FOTO: verskaf

Boeke

Uiteenlopende boeke vir nuuskierige mense

In die winkels sien jy klaar die tekens van Kersfees. Versierings tooi reeds die vensters en goedere word op so wyse uitgestal dat jy uitgelok word om te koop.

Eintlik moet jy nou geskenke kies vir ander mense, maar dikwels sien jy iets raak wat op jou eie wenslysie beland. Hierdie wenslysie moet jy dan baie diplomaties laat beland op ‘n plek waar diegene wat vir jou ‘n geskenk wil gee dit kan raaksien. Nou ja, ek gaan in die volgende klompie weke ‘n hele klomp boeke met julle deel. Dit is alles deel van my wenslysie vir Kersfees.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Idees vol vrees, Kobus Galloway (Zebra Press, R170)
Galloway buit die dubbelsinnige betekenis van Afrikaanse woorde uit in sy pikante spotprente wat jou beslis sal amuseer. Baie van die woordspelings is tipies Afrikaans. Dié derde versamel stel nie teleur nie. Dit bevat 150 spotprente en 50 van Galloway se oorspronklike eenlyn grappies.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

I-Tjieng: ‘n GPS vir verdwaalde siele, Koos Kombuis (Penguin Books, R180)
Koos Kombuis het die I Ching in Afrikaans verwerk en die beeldspraak beskryf met Afrikaanse idiome en metafore. Volgens hom moet jy self die I-Tjieng ervaar, hoe dit werk en watter waarde die wyshede tot jou lewe kan voeg.Dis “as’t ware ‘n GPS vir verdwaalde siele, ‘n padkaart wat al die verskillende roetes van die lewe uitlê.” Die agterblad van die boek verklaar: Hierdie boek dui die weg na insig aan.

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

The Novel Cure: An A – Z of Literary Remedies, Ella Berthoud en Susan Elderkin (Canongate Books, R290)
Van die soeke na geluk, onbeantwoorde liefde,  eensaamheid, tot ‘n vrees om ‘n belastingopgawe te voltooi – vir elkeen van hierdie situasies is daar ‘n voorskrif in hierdie boek met sy voorstelle vir biblioterapie.Die boek is passievol, pittig, gevat en ‘n wonderlike manier om jou persoonlike leeslys uit te brei. Ideale geskenk vir boekliefhebbers.

FOTO: verskaf

Tax, Lies and Red Tape, Dawie Roodt en Linette Retief (Zebra Press, R220)
 Roodt het die vermoë om ingewikkelde konsepte en begrippe eenvoudig en verteerbaar oor te dra.

Hierdie boek verduidelik hoe die wêreld se ekonomiese stelsels ontstaan het en waarop dit deesdae rus. Verder gee hy ‘n baie verstaanbare uiteensetting van hoe dit Suid-Afrika se ekonomie raak en wat die toekomsvooruitsigte vir ons ekonomie is.

 

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Trust me, I’m Dr Ozzy, Ozzy Osbourne en Chris Ayres (Sphere, R178,88)
Osbourne speel in hierdie boek die rol van ‘n troostante wat advies oor enige ding onder die son uitdeel. Let wel, hy waarsku mense weliswaar dat sy raad dalk gevaarlik kan wees. Sy advies is soms skreeusnaaks en deurspek met persoonlike staaltjies.

Oor gevegte tussen sibbe oor die Kerstyd vertel hy: “If you think your family is bad company at Christmas, you should have been at the Osbournes’ during my drinking days . . . . .by the end of the day, I’d be half-naked, covered in cranberry sauce, and throwing bricks at people.”

 

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

‘n Dief aan die kers – skelm woorde deur die eeue, Anton F. Prinsloo (Pharos, R250)
Die boek beskryf ongeveer 1 000 woorde waarvan die oorspronklike betekenisse deur die jare só verander het, dat die betekenisse soos ons dit vandag ken, nie regtig sin maak nie. Neem die woord familielid wat deesdae vir ons bloedverwant beteken. Vroeër was dit ‘n dief. “Die Latynse familia het die huishouding omvat, ook die bediendes: famulus het “bediende” beteken. Omdat diewe mekaar soos familie ondersteun, is dié bendes later “families” genoem, veral in Engeland. Maar ook in Rome kon ‘n bediende dalk met iets verdwyn (en nie weer vir diens aanmeld nie.)” ‘n Fassinerende, pittige en vermaaklike boek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Raai raai riepa – Die Afrikaanse raaiselboek, G.H. van Rooyen en S.H. Pellissier (Protea Boekhuis, R165)
‘n Kuns wat besig is om uit te sterf, is goeie raaisels. As kind was ek gek oor raaisels en dis verfrissend om deur hierdie boek met Afrikaanse raaisels te lees. Ek moet bieg, ek is maar bra pateties met regraai en ek moes heelparty antwoorde agter in die boek opsoek!

Hier is een vir julle: Waarom maak ‘n vrou ‘n knoop in ‘n draad gare? Gaan loer in die boek vir die antwoord as jy nie weet nie.

 

 

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Ultimate Book of Heroic Failures, Stephen Pile (Faber and Faber, R125,38)
Pile se boek bevat staaltjies oor epiese mislukkings van die afgelope 25 jaar. Die 235 stories is ook versprei regoor die wêreld, want om te misluk op so groot skaal is mense van oral beskore.

Een van die snaaksstes is Elvis Presley wat in ‘n restaurant in Tennessee by ‘n Elvis-nabootsing homself nageboots het in ‘n kompetisie en toe derde gekom het. Hierdie boek laat jou goed voel oor die klein dingetjies wat jy nie reg kan doen nie.