een_glas_dooswit_cover_front
Boeke

Boekuittreksel: Dís hoekom jy skuld aangaan! ‘n Ou skuldenaar bieg

We use all kinds of ways to escape – all addictions stem
from this moment when we meet our edge and we just can’t
stand it. We feel we have to soften it … and we become
addicted to whatever it is that seems to ease the pain
.’
Uit When Things Fall Apart: Heart Advice for Difficult Times
                                                                   –
Pema Chödron

Daar is soveel pyn in die wêreld, van jou kopseer of maagsweer tot die onuithoudbare trauma van verhongerde kinders in Somalië of die bedelaar met die baba by die verkeerslig. En jy kan hardloop, maar jy kan nie wegkruip nie. Want dit is in jou huis, reg voor jou oë, of albei. Dan hol jy maar, en as jy, soos my pa sou sê, twee sent het om jou gat mee te krap, is die maklikste bestemming mos maar die mall.

Uiteindelik kom dit alles neer op ‘n soort drukkoker-effek. Van die vrees vir kapings tot kindersiektes, van stygende lewenskoste tot letterlike en figuurlike slaggate, bou die druk van die lewe op tot waar die vinnigste en maklikste verligting te dikwels ‘n dosis koopterapie (retail therapy) is.

1. GEBREK AAN KENNIS

Most people are willing to pay more to be amused than to be educated.’    - Robert C. Savage

Die wêreld is vol probleme, en meer dikwels as wat ‘n mens dit wil glo, vol oplossings. Ek neem myself as ‘n voorbeeld. Tegno-idioot wat ek is, sal ek my hare sit en uittrek oor die eenvoudigste stukkie toerusting wat ek gekoop het, sê maar Digitale Kamera 101, en myself wysmaak dit is my eie persoonlike Rosetta-steen. Maar sal ek die handleiding lees?

Met geld neem die dilemma nog bedriegliker dimensies aan, juis omdat die onderwerp so emosioneel gelaai is. Ek dink die meeste van ons wil geld hê, maar ons wil nie regtig verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie. Dalk soos ‘n ou wat ‘n warm meisie bed toe vat, maar verkies om te vergeet dat sy op die lange duur ‘n ander pondjie vleis sal wil hê – die kysring, die trouring . . .

As jy die metafoor tot sy ekstreem wil voer: Teen die tyd dat jy by skuldberading kom, is jy plus-minus waar Michael Douglas in Fatal Attraction was toe die besete Glenn Close-karakter sy dogtertjie se konyn gekook het.

Die ding is, raak jy die pad byster met jou geldsake, is dit nie ‘n kwessie van k- of betaal nie, maar albei.

En die slegter nuus, vir my generasie in elk geval, is dat daar in ons jeug geen ouer of omnibus was wat jou op die Wrede Werklikhede van Geld voorberei het nie.

Wie se verantwoordelikheid is dit nou immers om vir ‘n mens te vertel jy kry ingekontrakteerde en uitgekontrakteerde dokters of dat, as jy in Johannesburg ‘n gasstoof koop, jy moet seker maak wat jy nodig het: bottelgas of Egoli-gas? Of dat die geiser die een of ander tyd gaan bars as jy in ‘n ou huis woon?

Die ding is, terwyl ons geleer het wanneer Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het, hoe om rotskoekies en mielieblomvorms te maak en kombuiskrane blink te vryf, en hoe de ongeluk A plus B aan C gelyk kan wees, het die wêreld voortgegaan op maniere en in rigtings waarvan ons salig onbewus en waarvoor ons meestal totaal onvoorbereid was.

En soms was ons so naby maar tog so bitter, bitter ver.

Neem nou maar wiskunde – al die deure wat wiskunde vir jou gaan oopmaak, die volslae verlies wat jy gaan wees as jy nie algebra, logaritmes en meetkunde studeer nie. Terselfdertyd het ons skeef gekyk na die kinders wat tik, snelskrif en/ of boekhou neem. En kyk hoe lyk ons nou.


2. VREES VIR GELD


‘It is not because things are difficult that we do not dare; it is because we do not dare that they are difficult.’
  - Seneca

Mense is bang vir geld. Of laat ek liewer sê ek is bang vir geld, en ek is nie alleen nie. Die eerste fout wat ons maak, is om te dink ‘n mens se geldkennis gebeur sommer net. Jy kry dit saam met jou moedersmelk, die eerste Purity of êrens langs die pad in. Verkeerd! Jy moet léér om met geld te werk, soos jy leer fietsry, leer klavierspeel, leer lees, leer swem.

Boggherop nommer 2 is die misleidende stemmetjie wat jou wysmaak dat as jy jou geld-onkunde en -wandade lank genoeg ignoreer, sal dit weggaan – of die Cinderella Complex Special:

Eendag gaan jou prins in sy rooi sportmotor kom en dan gaan jy, of verkieslik hy, al jou kredietkaarte en winkelrekeninge afbetaal. Laat ek volstaan deur te sê jou of my kans om die Lotto te wen, is waarskynlik beter.

Intussen hoop alles op; die inkopies, afbetalings, opknappings en, natuurlik, die skuld. En hoe meer dit ophoop, hoe vinniger hol jy weg uit die spookhuis van jou finansiële nagmerrie. Maar uiteindelik haal dit jou in. Die geraamte van jou wanbesteding kom om elke tweede hoek gekletter.

Die spook van alles wat jy nie uitgesorteer het nie, gaan jou die een kant in-“boe” en die ander kant uit-“hoe”. Die spinnerakke van voortslepende skuld gaan aan jou kleef.


3. ONHEILIGE ALLIANSIES

Vandat ek in skuldberading is, is ek baie bewus van die emosionele snellers wat my laat geld uitgee. Nie dat die snellers nou help nie – my ammunisie is lankal op. Dit beteken wel dat ek baie tyd het om oor my sondes na te dink. Ek bestudeer dus deesdae amper objektief ‘n klompie onheilige alliansies, waarvan die een party – verrassing! – altyd KOOP is. Byvoorbeeld: Depressie en . . . Koop; Moegheid/uitputting en . . . Koop; Generiese (of spesifieke) gatvolheid en . . . Koop; Minderwaardigheid en . . . Koop; Teleurstelling en . . . (kan jy
nou meer) Koop!

In my persoonlike arsenaal van wanbestedingswandade is daar natuurlik ook die kwessie van ‘n mens se behoefte aan beloning. Net om deesdae ‘n deursnee-lewensdag te oorleef, verdien jy – in die afwesigheid van ‘n Honoris Crux – ‘n wandeling in ‘n winkelry af. As jy nie jou verbruikerskluts kwytraak nie, is dit dalk ‘n koekie Lux-seep . . . As jy die pad heeltemal byster raak, miskien ‘n paar skoene van duisend rand op jou begrotingsrekening.

‘n Ruk terug het ek op navorsing afgekom wat in Brittanje oor kredietkaartskuld gedoen is. Ons en die Engelse het nou wel in die Anglo-Boereoorlog die wit waks uit mekaar geskiet, maar in die loop- of, liewer, koopgrawe vorm ons klaarblyklik ‘n verenigde front.

Britse vroue gee geld uit, want hulle voel hulle verdien dit. En miljoene van ons aan die suidpunt van Afrika, en vermoedelik in elke uithoek van die aardbol, voel dieselfde. En as daar nie kontant is nie, wat is die probleem? Daar is mos die bedrieglike R20 000-krediet of R15 000-oortrekkingsfasiliteit of die immer geduldige Foschini- of Stuttafords-rekening. En wanneer dit by terugbetaal kom, maak ons soos ons Amerikaanse suster Scarlett O’Hara en sê: “I’ll think about it tomorrow.”

4. VALS ENERGIE


‘Credit buying is much like being drunk. The buzz happens immediately and gives you a lift … The hangover comes the day after.’
     - Joyce Brothers

Daar is niks wat ‘n mens so ‘n rush gee soos ‘n lekker inkopie-ekspedisie nie. Dit is nou buiten seks of verlief wees of jou eerste sluk koffie in die oggend of jou eerste glas wyn in die aand.

Ek onthou ‘n insetsel jare gelede in Carte Blanche oor mense wat aan dobbel verslaaf is. Een van die karakters was ‘n ou wat heeldag voor die TV gesit en Cream Soda drink het terwyl hy op perde wed (sy vrou het al twee keer probeer selfmoord pleeg). En dan was daar ook ‘n vrou wat die aand voordat sy vir dobbelbedrog tronk toe is, vir oulaas casino toe gegaan het. Haar rede? Ek parafraseer: Dit is daai gevoel wat sy kry as sy in die ewige skemerlig inloop; sy voel so geborge, asof sy in ‘n lekker bad warm insink.

So is dit ook met koop: Dit gee jou darem so ‘n lekker warm gevoel. Maar wees verseker, dit laat ook nie jou krediteure koud nie.

5. GEBREK AAN LIEFDE


‘Love is the only sane and satisfactory answer to the problem of human existence.’
- Erich Fromm

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat soveel paaie van die geldfiasko terugherlei kan word na ‘n gebrek aan liefde. Ek weet, dit klink ekstreem en soetsappig. Maar dit is soos die ou cliché van die ou wat by die bordeel beland omdat hy nie genoeg liefde/seks/aandag by die huis kry nie.

Die huis synde ‘n metafoor vir ons lekker ou boggherop-van-‘n-wêreld: My kêrel/man/vrou/meisie het my gelos. Sy moer, ek gaan winkel toe . . . My baas het my uitgetrap. Sy gat, ek gaan shop . . . My man het my gebliksem. Sy hol, ek het die platinumkredietkaart . . . Die geiser het opgepak. Wat de hel, ek blaas net sowel nog R600 op ‘n nuwe jean.

As ek drieuur in die oggend in die donker voor my lê en uitstaar, weet ek dit was nie altyd nie maar dikwels dat ‘n diepgesetelde gebrek aan geborgenheid my na die geduldige plastiek laat gryp het.

6. ‘N KWESSIE VAN TYD

‘Patience is the companion of wisdom.’St. Augustinus

Ek dink jare lank al M. Scott Peck is die ultimate versnit tussen ‘n droë dr-l, ‘n suurknol en ‘n kwaai onnie. Maar ek moet toegee hy’s ‘n droë dr-l met ‘n paar geldige punte. The Road Less Travelled was sy eerste boek wat ek gelees het. Enersyds was ek beïndruk deur sy klaarblyklik diepe lewensinsigte, maar andersyds was ek mateloos geïrriteer deur sy benadering. Hierdie is ‘n 99%-kool-1%-poeding-man, sonder enige waarborg vir die poeding. Natuurlik is hy, soos baie suur, selfbelangrike dr-lle, op morele hoogtes wat ons mindere mense sonder die nodige dissipline of lewensinsigte nooit gaan bereik nie.

Dit was dus waarskynlik diepgesetelde masochisme wat my gedryf het om verlede jaar – ná heelwat detours op die veelberese pad – The Road Less Travelled weer aan te pak. Binne die eerste klompie bladsye het ek my sommer weer van voor af vererg. En dit was nie soseer wát die man sê nie, maar hóé hy dit sê. Daai kyk-by-die-kant-van-sy-neus-af-/ slaan-eers-pappie-soen-dan-toon het my witwarm onder die kraag gehad. En kort voor lank het ek sy uiters neersitbare meesterstuk neergesit.

Maar nie voordat ek (weer eens) ‘n stukkie lewenspitkos à la Peck wyser geword het nie. Scotty vertel naamlik hoe hy altyd gedink het hy is, en ek parafraseer, ‘n tegniese idioot, totdat hy die dag agtergekom het hy bestee eenvoudig nie genoeg tyd aan die motorsitplek, die grassnyer of wat ook al met sy eens ontegniese koppie gesmokkel het nie. En terwyl hy waarskynlik nie in hierdie lewe my nuwe beste vriend gaan word nie, het sy argument nogal vir my ‘n Damaskuservaring geword.

My punt: Die moontlikheid dat ek ooit ‘n eersteklas ekonoom of A-klas-aksepbankier gaan word, is skraal. Maar die rede hoekom ek geld nie “verstaan” nie, hoekom ek nie daarmee kon “werk” nie, hoekom die blote gedagte aan ‘n begroting of bankstaat die koue sweet by my laat uitslaan het, is omdat ek nie genoeg tyd daaraan bestee het nie . . . Omdat ek liewer my beenhare een vir een met ‘n tweezer sou uittrek voordat ek genoemde begroting of bankstaat aanpak, of aan die einde van die dag my uitgawestrokies nagaan. En uiteindelik word dit nie net ‘n tydfaktor nie. Dit word ‘n tydbom.

En dit, soos hulle altyd in die infomercials sê, is ook nie al nie . . . Die storie agter die tydstorie, die tikkertjie binne-in die tydbom, is na my mening die volgende: In hierdie era van kits-alles – van poeding en sous binne 60 sekondes tot geboue wat ontwerp word om 25 jaar later gesloop te word – vat die aktiwiteite van die gewone lewe ironies soveel tyd. Tussen uit die bed uit opstaan en by die werk aankom, het jy alles van vloermoere en Julius Malema tot kapings en spitsverkeer getrotseer. Om nie te praat van bedelaars by verkeersligte en koerantplakkate wat jou teen wil dank op die hoogte van sake hou met moord, doodslag en kamikaze-wisselkoerse nie. Is jy eers by die werk, is dit spertye, interkantoorpolitiek en inbelsentrums wat jou twintig minute op jou selfoon laat wag.

Onderhandelings met diverse burokrasieë vorm op sigself ‘n stewige grondslag vir ‘n hartaanval – en hemelhoë telefoonrekeninge. En het jy nog die energie oor om in jou etensuur gim toe te gaan, vat dit meer tyd om daar uit te kom, jou ná die tyd weer respektabel te kry en terug werk toe te ry as wat dit neem om die workout te doen.

Aan die einde van jou lang en moeisame dag is dit terug huis toe – en dieselfde dril van die ander kant af: spitsverkeer, slaggate, die moontlikheid van kapings en die res van ‘n varieerbare stel daaglikse dramas.

As jy vooraf die tyd aan maaltydbeplanning bestee het, sal jou au pair/huishulp/butler/lewensmaat/kind regstaan met ‘n keurige, gebalanseerde maaltyd. Het jy nié – stout, stout, stout – skuif jy agter die stuurwiel uit en voor die stoof in. Of dalk hou jy sommer by McDonald’s of KFC of Steers stil, en bestee die halfuur wat jy bespaar het deur nie die spyskaart te beplan nie, in die drive-thru-ry. Teen die tyd dat almal gebad en gebid is, en jy het albei oogballe in een sok en ‘n halwe breinsel oor vir die jammerlike oorblyfsels van jou dag, is jy regtig lus om daai begroting op te stel of te balanseer, of selfs om op WikiHow te lees hoe om dit te doen?

O, tweezer, hier kom ek weer; daar’s al weer ‘n haar op my knie . . .

7. VREES VIR ALLES WAT KAN GEBEUR

‘I’ve learnt to dread only one day at a time.’Charlie Brown

Daar gaan selde ‘n dag verby dat ek nie van iets nuuts te wete kom waarvoor ek kan bang wees nie. ‘n Jaar gelede kon ek nie “Julius Malema” spel nie en het ek nie geweet varkgriep bestaan nie . . . Ek het ook onlangs eers agtergekom as jou bande die katoë op die snelweg teen ‘n sekere hoek tref, kan dit selfs ‘n nuwe band laat bars. En voordat ek ‘n kind gehad het, was ek salig onbewus van die nare gevare van dehidrasie en projectile vomiting.

Ek weet “hulle” sê: Net 10% van alles wat jy vrees, gebeur. Waaroor ek wakker lê, is watter 10%? En dan is daar natuurlik dinge soos Malema en projectile vomiting, waarvoor ek nie gewéét het ek moet bang wees nie. In só ‘n verloor-verloorscenario is koop weer eens ‘n salfie vir ‘n kondisie waarvoor eintlik ‘n brein- of opehartoperasie nodig is. En die daaropvolgende skuld is ten minste ‘n stukkie van die 10% van die gewaarborgde verwesenlikings waarop jy kan bargain.


8. BEHOEFTE AAN BELONING

My vriendin Anita sê daar moet ‘n beloning wees aan die begin en einde van die een harde maand ná die ander. Anders is die lewe net te bleak. En dit is so waar. Die lewe is ‘n bitch, wat ‘n vriend noem “just one damn thing on top of the other” en ‘n ander een “the continuum of sh-t”. Dit is dikwels soveel wat jy verafsku en so min van wat jy wil hê. Maar dit is dáár. En ek moet tog saamstem met M. Scott Peck, wat reken die lewe is moeilik, maar die oomblik as jy dit aanvaar, is dit nie meer so moeilik nie. Aanvaar dus die probleme gaan nooit ophou nie, daar gaan nooit ‘n maklike maand wees nie, die lewe gaan jou altyd uitvang vir ‘n sucker. En miskien, net miskien, verander jou persepsie van beloning.

Ek dink dit was die filosoof Seneca wat gesê het ‘n mens moenie altyd nuwe horisonne probeer kry nie, jy moet net met nuwe oë begin kyk. Ek weet dit is dikwels nogal ‘n uitdaging as die begroting knap is en die frustrasie hoog, maar probéér, probéér, probéér.

* Een glas dooswit, asseblief? (R165) deur Linette Retief word uitgegee deur Human & Rousseau en is by boekwinkels landwyd te kry.

  • huysrzwuf

    UIuAf0 dyvrceywdkly, [url=http://qdlomrcynymi.com/]qdlomrcynymi[/url], [link=http://gbtrdiegwkpc.com/]gbtrdiegwkpc[/link], http://gudientfixjd.com/

  • huysrzwuf

    UIuAf0 dyvrceywdkly, [url=http://qdlomrcynymi.com/]qdlomrcynymi[/url], [link=http://gbtrdiegwkpc.com/]gbtrdiegwkpc[/link], http://gudientfixjd.com/