Boeke

Uit Mathys Roets se biografie, ‘Steeds Mathys’

“Ek is een van daardie ouens wat half organies aangaan met die lewe. Ek glo hoe meer rigiede riglyne jy het, hoe moeiliker maak jy dinge vir jouself. Dan loop jy elke keer die gevaar om jouself teleur te stel. Ek probeer om eerder na die totale prentjie te kyk en dan te besluit hoe ek myself daarbinne kan handhaaf. Dit geld op ’n persoonlike en professionele vlak. Ek vat dus dinge soos dit kom terwyl ek na die groter prentjie kyk.

Vir só lank het ek altyd gesê ek wil iets met my lewe doen wat betekenisvol sal wees. Ek het nooit verwag dit gaan gebeur op die manier soos dit die afgelope jaar gebeur het nie. Die ondersteuning wat ek in die hospitaal en op my pad na herstel gekry het, het vir my die heel meeste beteken. Die belangstelling was oorweldigend maar, daaruit het ek agtergekom ek het wel iets betekenisvol reggekry, boonop sonder dat ek probeer het om dit te doen. Dis ’n wonderlike wete dat wat ek doen, saak maak vir ander mense.

Daaruit kon ek aflei dat my lewe wel ’n verskil maak. Hopelik kan ek vorentoe toenemend ’n positiewe invloed hê in die lewe van ander mense in rolstoele en mense met gestremdhede.

Ek het onlangs weer met Erik Holm, wat ná ’n duikongeluk verlam is, gepraat en al is ek ook nou in ’n rolstoel, bly hy vir my ’n inspirasie. Toe ek nou die dag by oud-rugbyspeler André
Venter in sy kantoor in Bloemfontein gaan sit en gesels en saam Nando’s eet, was dit so lekker. Die manier waarop ons met mekaar kon kommunikeer en ervarings kon deel, is besonder motiverend.

Ek het hom vertel hoeveel dit my geïnspireer het die dag toe sy seuntjie hom by my kamer ingestoot het daar in die hospitaal. Een ding weet ek nou, ’n mens het nie nodig om iets aardskuddends te doen om ander te motiveer en inspireer nie. Dit is baie keer juis die klein dingetjies wat ’n mens onwetend doen, wat dit vermag.

Nog iets wat ek geleer het, is dat ’n mens jou by feitlik enige omstandighede kan aanpas. In die verlede, was ek baie keer onseker oor myself, veral as ek in ’n moeilike situasie beland het of ’n krisis moes hanteer. Noudat ek vierkantig daarmee gekonfronteer word, is dit vir my lekker om te weet ek het nie moed opgegee nie. Dis goed om te weet daar het nou ’n jaar verloop sedert my ongeluk, en in hierdie jaar het ek geweldig gevorder.

Verlede jaar hierdie tyd was ek nog in die hospitaal en toe het al die onsekerhede nog voor my gelê. Ek het nie geweet of ek regtig oor die weg gaan kom nie. Dit was egter vir my lekker om wel so gou as moontlik weer op my eie oor die weg te kom en ek dink ek het ’n hele paar mense verras.

Mense het nie verwag dit gaan so gou gebeur nie. Baie het voorspel dat ek later eers die werklikheid in die oë gaan staar, en dan moed gaan verloor. Tog het dit nie so gebeur nie.

Wat ek graag wil beklemtoon is dat ek nie uniek is in hierdie opsig nie. Daar is regtig ’n hele klomp mense in die samelewing wat in ’n soortgelyke situasie is, en hulle gaan ook net aan. Ek ontmoet hulle waar ek ook al gaan en dis vir my baie lekker om dan by hulle te kuier en te hoor hoe hulle die ding aanpak.

Hopelik sal hierdie boek ’n groter bewustheid by die algemene publiek kweek dat jou lewe drasties in ’n oogwink kan verander. Baie mense weet immers nie dit gaan dalk ook nog eendag in die toekoms op hulle wag nie. As my boek ’n verskil kan maak aan so iemand se lewe die slag as hy met ’n krisis gekonfronteer word, sal ek voel ek het in ’n doel geslaag. Die persoon wat reeds in ’n rolstoel is, het klaar met sy vrese vrede gemaak, en waarskynlik weet hy ook hoe om vorentoe te gaan met ’n positiewe ingesteldheid.

 

Die persoon wat reeds in ’n rolstoel is, het klaar met sy vrese vrede gemaak – Mathys

 

Dit was vir my ’n voorreg om my verhaal te kon deel, want in die proses het ek myself beter leer ken. As pragmatis is die lewe vir my een groot uitdaging en ek huiwer nie om dit te takel nie. Dis vir my lekker om ’n probleem op te los en ek sien die afgelope jaar as een groot probleem wat ek moes uitsorteer. Ek het geleer om dinge nie te probeer herstel nie. Ek moes net leer om dinge anders te doen. Een ding wat ek nooit sal kan regmaak nie, is my vermoë om weer te loop, maar daar is baie kleiner probleempies wat ek wel sal kan oplos, en daarvoor stuit ek glad nie.

’n Mens kan ’n situasie net oorwin as jy vrede maak daarmee en met al die beperkinge wat daarmee saamgaan. Ek het nog nooit probeer kyk of ek my tone kan wikkel nie. Ek weet die verlamming is finaal en dit sal nie verander nie. My oog is ’n ander saak. Ek sal nou nog die goeie oog toehou en kyk of die ander een nie al beter kan sien nie. Dit is egter op ’n heel ander vlak as die skade aan my rugmurg, wat onomkeerbaar is.

Baie mense wil weet of daar dinge is waaroor ek spyt is. My antwoord is ’n mens is net spyt oor dinge, totdat dit weer goed gaan met jou. Dit help nie jy blameer jouself vir sekere besluite wat jy geneem het nie. Ek het soms finansiële besluite geneem wat nie goed uitgewerk het nie, maar om daaroor te sit en tob, is in my oë sinneloos. Op ’n persoonlike vlak is ek tog spyt oor my mislukte huwelik. Ek sou graag eerder ’n huwelik wou hê wat gewerk het. Ek is spyt dinge het vir my en Karen verkeerd geloop. Maar dis nie ’n konstante berou wat heeltyd aan my bly knaag nie.

Oor die feit dat ek motorfiets gery het, is daar geen berou nie. Ek dink as Margueriet, of enige ander persoon daardie dag saam met my gery het, en daardie persoon het ook seergekry, sou ek sekerlik daaroor berou gehad het.

Soms as ek die kans kry om so ’n bietjie te sit en dagdroom, kom die woorde van Koos du Plessis se “Gebed” in my gedagtes op. Dit was nog altyd vir my ’n goeie liedjie om ’n vertoning mee af te sluit. Ek het nog nooit probeer om dit emosioneel of charismaties te vertolk nie. Dit is bloot ’n eenvoudige stel reëls wat ’n mens moet volg. “Elke aardse droom van rykdom, en roem, net ’n skadu teen die muur …”

As ek hieraan dink, dan besef ek hoe waar Koos se woorde is. Die meeste mense raak so vasgevang in hulle eie ek, en dink die hele lewe wentel net om hulle sukses en rykdom. Dit is nie so nie.

Ons is almal deel van ’n veel groter prentjie. En soos Koos tereg sê: “Wat ek is, is net genade!

Vanjaar, op pad na die KKNK in Oudtshoorn, het daar net ’n entjie voor Bloemfontein ’n storm opgesteek, soos die dag voor my ongeluk. ’n Oomblik lank het ek ’n gevoel van déjà-vu beleef. Wat gaan die pad vorentoe inhou? Gaan ek dit veilig maak?, het ek gewonder.

Maar hierdie keer was my reis wel anders. Hierdie keer het ek Oudtshoorn sonder enige teëspoed gehaal. Ek het nie êrens tussen Wepener en Dewetsdorp die pad verlaat nie.

Toe ek uiteindelik in Oudtshoorn stop, was dit met ’n gevoel van intense dankbaarheid. In die jaar wat verloop het tussen hierdie twee kunstefeeste, het ek soveel geleer. Een ding wat ek geleer het, is beslis om altyd vorentoe te kyk. Vandag weet ek ’n mens moet fokus op die dinge wat jy goed kan doen, en terselfdertyd moet jy elke oomblik wat jy dit doen, geniet. Dít was vir my die grootste uitdaging. En ja, ek dink ek het dit reggekry, ek wéét ek kry dit elke dag reg.”

Kry jou eksemplaar van Steeds Mathys, die inspirerende biografie van sanger Mathys Roets.

Steeds Mathys

Uitgewer: Naledi

Prys: R179

Soos vertel aan Alita Vorster

  • Elvina

    Mathys, jy is altyd ‘n inspirasie en ek kan nie wag om jou boek te lees nie. Jou positiwiteit is voorwaar vir my ‘n inspirasie op die dae wanneer ek my af dae het. Bly asb die wonderlike mens wat jy is. Mag God se seën rus op alles wat jy aanpak.

  • Melinda Marx

    Matthys is ‘n inspirasie vir enige mens. Sterkte vir jou vorentoe. Mag jy elke dag die krag ontvang om voort te gaan, en bly so ‘n postiewe mens!!

  • Marie Smit

    Ek het Matthys gisteraand in Bellville by die Want ons kan konsert hoor optree en het net ongelooflike respek en bewondering vir hom.Sy stem betower my steeds en kan ons die Here dank dat hy fisies en geestelik so gou herstel het.Hy is ‘n voorbeeld vir ons wat ‘gesond’is. Sterkte vorentoe en mag jy my jare lank met daardie diep stem betower.

  • hyla

    Ek het vanoggend Mathys se onderhoud geluister op RSG… wat n voorbeeld is hierdie man vir ons almal….. sy liedjie Maggie is my no 1….sterkte vir jou Mathys – net die beste vir jou toekoms