FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

“Vier en flippen veertig, werkloos, vir die tweede keer aan die skei …”

Ja, dis waar Simoné se lewe staan. Sy is 44, werkloos en boonop vir die tweede keer aan die skei. Al wat sy het is ’n tienerseun en ’n ou huis in ’n klein Vrystaatse dorpie.

Haar lewe het uitmekaar geval, nes haar tweede huwelik en sy moet van vooraf begin om ’n nuwe bestaan te skep. Sy trek uit Pretoria terug na haar geboortedorp in die Vrystaat, na die huis wat sy van haar pa geërf het. Van vooraf moet sy vriende maak, werk kry en stuk vir stuk rigting kry en weer sin van die lewe maak. Sophia Kapp het die vermoë om jou onmiddellik in te sleep in Simoné se verbete pogings om haar lewe weer heel te maak.  Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva (LAPA Uitgewers, R240) is ’n boeiende verhaal waarin Simoné die spil is waarom die ander karakters draai. Op die een of ander manier help elk van die ander karakters Simoné om insig in die verskillende aspekte van haar gebroke lewe te kry. Hulle gee haar as’t ware die materiaal om uiteindelik haar divagids te kan skryf en ook terselfdertyd antwoorde op haar vrae te kry. Boonop maak sy uiteindelik vrede met wat in haar lewe gebeur het en sy bou ’n sterker verhouding met haar seun. Kapp raak swaargewig tema’s aan: lesbiese verhoudings (boonop oor die kleurgrens), misbruik van ’n skoolseun deur ’n onderwyser, gesinsgeweld, egskeiding en verhoudings tussen jonger mans en ouer vroue. Maar dis nie ’n gewroeg nie en die verhaal is ’n heerlike leeservaring. Die bonus is die lesse wat jy uit Simoné se lewe en oorlewingsgids leer!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ek het per e-pos met Sophia Kapp gesels.

Vertel my kortliks so bietjie van jouself. Hoe het jy begin skryf?
Ek was van jongs af mal oor romantiese fiksie (het op 10 my eerste Ettie Bierman gelees en by Barbara Cartland leer Engels skryf) en het letterlik duisende boeke in hierdie genre – goed en sleg – gelees.

Ek het eers self begin skryf ná 40, toe ek in die Kaap begin werk het as ’n taalpraktisyn. Lang ure in ’n kantoor saam met ander taalpraktisyns. Dit was ’n lekker werksomgewing, maar dis eensame tye, veral omdat ’n mens moeilik vriende maak daar. Toe kry ek een van LAPA se Romanzas in die hande oor ’n vakansie en ek besluit: Ek wil ook so ’n storie skryf. Ek het ’n manuskrip, Die erflating, geskryf en heeltemal blind vir LAPA gestuur. En dit was die begin van alles.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer met ’n goeie roetine?
Ek probeer gedissiplineerd werk, maar ’n mens kan nie elke dag ewe veel kreatiewe uitsette gee nie. Op die dae wat ek nie kan skryf nie, redigeer ek aan my storie. Dit is belangrik dat jy elke dag, al is dit net vir tien minute, met jou storie moet besig wees, anders verloor jy die ritme daarvan.

Waar het die inspirasie vir Oorlewingsgids vir ’n Bedonnerde Diva vandaan gekom?
Mense interesseer my. Hul verhale, hul reaksies en hul emosies interesseer my, want ek sien soveel raakpunte in almal se omstandighede. Ek is self redelik onlangs (vir ’n tweede keer) deur ’n egskeiding, en dit was seker maar die sneller, maar dit was fassinerend om te gaan soek na die algemene belewenisse, die oppe en die affe, die insigte en die wysheid wat vroue kry as hulle uit so ’n seer opstaan. Dit is veral daardie vermoë om die stukke op te tel en aan te gaan wat my die meeste inspireer.

Het jy Simoné op iemand gebaseer, of is sy heeltemal fiktief? Het sy alles gedoen wat jy vir haar beplan het, of het sy soms in ’n ander rigting ontwikkel?
Simoné is ʼn fiktiewe karakter. Ja, ek hou daarvan om mense waar te neem, ek hoor hulle stories en ek sien hulle seer, maar ek skryf niemand in ʼn storie in nie. Die bedonnerde diva in die storie is ʼn karakter in haar eie reg, en dis haar storie, niemand anders sʼn nie. Sy het van die begin af ʼn storie gehad om te vertel en sy het dit met oortuiging gedoen. Dit gebeur nie sommer dat ʼn karakter buite my beheer raak nie, omdat ek baie lank oor die storie loop en dink voor ek dit neerskryf. Al wat soms gebeur, is dat ʼn randkarakter ʼn groter of duideliker rol in ʼn storie speel as wat ek beplan het, en dan laat ek dit toe omdat dit gewoonlik baie vermaaklik is.

Hoe het jy die navorsing vir die boek aangepak, want daar is baie inligting in oor verhoudings?
Ek het meestal insigte of gewaarwordings wat ek gehad het, gejaag. Ek hou daarvan om na mense te luister wat vir my vertel van hul lewenservaring, en ek stel opreg belang. Ek hoor die feite en die gebeure, maar ek hoor ook die reaksie en die uitval. Daar is ongelooflik baie inligting oor persoonlikhede, gedrag en persoonlikheidsversteurings beskikbaar as jy net weet waar om te soek. Soos ek sê, ek hou daarvan om patrone te soek en om in te sien dat ʼn bepaalde optrede byvoorbeeld inpas by ʼn bepaalde persoonlikheid.

Jy skroom nie om omstrede tema’s aan te raak nie: lesbiese verhoudings (boonop oor die kleurgrens), misbruik van ’n skoolseun deur ’n onderwyser, gesinsgeweld ens. Is dit belangrik vir jou?
Ja. Ek het grootgeword in ʼn era waar Die Vloerlap ʼn baie gewilde heldin was. En Die Chauvinistiese Vark voorgehou is as ʼn held. Daardie dae moet asseblief net nooit weer opdaag nie. Ek is versigtig wat ek vir lesers voorhou as heldmateriaal, en ek laat my heldinne weet as hulle droogmaak (soos in hierdie storie ook). Ek glo ook dat ʼn mens met jou storie soms ʼn bepaalde beeld van ʼn samelewing skep wat jy dalk heel onbedoeld voorhou as normaal of aanvaarbaar, terwyl dit eintlik inherent vrot is. Ek skep sekondêre karakters wat vir my interessant en aangenaam is en ek hou hulle voor as vriendinne en sosiale gelykes, juis sodat lesers verstaan dat almal, hoe vreemd jy nou ook al mag gedink het hulle is, die vermoë het om jou lewe te verryk.

Daar is ’n hele klompie sterk vroue in die verhaal. Was hulle van die begin af daar, of het party hulself bloot kom aanmeld?
Nee, ek het hulle uitgedink. Baie min goed in my stories is lukraak. Magdaleen (Simoné se ma) is vir my een van die lekkerste karakters wat ek ooit geskryf het. Simoné se (lesbiese) vriendin, Jeanette, ook. Juis omdat stereotipes (veral in hierdie genre) dikwels van dié karakters karikature maak, was dit besonder lekker om hulle as sterk, gebalanseerde vroue met oorvloedige empatie voor te hou.

Was daar ’n aspek waarmee jy gesukkel het?
Dis altyd ʼn waagstuk om wroeging in ʼn storie in te skryf, en dis nog ʼn groter waagstuk om dit reg aan die begin van die storie in te skryf. Dit raak oorweldigend en kan lesers (veral mense wat nie die genre gewoond is nie) afskrik. Ek sal nie sê ek het gesukkel nie, maar ek het baie hard gewerk om selfs in daardie eerste twee hoofstukke die storie so aan te bied dat dit nie swaarmoedig word nie, maar tog die omvang van haar trauma respekteer.

Wat het jou die meeste verras van die verhaal, die karakters?
Ek is ʼn baie tradisionele leser. Ek hou self van tradisionele liefdesverhale, met ʼn mooi man en ʼn sexy jongmeisie, wat ten spyte van omstandighede die liefde laat werk. Ek het nie gedink ek sal so onwrikbaar kan glo in Simoné en Barnard se verhouding nie. Selfs toe ek aanvanklik besluit het hierdie vrou verdien ʼn viriele, energieke, ordentlike, bedagsame, JONG man, het ek self gewonder hoe ek dit gaan laat werk, vir myself. Maar ek het, met die verloop van die storie, dit reggekry om in Barnard te glo – juis omdat hy op ʼn kol sy voet neersit en weier dat sy hom manipuleer.

Wat wil jy hê moet lesers bybly oor Simoné se verhaal?
Dat ʼn mens ʼn vlam het wat nie uitgedoof kan word nie, dat dit nooit te laat is om daardie vlam weer aan te steek nie, en dat jy die beste mens gaan wees wat jy ooit geken het as jy bereid is om jou vlam te laat brand.