ys4f9810
Boeke

Top 5 – vroue-verhale

Whiplash, Tracey Farren (Modjaji Books, R154)
Tess is ‘n prostituut in Muizenberg in die Kaap. Sy vertel haar storie aan haar ma met wie sy geen kontak het nie. Tess is verslaaf aan pynpille en maak grappe oor dinge wat eintlik glad nie snaaks is nie. Dis al hoe sy emosioneel kan oorleef sodat sy elke dag haar lyf kan verkoop. Dan raak sy swanger. Terwyl sy haar verslawing probeer oorkom, kry sy terugflitse oor gebeure uit haar verlede: Hoe haar pa haar as klein dogtertjie gemolesteer het, hoe haar ma niks gedoen het om dit te keer nie. Met die hulp van haar mede-prostitute, haar buurvrou Madeleine en Phyllis, wat buikdansklasse gee, leer Tessa hoe om by haar omstandighede aan te pas. Alhoewel die taalgebruik soms kru is en die verhaal skokkend,  is dit ‘n insiggewende en realistiese verhaal.

Woman on the verge of a nervous breakdown, Lorna Martin (John Murray, R224,95)
Martin is ‘n joernalis wat soos alle werkende vroue ‘n klomp aspekte van haar lewe probeer balanseer: werk, kêrel, familie en vriende. Totdat sy op ‘n dag besef haar lewe is chaoties. Onder aansporing van haar vriende besluit sy om terapie te kry om sin te probeer maak van haar disfunksionele verhoudings en haar bisarre besluite in haar professionele en persoonlike lewe. Sy skryf eers ‘n  weeklikse rubriek oor haar ervarings en gewaarwordinge in terapie, wat gelei het tot dié vermaaklike en insiggewende boek.

 Woman on the verge of a nervous breakdown


The devil within, Stephanie Merritt (Vermilion, R199)
Stephanie Merritt is ‘n literêre joernalis vir die Observer en skrywer van twee ander boeke. Sy ly van 16 jaar aan bipolêre depressie. Op 29, ná- haar seun se geboorte, word sy geteister deur post-natale depressie in die ergste graad. Op 32 word sy vir die eerste keer korrek gediagnoseer as bipolêr en begin sy verstaan wat die oorsprong van haar swart buie is en hoekom sy so dikwels ‘n oorweldigende selfmoorddrang ervaar. Sy vertel hoe haar siekte haar werk en persoonlike lewe en verhoudings oorheers en beïnvloed. Dis ‘n emosionele reis wat lig werp op die daaglikse geveg om oorlewing.

The Devil Within

Dirty work, Julia Bell (Young Picador, R82)
Oksana word onder valse voorwendsels weggelok van haar ouerhuis in Rusland om kastig ‘n kelnerin in Londen te word. Deur ‘n vreemde sameloop van omstandighede word sy en ‘n Engelse meisie, Hope, se lewens met mekaar verweef. Hulle word saam verkoop as seksslawe en word deur Turke onder haglike omstandighede aangehou. Een van die booswigte se neefs help Hope in die geheim en op haar beurt help sy Oksana om saam met haar te vlug. Die verhaal word uit die twee meisies se oogpunt vertel en onderskryf ‘n groter sosiale probleem van sekshandel in kinders.

Dirty Work

Beauty’s gift, Sindiwe Magona (Kwela Books, R148)
Die vriendskap van die FFF (Five Firm Friends) gaan deur ‘n groot beproewing wanneer die een vriendin, Beauty, skielik siek word en sterf. Op haar sterfbed laat sy Amanda ‘n  belofte maak: Amanda moet toesien dat die res van die FFF nie ook op ‘n jong ouderdom deur HIV-vigs geraak word nie … Só ontvou ‘n drama wat elke vriendin se verhaal in ‘n breër sosiale konteks vertel. ‘n Eg menslike verhaal.

Hoor ‘n bietjie hier:
Hulp vir leerders, onderwysers en taalstudente

Isabel Uys is ‘n skrywer wat haar toespits op nuttige gidse wat taalstudies vergemaklik en help om algemene kennis uit te brei. Isabel het 14 jaar skoolgehou.  Haar boeke is prakties en maklik om te gebruik. Twee van die topverkopers uit haar pen is: The Macro English Aid (reeds 12 keer herdruk) en Die Afrikaanse Makro Gids (10 keer herdruk). By Pharos-uitgewers het pas The English-Afrikaans-Northern Sotho-Tswana Aid verskyn en by Protea Boekhuis is The Six Language Picture Aid beskikbaar. Klein Woordeboek (Pharos) is ook reeds beskikbaar op jou selfoon. Besoek www.pharos.co.za en www.proteaboekhuis.co.za

The Six Language Picture Aid