FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Vir jong volwassenes

Bemarking is deesdae ’n groot en belangrike deel van alle produkte. Vir almal is daar iets, vir volwassenes, jong volwassenes, kinders, ma’s en pa’s. En ek is seker vir Kiets en Woef ook.

Ek vind dit altyd interessant dat daar mense is wie se werk dit is om te besluit watter produkte nou eintlik vir wie is. Maar tog is dit nie ’n presiese wetenskap nie! Hoe besluit jy waarvan mense gaan hou, behalwe as dit klere is in ’n spesifike grootte waarin party mense nie gaan pas nie. Partykeer hou mens nie van iets nie bloot omdat jy dit nog nie geëet, gedrink of gebruik het nie. Of dis ’n geval van jy kan dit nie bekostig nie. Jy sou dalk eerder ’n ander produk wou hê, maar nou moet jy tevrede wees met die goedkoper weergawe, want jou beursie is plat. Wanneer dit oor boeke gaan, is dit altyd vir my moeilik om te voorspel watter leser waarvan gaan hou. As ek dink hoe ek my leesstof kies, partykeer is dit die omslag, soms die skrywer en ook omdat iemand gesê het ek behoort ’n spesifieke boek te lees. Of ek tel ’n boek in die boekwinkel op uit nuuskierigheid en besluit dis iets wat ek moet lees. Dikwels word gesê ’n boek is vir jong volwassenes en dan lees ek maar alte lekker daaraan. Kinderboeke kan ek nie weerstaan nie; die pragtige illustrasies en die eenvoud van die stories . . . Hierdie week is die boekkeuse eintlik gemik op jong volwassenes, maar enigeen kan maar die verhale geniet.

The Broken Destiny, Carlyle Labuschagne (Fire Quill Publishing, R220)
Dis die eerste boek in ’n wetenskap-fiksie fantasie-trilogie vir jong volwassenes wat sentreer rondom mense bekend as “The Broken”. Ava, ons hoofkarakter, is een van “The Broken”. Sy is die kleindogter van die stigter van hul beskawing op die planeet Poseidon. Ava voel asof daar iets weg is van haarself, van haar lewe, en baie gou ontdek sy dat sy reg is. Een nag na ’n ontvoeringpoging, word sy na die Minoans se dorp geneem – iets wat heeltemal ontoelaatbaar is. Hier vind sy uit waarom hulle nie met die Minoans meng nie. Hulle weet alles oor haar en haar lot om ’n sterwende ras te probeer red. Ava leer van ’n profesie wat praat van ’n uitverkorene wat moet uitstyg en die ondergang van diegene wat in haar pad sou staan. Dié uitverkorene het ’n geheime wapen, weggesteek in haar siel, wat “ The Broken Ones” se genetiese kode sal regmaak. En net sy het die mag om al die struikelblokke te oorkom en haar ras te red.
Dis ’n boeiende verhaal wat jou meesleur op Ava se reis.Caro Liebenberg (17 jaar van Pretoria)

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Keepers: Archer, Rae Rivers (HarperImpulse, R175)
Sienna Beckham draf in die herfssonnetjie in Central Park en alles lyk heeltemal “normaal”. Twee jaar gelede het sy haar tuisdorp, Rapid Falls en haar drie “Keepers” agtergelaat, want sy is op soek na ’n gewone, normale lewe. Maar daar is niks gewoon aan Sienna nie. Sy is ’n Beckham Heks, ’n lyn van kragtige hekse, en haar Keepers, die Bennett broers, is deur ’n bloedbond gebind om haar te beskerm.

Ongelukkig is boosheid op haar spoor en, of sy wil of nie, sy moet terugkeer na haar tuisdorp. Hier moet sy haar Keepers en die verlede weer in die oë kyk en leer om die kragte wat sy vermy het, te bemeester. Dan is daar die verbode liefde vir Archer, een van haar Keepers . . . Sal Sienna hierdie oorlog oorleef?

Die eerste boek in “The Keepers” trilogie. Die reeks is ’n paranormale romanse. Ek kan nie wag vir die opvolgboeke nie. – Caro Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Chronicles of the Invaders: Conquest, John Connolly and Jennifer Ridyard (Headline, R377)
Die mensdom veg om oorlewing. Sestien jaar gelede is die aarde binnegeval deur ruimtewesens, die Illyri, wat die mensdom onderdruk en uiters genadeloos is. Slegs klein uiterlike verskille onderskei die Illyri van ons, soos die feit dat hulle geen ooglede het nie, maar dit word maklik agter ’n donkerbril weggesteek. Paul Kerr is deel van die nuwe generasie weerstandsvegters. Syl Hellais is die eerste Illyri wat op die aarde gebore is. Haar pa is die goewerneur van die Britse Eilande en Ierland. Hulle woon in die Edinburgh-kasteel. Syl mag glad nie die kasteel sonder begeleiding verlaat nie, maar sy sluip gedurig weg om die stad op haar eie te verken. Op haar sestiende verjaarsdag sluip sy weer uit saam met haar beste vriendin Ani. Hul lewens verander drasties wanneer ’n bom in ’n kafee afgaan. Hulle word deur Paul en sy broer Steven gered. Paul-hulle besef nie dat Syl en Ani Illyri is nie en toe dit veilig is verlaat die twee meisies hulle. Kort daarna word Paul en Steven egter gevang en aangekla dat hulle die bom geplant het. Wanneer Syl en Ani hulle help om te ontsnap, moet die twee meisies ook vlug. Deur haar ervarrings besef Syl dat dit nie net meer ’n stryd tussen mens en Illyri is nie, maar ook Illyri teen Illyri, veral as sy hoor die ‘Sisterhood’ is op pad. Hierdie is ’n opwindende nuwe reeks! – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The raven boys, Maggie Stiefvater (Scholastic, R170)
Blue Sargent woon in ’n huis vol eksentrieke vrouens wat almal betrokke is by mistieke/spirituele gebruike. Blue se ma is ’n waarsêer, maar Blue self het geen talent daarvoor nie. Die nag van elke 24 April gaan Blue saam met haar na ’n vervalle kerk diep in die woud om te kyk vir die geeste van mense wat binnekort dood gaan wees. Aangesien Blue nog nooit die geeste kon sien nie, is sy verstom toe die gees van ’n seun in Aglionby skooldrag voor haar verskyn en met haar praat.
Blue het nog altyd die Aglionby seuns, ook genoem die Raven Boys, vermy want hulle beteken net moeilikheid. Sy vind uit dat die seun wat sy gesien het se naam Gansey is, en op ’n vreemde manier voel sy aangetrokke tot hom. Nou moet Blue Gansey se dood probeer verhoed.

Hierdie is ’n interessante toevoeging tot die genre van tiener/jong volwassene leesstof. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Confessions of a Murder Suspect, James Patterson and Maxine Paetro (Young Arrow, R150)
Een oggend word die 15-jarige Tandy Angel wakker van ’n geklop aan die deur. Dis die polisie wat haar meedeel hulle het ’n wenk ontvang dat haar ouers in hul slaapkamer vermoor is. Tandy en haar gesin woon in die eksklusiewe ‘Dakota’-woonkompleks, waar slegs die rykstes woon. Sy laat die polisie teësinnig binne. Haar ouers is wel dood en almal in die wooneenheid word verdagtes. Dit sluit haarself, haar drie broers en haar ma se assistent in. Tandy word beskou as ’n wonderkind, en soos sy na die polisie luister en sien hoe hulle hul ondersoek hanteer, besef sy vinnig een van hulle moet die skuldige wees. Sy besluit om self ondersoek in te stel. Sy bevraagteken almal se motiewe en bewegings, selfs haar eie. Wat na ’n eenvoudige saak lyk, is egter alles behalwe eenvoudig. Hierdie spanningsverhaal is vol intrige en het ’n verrassende einde. Die boek is gemik op jong lesers, maar volwasse lesers sal die verhaal ook geniet. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hospitaaltyd, François Bloemhof (Human & Rousseau, R84,95)
Rudi Beukes is ’n tiener. Sy ouers is geskei en behalwe dat hy met die gewone onsekerhede worstel, sukkel hy boonop met skoolwerk. Wat dinge vererger is dat sy meisie, Sunè, se ma die skoolhoof is en dat sy pa hom probeer gebruik om sy ma te oortuig om hom (Rudi se pa) terug te neem.
Iets op die dorp is nie wel nie. Hy wat Rudi is, word agtervolg deur iemand in ’n motor. Daar is al drie kinders van sy skool deur ’n motor omgery waarna die motor wegjaag. Die eerste een wat voor die kar beland het, was Sunè. Sy sit met ’n klomp ernstige beserings. Wat is haar verbintenis met die ander twee en hoekom tree hulle so vreeslik vreemd op sodra hulle uit die hospitaal kom? Wat Rudi nie weet nie, is hoe naby hy aan die antwoorde op sy vrae is.
Dis ’n lekker spannende storie met ’n onverwagse einde. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Bone Season, Samantha Shannon (Bloomsbury, R229)
Paige is droomreisiger, ’n skaars soort heldersiener wat daartoe in staat is om haar siel volgens wil uit haar liggaam te stuur. Maar in 2059, die jaar waarin hierdie distopiese toekomsfantasie afspeel, is alle heldersieners reeds as parias verklaar en kort voor lank beland Paige in Sheol I. In dié afgesonderde aanhouplek heers ’n vreemde buitewêreldse ras bekend as die Rephaim; hulle vang en lei menslike heldersieners op om die Emim (’n moordlustige boaardse volk wat die aarde bedreig) te beveg en só word Paige ’n kryger in diens van Arcturus, ’n adellike lid van die Rephaim. Duidelik is Shannon geseënd met ’n ryke verbeelding; die storie wemel van superkragte, toorkuns, bose vyande en selfs ’n verbode romanse met ’n aantreklike onaardse edelman. Hierdie is die eerste boek in ’n reeks van sewe en word aanbeveel vir lesers wat The Twiglight Saga, The Hunger Games en Harry Potter geniet het. – Emsie Viljoen

FOTO:  verskaf

FOTO: verskaf

The City’s Son, Tom Pollock (Jo Fletcher Books, R184)
Agter die misleidende normaliteit van hedendaagse Londen skuil ’n alternatiewe samelewing. In dié subkultuur vervorm ordinêre plekke en dinge om ’n sinistere wêreld te ontbloot waar allerlei grillige wesens en duistere tradisies heers. Na ’n uitval met haar beste vriendin word Beth, ’n tienderjarige graffiti-kunstenaar, uit die bloute in ’n verlate tonnel deur ’n Treinspook aangeval. ’n Vreemde jongeling snel haar te hulp en só begin ’n onwaarskynlike vriendskap; op die oog af lyk Fil na ’n uitgehongerde straatkind, maar dan vind Beth uit hy is die seun van Mater Viae, die verdwene Godin van Londen. As Kroonprins van die Strate maak Fil en sy bisarre troepemag gereed om ’n genadelose vyand te oorwin; Reach bly onder die Sint Pauluskatedraal en probeer die terugkeer van Mater Viae fnuik. Pollock se verbeeldingryke debuut is die eerste boek in ’n reeks van drie en word sterk aanbeveel vir liefhebbers van stedelike fantasieverhale. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The fault in our stars, John Green (Penguin Books, R170)
’n Leeswaarskuwing: moenie optel nie, tensy jy kans het om vasgenael te bly lees.
Op die oog af ’n morbiede verhaal oor twee tieners wat die aftakeling van kanker ken, se ontluikende liefde. Hazel vertel sy is volgens haar ma depressief en voeg by depressie is nie ’n newe-effek van kanker nie, maar ’n newe-effek daarvan om dood te gaan.
Hazel en Augustus ontmoet in ’n kerk, in die hart van Christus (letterlike vertolking van die argitektuur) waar ’n groep tienerlyers weekliks byeenkom om mekaar te ondersteun.
Hoewel die sterre en noodlot teen hulle is, jaag Hazel en Gus, met die onblusbare moed van kankerlyers, ’n droom na, wat onmoontlik lyk. Dit word verwerklik, met ’n paar onverwagte wendings. Hierdie inspirerende verhaal is nie net vir tieners of kankerlyers nie.

Green se terughoudende manier van skryf, sy donker humor, wys die swaarkry van leef met kanker. Die skrywer stel dit onomwonde dat dié ’n fiktiewe storie is, maar wys hoe waardevol ondersteuning van hierdie moedige pasiënte kan wees. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Asterix in Britannië en Asterix en die Groot Geveg, René Goscinny (Protea Boekhuis, R130)
As ek aan slaapstories dink wat ek kleintyd gelees het, verskyn Asterix en Obelix en hul trawante onmiddellik in my kop. Selfs nou nog neem dié paneel ikone ’n groot deel van my boekrak op. Dus was ek so bly toe ek gevra is om Asterix in Britannië en Asterix en die groot geveg in Afrikaans te resenseer.
Ek het dadelik die Afrikaanse uitgawes vergelyk met die Engelse uitgawes van 1971. Ek was verbaas met hoe goed Albert Uderzo se illustrasies gelyk het teenoor die ouer uitgawes, hul het ver skerper kleurtone, maar die eintlike panele lyk almal presies dieselfde.
Die vertaler Sonya van Schalkwyk-Barrois het die woorde heeltemal verander. Die teks het my laat grinnik en my soms laat skater van die lag, meestal weens die komiese name soos Allamapstix, Sturefax, Disvimygrix en nog vele meer.
Storiegewys het albei boeke gehou by die oorspronklike storielyne. Asterix in Britannië volg ons twee hoofkarakters Asterix en Obelix op ’n avontuur na Britannië, nadat Asterix se kleinneef Sturefax hom kom vra het of hulle vir hom ’n bietjie van hul towerdoepa kon gee sodat sy stam die invallende Romeine kan beveg. Hulle antwoord “JA” en so begin ’n reis vol gevegte, koppies tee en ’n krat verlore doepa.
In die begin van Asterix en die groot geveg sien mens dat die Romeine weereens wil probeer om ons geliefde Galliese dorpie binne te val. Gewoonlik is dit nie ’n problem vir Asterix en Obelix nie, maar ongelukkig val een van Obelix se menhirs op hul dorpie se druïde, Kasterolix. Dit maak dat Kasterolix nie net sy identiteit vergeet nie, maar ook hoe om die towerdrankies te maak.

Algeheel was albei boeke baie lekker om te lees en ek beveel dit aan vir enigiemand wat hou van strokiesprente of lighartige stories. – Gareth Green (16 jaar)

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf