FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Tweede kinderboek uit die pen van Milan Murray

Milan Murray is bekend as akteur, op die verhoog en in rolprente en televisie.

Maar sy ontgin deesdae ook haar ander talent, sy skryf kinderboeke. Verlede jaar het die eerste idioom-boek, Pieter Kokkewieter en die Hart op sy Mou, verskyn. Nou het Hetta Elizabetta en die Wêreld op haar Skouers ook uit haar pen verskyn. In die verhaal dra Hetta Elizabetta baie swaar, want daar rus ’n enorme wêreld van probleme en bekommernisse op haar skouers. Hierdie reeks boeke is in rym geskryf en wil Afrikaanse idiome aan kinders bekend stel.Die derde boek, Kop in die Wolke, sal einde volgende jaar uitgegee word. Al die boeke is beskibaar by uitsoek boekwinkels en is aanlyn beskikbaar by www.murrayandme.co.za.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Milan het per e-pos ’n paar vrae beantwoord.

Hoe is die skryf van hierdie kinderboeke anders as jou Ma-wees joernaal, Koemelaat?
Kinderboeke en veral prenteboeke is ’n baie komplekse genre. Buiten die storie is daar baie nie-verbale goed wat aan die leser gekommunikeer word – so jou uitleg, lettertipe, woorde per bladsy, skaal van sketse ens. moet alles in ag geneem word. My Ma-wees joernaal was ’n maklike ‘gesprek’ met die leser. Die prenteboeke is meer. Dis fiksie, fantasie en opvoeding, alles in een.

Hoe het jy en jou ander twee kollega’s mekaar ontmoet en besluit om die reeks boeke te doen?
My vennoot, Charmaine Nolte, is ’n vriendin van Melkbosstrand. Ons kinders is min of meer dieselfde ouderdom en sy deel my liefde vir lees. Die gedagte van kinderboeke skryf is uit ons gesprekke gebore. As entrepreneur is sy die perfekte persoon om so ’n waagstuk te dryf en ek voel veilig om Murray & Me saam met haar te besit. Ons het vir Marisa du Toit genader om die illustrasies te doen, omdat Charmaine haar werk as kunstenaar ken en ons albei het gevoel haar styl pas by ons. Ons eerste kinderboek was ook háár eerste kinderboek!  So, dit het gehelp dat ons almal groentjies was wat hierdie nuwe projek aanpak.

Milan Murray, Marisa du Toit en Charmaine Nolte. FOTO: verskaf

Milan Murray, Marisa du Toit en Charmaine Nolte. FOTO: verskaf

Waarom ’n reeks boeke oor idiome?
Tussen die ouderdom 6 en 9 begin ’n kind se brein, wat vroeër net ‘konkreet’ kon dink, ook die ‘abstrakte’ verstaan. Wat alles letterlik was, kan nou ook stelselmatig figuurlik beskou word. En watter beter hulpmiddel as idiome om daardie brug te help oorsteek! Ons kinders begin in Graad 3 en 4 met idiome, en ons poog om reeds voordat die onderwyser daarmee begin, ’n begrip van spreekwoorde en beeldspraak by die jongspan te kweek.

Hoe werk die proses: skryf jy eers, gee dan die volledige teks vir Marisa en dan eers illustreer sy? Het jy ’n sê in hoe jy wil hê die illustrasies moet lyk?
Stap een is dat ek en Charmaine op ’n idioom besluit. Dan kry ons ’n ‘toetsgroep’ van ouers, onderwysers, sielkundiges en soms ook kinders bymekaar om die idioom te bespreek. Dit gee my insig en pitkos vir die skryfproses. Vandaar skryf ek die teks. As ek en Charmaine tevrede is met die finale storie e-pos ek dit vir Marisa met voorstelle vir die 15 illustrasies. Sy woon in Pretoria en ons woon in die Kaap, so daar word vreeslik ge-Whatsapp by Murray & Me!  Alhoewel ons vir haar ’n duidelike rigtingwyser gee, het Marisa vrye teuels om die storie te interpreteer soos sy wil. Sy stuur met elke illustrasie eers vinnig ’n foto van die potloodskets om ons op hoogte te hou van wat sy beplan, en dan laat waai sy met die verf en kleurpotlode.

Lees jou kinders jou boeke?
My kinders is definitief die mark waarvoor ons skryf, maar hulle is lui vir lees! Dis so ironies! Ek probeer my bes, maar hulle verkies steeds dat ek vir hulle voorlees en dan is dit gewoonlik Roald Dahl.

Dink jy kinders vandag lees minder as vorige geslagte?
Ongelukkig is dit wat die statistiek sê. Volgens die SA Boekontwikkelingsraad lees slegs 14% van Suid Afrikaners fiksie, en slegs 5% lees vir hulle kinders voor. Ons het ons lees-kultuur verloor en dit is kommerwekkend.

Hoe besluit jy oor watter idioom jy gaan skryf?
Ek en Charmaine dink gewoonlik aan watter idioom die mooiste sal illustreer! Ons sien prentjies in ons koppe. Maar ons kyk ook ernstig na die inhoud en tema wat so ’n idioom kan ontlok, want ons wil tog ook insig by ’n kind teweeg bring. Kyk, ons wil nie ’n lessie leer of preek nie. Glad nie. Maar ons wil gesprek tussen ouers en kinders uitlok. My gusteling-tye saam met my seun is voor hy gaan slaap en ons altwee met ons koppe op sy kussing lê en gesels. Ek hoop dat ons boeke altyd sal gepaard gaan met sulke ‘pillow-talk’.

Wat wil jy hê moet kinders uit hierdie boek leer?
Hulle hoef nie noodwendig iets te leer nie. Ek weet die storie kommunikeer dat jy jou bekommernisse met ander kan deel en dat jy nie alleen hoef te dra aan jou kwellinge nie, maar weet jy … waarhede wat stories oordra gaan lê soms in die onderbewuste en dis eers jare later dat jy die ‘les’ begryp. Dis soos saadjies wat deur die loop van ons lewe ‘ontkiem’ en dan ’n ‘aha!’ oomblik tot gevolg het. Soos ek gesê het, die boekie is nie ’n preek nie. ’n Kind gaan identifiseer, en dit is genoeg. Solank die lesers die idioom hoor en ná die tyd lekker oor die storie gesels met sy onderwyser of ouer, is ek gelukkig.