FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Verwyl jou tyd met ’n boek

As jy teen hierdie tyd uitgeput voel omdat jy die heeltyd regstaan vir gaste, is dit tyd om agter oor te sit en ’n boek nader te sleep.

As jy soos ek is, dan raak jy nes ek vinnig moeg om vakansiegaste van die oggend tot die aand te vermaak. Hulle is mos grootmense en kan hulself mos maar besig hou. Of is dit eintlik jou plig as gasvrou om te sorg dat hulle vermaak word? Ek weet nie eintlik of dit normaal is nie, want my ma was nogal onkonvensioneel. Sy kon maklik my ooms en tantes wat kom kuier het aan hul eie lot oorlaat, terwyl sy rustig naaldwerk doen of in haar kamer op die bed lê en lees. Dis dalk waarom ek ook nie die heeltyd vir kuiergaste wil regstaan nie! My geduld is ook nie so goed nie en ek vermoed dis beter vir my besoekers dat ek my maar bietjie afsonder en eerder besig bly met ’n boek op my bed!

Recipes for Love and Murder, A Tannie Maria Mystery, Sally Andrew (Umuzi, R220)
Ek hoop hierdie verrassende, vars debuut lei tot ’n hele reeks van Tannie Maria-verhale. Ek het heerlik gelees aan hierdie een, want die heldin is so nie die stereotipe prentjie van wat ’n heldin moet wees nie! Maria is ouer as vyftig, is gek oor kos en is mollig en is iemand wat mens as ’n “plain Jane” sou beskryf. Sy het die blad met resepte vir die Klein Karoo Gazette hanteer, totdat haar blad verander is na een waarop sy raad aan mense moet gee. Sy doen dit deur ’n resep voor te skryf wat sal help met die briefskrywer se probleem. ’n Moord word gepleeg en Maria raak saam met haar kollegas by die koerant betrokke by die ondersoek. Dis ’n groot irritasie vir die plaaslike polisieman in beheer van die ondersoek, want om elke hoek en draai loop hy hom vas in Tannie Maria. Die karakters in hierdie verhaal is lieflik en elkeen het ’n spesiale eienskap wat die storie inkleur. Maria se filosofie oor die rol wat kos in die lewe en sy probleme moet speel, word ingeweef in dié vermaaklike verhaal waarin die dorp se inwoners deel van die intrige vorm. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Offerlam, Chanette Paul (LAPA Uitgewers, R239,99)
Jou bedliggie gaan snags tot laat brand wanneer jy Offerlam begin lees. Die boek trek weg met ’n gruwelike moord, en die drama wat daarop volg kring uit van die Kongo na Suid-Afrika en uiteindelik ook na België. Drie generasies word geraak, elk met sy eie geheime en redes waarom hulle dinge so wegsteek vir mekaar. Caz Colijn is die vrou waarom alles draai. Dis ’n heerlike karakter wat Paul in haar geskep het – slim, sterk, snaaks, maar ook eensaam.

Caz kry uit die bloute ’n oproep van haar vervreemde suster om te sê sy moet België toe kom, want hul ma lê op sterwe. Dis nie ’n gelukkige herontmoeting nie, en dis nou sag gestel. Caz moet uitvind sy is aangeneem en sy begin haar ware herkoms naspeur. Maar sy is nie al een wat daarin belangstel om haar regte ma op te spoor nie. . .

Paul se taalgebruik is puik en die boek is lieflik ingekleur met Belgiese geure. Mens proe sommer die kriekbier wat Caz leer ken en verkyk jou saam met haar aan die ou geboue. Die beste van die Belgiese stukke is egter die Belgiese karakters – elkeen uniek en totaal oortuigend, maar ook vreemd styf en by tye amper ongeskik direk.

Offerlam eindig met ’n klompie vra wat nog hang. Ek wag dus in spanning vir Deel II. – Helen Schöer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Obsession in Death, J.D Robb, (Piatkus, R285)
In die verhaal kry Eve Dallas te doen met ’n obsessiewe bewonderaar wat glo hy en Eve het ’n spesiale band. Die bewonderaar glo dat dit sy plig is om almal wat Eve disrespekteer te straf. Die eerste een wat sterf, is Leanore Bastwick, ’n verdedigingsprokureur waarmee Eve al verskeie kere in die hof te doen gekry het. Alhoewel daar wrywing in die hof was tussen Eve en Leanore, was daar geen kontak tussen hulle buite die hof nie. Maar daar was wrywing tussen Leanore en elkeen wat teen haar kliënte getuig het.
Dan is daar ’n tweede moord. Die polisie begin om deur al Eve se bewonderaarsbriewe te werk en hulle besef dat die lys van moontlike slagoffers lank is. Dan begin die bewonderaar Eve se geliefdes ook teiken, want hulle staan in die pad van die bewonderaar en Eve se geluk. ’n Uitstekende speurverhaal. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die vierde stem, Francois Bloemhof (Human & Rousseau, R210)
Sielkundige rillers is nou nie eintlik my gunsteling-leesstof nie, maar ek was bereid om die boek ’n regverdige kans te gee aangesien dit die pennevrug van ’n veelbekroonde skrywer is.

Die verhaal wentel om drie karakters wie se paaie kruis: ’n kantoorwerker wat aan erge kompulsiewe gedrag ly, ’n sielkundige met ’n skadukant en ’n seksbehepte skrywer. En dan is daar die vierde karakter: die vierde stem, maar dis nie duidelik aan wie die stem behoort nie. Daar is genoeg intrige en aksie om die momentum van die verhaal aan die gang te hou. Veral die vele sekstonele word saaklik beskryf – daar is niks sensueel of eroties daaraan nie.

Ek kon nie vat kry aan hierdie boek nie. Die karakters het my geïrriteer, die gebeure het my verveel en dit het gevoel asof die skrywer self nie weet wat hier aangaan nie. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Grave Murder, Jana van der Merwe (Zebra Press, R190)
Moord is ’n algemene daaglikse werklikheid in Suid-Afrika. Maar die moord op Michael van Eck in Welkom in 2011 het selfs die mees afgestompte landsburger regop laat sit. Michael is nie net op ’n wrede manier vermoor nie, dis wat sy moordenaars daarna gedoen het wat mense met meer afsku vervul het. Die boek skets die skokkende gebeure en die donker karakters daaragter. Wie sou ooit kon glo dat twee jongmense tot sulke uiterste optrede in staat is? Die skrywer vertel baie meer as die Van Eck-moordverhaal, sy het wyd nagevors en vergelykings word getref met ander moordsake wat elders in die wêreld opspraak verwek het. Tog is daar nie veel soortgelyke sake om dit teen op te weeg nie, want die moord in die begraafplaas was walglik uniek. En die moordenaars het asof dit vooraf so bestem was bymekaar uitgekom om hul siek obsessies te vervul. – Susan Puren

FOTO: vreskaf

FOTO: vreskaf

One Step too Far, Tina Seskis (Penguin Books, R267)
Emily Coleman, die oënskylik beter een van ’n tweeling, verlaat aantreklike Ben en haar kind. Sy loop sommer eendag weg van ’n gegoede huis in Manchester. Waarom? Omdat sy dink Ben het haar nie meer lief nie? Wat is haar geheim?
Dwarsdeur die boek bly die leser aan die raai. As sy in Londen beland, word sy Catherine “Cat” Brown. Angel, haar nuwe vriendin, stel haar aan die wilde lewe voor, wat dwelms insluit. Daar is egter nooit regtig ’n nuwe begin nie, want herinneringe word nie uitgewis nie. In haar verlede is ook haar dol suster Caroline en haar disfunksionele ouers. Cat se lewe word ’n gevaarlike mallemeule wat die dood insluit. Sy gaan net te ver. Lekker ligte leesstof vir die vakansie. – Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Playing with Fire, Tess Gerritsen, (Bantam Press, R292)
Tydens ’n besoek aan Rome, ontdek en koop Julia Ansdell, ’n violis, ’n ou boek met Gypsy liedere in ’n ou antieke winkeltjie. In die boek is daar ook ’n los vel met bladmusiek van ’n onbekende wals. Tuis, nadat sy die wals op haar viool speel, begin haar driejarige dogtertjie Lily skielik gewelddadig optree teenoor Julia. Julia vermoed dat dit iets met die musiek te doen het en begin die geskiedenis van die stuk navors. Haar navorsing neem haar terug na Venesië, Italië en die donker geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog. Soos sy dieper delf in die geskiedenis ontbloot sy geheime wat lei tot geweld en moord. ’n Uitstekende speurverhaal vol intrige, kinkels en verrassings – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Seven for a Secret, Lyndsay Faye (Headline Review, R265)
Timothy White is ’n polisieman in die nuutgestigte New York Police Department. Een aand laat in 1846 strompel Lucy Adams die department binne. Sy vertel hom dat haar familie gesteel is. Sy het laat gewerk en toe sy by die huis kom, is haar seun en haar suster weg en die huishoudster is in die spens toegesluit. Timothy besef dis geen normale geval nie – omdat Lucy ’n person van kleur is, moet daar ‘Blackbirders’ betrokke wees. ‘Blackbirders’ is slawe-vangers wat ontsnapte slawe wat uit die Suide gevlug het, vind en terugneem. Nie net is die praktyk wettig nie, dis deel van wetstoepassing. Lucy verseker Timothy dat sy en haar familie bevryde slawe is, met die toepaslike dokumentasie. Timothy besluit om haar te help met die hulp van sy broer Valentine wat ook deel is van die polisie. Hierdie komplekse, maar fassinerende verhaal het verskeie kinkels en daar is baie verraad. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Speaking in Bones, Kathy Reichs, (Penguin, R292)
Die forensiese antropoloog Dr. Tempe Brennan word deur Hazel ‘Lucky’ Strike genader oor ’n saak waaraan sy gewerk het, waar ’n paar beentjies gevind is. Maar dis nie genoeg vir identifikasie nie. Hazel is ’n amateur speurder wat op die internet ou sake van vermisde persone ondersoek en dan probeer oplos. Aanvanklik is Tempe teensinnig om Hazel te glo, dan speel Hazel ’n opname van die ‘verlore’ meisie. Iets omtrent die saak spook by Tempe en sy begin tog ondersoek in stel. Tempe word uitgeroep na nog ’n moontlike vonds van bene naby die oorspronklike ontdekking. Die saak is gevaarliker as wat verwag is en daar is lewens op die spel. Uitstekende speurverhaal – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Bomber, Liza  Marklund (Transworld Publishing, R224)
Annika Bengtzon,  ’n joernalis in Stockholm, word in die middel van die nag wakker gemaak omdat ’n bom in die Olimpiese stadium wat in die stad gebou word, ontplof het. Daar was net een slagoffer, Christina Furhage, die hoof van die Olimpiese komitee. Terrorisme word vermoed.  Annika raak  betrokke by die ondersoek en delf in Christina se verlede.
’n  Paar dae later is daar ’n tweede ontploffing.  Annika  ry  wipplank  tussen  haar  werk,  huwelik en twee jong kinders.  Haar polisie-kontak dui aan dat hulle op die spoor van die bomplanter is en belowe ’n eksklusiewe storie aan haar.  Terwyl Annika rapporteer oor die bomontploffings word sy onbewustelik die volgende teiken.
Ek het die boek baie geniet.  Die klem is baie op vrouens soos Annika en Christina wat probeer hoogtes bereik in hul beroepe in ’n sakewêreld wat deur mans beheer word.  Die  skrywer skep ook ’n akkurate prentjie oor al die druk en verantwoordelikhede waardeur werkende moeders gaan. – Tersia Steenkamp

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Bones of You, Debbie Howells (Macmillan, R282)
Toe Kate McKay hoor Rosie Anderson word vermis, was sy dadelik ongerus en angstig. Nie net het Rosie haar met haar perde gehelp nie, maar sy is dieselfde ouderdom as haar eie dogter. Rosie se liggaam word met steekwonde in ’n woud gekry en Kate probeer Rosie se ma Jo, wat jy altyd deur ’n ring kan trek, troos. Sy maak nouer kontak met Rosie se pa Neal, ’n TV-aanbieder en haar jonger sussie Delphine.

Dat dinge in die Anderson-huis nie is wat sy gedink het dit is nie, raak vir Kate duidelik. Ook vir die leser danksy Rosie se vertellings (ná haar dood). Dit stem jou eintlik onrustig, maar dwing jou om verder te lees. Nie net om vas te stel of jy reg is oor wie Rosie vermoor het nie, maar ook waarom. ’n Boek vir riller-liefhebbers. – Alida Vos

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The girl in the spider’s web, David Lagercrantz (Maclehose Press, R333)
Die Millenium-trilogie oor Lisbeth Salander is oorspronklik deur Stieg Larsson geskryf. Die manuskripte is eers ná sy dood gepubliseer en ek was maar redelik skepties toe ek hoor daar gaan ’n vierde boek in die reeks verskyn, maar deur ’n ander skrywer. Ek was gek oor die oorspronklike reeks verhale en Salander, kuberkraker par excellence, en Mikael Blomkvist, ondersoekende joernalis van formaat, se doen en late was boeiende leesstof. Salander het haar eie manier van probleme oplos en is nie ongeneë om haar hande in die proses met bloed te besmeer nie. Tog is ek die hele tyd aan haar kant, want sy veg vir reg en geregtigheid en maak seker die skuldiges bly nie ongestraf nie. Lagercrantz het my verras met hoe hy die reeks voortgesit het en hierdie is ’n waardige verhaal wat aan al die vereistes voldoen: die storie is kompleks en ontvou stuk vir stuk soos wat die verskillende karakters dele daarvan ontsluit. Hier gaan dit oor ’n briljante professor wat ’n spesialis is in kunsmatige intelligensie, hy wou ’n rekenaar ontwerp met ’n brein wat selfs slimmer is as die mens. Wanneer hy voor sy outistiese seun vermoor word, word Blomkvist en Salander indirek betrek by die gebeure op verskillende maniere. Gaan die outistiese seun daarin slaag om die moordenaar te eien, al kan hy nie praat nie? As jy van Larsson se verhale gehou het, kan jy hierdie een met ’n geruste hart lees. Wat my regtig beïndruk van hierdie reeks boeke is dat die vertaling daarvan glad nie afbreek doen aan die verhale nie.– Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Silkworm, Robert Galbraith (Sphere, R300)
Cormoran Strike, die privaat speurder, is terug. Nadat ons hom ontmoet het in The Cuckoo’s Calling het sy besigheid gegroei. Maar dan word hy genader deur die skrywer Owen Quine, se vrou om Quine se verdwyning te ondersoek. Die polisie glo dat Owen Quine weereens saam met sy minnares weg is vir ’n paar dae se rus en vrede weg van sy vrou af. Selfs sy vrou dink dit, maar sy wil hê Strike moet hom gaan haal en terugbring huis toe. Soos die ondersoek vorder, besef Strike dat daar moontlik heelwat meer agter Quine se vedwyning sit, veral as hy uitvind Quine het ’n manuskrip aan sy uitgewer gestuur kort voor sy verdwyning. Hierin val hy almal wat hom ken aan en beeld hulle uit as monsters. Dan word Quine se lyk gevind. Hy is vermoor op gruwelike wyse. Die polisie verdink Quine se vrou van die moord. Kan Strike die moord oplos voor die polisie Quine se vrou toesluit? ’n Interessante moordverhaal vol intrige en humor. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Three, Sarah Lotz (Hodder & Stoughton, R285)
Op 12 Januarie 2012 stort vier vliegtuie neer. Die vliegtuie stort neer in Amerika, Japan, Suid-Afrika en aan die kus van Portugal. In drie van die vliegrampe is elke keer net een oorlewende, ’n kind. Met die Suid-Afrikaanse vliegramp sterf almal wat op die vlug was. Daar is verskeie teorieë oor hoekom die drie kinders oorleef het: van ruimtewesens, engele, en tot dat die einde van die wêreld aangebreek het. Pamela, ’n Amerikaner op die Japannese vlug lewe net lank genoeg ná die ongeluk om ’n boodskap aan haar man op te neem. Die boodskap is egter baie deurmekaar en onsamehangend weens haar pyn. Op die boodskap sê sy: “The boy watch the boy watch the dead people . . .” Die groep wat glo dat die einde van die wêreld aangebreek het, glo haar boodskap is ’n teken dat hulle reg is. Verder sê hulle elkeen van die kinders is een van die ruiters van die apokalips is en dat daar ’n vierde kind in Suid-Afrika oorleef het.
Die verhaal is geskryf uit verskeie oogpunte, waar elke hoofkarakter sy of haar storie vertel. Sommige karakters is egter meer geloofwaardig as ander. Die konsep van die verhaal is baie goed, maar vir my persoonlik laat die boek my met meer vrae as antwoorde. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Woes, Mike Nicol (Umuzi, R210)
Die titel van hierdie boek is uiters gepas, want woes is hierdie verhaal beslis. Dis ’n bloeddorstige verhaal waarin mense vieslik gemartel word en ook hot en haar doodgeskiet word. Drie bendebase speel die hoofrolle in ’n genadelose geveg om te verseker hulle bly in beheer van perlemoensmokkelary na China. Ongelukkig vir hulle wil die Chinese vennote self die operasie oorneem, natuurlik met die hulp van ’n nuwe plaaslike vennoot. Dié konkelaar wat agter alles sit, is niemand anders as Tamora Gool nie. Wanneer die Chinese hulle opwagting in die land maak, moet Krista Bishop se maatskappy die sekuriteit verskaf vir dié besoek. Boonop beland sy in die spervuur wanneer sy gevra word om die dogter van een van die bendebase veilig te hou, terwyl die bendeoorlog aan die gang is. Nicol se skryfstyl is boeiend en ek is bly sy boeke word nou in Afrikaans vertaal. – Phyllis Green