Evette en Marius

Evette en Marius

Boeke

Boekuittreksel: Evette Weyers oor haar en Marius se verhouding

Die bekende kunstenaar Evette Weyers se boek oor haar lewe en kuns, Wat die hart van vol is… (Hemel & See Boeke, R260) het onlangs verskyn. Dis ‘n visuele fees, met al die foto’s van haar kunswerke en ook ander uit haar persoonlike album oor haar en haar akteurman, Marius Weyers, se lewe saam.

Verkyker met dorings

 

Dis gedeeltelik ‘n dagboek, memoir en verwysingswerk en kan nie in ‘n spesifieke genre ingedeel word nie. Lees hier die hoofstuk waarin sy praat oor haar en Marius se verhouding.

 

 

 

 

Wie sal my kan sê hoe diep die liefde lê?

1Verhoudings herinner my aan ysberge – nege-tiendes verborge onder die oppervlakte. Ek het ’n hele reeks beelde van ysberge gemaak. Een van Tsjekof se dramas en een van Goethe se gedig oor die Elwekoning wat die ylende kind kom haal. Nog een van my en Marius. Dit was gebaseer op ons goeie verhouding, ten spyte van ons uiteenlopende geaardhede. Ek voel ons kyk in verskillende rigtings, maar ons handpalms raak aan mekaar. Ons staan rug aan rug en maak mekaar sterk. Die nege-tiendes onder die oppervlakte van ons ysberg is propvol liefde, paradokse, respek, tergery, verdraagsaamheid, kontraste, aweregse humor, ’n bietjie woede en nog tergery. Marius het van die liefdesgedigte waarvan ons baie hou, op die ysberg-beeld geskryf; onder andere Marlize Joubert se “Ballade van die minnaars”. Een van die liefdesgedigte van Pablo Neruda is ook op die ysberg geskryf. Ons het dit in Spaans geleer en dra dit saam voor terwyl ons soggens oefeninge doen. (Ons noem dit grappenderwys ons “paringsritueel”, want ons doen die oefeninge teenoor mekaar, soos in ’n spieëlbeeld van mekaar.) Marius het die beeld van ons liefdes-ysberg herdoop na “Wie sal my kan sê hoe díép die liefde lê”.

Spies, skild

In ’n Chinese verhaal van drie eeue voor Christus probeer ’n man ’n spies en skild verkoop. Mense vra hom hoe sterk sy spies is. “Dit kan enige skild deurboor,” is die antwoord. Nou wil hulle weet hoe sterk sy skild is, en hy sê dit kan alle spiesaanvalle weerstaan. “Wat sal dan gebeur as hierdie spies hierdie skild tref?” vra iemand. Daarop het die man geen antwoord nie.

Terloops: Die Chinese woord vir paradoks het uit hierdie storie ontstaan. Letterlik vertaal, is dit “spies-skild”.

Dagnota April

Ons loop strandlangs, waar drie klein robbe tussen uitgespoelde seewier lê en ontbind.

Twee groot Egiptiese ganse protesteer kekkelend omdat ons die stilte op die wye, oop strand kom versteur. Met hulle twee opgeskote kuikens  laat hulle hulself te water en swem veilig in die vlak see rond.

Op pad huis toe loop ons deur die dorp, waar onderonsies met drie ander honde en ‘n vriendelike dagsê vir ‘n bekende wolf die hoogtepunt van ons honde se wandeling uitmaak. Tuis gekom, met skoonheid en adrenalien in ons are, is ons reg vir die dag se bedrywighede. Boerneef het ‘n pragtige gedig geskryf oor die stilte wat volg ná die Kaapse suidooster gaan lê het. Soms, soos vandag, word jy wakker en voel hoe die hele natuur asem ophou, ek ook. Tot ek buite is en sien en voel dat dit só, só stil is. Selfs die see het tot ruste gekom en is glad gestryk, ‘n perlemoenblou kaatsende oppervlakte vir die lug, die onderkaak van die vroeë more met net ‘n paar hande vol seeswaels wat opvlieg. Want die meerderheid voëls is al Noorde toe – Asië, Amerika en Europa toe.

Daar is ’n raaisel in Westerse logika wat gesien kan word as ’n spies-skild paradoks: Wat sal gebeur as ’n onstuitbare mag ’n onbeweegbare voorwerp tref? Wetenskaplikes en ander het al baie antwoorde op hierdie vraag gewaag.

Die frase het êrens in die wanorde van my eie kop ’n broeiplek gevind. Logika is nie my domein nie, maar na my saamleef met Marius het ek geweet daar is ’n antwoord vir hierdie raaisel. Ek en Marius het uiteenlopende sienings oor baie dinge en ons roei beslis nie aan dieselfde kant van die boot nie. Ons sit vas. Hy hou van orde en ek is impulsief, deurmekaar. Tog leef ons al 36 jaar saam, sonder konstante oorlog!

Ons gun mekaar om te wees wie ons elk wil wees, met volle respek vir mekaar se keuses. Ons probeer mekaar nie verander in ’n spieëlbeeld van ons eie verwagting nie. Die andersheid van ons sienings is soms juis verrykend. Hy sien my as ’n “orkaan van chaos”. Ek hou egter my enigste Nietzsche-aanhaling byderhand as ’n skild: “Jy moet ’n deel chaos in jou hê om geboorte te kan gee aan ’n dansende ster.”

Wie kan dit nou troef?

Ons stem saam dat ons huwelik soos ’n onstuitbare mag is wat ’n onbeweegbare voorwerp tref, maar ons stry natuurlik oor wie die onstuitbare mag is en wie die onbeweegbare objek. Wel, ek skryf op die oomblik hierdie boek en ek kan kies!

Terloops: Een van die vele antwoorde op hierdie paradoks kom van Isaac Asimov: Twee sulke pole kan nie gelyktydig in dieselfde heelal bestaan nie.

Ander antwoorde was;

The unstoppable force will

ricochet off the immovable object.

En: There will be an infinite transfer of

energy between the two poles.

Die Spaanse spook

Nietzsche inspirasieIn 1974 het ek en Marius besluit om saam deur Europa te gaan toer. Eers het ons in Londen gebly, waar ons goeie teater gesien het. Daarna is ons na België, waar ons op ’n pragtige ou landgoed by die aktrise Tine Balder gebly het. In België het ons ’n tweedehandse kar gekoop en suidwaarts Spanje toe gereis. Marius het in die kar fluks Spaans geleer.

“Jy moet ‘n bietjie chaos in jou lewe hê om geboorte te kan gee aan ‘n dansende ster.” Nietzsche

Spanje was ’n totale fees vir al die sintuie, veral Burgos in die noorde, waar die wyn in toegewerkte skaapvelle geberg was. Hierdie wyn-skape het van die kroeg se dak af gehang, langs die stringe knoffel, uie en rissies. As jy wyn bestel, leun die kroegman met een elmboog in die pens van die skaap en skink die wyn by die voorpoot uit. Daarmee saam het ons heerlike Spaanse tapas geëet.

Die sintuiglike oorvloed wat ons in Spanje beleef het, het ook musiek, soos die passievolle flamenco, ingesluit. Op reis het ons baie na jazz geluister, onder andere Duke Ellington se meer emosionele, luimerige musiek.

Spanje; sigeunerin dans

Spanje; Sigeunerin dans

Rompslomp (voor)

Rompslomp (voor)

Rompslomp (agter)

Rompslomp (agter)

In Spanje moes Marius die praatwerk doen – hy het mos op pad Spaans geleer. Maar die Spanjaarde praat hulle taal in ’n stortvloed, ’n waterval van woorde en Marius kon nie ’n enkele een verstaan nie. Hy het gespartel en verdrink in die golwe Spaans. Ons moes ons tot gebaretaal wend en so het ons goed daarin geslaag om kos, wyn en ander noodsaaklikhede (soos vlooipoeier) te koop.

Ons het selfs in ’n noodgeval ’n tandarts opgespoor. Marius het ’n baie seer tand – en ver te min Spaanse woorde! – gehad. Die tandarts het ’n bietjie Engelse geken. “We’ll kill him dead!” het hy beloof, sy vinger oor sy keel getrek en dit met ’n snygeluid beklemtoon. Marius se oë het gerek. Ons was immers in die land waar die inkwisisie begin het. Hier wil ’n mens nie misverstaan word nie!

Naby Alicante, midde-in enorme lemoenboorde, gaan woon ons in ’n ou Moorse meule wat deur ’n Suid-Afrikaanse ambassadeur in ’n huis omskep was. In die grootste van al die kolossale vertrekke was daar net twee stoele, een tafel en ’n enorme kaggel (waarin ’n mens ’n kar kan parkeer). Ons het later ’n groot boom ingesleep, wat ons geleidelik dieper en dieper in die kaggel ingestoot het, want saans kon dit koud word. Ons het elke aand van ons drie weke verblyf daar vuur gemaak. Die slaapvertrekke was bo en daar was geen elektrisiteit nie.

Die eerste nag het ons iets teen die dak hoor krap en later goed hoor val. Dit was spookagtig om met ’n kers af te stap, deur die enorme leë saal, tot in die kombuis, waar niks toe uit plek was nie. Marius het besluit dit was takke wat op die dak krap en ons het rustig geword.

Die volgende oggend het hy bleek om die kiewe kom rapporteer daar is geen tak naby die dak nie. So het ons kennis gemaak met die spook wat ons gereeld snags gehoor het. Ons het besluit ons sal nooit onder in die kelder gaan kyk nie, want dit was uitsluitlik die spook se wêreld. Maar daardie spook het ander planne vir ons gehad. Hy wou van geweet wees . . .

Een dag in Alicante, ná ’n groot middagete met baie wyn, ry ons kuslangs na Benidorm. Ons gesels oor Don Quijote en Cervantes en raak albei so meegevoer dat Marius skoon vergeet om regs te hou. Hy ry aan die linkerkant van die pad en ons beland vlak voor ’n aankomende kar. Toe die klein Citroën ons tref, vou hy – met drie Hollanders in – soos ’n karton-konsertina op! Ons kar was ook afgeskryf. Gelukkig het die Hollanders nie een seergekry nie – en ons was in elk geval wynbestand teen skade. Die groot fout wat ons gemaak het, was om tydens die Spanjaarde se siësta ’n ongeluk te maak. Onvergeeflik! Want al die staatsdiensamptenare, munisipale werkers en polisielede slaap ná middagete.

Die Hollanders het reeds lank in Spanje gewerk en kon vlot Spaans praat. Hulle was heel vrolik en glad nie beswaard oor die ongeluk nie. Toe hulle hoor ons woon in die Moorse meule skud hulle net hulle koppe. Nog voor ons die spook noem, vertel hulle ons van ’n man wat daar gewoon het. Hy het ’n hewige vete met ’n Spanjaard gehad. Toe die Hollanders weer sien, ry die Spanjaard met die man se kar rond – die man self was net skoonveld. Ons knipoog vir mekaar. Toe weet ons wie die spook is!

Die polisieman wat in sy siësta-tyd wakker gemaak is, daag uiteindelik op, baie nors en befoeterd. Hy praat eerste met die Hollanders (let wel, die drie onskuldige Hollanders) en, tot ons ontsteltenis, hoor ons hoe hy raas. Ons sien hoe hy hulle dokumente opskeur. Volgende was dit ons beurt, die twee skuldiges, met Marius en sy tien Spaanse woorde wat hy in die kar geleer het as enigste verweer. Die polisieman blaai nors deur Marius se paspoort, tot hy sien Marius is ’n “actor”. Onmiddellik ondergaan die Spaanse polisieman ’n gedaanteverwisseling: Hy is skielik baie vriendelik en tegemoetkomend! Nou het hy blykbaar baie aangename goed om te sê en ons lag en knik instemmend mee.

Baie verlig ry ons die aand met ’n taxi huis toe. Die laaste deel loop ons deur die Spaanse lemoenbome. Die huis was doodstil. Geen beweging of kreun van ’n spook nie, niks wat val of skraap nie. Die volgende dag ryloop ons dorp toe. Tydens ons middagete in ’n restaurant vra Marius my om te trou, van pure skrik. Hy was so verlig dat ek oorleef het en hy nie die vorige nag alleen deur die lemoenboord moes huis toe loop, met net die spook as slaapmaat nie!

Wanneer ons deesdae twee keer per week Somerset-Wes toe ry, sing ons in Spaans vir mekaar liedjies uit die film oor Frida Kahlo. Ons het ook al saam verskeie van Pablo Neruda se liefdesgedigte in Spaans geleer, sonder te veel moeite. Sou dit wees dat ons die Spaanse spook saam teruggebring het?

Absurde teater

Aangesien ek destyds geskei was en geen van die wetlike papiere saamgebring het op ons reis nie, was dit gekompliseerd om in Spanje te trou. Ons sou volgende na Frankryk reis, en besluit toe om eerder daar te trou. Maar die Franse rompslomp was nog ’n paar vlakke erger as die Spaanse burokrasie. Om in Parys te kon trou, het ons sertifikate nodig gehad om te bewys ons was verstandelik normaal en gesond! Boonop moes Marius tevergeefs ’n Franse gendarme probeer oortuig dat die Republiek van Suid-Afrika wel bestaan.

In Parys het ons in ons mees geliefde kerk ons eie seremonie voltrek. Die wetlike en administratiewe papierwerk sou ons later in Londen voltooi. Met ons aankoms daar was ons aan die einde van ’n vier maande lange reis en die weduwee se kruik was redelik leeg. Ons het ’n afspraak met die registrateur gehad om op 18 Februarie 1975 amptelik te trou. Marius het daardie oggend klas gehad by die Royal Academy of Dramatic Arts en ons het toevallig die vorige aand vir Barney Simon raakgeloop. Hy kon getuie by ons troue wees.

Ons geld was so min dat ek die oggend die goedkoopste trouringe moes gaan koop wat ek kon kry. Dit was ’n Russiese trouring wat bestaan uit drie ringetjies wat in mekaar pas. Ek het vir my blomme gekoop en toe in ons woonvertrek vir Marius gaan wag. Hy, weer, het vir Barney gewag en toe die nie opdaag nie, besef Marius ek het Euston Station gese, pleks van Earls Court. Euston is die grootste moltreinstasie in Londen! Marius het ’n taxi gekry om soontoe te jaag en ek is rustig na die registrasiekantoor, waar ek met my blomme en ons trouringe in my skoot vir Marius en Barney moes sit en wag. Die Spaanse egpaar wat na ons sou trou, was reeds daar. Toe dit al hoe later raak, oefen ek solank wat ek vir die registrateur moet sê as my toekomstige eggenoot nie opdaag nie.

Marius kon nie vir Barney in die enorme Eustonstasie vind nie en jaag toe per taxi terug na my toe. Hy het net betyds gearriveer, maar sonder getuie. Die beamptes stel voor ons vra die Spaanse bruid en bruidegom om getuies te wees. Maar die Spaanse bruid praat nie Engels nie en is eers hoogs ontsteld dat sy nou oënskynlik met Marius gaan trou! Sy word gekalmeer en stem in.

Nou staan ons gereed en die registrateur vra my: “Will you take this man, Martin Mêrius as your lawful wedded husband?” Ek knyp van die lag, want nou voel dit of ek ook met ’n vreemdeling trou. Intussen sukkel Marius om die Russiese trouringe in gelid te kry sodat hulle oor my vinger kan glip.

Uiteindelik is die knoop deurgehaak, en toe ons op straat uitstap, staan ’n fotograaf vir ons en wag. Wat ’n gelukskoot, het ons gedink – na hierdie hinderniswedloop van ’n troue. Die man neem foto’s. Ons betaal hom. En raai, dit was die laaste sien van die blikkantien!

Na ’n troudag wat pure absurde teater was, het ons net gelag en gelag. Nou, 36 jaar later, lag ons steeds oor die absurde.

At the height of laughter the universe is flung into a kaleidoscope of new possibilities. - Jean Houston

“Marius se vrou”

Wanneer bekendes my aan nuwe mense voorstel as “Marius se vrou” maak hulle gewoonlik verskoning daarvoor. Ek is darem ook ’n mens in my eie reg. Maar ek antwoord dat ek geen probleem het om so voorgestel te word nie. Dit is tog ’n feit – ek is Marius se vrou. Dus begin ons die gesprek met ’n waarheid. Verder respekteer ek hom en ag hom baie hoog. As die nuwe mense teen die einde van die aand my steeds slegs as sy vrou sien, is dit beslis nie die gasvrou of Marius se skuld nie.

Liefde à la ChagallVir ’n artikel oor ons in SARIE, in 2009, skryf Marius: “Dit het begin met ’n aantrekkingskrag, toe ’n lang gesels op ’n straathoek – wat gelei het na ander lang geselse, nou nog, 36 jaar later.“Ons is verskillend maar deel ’n liefde vir dieselfde dinge. Ons is altwee toondoof en sing daarom met oorgawe saam, wetende die ander een sal nie kritiek durf lewer nie.“Ons bou mekaar op, breek nooit af nie. Ons het nog altyd gevoel ons is ’n span. Ek dink die vertroue wat ons wedersyds het en die respek vir mekaar, maak van ons verhouding ’n baie veilige plek.“Natuurlik is die saamleef soms moeilik, veral aan die begin, maar mens leer om mekaar ruimte te gee en toegewings te maak en dit bring mens net nader aan mekaar.

“Ek lief haar integriteit, haar speelsheid, haar wakker, intense en stimulerende intellek. Haar mens- en diereliewendheid. Haar vrouwees, haar geduld met my.

“En ons kan saam skaterlag, kan minute om net lag, so veel so dat die buurvrou eendag kom hoor het of ons gaste gehad het want ons het dan soveel gelag.

“Die lewe is een lekker – en ek hoop oneindige lang – avontuur saam met haar. En as sy die oggend wakker word en sê: ‘Dit gaan ’n baie kreatiewe, produktiewe en konstruktiewe dag wees,’ dan kan jy maar weet, die klein liggaampie met die groot gees gaan dit so maak!

“Maar die grootste van alles is, plein en simpel, die liefde. En wie kan of wil dit nou verklaar?”
Dans met die Minotaurus

In ’n antieke Griekse legende wat in Kreta afspeel, het koning Minos die seegod Poseidon kwaad gemaak. Poseidon wreek homself deur die koningin, Minos se vrou, buitensporig verlief te maak op ’n bul (simbool van kreatiwiteit en krag). Uit die verhouding gee sy geboorte aan die Minotaurus wat die lyf van ’n bul en die kop van ’n man het. Koning Minos sluit die Minotaurus in ’n doolhof (of labirint) toe en stuur elke maand vir hom jongelinge om te verorber. Dit gaan vir jare voort, totdat die held, Theseus, die Minotaurus doodmaak.

Die Minotaurus word later ’n simbool van die mees gevreesde teenstander of situasie wat ’n mens in jou lewe moet konfronteer. In die hart van die labirinte wat in ou Christelike katedrale op die vloer geteken is, was daar dikwels ’n tekening van die Minotaurus. So ook in die beroemde katedraal van Chartres in Parys.

Dans met die minotaurus

Minotaur Productions was die naam van ’n teatergroep wat die beroemde regisseur, Dieter Reible, in 1978 saam met Marthinus Basson in die Kaap op die been gebring het. Hulle het buitengewone teater geskep – ondermynend, prikkelend en grensverskuiwend. Dit het my opnuut na die argetipiese kreatuur, die Minotaurus, laat kyk. Hy is ’n magtige metafoor en argetipe in die Weste.

Vir my is die Minotaurus die versinnebeelding van kreatiwiteit en die kunste. Hy is een van die basterkinders van die verbeelding. Maar die soektog na die Minotaurus is ’n gevaarlike pad om te loop. My doelwit is nie om hom dood te maak of te keer dat hy my vermorsel nie, maar om met hom te dans. By die groot byeenkomste in antieke Kreta het die Grieke nie die bulle doodgemaak, soos later in Spanje nie. In teendeel, die Kretaanse akrobate het tussen die bulle se horings deur bolmakiesie geslaan en flink op hulle voete geland. Ek wil graag in daardie arena kuns skep en aanskou.

Die kunste raak ons, maak ons meer bewus en lewendig. Dit inspireer ons. Dit glo ek ten sterkste! Ek het ’n hele uitstalling gewy aan die saamdans van die kunste; hoe hulle mekaar beïnvloed en wat dit vir my beteken. My een beeld heet “Dans met die Minotaurus”. Dit is gebaseer op die bogenoemde legende uit Kreta. Die beeld spruit veral uit my liefde vir teater en waardering vir die genot, kennis en insig wat teater my dwarsdeur my lewe verskaf het.

My beeld wys die ingang tot die labirint. Daar is ook ’n verhoog met een dansende akteur daarop. Toe besluit ek dit bring te veel detail en ek sny die akteur af. Sy skimbeeld het agtergebly. Op daardie moment was Marius toevallig in my ateljee – en hy het dadelik gesê: “Dis presies hoe die teater is. Jy skep elke moment van die stuk en die volgende oomblik is dit weg.” Ek het dus die skim van die akteur op die beeld behou, ter viering van al die brawe akteurs wat met die Minotaurus dans.

Teater-kreatuur

Na Marius se opmerking oor die ná-beeld van die akteur in my beeld van die Minotaurus het die akteur se skim in my kop bly dans. Akteurs is eintlik emosioneel ontbloot wanneer hulle op die verhoog is. Dit is juis deel van hulle moedigheid, om dit so kaal op die verhoog te durf waag. Hulle dans met die Minotaurus.

In 1980 het Barney Simon Vroue van Troje by die Markteater in Johannesburg opgevoer, met Marius en ses van die land se beste aktrises. Ek het die stuk vertaal, die stel ontwerp en ’n rol gehad met vyf reëls dialoog wat elke aand deur my vingers geglip het!

As beeldhouer was dit openbarend om deel te wees van die skepping van ’n opvoering. Hoe verskil die gebruik van tyd en ruimte in ’n toneelstuk en ’n beeldhouwerk? Die toeskouers van my beelde is heeltemal in beheer van tyd en ruimte. Hulle kies hoe lank hulle na een kant van ’n beeld wil kyk, en vanuit watter hoek; hoe ver of hoe naby hulle aan die beeld wil staan. Tyd en ruimte behoort aan hulle in die aanskoue van ’n beeld.

In teenstelling met die eenvoud van beelde maak: Wat ’n uitsonderlike skepping is ’n toneelopvoering nie! ’n Toneelstuk bestaan gewoonlik eers op papier, waar die dramaturg dit neergepen het; as ’n vonk van sy eie gees. Op papier is dit juis iets tasbaars wat jy kan lees, waarin jy kan terugblaai, heen en weer kan spring. ’n Leser is ook in totale beheer van tyd en ruimte by die lees van die stuk. Hy skep selfs die karakters in sy eie kop terwyl hy lees.

Hoe anders en kompleks is die opvoering van ’n teaterstuk. Nou kom ’n regisseur, akteurs en tegnici by. Die teks en karakters word in diepte ontgin en ’n nuwe, unieke, saamgestelde lewe word aan die teks gegee. Die aksie en bewegings word in tyd en ruimte uitgewerk. Al die akteurs se bewegings word gekoördineer. Die regisseur se visie van die stuk is deurentyd rigtinggewend. Stadigaan kry die unieke dier – die toneelopvoering – gestalte, en die siel van die stuk openbaar haarself. Met deurlope van die stuk kom nuwe ontdekkings en verfyning in die vertel van die storie. Die spelers beheer nou die karakters, die ritme en veral die tydsverloop van die stuk. Hulle moet die storie in al sy diepte binne een opvoering vertel, want gehore – die afwesige medespeler – sien ’n stuk gewoonlik net een keer.

Voor die openingsaand, tydens die voorskoue, kom nog ’n komponent van die toneelopvoering by: die wispelturige medespeler, naamlik die gehoor. Dit is ’n essensiële komponent van die opvoering. Al die repetisies word juis gedoen om die gehoor by die hart en siel van die karakters se storie te betrek.

Othello kry kleur.

Othello kry kleur

Vasvat van 'n feeks.

Vasvat van ‘n feeks

In teater se kleedkamer voor vertoning.

In teater se kleedkamer voor vertoning

Marius in Dimetos van Athol Fugard

Marius in Dimetos van Athol Fugard

Marius wen beste akteur vir Jago, 1976

Marius wen beste akteur vir Jago, 1979

Marius in Valley Song met Athol Fugard, New York.

Marius in Valley Song met Athol Fugard,
New York

In die opvoering is die toneelstuk nie meer iets tasbaars op papier nie. Dit is ’n samespel wat op die kruin van ’n golf van nόu, nόu, nόu ry; ’n vervlietende simfonie van woorde, emosies en bewegings, wat elke sekonde ’n nuwe geheel vorm en daarna verdwyn. Die gehoor verloor gewilliglik beheer oor tyd en ruimte, en word meegesleur op die kruin van hierdie golf van nou, nou, nou.

Die akteurs is intens bewus van die gehoor, daardie wisselende medespeler wat elke aand van gedaante verander. Die akteurs hoor elke skuif op ’n stoel, elke lekkergoedpapiertjie wat gefrommel word, elke sug, steun, lag of huil. Daar is ’n dun lewensdraad tussen die spelers en die gehoor, en die akteurs voel wanneer die gehoor regtig luister, ingetrek word en bybly. Hulle voel ook wanneer die gehoor se belangstelling taan en hulle aandag verslap. Die akteurs is wel in volle beheer van tyd, ruimte en ritme, maar die gehoor hou die laaste sleutel tot die suksesvolle opvoering in hulle hande, naamlik aandag. Want waar die opvoering nou eintlik voltooi word, is in die sintuie, die emosies en gedagtewêreld van die gehoor.

As dinge verkeerd loop en die spelers die gehoor begin verloor, gebeur die toneelstuk nie meer ten volle nie. Die spelers probeer die gehoor dan teruglok om deel te hê aan die skeppingsdaad. As die akteurs die gehoor se aandag heeltemal verloor, kwyn die stuk en dit kan selfs sterf as almal uitstap, of as niemand meer wil kom kyk nie. Die finale tuiste van die opvoering is dus in die koppe en harte van die gehoor. Hulle gee hulle aandag en skep saam aan die opvoering.

Na die vertoning is die hele opvoering weg. Geen foto, video, of film het daardie spesifieke opvoering in tyd gestol nie. Nou is dit net die herinneringe en insigte wat soos skimme in die gehoor se koppe dans. Hulle interpretasies en herkouings gee ’n na-lewe aan die opvoering.

Dagnota 25 Februarie 2010

Verwoed waai die suidooster vanmore. Wanneer die water in rookdun tuite of plat velle druppels uit die see gewaai word, soos nou, sê die ouer kusbewoners die see “rook”. Op so ’n dag heers die elemente.

’n Trop kese het al vroeg-vroeg huisbesoek kom doen. Langs ons voorstoep sit ’n ma met ’n pienkgesig baba aan haar lyf. Sy eet noem-noem bessies, pikswart van die rypheid. My swart wolf is besete en hardloop kringe langs die vensters Ek hou haar in die huis. Sy en die groot alfa-kees het al een keer in die huis slaags geraak, en dit is ’n gevaarlike speletjie om hulle uit mekaar te kry. Maar my wolf het bloed getrek, sy soek nóg ’n geveg met die alfakees. Die bobbejane terg die honde. Hulle glo hulle is baie slimmer as my diere.

Ons gaan stap. Vanoggend hou ek my swart wolf aan haar leiband vas. Sy béúr en probeer my saam sleur agter die groot kees aan. Ek hou voet by stuk, want ek moes al deur bosse kruip en my groot wolf aan haar stert probeer uitsleep uit ’n geveg met dié einste bobbejaan. Daar was gesê, “Jy kan die hond uit die wolf haal, maar jy kan nie die wolf uit die hond haal nie.” Ek wil ook nie. Ek moet net die leier van ons trop bly. My klein brakkie, ’n lokasieallegaartjie, leer met opwinding die nuwe speletjie aan van kese jaag en as hy buite my bereik is, vreet hy lustig keesdrolletjies op die hoef. Elke more hier het sy eie verassings.

Wanneer die rede slaap, word monsters wakker

Die volgende uittreksel kom uit Athol Fugard se treffende drama, My Children, my Africa,wat ek in die vroeë 1980’s in die Markteater gesien het. Die woorde en karakters uit daardie opvoering dans nog steeds in my kop voort! So onthou ek die toneel:

Die swart letterkunde-onderwyser staan voor sy beste leerling, wat pas by die struggle aangesluit het en klippe na Kaspirs gegooi het. Die onderwyser hou ’n klip in een hand en ’n Engelse woordeboek in die ander.

Hy sê: “In this hand I hold a stone. In this other hand I hold the whole Enlish language. This stone is but one word in this book. With this stone I can hit the Kaspirs. With the words in this book I can get into the minds of those who drive the Kaspirs.”

Die mag van die pen of die swaard? Dit is ’n ou debat.

Hoe treffend kan skrywers, dramaturge en kunstenaars nie iets saamvat in dialoog, of raakgryp in ’n ets of tekening nie. In die 1800s het die skilder Goya die menseslagting en wreedhede van die Spaanse burgeroorlog in sy kunswerke openbaar. Dit was by uitstek die kuns van waarheid, eerder as die skone kunste. In sy ets met die treffende naam, “When Reason Sleeps, Monsters Awake”, wys hy ons wanneer jy die deur toemaak vir rede, maak jy dit oop vir ander monsters en geweld.

Ongeag hoe geoorloof jou oorlog teen tirannie is, weet jy nie watter monsters jy daardeur inlaat nie. Dit geld die oorlog teen die Nazi’s, die atoombomme op Hirosjima en Nagasaki, die bombardering van Dresden, die Anglo Boereoorlog se wreedhede van die konsentrasiekampe en die struggle teen apartheid, met die halssnoer- en ander moorde. Politici, staatsleiers, predikers en morele leiers praat oor die kwessies. Kunstenaars en dramaturge laat ons in ons hart en siel voel waaroor dit gaan.

Verskillende vorms van die kunste het my verbeelding ontsluit. Toe ek as tiener die eerste keer na Beethoven se sesde simfonie geluister het, was dit vir my soos ’n deur wat pas oopgegaan het. Ek het geweet: As ek deur daardie deur gaan, sal ek nooit weer omdraai nie. En ek het ook nie. Die musiek en die kunste het my geheel en al verlei. Dit is steeds een van die grootste passies in my lewe. Ek wil ander ook verlei om deur daardie deur te gaan en verlief te raak op die kunste.

Basta!

Marius het nog altyd ’n renons gehad in disrespek vir mense. Sy woede of righteous anger, soos die Engelse sê, het by tye in sy werk ook gegeld. Veral as gehore te na gekom is. Hierdie woede oor ’n onreg teen gehore het in 1977 ’n klimaks bereik – die dae toe wit spelers nog swart rolle gespeel het.

Toe Marius in die Nico Malan-teater in Kaapstad die rol van Othello vertolk, was dit ’n ongelukkige produksie. Hoppies (sy noemnaam) was die persoon wat besluit het wanneer skoolgehore die stuk kon sien. Maar hy het skoolgehore en die gewone publiek gemeng. Die kinders het hardop gelag vir die swart man en sy wit vrou, en selfs goed op die verhoog na hulle gegooi, veral in die slaapkamertoneel. Marius het Hoppies aangespreek om nie skoolgehore met gewone gehore te meng nie, want die kinders belemmer die toneelstuk vir die publiek. Maar hieraan het Hoppies hom nie gesteur nie en dinge het erger geraak.

Dit was my taak om voor elke opvoering Marius se lyf swart te grimeer vir die drama. Net voor die slaapkamertoneel, waar Othello vir Desdemona doodmaak, moes ek hom weer van kop tot tone swart grimeer. Dan het hy, met net sy jakkalspels-stertriem, op die verhoog verskyn om Desdemona in ’n hoogs emosionele toneel te versmoor. Ek was teen daardie tyd ook redelik swartgesmeer en dan het ek in die kleedkamer se bad geklim om skoon te kom.

Die spesifieke aand het ek in die warm water gelê en oor die interkom na die opvoering geluister. Dit was ’n erg emosionele toneel. Othello het Desdemona intens bemin, maar Iago het hom op ’n slinkse wyse oortuig dat sy ontrou aan Othello is – en hy het dit geglo. Innerlik gepynig, staan Othello bo-op die bed bo-oor sy geliefde Desdemona. Hy gaan haar versmoor. Maar die aand rumoer die kinders en gooi allerhande goed op die verhoog. Marius, met die kussing in sy hande, gereed om Desdemona dood te maak, was besig met die befaamde woorde wat deur ons harte sny: “Dit is die grond, my siel, dit is die grond!” Vir die kinders was dit ’n groot komedie en hulle het uitbundig gelag – harder as ooit! Vir Marius het dit net te ver gegaan. Ek kon in die bad voel hoe iets in hom breek. Daar was ’n paar oomblikke van stilte. Toe spring Marius van die bed af, stap tot voor op die verhoog, en sê aan die gehoor: “Onder hierdie omstandighede is ek nie bereid om voort te gaan met die vertoning nie!“

Briesend storm hy met sy kussing in die hand van die verhoog af. Nou moet ek byvoeg dat Hoppies die woordelose rol vertolk het van een van die Romeinse soldate wat Othello kom arresteer nadat hy sy vrou doodgemaak het. Niksvermoedend het Hoppies, die Romeinse soldaat, op die verhoog gekom om Othello te arresteer. Marius het by hom verby gestorm en sy kussing in Hoppies se maag gesmyt, met: “Jy kan jou skole vat en in jou gat steek!”

In die kleedkamer het Cobus Rossouw vir Marius probeer paai om terug te gaan verhoog toe. Maar ek het geweet, Marius het so ontplof na buite dat hy himself ook binnekant stukkend geskeur het. Hy was rou en flenters van binne.

Die koerante was later vol daarvan en die insident is hewiglik gedebatteer. Marius het in ’n koerant onderhoud gesê hy weet sy gedrag was onprofessioneel. Die betrokke skole het almal daarna beweer dit was nie hulle kinders wat amok gemaak nie.

Marius se woede het wel ’n meer etiese vlak herstel vir die verdere bywoning van daardie stuk. Die kinders wat daarna gekom het, was baie beter ingelig en meer voorbereid. Hulle het darem na die stuk gekyk en geluister en nie die res van die gehoor ontstem nie. Die toeskouers betaal immers en doen die moeite om teater toe te kom. Hulle gee hulle volle aandag aan ’n groot klassieke werk en daardie wisselwerking tussen akteurs en gehoor moet gerespekteer word. Die omstandighede moet in ’n teater so wees dat die gehoor ’n diepgrondige ondervinding kan beleef, sonder steurnisse wat sal inmeng met “the suspension of disbelief”.

Ná die groot golf

Om beelde te maak of om te skryf is ’n alleen pad. Wanneer jy jou kreatiewe eindbestemming bereik, staan jy stoksielalleen op die piek. Vir ’n regisseur om ’n teaterstuk, met verskeie akteurs en tegnici, tot opvoering te bring, vorm egter ’n groot golf in ’n reuse see van kreatiwiteit – ’n groot deining binne die oer-oseaan van emosies met al sy systrome, draaikolke, deinings en golwe.

Die aand voor die opening, met die laaste kleedrepetisie, is die opvoering nog rou en plek-plek ’n bietjie wild, vol senuwees en tegniese glipse. In ’n poging om alles uit te stryk, hou hierdie finale repetisie dikwels tot baie laat aan. Die adrenalien pomp verbete. Daar word gehoop en gebid vir môre. Dan breek môre uiteindelik aan: Dit is openingsaand, die klimaks van die stuk, wanneer die kreatiwiteit sy kruin bereik – die kruin van daardie groot golf. Nou is die akteurs bobaas branderryers. Hulle weef behendig tussen mekaar deur terwyl hulle die groot golf ry, tot hy hoog teen die strand opstoot en sy merk maak.

Daarna, laataand, word die opening vreugdevol gevier, dikwels met ’n deurnag partytjie. In die1970-80’s het die destydse TRUK-akteur, Louis van Niekerk, en sy vrou, Lettie, in Riviera, Pretoria, gewoon. TRUK se openingsaand partytjies is telkens by hulle aan huis gehou. Een so ’n lewendige openingsaand met TRUK se ensemble akteurs, regisseur Francois Swart, en ook P.G. du Plessis en klein Annelisa Weiland, albei in kaftans, en ek. Dit was ’n besonder jolige viering ná ’n baie suksesvolle opening. Na jare se laataand openingspartytjies het die bure die aand breekpunt bereik: Skielik daag die polisie op om ons te arresteer. Ons is almal agter in ’n vangwa gelaai en polisiestasie toe geneem – almal behalwe Marius. Hy moes voor sit. Louis het pittige goed te sê gehad oor Marius wat kastig so vernaam is. Maar ons was ’n vrolike kavalkade van akteurs en gaste in die vangwa en verras oor die nuwe ondervinding. By die polisiestasie is ons almal “ingeboek” vir rusverstoring. Daarna kon ons huis toe gaan. Die vangwa het ons terug geneem na Louis se huis en daar was geen verdere woord oor die insident nie – behalwe in die koerante.

Akteurs is so oop ná ’n vertoning, veral na ’n openingsaand, waar hulle alles gegee het. Teen die einde is hulle dolleeg, ontvanklik vir alles wat vir hulle gesê word. Hulle is ontlaai van die aand se spanning, maar ook weerloos oop vir enige kommentaar.

Op party openingsaande kan die akteurs, die regisseur en die medewerkers baie ernstig raak en verskil oor netelige kwessies. So het Marius en die regisseur Francois Swart een laatnag tydens ’n openingspartytjie by die Louis en Lettie van Niekerk aan huis hewiglik verskil oor iets. Teen die droesem van die nag het die twee langs mekaar op die sypaadjie by die voorhekkie beland. Langs leë melkbottels sit hulle op die randsteen en praat oor diep dinge. En daar het die dag oor hulle versoenende gesprek gebreek . Al het hulle soms baklei, was hulle baie lief vir mekaar.

Nagnota:

Opening van Oom Wanja van Tsjechof

Ná die groot golf van ’n openingsaand vind ek myself soms snags in hierdie groot see vol van die rykheid van die hele belewenis. In die donkerte duik ek as ’n dolfyn deur die branders, diep getye en strome in hierdie enorme oseaan van genuanseerde emosie, dramatiese bewegings en dialoog. Ek voel die rykdom van teksture en die trefkrag van woorde teen my lang flanke. Die hoë kwaliteit van samespel en gedeelde skeppinge. Die weerloosheid en krag van die akteurs en die meelewing wat teruggevloei het van die gehoor. Alles deurweef in hierdie diep oseaan van kreatiwiteit en meelewendheid.

’n Ander openingsaand wat my bybly, was ’n nag in 1980. Dit was ná die opening van die befaamde dramaturg, Athol Fugard, se stuk, A Lesson from Aloes, in die Markteater. Dit was die eerste keer dat Marius met Athol saamgewerk het. Net die kerngroep het die opening in Ross Devenish se klein woonstelletjie in Johannesburg gevier. Ross is ’n filmmaker en ’n baie goeie vriend van Athol. Daardie nag was die emosies oop en fynbesnaard, en die laatnag praatjies was propvol pitkos en eggo’s van ander kunswerke, boeke en teaterstukke. Vir my was dit pure kwaliteit en nogmaals kwaliteit.

Athol het eenkeer vertel as hy snags nie kan slaap nie, reël hy een groot banket vir al die karakters in sy verskillende toneelstukke. En dit het die stuk Boesman en Lena geword. Hy werk uit wie langs wie moet sit en wat hulle vir mekaar te sê sou he. Maar langs Boesman wou nie een van die ander karakters sit nie. Die rede was dat Boesman menslikheid so totaal weggesmyt het dat hy almal se perke oorskry het. Ek glo wel Athol sou langs hom gaan sit en na hom luister, uit pure menslikheid.

Kuns en vryheid van spraak

(Gepubliseer in die Overstrand Herald, 2007.)

’n Mens assosieer die kunste dikwels met skoonheid of vermaak, maar die kunste strek baie verder en dieper as dit. Neem byvoorbeeld Picasso se skildery “Guernica” as kommentaar op die sinneloosheid en geweld van oorlog. Ook Goya se skilderye oor die gruwels van die burgeroorlog in die 1800’s. Boeke en teater delf nog dieper in die essensie van dinge. In die 20ste eeu het die term “skone kunste” ook plek gemaak vir die term “kuns van waarheid”. Kunstenaars probeer dikwels waarhede oor ons mensdom peil en weergee.

Die vraag is: Wie se waarheid word weergegee? Fundamentaliste glo hulle swart-en-wit siening is die enigste waarheid. Kunstenaars herinner ons dat ’n oneindige aantal werklikhede of waarhede moontlik is, ook die wat ons ons nie eens kan voorstel nie.

Kuns het dikwels ’n geweldige effek op indiwidue en gemeenskappe. Dink maar terug hoe Die Swerfjare Van Poppie Nongena mense laat besef het hoe Poppie en vele ander swart vroue se lewens deur apartheidswette gekniehalter was, hoe hulle waardigheid en menslikheid misken is. Ek glo hierdie boek het gedurende die referendum die stem geswaai na groter mededeelsaamheid.

In Swede het die dramaturg, lbsen, in sy toneelstukke gewys hoe paternalisties vroue in Swede beskou en behandel was – o.a. in Hedda Gabler en Die poppehuis. Op dié manier het hy in sy land ’n ommeswaai ten gunste vroue bewerkstellig.

In ons land bewys die meer onlangse geskiedenis onteenseglik wat ’n belangrike rol die kunste speel. Sedert die 1990’s het verskeie mense en drukgroepe probeer om die oorskot van Saartjie Baartman uit ’n museum in Frankryk terug te bring na haar geboorteland. Die Franse het net hulle skouers opgetrek en aan president Mandela gesê die wet verhoed dat iets uit hulle museums verwyder word. Saartjie moes maar daar bly.

Die digter Diana Ferrus, wat in Amsterdam gestudeer en baie huis toe verlang het, veral na haar ma, het besef Saartjie Baartman moes destyds dieselfde verlange gehad het toe sy in Parys aan mense vertoon was – ontuis en te ver van haar huis. Diana het ’n gedig vir Saartjie geskryf, wat so begin: “Ek het gekom om jou huis toe te vat.” Die Kaapse kunstenaar, Willie Bester, het Diana se gedig op sy kunswebwerf geplaas, waar ’n Franse senator dit gelees het. Hy was diep geraak.

Saartjie Baartman kom terug op die rug van 'n gedig.

Saartjie Baartman kom terug, op die rug van ‘n gedig

 

 

 

“Ons moet die wette in Frankryk verander sodat Saartjie huis toe kan gaan,” het hy gesê, en die Senaat oorreed om dit te doen. Diana was op uitnodiging teenwoordig toe die wet gewysig is en haar gedig in die Franse wetboeke ingeskryf is. So het Saartjie op die rug van ’n gedig huis toe gekom – ’n mooi voorbeeld van die mag van die kunste!

Diktators en politici besef soms watter mag die kunste het om mense se gevoelens te beïnvloed. Dan perk hulle kunstenaars in en snoer die monde van skrywers. Hitler en Stalin het dit gedoen toe hulle vryheid van spraak opgeskort het en kunstenaars gedwing het om propaganda te dien. In die 1970’s het die militêre bewind in Griekeland die musiek van Theodorakis verbied omdat hy te veel vryheid verkondig het. Skrywers en digters in Chile, China en elders is stilgemaak – ook in die RSA, waar boeke van Andre P. Brink en ander verbied is. Die vraag is: Waar lê die grense van vryheid van spraak in die kunste?

Eerstens kan mens vra hoe kunstenaars hulle rol in die samelewing sien. Die antwoorde is baie uiteenlopend. Party wil mense inspireer, soos byvoorbeeld die landskapkunstenaar Strydom van der Merwe, of Mozart. Ander hou ’n spieël op vir die mensdom se gebreke, soos die visuele kunstenaars William Kentridge, Sue Williams en Willie Bester. Die befaamde Duitse regisseur, Dieter Reible, wat in Suid Afrika gewerk het, het geglo teater moet gevaarlik wees. Die staat moet dit vrees. Hy het gesê: “Die doel van teater is om mense uit hulle bourgeois selfgenoegsaamheid wakker te skud.” Dink terug hoe Breyten Breytenbach mense soms uitgedaag het in sy toneelstukke, sy skilderye en gedigte. Skrywers soos Koos Prinsloo en Marlene van Niekerk hetgrensverskuiwende werke geskryf, wat mense met nuwe oë na die lewe laat kyk het. Die Tsjeggo-Slowaakse skrywer, Frans Kafka, het gese: “A book has to be like an axe that shatters the frozen sea within.”

Soms word die publiek geskok deur ’n boek, ’n film of ’n kunswerk. Wat aanvaarbaar is, is egter baie subjektief. Dr. Verwoerd het skerp te velde getrek teen N. P. van Wyk Louw, wat in sy toneelstuk Die pluimsaad waai ver durf vra het: “Wat is ’n volk?” Ander het die stuk as briljant beskou. Die Indiese skrywer, Salman Rushdie, moes jare lank vlug omdat sy roman, The Satanic Verses, die Ajatolla van Iran gegrief het. Hy het Rushdie ter dood veroordeel weens sy heiligskending. Enige Moslem wat hom sou doodmaak, sou as ’n held beskou word.

Ek voel ons moet vryheid van spraak binne die grondwet koester. Wat kunstenaars betref, tree sommige op soos die hofnarre van ouds, wat kaalkop die waarheid kon uitspel soos ander dit selde durf waag. Suid-Afrikaanse voorbeelde sluit die satirikus Pieter-Dirk Uys en die spotprenttekenaar Zapiro in.

Skrywers het van ouds ons hoogheilige blindheid uitgewys en ook ander heilige koeie omgestamp, selfs in sprokies soos “Die keiser se nuwe klere”. Natuurlik sal daar baldadige jong (of ou) Turke wees wat die publiek bloot die herrie in wil jaag met uitdagende werk. Hulle is deel van die purgasie van ons kultuur.

Deur die eeue heen dwaal die mensdom maar gereeld van koers af: Christus het liefde verkondig, maar die kerkvaders het die Spaanse inkwisisie in sy naam gevoer. In die naam van Mohammed is Jihad verkondig en met die Kruistogte het Christene massamoord gepleeg. Die kerk het as hoogheilige sedebewaker gesorg dat vroue as hekse verbrand word, al het Christus die owerspelige vrou nie veroordeel nie en met deernis behandel. “Laat hy wat sonder sonde is, die eerste klip gooi.”

Die kunste inspireer ons, raak ons, maak ons meer bewus, meer betrokke en meer lewendig. ’n Filosoof het gesê ’n kultuur is net so groot soos sy drome – en sy drome word deur kunstenaars gedroom. Mag dit goed gaan met die kunste in ons land en in die wereld en met die drome van kunstenaars.

Nuusbrief

Hallo almal,

Dis goed om weer te lees wat Solzjenitsin geskryf het toe die Nobelprys aan hom toegeken is. (Hy mag dit nie self ontvang het nie.)

What can literature do in the merciless onslaught of violence?

Let us not forget that violence does not exist alone and cannot survive in isolation; it is inevitably bound up with the lie. Let the lie come into the world, even dominate the world, but not through me. Moreover, writers and artists can do something more, they can vanquish the lie. Wherever else it fails, Art has always won its fight against lies, and it always will win. Its victory will be obvious, irrevocably obvious to all men. The lie can withstand a great deal in the world, but it cannot withstand Art.

Dink aan die waarheid van verhale soos:

One Day in the Life of Ivan Denisovitch

Die swerfjare van Poppie Nongena

 Dink aan visuele kunswerke soos Picasso se Guernica, oor die uitwissing van ’n klein Spaanse dorpie. Die skildery het die waarheid blootgele van die sinnelose geweld van oorlog in die algemeen. Hoe potent is hierdie boeke en kunswerke nie!

Dit is ironies dat die heersers van een van die magtigste nasies in die wereld by een geleentheid in 2001 probeer het om so ’n kunswerk dood te smoor.

Die persberaad van die V.S.A. se oorlogsverklaring teen Irak in 2001 is in ’n lokaal gehou waar ’n groot geborduurde weergawe van Guernica teen ’n muur gehang het. Toe die politici in beheer dit opmerk, is daar gou besluit om Guernicamet ’n groot blou lap te bedek. Soveel waarheid oor die geweld van oorlog kon nie geduld word nie, selfs nie in die agtergrond nie – en veral nie waar leuens oor die rede vir die oorlog aan die wêreld opgedis is nie. Die oorlog het oor die beheer van olie gegaan.

Lank lewe die kunstenaars, digters en skrywers wat op die pad van waarheid loop! Ons het vele van hulle deur ons geskiedenis en in ons eie land gehad.

Mooi loop

Evette

Ons lewe in donker tye

Evil flourishes when good men do nothing.

In 2001, na die aanval op die World Trade Centre in New York op 9/11, het Breyten Breytenbach ’n treffende gedig daaroor geskryf.

sal die hand aanhou beweeg oor die papier.

sal enige gedig genoeg gewig kan hê

om ’n vlugstreep te laat oor ’n verlore landskap

ooit genoeg van ’n gesig kan lig teen dood se donker stilte

wie sal dan vertel

Breyten, in daardie tyd lektor in kreatiewe skryfkuns aan ’n universiteit in New York, het dié gedig later in sy bundel Windvanger opgevolg met “Ons lewe in donker tye”. Dit is ’n manjifieke, maar donker gedig, wat jou tot diep in jou wortels skud. Dit het my herinner aan die middel-tagtigerjare toe ons inderdaad hier in Suid-Afrika in donker tye gelewe het. President P.W. Botha, het nie die Rubicon oorgesteek deur van die apartheidsjuk ontslae te raak nie. Inteendeel; hy het sy staatsveiligheidsmasjinerie op Suid-Afrika losgelaat, ’n honger, moordlustige monster, wat gesorg het vir grootskaalse arrestasies, aanhouding sonder verhoor en marteling van baie mense, kinders inkluis. Moordbendes het van opponente ontslae geraak. P.W. Botha het ’n noodtoestand afgekondig, burgerlikes se regte ingeperk. Die media is toenemend gesnoer. Max du Preez het in Vrye Weekblad onthul waarmee ons veiligheidsmagte eintlik in daardie donker tye besig was. In 1995/6, tydens die sitting van die Waarheid- en Versoeningskommissie, is die omvang van die staat se destydse brutaliteit, marteling en moorde duidelik uitgespel deur die talle polisiemanne en lede van die veiligheidsmagte wat om amnestie aansoek gedoen het – meer as 4 000 van hulle.

Ons lewe in donker tye

Ek onthou hoe vuisvoos ek en Marius soggens uit die bed gestrompel ná ons nog besonderhede en getuienis oor die staat se brutaliteit oor die radio gehoor het, hou vir hou. Antjie Krog het puik daaroor gerapporteer en die wandade binne ’n wyer metaforiese konteks geplaas. Hoe sy dit elke dag kon aanhoor, was vir my ondenkbaar en prysenswaardig! Hoe kon dit alles gebeur het? Ons het inderdaad almal tereggestaan.

In daardie dae het die res van die wêreld begin moed verloor dat daar ’n ooit vir Suid-Afrika ’n uitkoms sou wees. Die rand het getuimel en ons ekonomie het in ’n vernietigende maalkolk afgegly. Maar die lewe het voortgegaan. Die meeste mense het nog gewerk, verlief geraak, kinders gekry, vir grappe gelag, vermaak gesoek en boeke gelees. Kunstenaars het kunswerke gemaak en soms deur middel van hulle toneelstukke, gedigte, skilderye en beelde probeer protes aanteken teen die geweld, probeer sin maak uit die aftakeling.

My uitstalling in daardie tyd, by die Things Gallery in Johannesburg, het onder andere groot abakusse of telrame met dorings daarop gehad, waarop soldate in kamoefleerdrag heen en weer kon skuif. Op ander telrame was daar mense wat geskiet was. Ek het verkykers met dorings op gemaak. Trouens, in daardie donker tye was baie van my beelde bedek met dorings.

Ek het gevoel apartheid was soos ’n kosmiese swart gat, met ’n digte, ineengestorte swaartekrag wat alles insluk – mense, ideale, hoop, vryheid.

Selfs lig is ingesluk en gevange gehou. Dit het donker geword in ons land. Ook metafore is met suspisie bejeen. In die struggle om hierdie brutale apartheid tot ’n val te bring, het baie dinge gesneuwel. Soms is rede, redelikheid en moraliteit oorboord gegooi, soos met halssnoermoorde en ander teregstellings. In sommige lokasies is kinders snags gedwing om ver te marsjeer en om impimpi’s – verraaiers – dood te maak.

Skrywers, dramaturge en digters – Alan Paton, Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Athol Fugard, Reza de Wet en ander – se werke het egter steeds ons harte en koppe binnegedring. Elsa Joubert se Poppie Nongena het ons in Afrikaans laat voel hoekom Poppie gese het sy wil die apartheidswette met haar hande breek. Musikante se lirieke het ons binnegesypel. Later het die Voëlvry-toer baie van die jeug betrek. Die morele leiding van hierdie skrywers en musikante was grensverskuiwend. Die referendum van 1992 het reeds gewys die gety begin draai vir baie van dié wat kon stem.

Die doringrige abakusse met soldate aan, my gesneuweldes op telrame en ander donker standbeelde wou niemand koop nie. Hulle het in ons tuin gestaan. Met die gewerskaf in die tuin tydens pogings om iets aan die groei te kry, is hulle omgestamp. Van die dorings het afgebreek. Stukke van die beelde het verbrokkel en is na goeie reëns toegespoel onder die grond. Geleidelik het die telrame tot niet gegaan. Die gety het gedraai in die landspolitiek, en in 1989 het die hoop skielik weer geblom na die beroemde toespraak van die nuwe staatspresident, F.W. de Klerk. Apartheid is amptelik afgeskaf, Nelson Mandela is vrygelaat. In ons tuin het die reën-verspoelde grond die gebreekte beeldstukke bedek en nuwe plante het dit toegegroei.

Daar was selfs vergiffenis en versoening ná die einde van apartheid. Tydens die sitting van die WVK het ’n skaars-geletterde vrou, Cynthia Ngewu, die moeder van Christopher Piet – een van die “Guguletu sewe” – die volgende gesê oor versoening met haar seun se moordenaar: “This thing called reconciliation, if I am understanding it correctly, if it means this perpetrator – this man who has killed Christopher Piet – if it means he becomes human again, this man, so that I, so that all of us, get our humanity back . . . then I agree, then I support it all.”

Boeddhas

In every particle of dust, there are present Buddhas without number.

In daardie donker periode van ons land se geskiedenis, die noodtoestand in 1986, het ek begin Boeddhas maak. Dit het gevoel of niemand meer ’n vreedsame toekoms vir ons land droom nie. Omtrent ’n kwart van die eerste Boeddha wat ek gemaak het, was weggeskiet maar sy gesig en sy glimlag het nog steeds gewys die gees kan ver bo die verganklikheid van die lyf en vernietiging van oorlog uitstyg.

Boomboeddha

Boomboeddha

Magiese Boeddha

Magiese Boeddha

Khoisan Boeddha

Khoisan Boeddha

Waarom juis ’n Boeddha?

Jare gelede het ek in die biblioteek deur ’n kunsgeskiedenisboek geblaai. Dit het geïllustreer hoe weerspieël kuns die gees van ’n volk en wat met daardie nasie gebeur. In oertye was die Chinese spirituele wêreld soms ’n donker, gevaarlike plek waar jy onwetend ’n god te na kon kom en dan gestraf word.

Ongeveer dieselfde tyd, in Indië, het die Boeddha 30 dae onder ’n Bodhi-boom gesit en mediteer. Hy het tot die besef gekom ’n mens kan geestelik vry word van die “wiel van samsara”, die “wiel van lyding”. Dit het deel van Boeddhisme geword. In Indiese kuns word hierdie vrywording, of verlossing, in die glimlag van die Boeddha gereflekteer.

Moontlik was dit die eerste glimlag van bevryding op die gesig van ’n beeld in die mensdom se geskiedenis. Ek was sό getref deur die glimlag dat ek dit wou eggo of weergee, om so die sielevreugde en saligheid daarvan te weerspieël.

Ek het baie Boeddhas gemaak. Saam met ons geskiedenis en my eie reise deur die lewe het hulle verander: na 1994 het ek reënboog-Boeddhas gemaak, a la Biskop Tutu; in Los Angeles het ek L.A.-Boeddhas met graffiti en snelweë op hulle lywe gemaak; later het ek vroulike Khoisan Boeddhas gemaak, met die wit inisiasie-klei van die sangomas op hulle gesigte, om die toenemende gesprek tussen die verskillende godsdienste in ons land te weerspieël. Die laaste paar jaar het ek boom-Boeddhas gemaak, wat oor die natuur waak. Hulle is geinspireer deur ’n Sweedse skrywersvriend van my, Ulf Wolf. Hy het ’n skets geskryf oor die ontkieming van die saad van die oudste boom op die planeet – en die koms van die Boeddha. In die skets is hulle metafories dieselfde wese.

Bristlecone Buddha – a Sketch by Ulf Wolf.

Up here now, arrived finally, away from the deer and the fire and the competitive crowding of the busy lowlands, arrived: on near enough the roof of the world, to think things over. He has been a while at climbing this mountain, say many millennia, now arrived at last as seed, carried by wind, buried by rain, burrowed now into the cold, damp, soon to be dry again, earth, under crisp, oxygen-poor air. Burrowed and listening to the slow rumble of planet, for the heart of the Earth is audible to his kind. And what he hears is anguish.

A tendril now, not much thicker than thought, ruptures the seed wall in search of fertile earth nearly two thousand years before the Siddhartha Gautama, soon to become the Buddha, will be born. Barely five centimetres into hard and rocky earth where the seed now rests, it encounters a small stone, stops, thinks things over, veers left and past it, soon to find another stone, this one a little larger, stops, thinks things over, then veers down, and past it, and down, and down.

A second tendril cracks the opposite seed wall and sets out on its long journey into earth, less stony here, yet instinct tells it: down, down, down.

Nearly two thousand years go by before eyes open and see, before they see anything else, a cloud in a sky warm with rain to come; veering left then, they stray into a patch of blue, but that too is soon covered by warm cloud: so they veer again, down this time, and down some more, alighting at last on eyes and the smile hovering so close to him, his mother.

Little fingers rise into earthy air, weight and moisture, brown and skin, nay golden, and all his. While tendrils have aged now and ripened into root and settled and launched hairs of curious thirst into rocky, sandy earth, and deeper still; while trunk and branch and pine have risen into air to drink its elements, his arms now grow stronger, biceps grow bejewelled, hair grows long and dark. Conscience grows restless and he leaves the palace, if you can call a hut like this a palace, to seek a Bodhi tree to reflect beneath.

But for his distant self there is no such leaving. Perched now perhaps eight feet from the precipice of the world and young still, there is only hearing.

The Buddha soon dies, painlessly, touched only, and not gravely, by the loss of arms and hands. But he is not branchless and not without his sapwood heart, death still distant, beating slower than any other living heart. Two thousand six hundred years later he still stands: alone, on near enough the roof of the world, carved from air, mourning the blind Earth below, death still distant.

And what does the Earth sing to him, to his roots, to his patient hearing? It sings the same anguish, only deeper still.

Dagnota 13 April 2010 Piëta

Dit is ’n helder, blou dag – en tjoepstil. My diere en ek stapkuslangs. Ek sien ’n paar verdwaalde bloublasies wat ’n kleinnoordwestewindjie laasnag op die sand uitgeblaas het. Nouis daar geen wind in sig nie.

By die huis aangekom, kom die trop kese weer huisbesoek aflê. Die een wat ons Skarminkel noem, terg my honde. Hulle hol besete heen en weer op die stoepie langs die dak, al agter die kese aan. Soos dikwels sit Skarminkel op die dak, net buite hulle bereik. Hy is aspris verveeld en onaangeraak deur hulle tirade. In my ateljee werskaf ek aan ’n beeld tot die kees op die dak langs my venster my aandag trek. Dit is ’n ma met ’n kleintjie. Sy soek vlooie op hom en jaag die vlieë weg. Die vlieë is daar want hierdie kleintjie is dood. Geen vlooi of vlieg sal hom weer pla nie. Hy is morsdood. Maar die ma soek baie noukeurig deur die pels op die slap lyfie, asof sy iets daar sal vind wat hom weer aan die lewe sal terugbesorg. Haar ywer is prysenswaardig, maar die resultaat is droef. Die ander kese weet die baba is dood, maar die ma glo steeds in die lewe. Ons het dit al verskeie kere gesien gebeur. Die ma dra die dooie kleintjie rond, al is hy later net ’n stokstywe uitgedroogde stuk vel. Hoe daal die besef uiteindelik op haar neer? Of is hierdie lyfkosing reeds hoe sy rou?

Ons mense hou ook soms aan ons dooies vas lank ná hulle weg is. Abba hulle onbewus saam in die sug om hulle lewens te verleng.

Ons kom ons Moses tee

In die vroeë 1980’s het ons in Kosmos, net bokant die watervlak van die Hartebeespoortdam, gewoon. Die huis, met die naam Lekkerbreek, het aan Katinka Heyns en Chris Barnard behoort. Die rooibruin Magaliesberge het ons omring, en daar was ’n oorvloed van pragtige inheemse seringbome, my mees geliefde boom in Afrika. Ek het ’n ateljee aan die randjie van die water gehad. Daar het ons heerlik op die dam seilplank gery.

’n Ou Malawier het kom vra om in die kamer agter op die erf te woon. Hy sou bietjie tuinmaak, het hy voorgestel. So het Moses ons aangeneem. Hy het gou uitgevind Marius het ’n groot liefde vir ’n ryp tamatie, wat pas van die plant afgepluk is. Moses wou summier dele van die Hartebeespoortdam drooglê om vir Marius tamaties te plant!

Miskien het Moses voorsien dat ons ’n lang pad saam sou loop. Hy was ’n unieke karakter, onder andere ook ’n muti-man – hy het dikwels in die berg gaan knolle opgrawe. Maar soms het hy muti verkoop om mense se stukkende klere mee “heel te was”. Gevolglik is hy aangerand deur ontstoke klante, wie se klere net so stukkend gebly het na dit in die muti gewas is.

Ná twee jaar langs die dam sou Marius die artistieke direkteur van TRUK word. Ons sou terugtrek Pretoria toe, na ’n huis wat ons in Rietfontein gekoop het, bo teen die groen belt waar die swart-witkruisarende in die kranse nes maak en jag. Moses wou konstant by my hoor hoe die grond in Rietfontein lyk. “Daar is baie klippers teen die berghang, Moses. Baie klippers,” het ek hom vertel. “Dis nie tuinmaak-wêreld nie.” Hy het daaroor nagedink en met ’n antwoord gekom: “Dan sal julle maar hoenders moet aanhou.”

Vanuit die Afrika perspektief, het ek besef, moet jy jou grond benut om kos te produseer. Jy moet iets plant wat jy kan eet, andersins moet jy hoenders of bokke daarop aanhou. Maar ná al Moses se eskapades met sy muti-klante was Marius baie beslis daaroor dat Moses nie saam met ons Pretoria toe sou trek nie.

Die nag voor ons sou trek, is een van ons twee karre gesteel. Dit het die trekkery vertraag en ek en Moses het heen en weer gery om los goed Pretoria toe te vervoer. Met die laaste rit Rietfontein toe was die bakkie nie heeltemal vol nie en Moses het verheug opgemerk dat daar plek was om sy bed en sy bad saam te neem. So trek ons toe daardie dag Pretoria toe met Moses se bed en bad bo-op die dak van die bakkie vasgebind en die bak propvol met die res van Moses se bagasie. Hy het omtrent breed geglimlag.

In Rietfontein het Moses spoedig terrasse uitgelê en paadjies teen die berg op uit klip gebou. Met goeie tuingrond, wat spesiaal ingery is, het Marius en Moses ’n groentetuin aangelê. Die tamaties, kropslaai en groenboontjies wat hulle daar geplant het, het gedy. Dit was duidelik dat Moses gekom het om te bly. En baie gou het hy ’n plaaslike klandisie vir sy muti opgebou.

Hy het regtig baie van my beelde gehou en wou hulle met alle geweld vir my op ’n straathoek verkoop – “vir ’n baie goeie prys,” soos hy dit gestel het. Veral die oer, gehurkte figuur wat ek gemaak het toe Marius in die Kafka-stuk, Report to an Academy, die aap gespeel het – die, het Moses gesê, is my “number one” beeld.

Dit het my ook opgeval dat hy my ou beelde in die tuin water gegee het, veral een kop wat hy in ’n erdeskottel vol water in die tuin gebêre het. Sy gee hom krag, het hy my vertel, nes die beelde van Christus op die kruis waarvoor die Katolieke bid vir krag. Ek was geëerd dat Moses my beeld as ’n tussenganger tussen hom en sy voorvadergeeste beskou het!

Heel bo op ons erf, waar die groen belt begin, het ek ’n aweregse ateljee gebou met net drie en ’n half mure. Ek kan nie meer onthou hoekom ek nie ’n vierde muur wou hê nie. Moses het gese hy het muti wat sal verhoed dat bouinspekteurs ooit die gebou raaksien. Daardie muti was baie suksesvol, want hulle het ook nie!

Ná twee of drie jaar het Moses baie begin hoes. Water op sy longe weens hartversaking, het die dokter gesê. Ons het Moses teruggestuur Malawi toe om daar in vrede by sy familie tot ruste te kom. Maar ná twee maande het ons ’n telegram van Komatipoort gekry: “Stuur geld. Moses kom huis toe.” Moses het hom weer ingeburger. ’n Paar maande later is Marius V.S.A. toe, uitgenooi deur ’n Hollywood-agent. Ek was besig om dag en nag vir ’n uitstalling te werk en kon nie met hom saamgaan nie.

Een naweek gaan kuier Moses vir ’n vriend – en die Maandag kom hy nie terug nie. Vreemde goed begin gebeur. Die strykyster breek; die geiser pak op en nog goed was onderstebo. Maria, ’n Tswana-vrou wat twee dae ’n week by ons gewerk het, sê ons moet uitvind waar Moses is, want hier is groot fout. Ek vind toe uit Moses het in ’n Bantoestan gesterf. Ons word ook meegedeel hy mag nie daar begrawe word nie. Maria dring aan Moses se liggaam moet so gou as moontlik onder die grond kom. Volgens sy geloof is dit krities, anders hou hy aan spook.

Te midde van apparate laat heelmaak en Moses probeer begrawe kry, het dinge al hoe skewer begin loop. Oplaas het ek vir Maria gese ek en sy sal Moses dalk self in die tuin moet begrawe. Dis ’n diep gat wat ons sal moet grawe, maar eers moet ons sy liggaam terugkry. Dit was nou wel die laaste opsie, maar daar was heelwat hoë bome en ’n hoë muur om ons tuin. Ons moes die saak tot ’n einde bring, sodat Moses tot ruste kon kom. Maar Maria het nie gedink dit is ’n goeie plan nie.

Oplaas het ek Moses wetlik begrawe gekry, en ons kon vasstel dit was sy begrafnis waarvoor ek betaal het, nie ’n ander vreemde siel s’n nie, want Maria het aangedring om te gaan kyk.

Die Xhosas sê as niemand ná jou dood meer jou naam noem of aan jou dink nie, gaan jou gees terug na voor die begin, voor tyd en ruimte ontstaan het.

Toe ons Kaap toe trek, het ek vir Marius gesê niemand sal meer die paadjies en terrasse wat Moses in Rietfontein gebou het, aan hom koppel nie. Niemand daar sal meer sy naam noem of aan hom dink nie. Net ons hier op Rooi Els – en miskien Maria – sal hom onthou.

Marius het ook baie van Moses se “number one” beeld van my gehou en het besluit hy moet saam Kaap toe. Hier op Rooi Els het ons hom op die rotse voor my ateljee in sement staangemaak. Die aand ná hierdie geleentheid het Moses saam met die suidooster ingewaai gekom en kom pluk aan ons baadjies – en aan sy geliefde beeld van Marius as die aapman. Toe Moses so om die aapman loei, het ons honde geblaf vir die bekende, dog vreemde gees wat kom kuier. Ons praat nou en dan nog van Moses. Miskien word hy deur die storie in my boek losgeknoop van ons, dat sy gees kan teruggaan na voor die begin.

Wind

Vir my is die wind nog altyd iets magies; dit kan saggies oor jou blaas met Boesmansoentjies, of jou ruk en pluk en ’n riel laat dans in jou poging om die voorhekkie toe te maak, terwyl jy al jou kruideniersware onder jou ander arm balanseer. Wanneer ek ons deur aan die oostekant vol in die bek van ’n tierende suidooster moet oopmaak, kom al my jare van seilplank ry my baie goed te pas. Jy moet luister na die ritme van die wind en hard trek as hy effens asemskep. As hy die deur wil oopsuig, moet jy terug hang aan daardie deur asof jy jou seilplank in ’n stormwind ry. Dit is deel van die spel met die elemente as jy hier aan die Kaapse weskus woon.

Ek ry op die wind

Ry op die wind in die volmaan.

Ry op die wind in die volmaan

My geskiedenis met die wind loop ’n ver pad terug. Een aand, toe ons in Kosmos op die Hartebeespoortdam gewoon het, het ek laatnag alleen in die volmaan gaan seilplank ry. Ek was besig om in my ateljee te werk toe ek die wind hoor opstaan. Ek het my seilplank gegryp en afgehaas water toe. So in die donker word ’n mens se ervaring van spoed verhoog, en om teen ’n stewige tempo oor die water te seil, ver agteroor gebuig, is suiwer genot. Net die nag, die volmaan, sterre, die dam en die klank van die wind is daar saam met jou.

Na my tintelende seilrit het ek die wind bedank. Op die ingewing van die oomblik vra ek die wind om weer oor ’n maand te kom, met die volgende volmaan. Hierdie nag was presies een maand voor ons sou terugtrek na Pretoria.

Dit is nag, een maand later, en ek werk besete in my ateljee net bokant die water. Ons trek die volgende dag uit die huis uit, en ek moet boonop ’n klomp beelde afwerk vir ’n uitstalling. Uit die donkerte hoor ek die klanke: Die wind het opgestaan! My hart gaan op ’n galop. Maar dis onmoontlik om alles klaar te kry. Ek moet aanhou werk! Ek stap in die nag uit en bedank die wind dat hy gekom het, maar ek moet beelde klaarmaak. Ek gaan werk voort. Skielik hoor ek ’n groot slag buite. Ek storm uit. Die wind het ’n klaargemaakte beeld omgeklits. Flenters!

’n Mens sê nie sommer vir die wind nee nie, veral nie as jy ’n afspraak met hom gemaak het en hy dan boonop opgedaag het nie. Let wel!

Die tweeledigheid van die lewe

In November 1987 het Marius ’n oproep uit die V.S.A. gekry. Die draaiboekskrywer van Apocalypse Now, John Millius, was gereed om met die regie van sy derde film te begin – ’n groot film, met Nick Nolte in die hoofrol. Hy wou Marius hê vir die rol van ’n Brit en stuur die draaiboek aan. Marius het ja gesê vir die film, maar nee vir die rol van die Brit, alhoewel dit die tweede grootste rol in die film was. (Die Engelse kan hoor as dit ’n Suid-Afrikaner is wat hulle taal praat.) Hy was meer tevrede met die kleiner rol van ’n Australiese valskermkaptein.

Die film sou in Maleisië geskiet word en daar was komplekse logistiek om uit te werk. Dit was nog in die dae van apartheid en boonop binne die tyd van die noodtoestand! Die Maleisiërs wou geen Suid-Afrikaners daar toelaat nie.

Marius het ook op daardie tydstip in die toneelstuk Strider, in die Staatsteater in Pretoria, gespeel. Om betyds ’n vliegtuig te haal vir die verfilming was ’n ander turksvy. Ons het aan die werk gespring.

Ná baie toutjiestrekkery van John Millius en ander film-swaargewigte het Marius ’n Maleisiese paspoort gekry. TRUK het ingestem om die laaste opvoering van Strider te kanselleer. Nou was dit nog net die vliegskedules wat glad nie uitgewerk het nie. Na baie probeerslae het ons vir Marius ’n roete en ’n kaartjie Maleisië toe gekry. Hy sou die volgende week vlieg en betyds daar wees – ons was verheug!

Die Sondagmiddag voor Marius moes vertrek, het ’n groot misbank van treurigheid oor my kom lê. Ek was totaal uit die veld geslaan en kon nie verstaan waar dit vandaan kom nie. Ons het mos die hindernisse uit die weg geruim? Toe lui die foon. Dit was ’n vriendin van my, wat laat weet my eerste man, Dieter, is pas in ’n bergklim-ongeluk in die Alpe dood. ’n Mens bly steeds verbonde aan vorige geliefdes, in hoe ’n geringe mate ook al.

Dieter sou in die Alpe begrawe word. Die bergklub en Exploratio-lede wat hom goed geken het, reël ’n gedenkdiens vir Dieter in Pretoria. Dit is op ’n stormagtige nag, met Hoëveldse bliksemstrale, donderweer en groot massas reën gehou. Dieter was beslis daar in die gees! Sy ma, vrou en twee kinders was ook teenwoordig. Ons het almal stories oor Dieter vertel. Omdat hy so ’n grootse karakter was en sulke heerlike onkonvensionele en ekstroverte dinge gedoen het, was daar baie om te deel. Ons het heerlik gelag en almal was weer verheug oor sy groothartige en buitengewone deelname aan die lewe – en in ons lewens spesifiek. Ek was bly vir sy familie dat hulle nog meer stories oor hom ryker geword het en die tasbare liefde kon ervaar wat die vriende vir Dieter gehad het. Maar ek was ook treurig, omdat ek besef het hoe man en vrou van mekaar kan wegdryf en dan nie meer die unieke en magiese in die ander een kon raaksien nie. Na die herdenkingsaand was al Dieter se uitsonderlikheid weer eens vir my so ooglopend. Ek het hom waardeer vir wie hy was, vir sy groothartigheid, sy ruimheid van gees. Toe ek daardie nag by die huis kom, was Marius al in die bed. Ek het diep onder sy linkervlerk ingekruip.

Marius is die volgende week Maleisië toe om vier maande deel te wees van die avontuurlike verfilming van Farewell to the King . . .

Marius met Nick Nolte in Maleisië in Farewell to the king.

  • Erika H

    Wow! Ek soek hierdie boek met n seer hart. Het in absolute vervoering die uittreksel gelees. Dankie.

  • Sarien

    Dankie Yvette,

    Om grepe te lees uit die avonture van julle lewe, was amper vir my so heerlik soos die lees van ‘n
    goeie boek. Jy kry dit reg om my te oortuig van die mooi liefde tussen 2 mense..

    Jou hart klink lekker en dis die geheim vir ‘n lang en gesonde lewe.

    Ek is seker die Skepper van hemel en aarde en alles tussen-in, glimlag oor die feit dat jy jou lewe
    so geniet. Jy’s ‘n inspirasie!

    Groete

    Sarien

  • P.Lewis

    Fantasties!!!

  • Leané Meiring

    Dit is ‘n vreeslike onbenullige ou detailtjie’tjie maar dit is tog belangrik… Daar is ‘n spelfout bo wat moontlik verwaring kan skep vir lesers. In die titel word daar gepraat van Evette Weyers en dan direk onder dit staan daar Yvette?

  • Jean Martin

    Evette what a joy to re-connect with you through these magical events that you relate so beautifully. Thank you for sharing these heart stories. When you spoke about your house in Rietfontein I was right there and then also in Rooi Els with your beloved parents.You visited us in Scotland (when Marius did Report to an Academy at the Edinburgh Festival) and we were asounded that you skinny-dipped in the icy waters of the Findhorn River. You have often been in my loving thoughts and memories.