FOTO: verskaf

Boeke

Vier verdagtes en een raaiselagtige moord

Vier hoërskoolleerlinge is verdagtes, maar watter een van hulle het hul medeleerling vermoor?

Dis die tergende raaisel wat die polisie moet oplos wanneer ’n leerling onder verdagte omstandighede in ’n detensieklas sterf. Karen McManus se naelbytriller, One of us is lying (Penguin, R185) hou jou vasgenael tot die laaste bladsy waar jy eers uitvind wie die moordenaar is.

Vyf hoërskoolleerlinge van Bayview High moet ’n detensieklas bywoon omdat hulle almal gevang is met hul selfone by hulle. Die skool het ’n geen selfoon-beleid. Onder die vyf is daar die voorbeeldige Bronwyn wat nooit enige reëls oortree nie. Die mooie Addy is die spreekwoordelike homecoming prinses. Sportiewe Cooper is die skool se ster-bofbalgooier en bad boy Nate wat reeds die wet oortree het deur met dwelms te smous, is voorwaardelik vrygelaat. Laastens is daar Simon, die skool se gehate skinderbek en skepper van ’n app waar al die leerlinge se skandes uitgelap word. Simon sterf in die teenwoordigheid van sy vier skoolmaats. Aanvanklik word dit as ’n ongeluk bestempel, maar die polisieondersoek verander vinnig in ’n moordondersoek as daar verdagte omstandighede gevind word. Simon was allergies vir grondboontjies en sy waterbottel was besmet daarmee. Boonop sou hy geheime van elkeen van die vier uitgelap het op sy app. Watter geheim moet onder alle omstandighede bewaar word en wie van dié vier haat Simon genoeg om hom te vermoor?

Die naelbytriller lees gemaklik en word op so manier vertel dat jy eers reg aan die einde weet wie die moordenaar was. Die karakters is lekker volrond en interessant en wek simpatie op by die leser. Hierdie boeiende jeugverhaal het ’n verrassende ontknoping. Al is dit gemik op jonger lesers sal volwasse lesers dit ook geniet. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

Wrong Place, Michelle Davies (Macmillan, R290)
’n Man probeer sy vrou vermoor deur haar met ’n mes te steek en daarna probeer hy selfdood pleeg deur ’n hoop pille te drink. Dis een van die sake waarby speurkonstabel Maggie Neville betrokke is. Sy moet met die slagoffers en hul familielede skakel terwyl die polisie die saak ondersoek. Terselfdertyd is sy en haar kollegas betrokke by nog ’n ondersoek. Daar was ’n reeks inbrake by ouer mense en nou is een van die slagoffers in ’n koma in die hospitaal. ’n Skoolmeisie met ’n eetsteurnis is betrokke by die inbrake. Wat vir haar bloot net ’n avontuur was, raak gou ’n geheim wat sy vir haar gesin moet wegsteek. Terwyl Maggie haar tyd en aandag aan altwee sake probeer balanseer, kom sy af op ’n onverwagse verband tussen die slagoffers.

In die middel van die boek kom die twee storielyne bymekaar, maar om die verhaal nog meer raaiselagtig en spannend te maak, gooi Davies nog ’n verhaal by: die van ’n vrou wat 16 jaar gelede spoorloos verdwyn het. Hoe pas sy in by die misdade wat ondersoek word? Ten spyte van ’n paar lomphede in die verhaal slaag Davies daarin om ’n geloofwaardige en fassinerende ontknoping te skep. Maggie Neville is ’n interessante karakter en gee mens ’n kykie na hoe die Britse polisie misdaadondersoeke en die slagoffers daarvan benader. Vir Suid-Afrikaanse lesers wat gewoond is aan bloedige en gewelddadige misdaad, kan die storie dalk net te mak voorkom! – Phyllis Green

FOTO: verskaf

JUSTICE SERVED? The Trial and Conviction of Bob Hewitt, Jamaine Krige (Zebra Press, R210)
Bob Hewitt is ’n voormalige wêreldklas tennisspeler en wenner van verskeie Grand Slam tennistoernooie. Hy is in Australië gebore, maar het plaaslike burgerskap aanvaar en was lid van die Suid-Afrikaanse Davis-beker span wat in 1974 die trofee gewen het.

Twintig jaar ná Hewitt deur die International Tennis Hall of Fame vereer is, het ’n storm in 2012 om sy kop losgebars toe die eerste van verskeie jong vroue hom van seksuele aanranding en verkragting beskuldig het. Hewitt het hulle jare gelede as jong kinders afgerig en hy het al die bewerings ontken.

Die skrywer het die saak van die begin af as joernalis gevolg, lank voor dit uiteindelik in die hof beland het. Sy slaag daarin om die leser sonder vooroordeel agter die skerms te neem waar hulle elk van die rolspelers – insluitend die klaagsters en die Hewittgesin – leer ken. Dis ’n aangrypende verhaal en hoewel die leser weet dat Hewitt uiteindelik in 2015 skuldig bevind en op 75-jarige ouderdom vir ses jaar tronk toe gestuur is, bly dit ’n uitmuntende vertelling van die gebeure. – Susan Puren

FOTO: verskaf

Katoog, Jeanette Stals (Lapa Uitgewers, R215)
Die lyk van’n jong meisie word in ’n riviertjie gekry deur die 5-jarige Felicity (of Opla soos sy haarself noem) en die saak word aan speurdersersant Luna Joubert gegee. Dis haar eerste groot saak en sy is vasbeslote om dit op te los. Dis egter makliker gesê as gedaan. Van die staanspoor af sukkel sy om inligting oor die meisie te bekom. Behalwe haar naam, blyk dit asof niemand iets van haar geweet het nie.  In die arm woonbuurt van Roseville waar dwelmhandel hoogty vier, praat niemand nie. Dit is egter Opla wat onwetend Luna op die spoor van die skuldiges plaas – direk in die dwelmwêreld in. Wie is die motorfietsryer wat haar agtervolg?  Het dit iets met die moord te doen?

Alhoewel dit ’n speurverhaal is, word daar baie fyn gekyk na armoede, die invloed daarvan op mense en wat dit tot gevolg het.  ’n Besonderse leeservaring. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

Onverwagte Leuens, Lien Roux-de Jager (Lapa Uitgewers, R199,99)
Onverwagte Leuens is Lien Roux-de Jager se vierde boek in haar Kalli Krynauw-reeks.
Hierdie keer is Kalli, die geliefde forensies psigofisioloog van SIS (Special Intelligence Services) swanger. Sy werk net deeltyds, maar word al hoe meer betrokke by SIS se ondersoeke; veral toe die FBI hul hulp nodig het met die geveg teen dwelmkartelle, ’n selfoonbom reeksmoordenaar wat vasgetrek moet word en die kolonel van SIS se vermiste pa wat opgespoor moet word. Boonop verdwyn Kalli se man, Brink, op ’n geheime sending en terwyl sy haar dood bekommer oor sy veiligheid, ontdek sy dat daar ’n verraaier in SIS se midde is wat hul ondersoeke saboteer.
Die storie is propvol aksie met ’n verrassende einde.  – Danica Steyn

FOTO: verskaf

The Bone Collection, Kathy Reichs, (Penguin, R305)
Die vier kort verhale gaan oor die forensiese antropoloog, dr. Tempe Brennan. First Bones is die verhaal oor hoe Brennan’n forensiese antroploog geword het. Speurders Slidell en Rinaldi vra haar om te help in ’n saak waarin ’n dokter doodgebrand het. Hulle vra sy moet die dokter se identiteit bevestig, maar hulle gee haar slegs ’n gedeelte van sy skelet. Brennan gaan na die toneel om die res van die bene te versamel en kom tot die besef dat die dokter vermoor is. Sy help om die saak op te los en so begin haar loopbaan, maar natuurlik is dit nie ’n eenvoudige saak nie.
In Bones in Her Pocket  raak sy betrokke in die ondersoek na die vermiste student, Edith Blankenship, wanneer Edith se oorskot in ’n sak in ’n meer gevind word. Swamp Bones speel in die Everglades Nasionale Park af.  Die park doen ’n studie om die impak van Burmese luislange, wat in 1992 tydens ’n orkaan ontsnap het en nou in die park floreer, te bepaal. Dan word menslike oorskot in een van die luislange gevind. In Bones on Ice word Brennan gevra om die identiteit te bevestig van ’n bergklimmer wat op Everest gesterf het.

Dis uitstekende verhale met al die intriges en vreemde ervarings wat net met Brennan kan gebeur. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

Pharaoh, Wilbur Smith (Harper Collins USA, R320)
Pharaoh is die sesde boek in Smith se gewilde “Antieke Egipte” reeks. Farao Tamose sterf en word opgevolg deur sy oudste seun Utteric, ’n onstabiele magsbehepte man van swak karakter. Leuens, bedrog en verraad is aan die orde van die dag in die stryd om die troon te behou. Die hoofkarakters is Utteric se broer prins Rameses en prinses Serrena, die kleindogter van koningin Lostris, Taita se minnares van die eerste boek. In wese is die  verhaal ’n familie-saga, met die legendariese karakter Taita (wat nooit verouder nie) wat ons deur die verhaal begelei. Mite en die bonatuurlike speel ’n prominente rol as Taita die mitiese Lacedaemons en die godin Inana raadpleeg om Utteric te verslaan en die troon vir Rameses te verseker. ’n Bloederige verhaal vol aksie wat vinniger voortsnel as die vinnigste strydwa in Egipte. Die boek is ’n waardige opvolger in die “Antieke Egipte” reeks en word aanbeveel vir almal wat van aksiebelaaide historiese romans hou, maar nie te puntenerig is oor historiese akkuraatheid, karakterontwikkeling en substansie nie. – Gert Venter