FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Uitdagings van die lewe

Dis hartroerend om te lees van iemand wat soveel pyn het dat hy sy lewe wil beëindig. Dis net so erg as iemand in jou lewe besig is om voor jou oë weg te kwyn.

Wat my altyd beïndruk, is dat mense die moed het om hul persoonlike stories in boeke met ons te deel. Sekerlik is die skryf van so boek ‘n terapeutiese ervaring vir die betrokke mens, maar dis ook ‘n nalatenskap vir ander mense wat uit die boek kan leer hoe om sekere situasies aan te pak. Of dalk is dit ‘n les van hoe om nie sekere situasies aan te pak nie! Dikwels ontketen so persoonlike verhaal ook debat oor sekere onderwerpe. Neem nou ‘n onderwerp soos genadedood. Dit is op die voorgrond geplaas deur ‘n klompie skrywers wat gewaag het om persoonlik te skryf oor hul pogings om menswaardig te kan sterf. Mens kan nie anders as om aangeraak te word deur ander mense se emosionele, en fisieke pyn nie. Die week se boeke draai almal om die wel en wee van mense.

Onthou om ons boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel teen afslagpryse.

The Last Right, Marianne Thamm (Jacana, R168,72)
Craig Schonegevel is op 12 maande met neurofibromatosis tipe 1 (NF1) gediagnoseer. Dis ‘n genetiese oorerflike siekte waarvan die intensiteit van die simptome kan wissel van geval tot geval. In Craig se geval het dit onder andere gelei tot die vorming van gewasse deur sy hele ligaam wat elke keer chirugies verwyder moes word. Die ongeneeslike siekte het sy hele lewe beïnvloed en na 28 jaar van lyding en operasies het Craig besluit om ‘n einde daaraan te maak.
Na lang en frustrerende onderhandelinge met die Dignitas kliniek in Switserland beëindig Craig sy eie lewe. Die lewe en stryd van Craig en veral sy stryd om menswaardig te kan sterf, word simpatiek uitgebeeld met briewe, e-posse, dagboekinskrywings van Craig en onderhoude met sy ouers, vriende en familie. In die tweede deel van die boek word NF1 en die regs- en morele aspekte van genadedood in Suid-Afrika in meer besonderheid bespreek. Thamm is ‘n bekroonde joernalis wat die omstrede onderwerp met die nodige deernis hanteer. –Gert J. Venter

My hel in Dubai

FOTO: verskaf

My Hel in Dubai, Ilse Salzwedel (LAPA Uitgewers, R185)
Selna Visser se verhaal is aangrypend. Haar lewe het `n onverwagse draai gemaak, nadat sy `n hand van hulp wou uitsteek. Ongelukkig word hierdie daad die oorsaak van `n nagmerrie-ondervinding. Alleen, in `n tronk in Dubai, moes sy byna `n maand lank leer om te oorleef. Slegs deur minimale kontak met `n paar mense van buite, moes sy krag put uit innerlike emosionele reserwes en haar verhouding met God. Dit is ook die verhaal van haar stryd teen kanker en haar verhouding met verskeie mense, vriende sowel as totale vreemdelinge. Dit deel die lesse wat sy in die proses geleer het.
Die boek vertel die verhaal van `n vrou wat met durf en deursettingsvermoë  die struikelblokke in hierdie lewe oorwin. Hierdie verhaal is `n moet vir alle Suid-Afrikaners wat oorsee wil reis. Ilse Salzwesel is `n deurwinterde joernalis en haar skryfvernuf blyk duidelik uit die boek. Beslis `n wenner en `n aangename leeservaring.  – Anne Marais

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Onstuitbaar, Nick Vujicic (Christelike Uitgewersmaatskappy, R119,95)
Moenie aarsel as jy die buitebladfoto sien om die boek te lees nie. Op die foto is van Nick sonder ledemate op ‘n branderplank in die see.  Dis ’n inspirerende verhaal van humor, geloof en passie en is allermins depressief. Nick se organisasie heet Life without Limbs en hy’s tans een van die bekendste en gewildste motiveringsprekers, en besoek jaarliks verskillende lande regoor die wêreld.
Hy fokus op die belofte dat hy met ’n unieke en spesifieke doel geskape is. Met behulp van sy eie en ander mense se lewenservarings, soos verhoudingsprobleme, loopbaanuitdagings, gesondheids- en verslawingsprobleme, verduidelik hy hoe ons persoonlike krisisse kan hanteer. Glo in jouself, in jou talente én veral in God se liefde en Sy plan vir jou lewe. Vergeet van jouself en begin om ander te help en jy sal sien hoe jou eie lewe verander. As jy Jesus Christus as jou Verlosser aanvaar, kan jy voluit leef soos hy!  – Linda Volschenk

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

In God’s House, Ray Mouton (Head of Zeus, R154)
Renon Chattelrault, ‘n advokaat, word deur die Katolieke Kerk genader om die verdediging van een van hul priester te behartig. Hy stem in om Vader Francis Dubois se saak te hanteer. Vader Francis word aangekla daarvan dat hy ‘n minderjarige persoon seksueel gemolesteer het. Aanvanklik glo Renon dat dit ‘n enkele saak, teen ‘n enkele priester met seksuele afwykings is, maar dan besef hy dat dit veel erger is. Nie net het die kerk geweet van Vader Francis se afwykings nie, maar elke keer as dit blyk dat sy geheim op die lappe gaan kom,  word hy na ‘n nuwe gemeente geskuif! Hoe dieper hy delf in die saak, hoe meer bewyse vind hy van ‘n sameswering om die waarheid weg te steek. Dan besef Renon dat dit nie net een priester is nie, maar dosyne. Enige ander advokaat sou onttrek aan die saak, maar Renon weier en begin ‘n veldtog vir geregtigheid vir al die slagoffers van die kerk.’n Boeiende, dog ontstellende verhaal wat gebaseer is op ware gebeure. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Below luck level, Barbara Erasmus (Penguin South Africa, R180)
Hierdie lighartig-geskrewe roman gaan oor ‘n onkonvensionele ma en haar wanaangepaste dogter. Dis die skryfster se fiktiewe verwerking van ‘n ware geval: die aftakeling en dood van haar eie moeder aan Alzheimer’s, en ‘n moedige poging om veral die komiese in ‘n situasie te wil sien wat uiteraard tragies is. Hier en daar mag sommige lesers hul wenkbroue lig oor die sterk Boheemse aard van die karakters.
Daar’s deurgaans verwysings na ongeluksvoëls,  mense ‘below luck level’,  en die verteller, Hannah, skep dikwels haar eie ongeluk. Sy het nooit haar vader geken nie en idealiseer ‘struggle’ figure soos Thabo Mbeki. Haar mansvriend se familie het destyds uit die Kongo gevlug.
Soms is die humor nogal oordadig, soos waar Hannah onraad vermoed vanweë haar ma se vergeetagtigheid en gemaak-nonchalant opmerk: ‘You’ve been looking a bit peaky. I think we need to see [the doctor] for a check-up.’
Chloe, haar 59-jarige ma reageer daarop met: ‘Are we going to strip together and have a simultaneous pap smear?’
Tydens hul skooljare sê Hannah se beste vriendin: ‘Your mom’s so cool! More like a friend than a mom.’
Dis egter nie hoe Hannah dit sien nie. Sy skryf: ‘I didn’t want my mother to be my friend. What I wanted at the time was a mother.’
Algaande egter, soos Chloe agteruitgaan, neem Hannah onvermydelik die rol van ‘n ma oor. ‘n Klassieke geval van ‘n lag met ‘n traan. - John van den Berg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Karretjiemense,  Carol Campbell (Umuzi, R170)
Hierdie boek is vertaal uit Engels, maar dis so goed gedoen dat dit amper onmoontlik is om te dink dat dit nie oorspronklik in Afrikaans geskryf is nie.
Muis en haar gesin swerf al 15 jaar lank met hulle donkiekar deur die Karoo. Haar drie kinders, Fansie, Witpop en die baba, Sponsie, het nie geboortesertifikate nie en kan dus nie skool toe gaan nie. Nou dwing die droogte hulle om terug te gaan na Leeu-Gamka toe waar Kapok skeerwerk kan kry. Maar dis ook waar Miskiet wag om Muis dood te maak en Fansie vir hom te vat.
Die hoofstukke word afwisselend deur elke karakter in die storie vertel totdat die leser die hele hartroerende verhaal van Muis, Kapok en hulle kinders ken.
Die storie word met baie deernis vir die karretjiemense van die Karoo vertel en bied baie insig in die tipe lewe wat hulle lei. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Levels of Life,  Julian Barnes (Jonathan Cape, R199)
Die boek beslaan drie gedeeltes: die eerste handel oor Anglo-Franse lugballonvaarte en fotografie in die 1900’s, die tweede handel oor die verhouding tussen Sarah Bernhardt, aktrise, en Fred Barnaby, ‘n ballonvaarder, en die laaste vat die temas in die roman saam wanneer hy vertel hoe sy Suid-Afrikaansgebore vrou, Pat Kavanagh, se dood aan breinkanker in 2008 sy eie lewe ook feitlik tot stilstand geskok het. Barnes deel sy intense verlies op ‘n afstandelike, private wyse, en skryf van sy beminde in die derde persoon sonder om ooit haar naam of persoonlike detail te verskaf. ‘n Vriendin vertel dat die soort hartseer balanseer met die waarde geheg aan die gemis, en dit weerklank by hom. Hy oorweeg selfdood, maar weerhou homself as hy besef hoe dit haar lewe en nagedagtenis sal beïnvloed. Hierdie droewe, brandende memoir van sy lewe sonder die hart van sy lewe, die lewe van sy hart, word met ingehoue, maar oop en eerlike emosie vertel. Vir lesers wat ‘n geliefde moes afstaan, maar ook vir die gelukkiges wat nog nie daar is nie.  -Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

At Last, Edward St Aubyn (Picador, R105)
Die verhaal speel af teen die agtergrond van Eleanor se dood en begrafnis.  Sy kom uit ‘n baie prominente en welgestelde familie. Haar lewe en beskrywings van haar familie en hul geskiedenis word in terugflitse beskryf.  En op die voorgrond is haar enigste seun, Patrick, en die effek wat sy ouers op sy lewe gehad het.  Eleanor se eerste kind, ‘n dogtertjie, het net ‘n paar weke geleef.  Haar man, heelwat ouer as sy, was ‘n sadis en pedofiel en het niemand ontsien nie. Hy het haar menigmaal verkrag. Hy het Patrick, en soms van sy maats, gemolesteer.  Sy het haar al hoe meer onttrek om te ontsnap van al die afskuwelike dade.  Omdat sy haar eie seun nie kon red uit hierdie haglike situasie nie, het sy kompenseer deur groot geldelike bydraes aan verskeie liefdadigheidsorganisasies te maak.
Patrick, nou in sy middeljare, is vir die eerste keer in sy lewe werklik vry. Na jare van terapie, dwelm- en drankmisbruik om sy traumatiese kinderlewe te probeer verwerk, ervaar Patrick uiteindelik ‘n gevoel van veiligheid. Daarby besef hy dat sy ouers wat geblameer kan word vir alles, eintlik die meeste hulp nodig gehad het.
 Die boek is briljant geskryf met satire en komedie en uitstekende woordspeling. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Skinny, Donna Cooner (Scholastic, R117,26)
Ever is ‘n vyftienjarige hoërskoolmeisie en sy is slim en sy sing mooi… maar sy is oorgewig. Boonop het sy ‘n konstante metgesel wat sy nie afgeskud kry nie: ‘n stem wat die heeltyd negatiewe en afbrekende aanmerkings in haar oor fluister, ‘n stem wat haar vertel presies watse slegte gedagtes ander mense van haar het. Die stem se naam is Skinny.  Ever besluit om te gaan vir ‘n operasie wat haar help om minder te eet.  So neem sy die eerste stap om te begin gewig verloor. Wat voorlê is ‘n moeilike pad van selfbeheersing, ontbering en deursettingsvermoë. Met die ondersteuning en aanmoediging van haar goeie vriend Rat leer Ever nie net om haarself en ander lief te hê nie, maar ook om Skinny se aaklige sêgoed hok te slaan.
Die boek gee ‘n uitstekende beskrywing van hoe negatiewe gedagtes mens se lewe beheer totdat jy ‘n gevangene van jou eie denkpatrone is. Dit werp ook lig op hoe om daardie gedagtes te herken en te beheer. Daar is egter vele ander kwessies wat onaangeraak gelaat is, byvoorbeeld die oorsaak van vetsug, die verlange en hartseer van ‘n afgestorwe ouer.
 Dis ‘n maklike lees en ‘n storie wat grootmense ook kan geniet.  – Danica Steyn

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Lighted Rooms,  Richard Mason (Weidenfeld & Nicholson, R160)
Die “verligte kamers” van die titel verwys na die denkwêreld van mense met ouderdomsverwante dementia. Wanneer Eloise haar ma Joan in ’n peperduur ouetehuis inboek, word haar probleme meer eerder as minder.
Dis ’n kaartehuis wat dreig om inmekaar te stort – Joan se fisieke en geestelike welstand, Eloise se skuldgevoel en potensiële finansiële krisis, ’n minnaar uit haar verlede. Vervleg hiermee stories van die Anglo-Boereoorlog, ’n reis na post-apartheid Bloemfontein en ’n disfunksionele Victoriaanse gesin, en die verhaal word soms net te swaar om werklik op galop te kom. Uiteindelik is dit net die wortel van intrige en ontknoping wat mens enduit laat lees. – Ilse van Staden