FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Trevor Noah skryf boek oor sy lewe

Die bekende Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah het ’n boek oor sy lewe geskryf.

Hy het verlede jaar die leisels van The Daily Show oorgeneem by die gesoute aanbieder Jon Stewart. Alles het nie soomloos verloop nie, want mense het in Noah se verlede gaan grawe vir omstrede uitlatings en dit natuurlik ook gevind! Maar Noah het hom nie laat onderkry nie en net voortgegaan om sy tipe humor keer na keer los te laat op sy gehoor. Hy doen ook steeds komedievertonings en het selfs in sy besige skedule tyd ingeruim om sy boek, Born a Crime and Other Stories (Pan Macmillan, R390), te skryf. Die boek is Dinsdag hier en in die res van die wêreld bekend gestel. In die res van die wêreld is die subtitel Stories from a South African Childhood.

Die misdaad in die titel verwys na Noah se geboorte in 1984, wat ’n oortreding was van die Ontugwet van 1927. Die wet het bepaal ’n Europese man mag nie seksueel verkeer met ’n swart vrou nie. Hy het ’n Switserse pa en ’n Xhosa-ma, daarom was sy geboorte inderdaad ’n misdaad volgens wet … Hy beeld sy ma, Patricia, in die boek uit as ’n sterk Christen wat snaaks, trots en vreesloos is en iemand wat ’n beduidende rol in sy lewe speel. Die boek bestaan uit 18 persoonlike essays waarin hy oor sy lewe skryf. Dis snaaks, vol emosie en hy lig ook die ernstige kwessies met ironie uit. Veral die Suid-Afrikaanse konteks waarin hy grootgeword het, eers tydens die apartheidsjare en toe in die demokrasie van Nelson Mandela. Die boek onthul al die aspekte van sy lewe en gee ’n kykie op die samelewing van sy grootwordjare.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Cut, Marc Raabe (Bonnier, R290)
Die omslag van die boek het my aandag onmiddellik getrek, veral die reël onderaan: “A gripping serial killer thriller”. Die stukkie op die agterblad was vaag, maar het wel beweer die boek het Europa soos ’n storm getref. Nou ja, nadat ek die boek gelees het, het ek gewonder watter storm. Of lees Europeërs soveel anders as ons hier in Suid-Afrika? Die verhaal is uit Duits vertaal, en miskien is dit waarom my leeservaring nie so lekker was nie. Ek het die skryfstyl stokkerig gevind en het dit toegeskryf aan die vertaling. Tog, ten spyte daarvan, het ek die boek klaar gelees omdat ek wou sien hoe die gebeure verloop. Die verhaal skop af met ’n seun, Gabriel, wat ’n moord sien. Baie jare later word sy vriendin ontvoer en aangehou deur ’n reeksmoordenaar. Gabriel moet die gebeure van die verlede herleef om haar te red. In sy poging om haar te red, word hy hoofverdagte nommer een en moet hy alles moontlik doen om uit die hande van die polisie te bly. Al was die boek vir my effe teleurstellend, het Raabe tog die vermoë om interessante karakters te skep, sommige van hulle erg grieselrig, en die storie bevat al die elemente van ’n goeie riller. Miskien het die vertaling hierdie leeservaring vir my gekortwiek. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Een nag en ’n bietjie, Hester Kruger (Human & Rousseau, R200)
Een of ander Oosterse filosoof het gesê daar is nie goeie en slegte ervarings nie, net ervarings. Maar ’n plaasaanval? Dit kan mos net ’n slegte ervaring wees, of hoe? Die antwoord is nie so eenvoudig nie, maar as jy my nie wil glo nie, lees hierdie boek …

Hester Kruger is nie ’n Oosterse filosoof nie; sy’s ’n vrou van vlees en bloed wat in 2009 ’n plaasaanval oorleef het. Haar boek Een nag en ’n bietjie, is ’n fiksionalisering van wat die aand gebeur het toe sy en haar man deur rowers ontvoer is. Die afgryslikheid van wat gebeur het, is soos ’n mens jou dit voorstel. Ons het al almal genoeg van plaasaanvalle gelees om ons die angs en haat heeltemal te goed te kan verbeel. Waar ons verbeelding egter meestal te kort skiet, is met die impak op jou lewe daarná.

Vir Kruger se fiksionele verteller, wat natuurlik op haarself gegrond is, word die lewe in twee verdeel: haar lewe voor die aanval – een van welbehae en onskuld – en die lewe daarna, waar die skille van haar oë val en sy diep selfondersoek doen. Met ’n uitkyk wat vir altyd verander het, neem sy die leser op ’n reis deur haar verlede, net om te vind dat niks meer is soos dit was nie.

Die proses waardeur die hoofkarakter gaan in haar herstel ná die aanval, is met tye erg ongemaklik om oor te lees, en mens kry ook die gevoel dat dit nog nie voltooi is nie, maar die rigting waarin sy beweeg is een van troos en hoop, en dít maak die boek iets besonders. Sy is ’n vrou wat wil verstaan, werklik verstáán, en die boek help die res van ons ook daarmee, al moes ons nie self die trauma beleef nie. – Helen Schöer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

’n Huis vir Ester, Carol Campbell (Umuzi, R148)
Ester Gelderblom en haar vriendin, Katjie, woon agter in Oom Krisjas se erf in “hokke” – soos hulle die plakkershutte noem. Meer as 20 jaar al is hul name op die lys vir regeringsbehuising. Wanneer daar oplaas nuwe huise gebou word, is hulle baie opgewonde en glo dat hul beurt uiteindelik aangebreek het. Maar die mense in beheer van die behuisingslys het ander planne. Planne wat hul eie sakke vol maak. As jy kan betaal, word die lys herrangskik en is jou naam skielik bo. Wanneer Katjie se hok afbrand, is dit die laaste strooi vir Ester en beset hulle van die nuwe leë huise onwettig.  Ander volg hul voorbeeld en gou is daar ’n magdom besetters. Wanneer die munispale amptenare probeer om van die besetters ontslae te raak, ruk dinge hand-uit en wonder Ester of die besettings werklik ’n goeie idee was.

Hierdie is ’n eg Suid-Afrikaanse verhaal van gierigheid, moord, leuens en korrupsie – maar een wat wys dat alles oorkom kan word wanneer goeie mense hul voet neersit en veg vir wat reg is.   – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Outside the lines, Ameera Patel (Modjaji Books, R226)
Cathleen Josephs is ’n moeilike, dwelmverslaafde jong meisie.  Sy woon saam met haar pa en broer in een van Johannesburg se ryk noordelike voorstede. Hulle het kort tevore hul moeder aan die dood afgestaan. Frank, haar pa, sukkel om kop bo water te hou. Hy sukkel finansieel en emosioneel en grens daaraan om ’n alkoholis te word.  Flora, die huishoudster, probeer alles en almal bymekaarhou. Sy het egter probleme van haar eie, ’n seun wat sonder haar wete ’n dwelmhandelaar is en selfs dwelms verskaf aan Cathleen. Wanneer Cathleen ontvoer word, is dit nie haar pa of broer wat dit agterkom nie, maar Flora – ook eers ná twee dae.

Dit is ’n verhaal van disfunksionele karakters, van mense wat almal êrens misluk het in die lewe.  Net soos ’n kleuter nie altyd binne die lyne van sy prent inkleur nie, net so kan hierdie mense nie binne die lyne van wat die samelewing verwag, bly nie. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Slagtersnek en sy mense, J.A. Heese (Protea Boekhuis, R250)
Vyf rebelle word ter dood veroordeel en gehang. Vier van die galgtoue breek. Daar is egter geen genade nie en die mans word steeds, een ná die ander, gehang. Die teregstelling was veronderstel om die einde van die Slagtersnek-opstand van 1815 te wees. Verskeie geskiedskrywers het al die rol van die opstand in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ondersoek. Die opstand word voorgehou as een van die redes vir die Groot Trek ’n dekade of twee later. In dié grensverkuiwende boek herondersoek Heese die gebeure en die mense wat ’n rol gespeel het tydens die opstand. Heese wys verskeie waninterpretasies uit en dui aan dat die gebeure totaal anders en minder patrioties vertolk kan word. Is daar dalk helde geskep waar daar geen helde was nie? Heese het deeglike navorsing gedoen en beantwoord talle interessante vrae oor die opstand. Jy kan onder meer uitvind wat van die galgbalk geword het. Talle foto’s help om die gebeure te laat herleef. Die boek is oorspronklik in 1973 uitgegee. Heese (1907-1990) was ’n ervare geskiedskrywer en is verantwoordelik vir talle baanbrekerswerk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.  – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Somewhere Out There, Amy Hatvany (Simon & Schuster, R320)
Al ooit gewonder wat gebeur met susters wat in die maatskaplike sisteem beland en vir aanneming opgegee word, maar net een word gevat? Amy Hatvany gee ons ’n hartverskeurende kykie na die antwoorde in dié storie wat baie mooi geskryf is. Sy weef ’n boeiende verhaal oor die lewe van die twee dogtertjies, Brooke en Natalie, en hul biologiese ma, Jennifer. Die stem van elke karakter kom baie sterk na vore, wat die boek multidimensioneel maak, en jy weet die heeltyd wat elke karakter dink en voel. Daar is geen ruimte vir aannames nie. Dit rek egter die verhaal effe uit. Die skrywer se eerlikheid is by tye rou. Berei jouself voor op ’n wipwaentjierit van emosies, insluitende ’n baie onvoorspelbare einde.

Ek sal nou nie sê dat dit ’n vakansielees is nie, maar ek het dit baie geniet. Sommige dele was so boeiend dat ek die boek nie kon neersit nie. - Thsolo Modise

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Sculptors of Mapungubwe, Zakes Mda (Kwela Books, R207)
Mda weef  ’n tapisserie van geskiedenis, legende en fantasie wat ryk is aan beelde en mites. Die storie wentel om twee broers, Chata en Rendani, wat gedurende die glorie-dae van die Mapungubwe koninkryk optree as beeldhouers vir die koning. As beeldhouers in ’n koninkryk waarin beelde hoog op prys gestel word, ervaar die broers baie jaloesie en wedywering. Die wedywering tussen Chata en Rendani strek egter verder as bloot die professionele, en soos die twee se verhaal ontvou, lig Mda vraagstukke oor identiteit, lojaliteit, tradisie, vryheid en kuns uit.
Die skrywer  slaag daarin om met hierdie magiese storie die leser terug te neem na ’n ander Afrika, terwyl die deurlopende klem op die kontras tussen ryk en arm, en reg en verkeerd ’n fyn draad spin wat die verlede met hedendaagse kwessies verbind en wys hoedat die mens nog altyd maar mens was. ’n Verfrissende, andersoortige werk deur ’n uitstekende skrywer.  – Carike Claassen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Tussen die klippe, Hans du Plessis (Lapa Uitgewers, R220)
Du Plessis is ’n gevierde Afrikaanse romanskrywer, ook die skepper van Griekwa-psalms en digter. Hierdie historiese roman getuig van sy deurleefdheid met skryf en sy verdieping in Afrikaans.

Die storie speel af net ná die Groot Trek en is gedeeltelik geïnspireer deur twee bylaes in Gustav Preller se Voortrekkermense. Dit handel oor die kerklike sensuur teen Susanna Isabella Marais se bigamie, wat volgens haar kerkraad die “maatskappy” en die Christendom nadelig kan raak met haar “wanbedrywe”.

Die verhaal word in die eerste persoon deur dominee Johannes vertel. Hy weier om die klagskrif te onderteken aangesien hy nie oortuig is van haar skuld sonder om haar verweer aan te hoor nie. Johannes woon die hofverrigtinge van haar saak in die Moot by. Deur die loop van die verhoor maan hy diegene in die hof tot kalmte en liefde teenoor hul medemens.

Die fyn humor, soos Calvyn wat “mos” ’n “Latyn” was omdat hy in Latyn geskryf het, dra by tot die leespret. Du Plessis se terloopse natuurbeskrywings is so vars soos sy insig in die kerk en die menslike psige.  – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Villa America, Liza Klaussman (Picador, R250)
Sara Wiborg en Gerald Murphy trou en is daarop uit om ’n buitengewoon pragtige lewe vir hulself te skep.

Deur die 1920’s trek hul invloed, smaak en uitbundige spontaneïteit vriende soos Pablo Picasso en Ernest Hemingway na Villa America, hul huis naby Antibes. Daar hervorm hulle somer vir hul gaste en hul drie kinders met flambojante strandpartytjies, nuwe idees en etes onder die sterre.

In Villa America neem hulle ’n jong vlieënier, genaamd Owen, in hul binnekring op en dan verander alles. Hul lewe wat altyd so pragtig beplan was, staan die gevaar om vir ewig te verander.

 

Vertel met onmiddellikheid en sagtheid, teen die agtergrond van oorlog, is Villa America ’n boek met ’n buitengewone hartklop en die moeite werd om te lees. – Nadia de Jongh