Boeke

WEN een van 3 lekker leesboeke

SEUN VAN DEVENTER – ONBEKENDE VADER

MY eerste kennismaking met die dood was in 1946 toe my pa, Seun, onverwags in sy fleur weggeruk is. Op 35. Slegs vae herinneringe het oorgebly van ‘n nagtelike geskarrel in die slaapkamer van ons skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley; die hartseer van my ma, Baby, en die somber stoet begraafplaas toe.
Ek was net vyf en daar is hard probeer om my teen die trauma te beskerm. My ouma aan moederskant, Elsie Visser, het, reg of verkeerd, by die hek van Kimberley se Weseinde-begraafplaas naby die Groot Gat by my gestaan totdat die kis toegegooi was.

My enigste herinneringe aan daardie dag is enkele kiekies van ‘n netjiese graf met ‘n rooibruin granietsteen op. Op die grafsteen is gebeitel: “In tere herinnering aan my dierbare eggenoot en pappie, Johannes C. van Deventer (Seun), Gebore 4 Januarie 1911, Oorlede 21 Junie 1946.”

Op doktersadvies moes die Van Deventers in 1944 die groen heuwels van Noord-Natal groet – vir pa dubbel swaar omdat dit die verkoop behels het van sy grondjie Middelin (wat van die familieplaas Rondspring afgesny is) aan die voet van die bergie Spês naby Babanango.

Die jong gesin is sak en pak na Kimberley met sy heilsame, droër klimaat, want klein Hennie het kwaai gesukkel met ‘n chroniese kroep-borsie in die nat, mistige weer van Natal. Pa Seun – Johannes Cornelius gedoop, boer in murg en been – moes in die Diamantstad gaan werk soek. Dié kry my Oom Willie Smith, ‘n diamantspeurder, vir hom in De Beers se sekuriteitsafdeling.

‘n Nederige skakelhuisie is gehuur – ‘n klipgooi van die stasie en die treinspoor, met ‘n sinkheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas, en naby genoeg aan De Beers om met sy fiets werk toe te ry.

In 1947 moes ek by die Laerskool Diamantveld skool toe. Voor daardie dag aanbreek en toe ek tot Pa se ontsteltenis nog telkens die syfer 7 vergeet as ek tot 10 moet tel, het hy op ‘n wintersaand op ‘n nagskof siek geword. Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies gebêre soos sy gewoonte was, en in die bed geklim. ‘n Uur of twee later was hy dood aan ‘n hartaanval.

Watter enorme waterskeiding dit in my lewe was, sou ek eers besef toe ek as volwassene op soek na my wortels op ‘n pelgrimstog terug is Babanango toe. In die lang gras op Rondspring was die grafte van Oupa en Ouma van Deventer: Jacob Hendrik (8 Oktober 1871 – 10 Mei 1933) en Maria Catharina (gebore Van den Berg, 5 November 1872 – 7 November 1930). Dit was gewyde oomblikke langs daardie grafte.

Ontnugtering het ook gewag. Middelin se opstal was nie eens meer ‘n murasie nie. Niks het oorgebly nie.

Silutshana wat die vername poskantoor van ‘n welvarende distrik was, het verval tot ‘n uiters basiese plaaswinkeltjie.

My herinneringe aan my onbekende pa is in iets heeltemal anders gewortel, het ek ontdek – iets nader aan my as Babanango. Dit is die foto’s, die briefies, die “Psalmen en Gezangen” in ‘n leeromslag, ‘n notebeursie met ‘n vakkie vir 20/ en een vir 10/, sy laaste salariskoevert. Dit werp ‘n klein straaltjie lig op ‘n stukkie eie geskiedenis wat ‘n geslote boek geword het.

Ek verwyt my dat ek nie meer uitgevra het toe ek nog kon nie – ‘n fout wat te veel mense maak en te laat agterkom. Nou het ek van Seun van Deventer maar bloedmin oor. Geen herinnering aan ‘n stem nie (was dit fors of nie?), aan hande (was dit gebrei soos dié van ‘n boer?) of aan ‘n aanraking nie. Net ‘n paar kiekies wat met ‘n “bokskamera” geneem is, een vergrotinkie teen die muur, ‘n rooi graniet-grafsteen wat ek kan opsoek as ek in Kimberley kom, die paar los goedjies.
Een ‘n briefie, in ‘n netjiese handskrif met ‘n vulpen, het hy ‘n week voor sy dood gerig aan sy vrou, Baby – wat in 1983 as Baby Malan oorlede en in Garsfontein, Pretoria, begrawe is. Die onderwerp was die gebruikte blou Hillman-Minxie wat toe pas in die motorhuis aan die treinspoorkant van Diagonalstraat ingetrek was.

“Liefste Baby,” het hy in ‘n ferm handskrif geskryf, “ek het vandag uitgevind dat ons kar net half met olie was toe ons haar gekry het. Jy moet dus probeer om vir ons 3 pinte olie te kry. Kry by Willie (eggenoot van haar suster Minnie) ‘n skoon blik en laat dit maar daar staan. Dan sal ek dit daar gaan ingooi. Groete. Seun.”

“Liefste Baby” en “groete”. Dit in ‘n briefie oor 3 pinte olie! Dit verklap iets van my Pa, dink ek.

Seun van Deventer is op 21/6/1946 oorlede.

WEN! 3 gelukkige sarie.com-gebruikers kan elk ‘n eksemplaar van Byl in my Bos wen. Skryf hieronder in.

Sluitingsdatum: Vrydag 2 Oktober 2009

Wedstrydreëls

  • Reinet van der Merwe

    Ek sou baie graag verder wou lees – hoop ek is gelukkig genoeg om ‘n boek te wen! Dankie vir die voorsmakie.
    Ek geniet dit ook om op so ‘n manier, vanuit my huis, te hoor en sien wat nuut op die boekrak is.

  • Chris-Zelle

    Fantasties! Kan nie wag om die boek te lees nie… Ek gaan een van die dae af om bietjie te rus voor my kleinding haar opwagting maak, en het sulke goeie tydverdryf nodig :-)

  • Hyla Olivier

    Ek stem saam, ek hoop ek is gelukkig genoeg om ‘n boek te wen. Dankie vir die stukkie proe!
    Hyla Olivier

  • Mariantha Fryer

    Ag is Afrikaans nie mooi nie! Ek hoop julle hou Namibiers ook ingedagte as daar trekkings gedoen word. Kan doen met hierdie pragboek, waarvan die woorde sommer so van ‘n mens se tong afrol!