FOTO: Albert Froneman

FOTO: Albert Froneman

Boeke

Uitsonderlike voëlboek vir almal

Of jy ’n voëlkyker is, al dan nie, hierdie boek sal jou asem wegslaan. Jy sal jou urelank kan verkyk aan die foto’s van geveerdes. Die voëlboek is ’n pragstuk.

Die sorg en toewyding wat in die maak van die boek gegaan het, is uitsonderlik. The Ultimate Companion for Birding in Southern Africa, Peter Ginn & Geoff McIlleron (The Unlimited, R1 476,30) is een van die mooiste koffietafelboeke wat ek in ’n lang tyd onder oë gehad het! Dié liefdestaak van die twee redakteurs is bewaarheid deur die borgskap van Iain Buchan, voorsitter en skepper van The Unlimited Child. Dié organisasie fokus op die vroeë ontwikkeling van kinders en die wins uit verkope sal gebruik word om opvoedkundige speelgoed vir crèches vir minderbevoorregte kinders te koop. Een van die redes waarom Unlimited Child betrokke geraak het, is juis omdat daar so behoefte in landelike omgewings bestaan ten opsigte van klein kindertjies wat nie geredelik toegang het tot vroeë ontwikkeling nie. Die maatskappy doen moeite om versorgers op te lei om die kinders by crèches vir minder bevoorregtes te help om hul potensiaal te ontsluit. Stimulasie tussen 0 – 6 jaar is van kardinale belang vir kinders, omdat dit bepalend is van hoe die kinders later in hul lewe gaan presteer. Die organisasie se oogmerk is om 20 000 crèches te hê teen 2020.

Buchan se liefde vir die natuur het hom hierdie projek van stapel laat stuur. Uiteindelik het 17 skrywers en 145 fotograwe bydraes gelewer onder die bekwame redakteurskap van Peter Ginn en Geoff McIlleron.

Geoff McIlleron en Peter Ginn

Geoff McIlleron en Peter Ginn

Peter Ginn, inhoudsredakteur van die teks, sê wat die boek uitsonderlik maak is dat dit nie suiwer op voëlkykers fokus nie, maar gemik is op enigeen wat ’n liefde vir die natuur het en bloot net meer wil weet oor voëls.
Aanvanklik sou daar net een koffietafelboek verskyn, maar omdat al die voëlspesies op die suider-Afrika voëllys beskryf word, het dit gegroei tot twee volumes. Ginn het ook geweet watter 17 skrywers hy moes nader om te help skryf aan dié lywige boek. Vir hom was dit belangrik dat die skrywers se taalgebruik eenvoudig, toeganklik en maklik verstaanbaar moes wees.

FOTO: Simon Price

FOTO: Simon Price

Volgens Geoff McIlleron, foto-redakteur, wou hulle nie net foto’s van voëls op ’n tak gehad het nie, maar het hulle gesoek na ’n wye verskeidenheid foto’s wat die voëls uitbeeld onder verskillende omstandighede. Daar is foto’s waar die voëls in hul neste is, in vlug of besig met iets interessants. Die foto’s moes meer van die geveerdes se gewoontes verklap. Hy sê die digitale revolusie het gemaak dat voëlfotografie baie verander het, juis omdat tegnologie vandag help dat fotograwe voëls in onsekere ligtoestande en moeilike omstandighede kan afneem. As jy deur die boek blaai en na die foto’s kyk, kan jy sien hierdie fotograwe ken die gewoontes van die voëls wat hulle afneem en dat hulle ure se geduld aan die dag gelê het om die perfekte beelde vas te lê. McIlleron en sy seun moes deur ongeveer 30 000 foto’s werk om die uiteindelike seleksie vir die boek te maak. Dit was ure se werk. Wanneer daar nie uitsonderlike foto’s van ’n spesifieke voël was nie, het hy fotograwe gevra om spesiaal daarvoor uit te kyk en dit dan af te neem. So was hulle gelukkig om die skaars Groen Tinker (Pogoniulus simplex) ingesluit te kry!

Hierdie pragboek is ’n erfstuk en natuurlik die perfekte geskenk vir ’n natuurlewe entoesias. Bestel die boek by http://birdbook.co.za/

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf