FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Uitbranding, stres en depressie oorheers ons wêreld

Uitbranding, stres en depressie is ’n epidemie wat ons wêreld vandag oorheers en dit word gedryf deur ons soeke na sukses.

Om te oorleef in hierdie wêreld vereis vaardighede en ’n gesonde leefstyl. Ons probeer alles, van oefening, gesond eet, stresbeheer tot nuwe vaardighede aanleer. In hierdie tyd het daar ook talle mense gepraat en geskryf oor hoe jy jouself kan pantser teen die aanslag van uitbranding, depressie en stres. Arianna Huffington het met gesag hieroor geskryf in haar eerste boek, Thrive. Daarin het sy oor haar eie uitbranding geskryf, toe die aanslag van die wêreld vir haar te veel geraak het. Sy bespreek ook al die aspekte van hoe jy jouself moet bemagtig om die aanslag van hierdie epidemie af te weer sodat jy gesonder en meer vervuld deur die lewe kan kom. Nou, skaars twee jaar ná Thrive die lig gesien het, is sy terug met ’n nuwe boek! Hierdie een gaan ook oor die nuwe siekte van ons tyd, te min slaap.

The Sleep Revolution, Arianna Huffington (Penguin Random House, R320)
Dis duidelik: Vir ons om werklik te floreer, moet ons begin om te slaap. Dít is kragtige woorde van die skrywer Arianna Huffington en die grondslag vir haar nuwe boek, The Sleep Revolution: Transforming Your Life One Night At A Time. En as Arianna só ’n stelling maak, kan jy maar luister, want vir jare het sy heeltemal te min geslaap om haar supersuksesvolle aanlyn nuusversamelaar, The Huffington Post, te bou. Totdat sy in 2007 ineengestort het weens uitbranding.

In dié insiggewende boek deel sy interessante navorsing, soos dat mense wat te min slaap makliker gewig optel. Hulle het ook gewoonlik meer plooie, hul vel is rooier én hul kans vir ’n probleemvel is groter. Boonop is hul kognitiewe vermoë dieselfde as iemand wat so te sê dronk is as hulle tussen 15 tot 17 uur aaneen wakker bly. Verder verweef Arianna die geskiedenis van slaap saam met stories oor hoe ’n goeie nagrus mense se lewens verander én maniere hoe jy ook plan kan maak om betyds onder die komberse in te kruip.

Sou Arianna dieselfde sukses bereik het as sy wel vroeër in haar loopbaan meer geslaap het, is sy al gevra. “My antwoord is onteenseglik ‘ja’,” sê sy. “Ek glo ek sou steeds bereik het wat ek het, maar ek sou dit met soveel meer vreugde en lewenslus gedoen het, met ’n kleiner prys op my gesondheid en verhoudings.”  – Charis van den Heever

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Marga & Henriëtte: In die skadu van skisofrenie, Marga van Rooy en Henriëtte Boot (Lapa Uitgewers, R174,99)
’n Uitsonderlike vertelling deur Marga van Rooy, die bekende aktrise en haar dogter, Henriëtte. Johannes Boot, jonger broer, skryf in die voorwoord dat dit ’n inspirerende storie is van lig in die skadu van skisofrenie. Marga en Henriëtte beskryf beurtelings en eerlik die trauma van die hele gesin.

Die ouers se drome vir hul begaafde oudste kind spat uiteen op die drumpel van haar grootmenslewe. Medici deel negatiewe woorde: onoorkombaar, onhanteerbaar en ongeneeslik.

Om die beurt vertel ma en dogter skroomloos van ’n gesin se swaarkrytye, ook van die probleme in hul verhouding wat later opgelos kon word. Marga, Henriëtte en Johannes getuig hoe geloof hulle deurentyd gedra het. Henriëtte skryf oor haar tydelike afdraaipad met ’n naturopaat, waarna sy besef dat medikasie altyd deel van haar lewe sal wees. Pogings om vir haar werk en verblyf te kry, word beskryf asook Van Rooy se soektog na ’n genetiese verklaring vir haar psigiatriese toestand.

Wat ’n voorreg dat hulle stryd met ons gedeel word. Twee diepsinnige gedigte deur Van Rooy getuig van liefde en lyding. Elke leser sal hierdie boek verryk neersit. - Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Alone: The Search for Brett Archibald, Brett Archibald (Burnet Media, R240)
Ek het drie jaar gelede Brett Archibald se verdwyning op see in Indonesië en ook sy uiteindelike redding in die koerante dopgehou, maar ek het nooit gedink ek sou so geraak word deur sy verhaal nie. Ek was ongelooflik verras oor hoe intens hierdie boek my emosioneel geraak het en hoe betrokke ek by die gebeure gevoel het. Die verhaal is geskryf vanuit al die verskillende rolspelers se oogpunte en jy ervaar saam met hulle hul emosies oor hoe die gebeure uitgespeel het. Dat Brett enigsins oorleef het ná hy langer as 25 ure in die water was nadat hy oorboord geval het in die see, is ’n wonderwerk. Was dit nie vir die Australiese skipper, Tony “Doris” Eltherington se onverpoosde pogings om Brett te soek nie, sou hy dalk nooit oorleef het om sy verhaal te vertel nie. Omdat die weer so sleg was, is geen amptelike soektog deur die amptenary begin nie. Maar Doris het vasgeskop en besluit as niemand anders soek nie, sal hy soek. Wat my die meeste ontroer het, is die hoofstukke waar Brett se vrou, Anita, haar ervarings vertel, van hoe sy geweet het toe sy die nuus gekry het: “This day will change everything.” En dit het inderdaad die lewens van ’n hele paar mense verander, maar die een wat die meeste hierdeur geraak is, is Brett: “Coming to terms with what happened to me is an ongoing process …” en ook dat hierdie gebeure hom geleer het, “Never take anything for granted.” Hierdie boeiende boek is een waarin daar heelwat lewenslesse is, en wat mens maar in jou eie lewe kan toepas. Ek sal nie sommer weer ligtelik bo-oor ’n soortgelyke nuusstorie kan lees, sonder om aan Brett Archibald en sy wonderwerk te dink nie. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The House on Carnaval Street, Deborah Rodriquez (Little Brown, R180)
Deborah Rodriquez is ’n haarkapper wat al twee blitsverkopers geskryf het. The Kabul Beauty School en The Little Coffee Shop of Kabul is memoirs oor haar lewe in Afghanistan. Haar derde boek begin met haar skielike vlugtog uit dié oorloggeteisterde land. Sy word in ’n depressie gedompel, want sy verloor álles.

Ek het lanklaas so ’n eerlike, innemende stem gelees. Ja, Rodriquez ryg derms uit in hierdie boek, maar dis absoluut onderhoudend en baie, baie snaaks. Sy is so ’n onkeerbaar optimistiese mens – sý twyfel dalk of sy ooit weer gelukkig gaan wees, maar die leser weet sommer alles gaan goed uitdraai.

Die storie in kort: Rodriquez word gediagnoseer met posttraumatiese stressindroom wat haar van haar persoonlikheid beroof. Om haarself uit haar verlamde toestand te probeer ruk, besluit sy om Meksiko toe te trek, waar haar geleidelike genesing begin. Sy doen baie selfondersoek (en baie inkopies). Stukkie vir stukkie kerf sy vir haarself ’n nuwe lewe uit wat net so kleurvol en ryk is as tevore.

The House on Carnaval Street is ’n heerlike, lewensbevestigende boek wat glad nie inspanning van die leser verg nie. Dis net so ontspannend soos ’n besoek aan jou gunsteling-haarkapper. – Helen Schöer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

What a Boykie, Robin Binckes (30 Degrees South Publish, R302)
Ek ken John Berks sedert my hoërskooljare, altans, ek ken sy stem! Ek het daardie jare na LM Radio geluister waar John ’n omroeper was. In hierdie boek het ek vir die eerste keer meer gelees oor wie John Berks nou eintlik is. Reg deur sy loopbaan was daar baie min geskryf oor die man agter die stem; daar is eerder gefokus op die kontroversie wat sy uitlatings op radio aangevuur het.
Binckes se boek vertel die verhaal van iemand wat uit ’n nederige agtergrond kom wat homself opgewerk het tot een van Suid-Afrika se bekendste radiomense. Vir die eerste keer lees mens van die onsekerheid en gebrek aan selfvertroue wat gemaak het dat Berks sy naels tot in die lewe afgekou het, tenspyte van die opgang wat hy op radio gemaak het. In sy loopbaan van 40 jaar is sy stem gehoor op LM Radio, SAUK, Springbok Radio, Radio 5, Capitol Radio, Swazi Music Radio en 702. Vir John was radio “theatre of the mind” en dit was die een plek waar hy homself waarlik kon uitleef. Radio was die ding wat hom gedryf het en hy het altyd probeer om by te bly met nuwe verwikkelinge in die wêreld rakende die uitsaaiwese. Dis ’n baie interessante boek en vertel nie net Berks se lewensverhaal nie, maar gee ook goeie agtergrond oor radio in Suid-Afrika. Die een ding wat my wel gepla het, is dat daar ’n paar spelfoute in die teks is. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The book of fate, Parinoush Saniee (Little Brown, R221)
Die 16-jarige Massoumeh woon in Teheran saam met haar konserwatiewe gesin. Haar ouers en twee ouer broers reken dat sy oud genoeg is om te trou, maar Massoumeh smeek hulle om haar toe te laat om haar skoolopleiding te voltooi. Op pad skool toe ontmoet sy een dag vlugtig ’n jong man wat by die apteek werk. Hy begin vir haar briefies skryf en sy raak smoorverlief op hom. Die bom bars toe haar ouers en broers hiervan uitvind. Hulle reken dat sy die gesin oneer aangedoen het, en hulle reël haastig vir haar ’n huwelik met ’n man wat sy op haar troudag vir die eerste keer sien.

Massoumeh se huwelikslewe begin in ’n Iran wat deur revolusie omvergewerp word. Die boek bied vele insigte in die lot van vrouens in Iran oor die afgelope vyftig jaar. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Leaving Before The Rains Come, Alexandra Fuller (Vintage Publishing, R211)
Dié memoir volg op Don’t Lets Go To The Dogs Tonight. Alexandra trou met Charlie Ross, ’n Amerikaner, en glo hy is die regte lewensmaat vir haar. Helaas ná 20 jaar en drie kinders is hul huwelik besig om te verbrokkel. Afrika- en Amerikaanse waardes bots met mekaar en die egpaar is onaanpasbaar. Die slegte voorspellings voor die huwelik, soos dat die eerste jaar swaar is maar dat dit erger word, en dat ’n huwelik eensaam kan word, was toe nie so verkeerd nie.

Hulle gaan bly in Wyoming wat vir Alexandra as Afrika-kind vreemd is, maar Charlie is vir haar nog vreemder! Amerika is materialisties ryk, maar arm wat tyd betref –  daarenteen het Afrika baie tyd. Hulle leef by mekaar verby en is nie sielsgenote nie. Fuller raak baie wyshede kwyt, beskryf alles nes dit is. Dis soms komies, maar tragies ook. Maar die egskeiding is vir haar uiteindelik ’n bevryding. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Boereoorlog, Martin Bossenbroek (Jacana, R493)
Daar is al vele boeke oor die Boereoorlog (1899-1902) geskryf. As Nederlander plaas Bossenbroek die oorlog egter in die breё wêreldgeskiedenis en gee ’n objektiewe beskrywing van die konflik. Hy gebruik drie ankerpersone: Willem Leyds, die kunssinnige Nederlandse prokureur, staatsprokureur van die Suid-Afrikaanse Republiek, staatsekretaris en uiteindelike Europese gesant; die Britse oorlogsjoernalis Winston Churchill; en die Boerekryger en toekomstige Suid-Afrikaanse politikus, Deneys Reitz.

Bossenbroek slaag uitstekend daarin om die breё verhaal waarbinne die oorlog ontstaan het, voltrek is en afgeloop het, weer te gee. Beskrywings van klein persoonlike belewenisse van historiese figure laat ons besef dat dit mense van vlees en bloed was en nie net name in stowwerige geskiedenisboeke nie en laat die grense tussen niefiksie en fiksie vervaag. Bossenbroek is mede-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Utrecht in Nederland. Dis sy sewende boek. Die boek is in Nederland bekroon met die Libris Geschiedenis Prijs vir 2013, ’n prys wat toegeken word aan boeke wat daarin slaag om geskiedenis vir die algemene leser toeganklik te maak. Die boek is uit die Nederlands vertaal deur Anne-Marie Mischke.  – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wine, Women and Good Hope, June McKinnon (Zebra Press, R200)
Dis die 1700’s en 1800’s in die skone Kaap. Dié boek draai die klok terug na wulpse vroue, die slawetydperk, moord, seks en wyn wat vloei. Prostitusie was aan die orde van die dag. Bote met uitgehongerde mans het wal gegooi om die verlange na vrouegeselskap te stil, ’n bedryf wat gebloei en werkgeleenthede verseker het. Jan van Riebeeck het sy hand gewaag aan wynmaak en die brou van bier wat ’n groot ’n sukses was. Abraham, Jan se seun, was knorrig oor sy pa se wyn wat volgens hom ’n asynsmaak gehad het; inteendeel het hy ’n beter  kwaliteit druif verwag as wat die Kaap gebied het. Suid-Afrika het ook baie bekendes opgelewer in dié tydperk, onder meer Barney Barnato, Lady Ann Barnard, Krotoa (eerste vroulike Khoi-vertaler van Suid-Afrika), Olive Schreiner en Cecil John Rhodes wat bekend daarvoor was dat hy vroue nie kon verduur nie. Slawe het lae lone verdien, lang ure gewerk en was onregverdig behandel. Op ’n dag het ’n slaaf ’n bierbeker se handvatsel gebreek, en uit woede het sy meester hom summier doodgeskiet.
Dié boek gee jou ’n kykie in die wel en wee van die mense, hoe jou voorgeslagte gelewe het en die vroeë geskiedenis van die Kaap. Ek het tot my van raakgelees. Dis uitstekend nagevors en onderhoudend geskryf. – Liesel Pienaar

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vier Bloed-Mane, John Hagee (Struik Christian Media, R169,95)
John Hagee is die stigter en senior pastoor van Cornerstone Church in San Antonio, Texas. Dit is ʼn interkerklike evangeliese kerk met meer as 20 000 lede. Hagee is ook  ʼn kampvegter vir Israel en die voorsitter van die organisasie “Christians United for Israel”. In hierdie boek ondersoek hy die bonatuurlike verband tussen gebeurtenisse in die hemelruim en profesieë in die Bybel. Hy fokus veral op die situasie in die Midde-Ooste en die posisie van Israel.
Die boek is verdeel in drie afdelings: Die eerste afdeling fokus op tekens in die hemelruim en die rol van die son, maan en sterre as tekens deur God. Die tweede deel gaan oor die rol van profesie en fokus veral op kwessies soos die wegraping, rampe wat verwag kan word en Jesus se tweede koms. Die derde deel fokus op die vier bloed-mane en die rol daarvan in geskiedkundige gebeure. Deurentyd word dit in verband gebring met die Pasga en die Huttefees. Hagee staaf sy feite vanuit die geskiedenis, die Bybel en met behulp van navorsing deur NASA.
ʼn Interessante boek, hoewel sommige mense Hagee se teologie mag bevraagteken.  – Anne Marais