FOTO verskaf

FOTO verskaf

Boeke

Vier Tuindag en Hulp vir jou tuin

Op Sondag 9 Oktober vier ons in Suid-Afrika ons eerste Tuindag. Want ons is mos goeie tuinmakers!

Hierdie dag is daarop gemik om mense weer een van die lewe se eenvoudigste maniere vir plesier te laat waardeer – tuinmaak. Niks verhoed jou om groen vingers te hê nie. As jy ’n woonstelbewoner sonder tuin is, kan jy altyd ’n paar kruieplantjies in potjies op jou vensterbank aanhou. As jy natuurlik ’n lekker groot tuin het, is die moontlikhede eindeloos, ’n blomtuin of ’n groentetuin, of natuurlik ’n formele kruietuin. Om jou te help om jou tuimaakvermoë te verbeter, kan jy die gratis app, Gardening with Babylonstoren, op jou selfoon aflaai. Daar gaan jy baie hulp kry met tuinmaakinligting en jy het ook toegang tot tuinmaakkenners.

Nou ja, hier is ’n paar boeke oor tuinmaak, sommige gee raad, maar ander is net vir lekkerlees en om jou kinders te inspireer om ook groen vingers te kry!

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Groente van Tuin tot Tafel, Wynand Boshoff (Lapa uitgewers, R150)
Leer om jou eie groete te kweek en geniet vars groente uit die tuin. Die boek bied nuttige inligting oor verskeie aspekte van groenteverbouing insluitend: grondvrugbaarheid, bemesting, waterbehoeftes, wisselbou, plantmaats en natuurlike plaagbeheer. Die meer algemene groetesoorte word breedvoerig bespreek en optimale temperature, grondvereistes en bewerkingspraktyke word weergegee.
Het jy geweet dat blaarslaai die beste groei teen 15-20°C en bo 25°C saad skiet? Daar is boonop goeie en slegte plantmaats, by goeie plantmaats trek beide plante voordeel uit die verhouding. Maar sommige plantmaats het soms ingewikkelde verhoudings soos die tussen tamaties en aartappels. Aartappels vertraag die groei van tamatieplante, maar dan weer beskerm tamaties aartappels teen aartappelroes. Boontjies, geelwortels, blaarslaai, spinasie is van die plante wat ’n voordelige verhouding het met tamatieplante. Dis ’n baie nuttige en interessante boek. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Jane’s Delicious Urban Gardening, Jane Griffiths (Sunbird, R295)
As jy al ooit daaraan gedink het om ’n groentetuin te begin dan is hierdie boek net vir jou. Griffiths verduidelik al die stappe van hoe om ’n groentetuin te begin op ’n eenvoudige en verstaanbare manier. Hoe om grond voor te berei, waar wat geplant moet word, hoe jy jou tuin moet versorg – alles word in die handige gids uiteen gesit. Daar is selfs ’n hoofstuk net oor hoe om tuin te maak in houers, ja groente kan in houers gekweek word. As jy nie ’n klein lappie grond het nie, kan jy selfs ’n vertikale tuin ontwerp en teen ’n muur vir jou ’n hangende groen spasie skep. Ruimte is nooit beperkend nie, sê Griffiths, dis hoe jy die spasie benut wat saak maak. Hier is haar doel met die boek: “Jane’s Delicious Urban Gardening is about exploring and sharing ways that urbanites can live a more connected and sustainable life in the city.” - Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Garden Aloes, Gideon F. Smith & Estrela Figueiredo (Jacana, R295)
Suid-Afrika is die dertigste droogste land in die wêreld en die oordeelkundige gebruik van water, veral vir tuinmaak, is baie belangrik. In ons droë land is aalwyne die perfekte tuinplant, want dis nie so afhanklik van baie water nie. In hierdie insiggewende boek word jy voorgestel aan die aalwyn, wat die plant nou eintlik is, hoe jy dit kan kweek en hoe jy dit in jou tuin kan gebruik. Die skrywers maan ook dat jy asseblief nie aalwyne in die veld moet gaan uithaal om in jou tuin te plant nie. Baie van die aalwyne het net ’n beperkte verspreiding en dikwels sal plante wat jy uit die veld gehaal het nie in jou tuin oorleef nie. Daar is ’n hoofstuk waarin wenke gegee word oor waar jy aalwyne moet plant en hoe jy die plante moet versorg. Die laaste deel van die boek bestaan uit ’n gids van die verskillende spesies. Hierdie handige boek is ’n omvattende handleiding wat jou oor alles rakende aalwyne sal inlig. – PG

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Coastal Gardening in South Africa, Allan Haschick (StruikLifestyle, R200)
Meeste tuinbouboeke is baie algemeen en gaan van die veronderstelling af uit dat almal darem min of meer onder dieselfde omstandighede tuinmaak. Maar die raad is nie altyd van toepassing vir alle gebiede nie. Hierdie boek fokus op alle aspekte van tuinmaak vir mense wat in kusgebiede woon. Tuiniers hier sukkel met eiesoortige probleme waarmee ons nie in die binneland sukkel nie: seewind, wind gelaai met sout, swak grond en brak water. As jy ’n nuwe tuin wil vestig, raai die skrywer tuiniers aan om ’n aksieplan saam te stel: maak eers ’n lys van alles wat moontlik ’n probleem kan wees; maak ’n webslysie van wat jy wil bereik; neem nou in ag die impak van die weer en jou plaaslike omgewing op jou plan; en, laastens besluit hoeveel geld en tyd jy aan jou tuin kan bestee.  Hy bespreek al die moontlike probleme van tuinmaak by die kus, soos die impak van die wind, sout in die wind, die toestand van die grond en ander omgewingsfaktore. Verder kyk hy na tuinuitleg en al die verskillende plantsoorte wat geskik is vir ’n tuin aan die kus. Dis ’n naslaanboek wat mens weer en weer kan gebruik.  – PG

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Groen vingers, Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers, R120)
Sasha is verveeld in haar klas en besluit om self ’n ander eksperiment te doen, eerder as die een wat die onderwyseres hulle laat doen. Maar dis ’n katastrofe en groen rook borrel uit die proefbuis en ’n onwelriekende reuk versprei in die klas. Al die kinders moet uit en Sasha se ouers word gebel. Boonop is haar bynaam nou Sasha Stinkbom. Sy verklaar haar lot by haar ouma Daisy wat baie lief is vir tuinmaak. Ouma sê Sasha aard na haar oorlede oupa wat ’n wetenskaplike was en altyd eksperimente gedoen het.Sy vervang haar en haar skoolmaat se boontjies vir ’n eksperiment met sade wat sy in haar oupa se trommel gekry het. Nou ja, daar groei baie meer van die sade af as wat sy verwag het! ’n Prettige storie oor hoe Sasha se stinkbom ’n ongelooflike onkruiddode r geword het! – PG

Hou jy van mooi tuine? Dan sal jy mal wees oor die Kaapstadse Blommeskou van 27 – 30 Oktober – lees HIER meer.

Blommeskou Instagram