Sy skryf oor die knou wat haar selfvertroue gekry het, hoe sy met drank en seks die leegheid wou vul en probeer het om haar eie menswees terug te kry. Dit was nie ‘n gesonde keuse nie en gou was sy op ‘n pad waar sy haarself sou vernietig. Tot sy uiteindelik slaag in haar soeke na iemand wat waarde aan haar lewe kan gee. Sy het ‘n man ontmoet (wat steeds haar lewensmaat is) wat ‘n ommekeer in haar lewe gebring het. Dis nie ‘n inspannende lees nie, want Diedericks skryf onderhoudend. Maar wees gewaarsku, slegs as jy dink jy kan dit hanteer.

 Who Do You Belong To?  

Who do you belong to?, Mary Monaghan (Tortoise Press, R130)

In die boek vertel Mary Monaghan wat alles met haar gebeur het na die publikasie van haar eerste boek, Remember Me? Daarin het sy haar lewensverhaal vertel van haar man wat vir drie maande met ‘n rugsak in Australië gaan toer het om weg te kom van die stres van sy finansiële krisis en toe soos ‘n groot speld verdwyn het. Mary se soeke het haar eers jare later laat uitvind hy het haar eintlik verlaat vir ‘n ander vrou. Sy vertel in die nuwe boek baie onderhoudend hoe die publikasie van daardie boek en alles wat gebeur het na mense haar verhaal gelees het, haar lewe verander het. En sy beskryf ook die ontmoeting na veertien jaar met die man wat verdwyn het. Die boek is interessant geskryf met heelwat inligting oor haar familie en haar reise en haar lewensfilosofieë. Die publikasie van haar verhaal het haar ook die ruimte gegee om regtig aan te beweeg met haar lewe, om vrede te maak met dit wat gebeur het. Lees die boek vir ‘n persoonlike kykie na iemand wat iets positiefs laat spruit uit ‘n baie negatiewe gebeurtenis.

 Eating Poegranates  

Eating Pomegranates: Mothers, Daughters and Genes, Sarah Gabriel  (Vintage Books,  R145)

Die boek begin as ‘n  vertelling van die BRCA-gene-mutasie wat Gabriel van haar ma geërf het, wat haar kanse om  borskanker op te doen verhoog. Haar lewe verander in ‘n oogwink as sy ‘n klont in haar bors voel. Haar twee kinders is nog so klein, baie kleiner as wat sy was toe haar ma op 42-jarige ouderdom oorlede is. Die skadukant van kanker kom blitsvinnig na vore – hartseer, frustrasie en woede wissel mekaar af. Saam beweeg jy deur die hospitaalgange en ervaar Gabriel se verwydering van haar borste in ‘n wanhopige poging om te probeer om die kanker te oorleef. Sy voel bitter alleen.  Haar man probeer om haar so goed hy kan te ondersteun en tog faal hy jammerlik, want sy eie seer is te groot. Dis voorwaar ‘n boek om te lees om die wanhoop en waagmoed van ‘n kankerlyer te probeer verstaan.  – Trudy Booyens

  • Gerolene Sterley

    Hemelhoe hekkie, het my diep geraak. Daar was tye wat ek die boek moes neersit, opstaan en rondloop, met trane wat nie wou ophou nie.Ek MOES net ophou lees…..ek kon nie verder nie…. Douwleen was so braaf om haar storie met ander te deel en ek bid dat sy totale genesing sal kry en ek weet dat haar dogtertjie se storie baie ander gaan help.

  • Lenata

    Ek het Sin Sushi & Survival gelees, en ja dis nie vir die Feint hearted nie, maar dis reguit en op die man of sal ek se die vrou af.

    Ek het dit baie geniet, kon die boek nie neersit voor dit klaar gelees was nie. Die boek lees maklik. Ek het weer my eie lewe n huwelik voor my sien verby gaan, daar is baie ooreenkomste tussen my en Erla-Mari se huwelike, maar die manier hoe ons dit hanteer het verskil bietjie, maar van die seer en die alleenheid en die verduidelik aan ‘n kind wat nog te jonk is om alles te verstaan is alles dieselfde.

    Ek weet daar is baie vroue soos ons wat in sulke huwelike bly net omdat hulle baang is om uit te beweeg. As meer vrouens vorendag kom oor die vreeslike euwel in ons samelewing, sal en kan ons dit hopelik ook uitroei.

    Nog ‘n geknakte vrou at opgestaan het en my kop hoog hou en selfs my eie besigheid begin het. So ek wil net vir ader vroue in dieselfde posisie se daar is hoop en hulp daar buite jy moet net die eerste stap neem.

  • Ruby

    Ek het ook Sin, Sushi & Survival gelees en dis nie vir sissies nie. Ek kon ook "relate" met so baie dinge wat sy moes deurmaak, en het na 29 jaar ook uitgestap uit my huwelike van emosionele mishandeling en manipulasie. Ons almal verwerk die verwerping en alleenheid op verskillende maniere, maar Erla se eerlikheid hoe sy haar reis beskryf, gryp mens behoorlik aan. Uiteindelik is dit wel ‘n boodskap van hoop en genesing, want enige vrou kan by die stasie van genesing en heelword uitkom, maak nie saak watter trein sy haal nie. Dalk is hierdie net die boek wat jy nodig het om te besef waarin jy werklik verkeer en om daardie belangrike besluit te neem….lees die boek en koop jou kaartjie na genesing!