FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Vir jonger lesers deur ’n jonger leser

Daar is deesdae soveel boeke op die rak vir jonger lesers. Hoe kies mens?

Bowendien lees ek heeltemal anders as iemand wat tussen die ouderdom van 10 en 14 is. Dis vir my baie moeilik om te probeer oordeel waarvan hierdie lesers sal hou, spesifiek meisies. Ek ken seuns beter, omdat my broerskinders almal seuns is. Hoe gemaak met meisies? Ek het ’n paar jaar gelede ’n oulike meisie van Pretoria ontmoet wat gek is oor lees. Cailin Spickett is ’n boekwurm en lees oor enige onderwerp, van avontuurlustige stories tot boeke oor diere, die wêreld en sommer alles waarop sy haar hande kan lê. Maar ek het gehoor sy hou baie van boeke waarin diere is. Ek het vir Cailin boeke begin stuur toe sy nege jaar was en sy het met die hulp van haar pa, Arthur, altyd vir my ’n kort stukkie gestuur waaroor die boeke gaan. Dis nou al ’n hele paar jaar later, ons reëling staan steeds. Ek stuur die boeke, Cailin lees en pa Arthur help skryf! Vir my is dit bonus! Hierdie week deel ek al Cailin se boeke wat sy onlangs gelees het.

Brigadier en die raaiselponie, Marga Jonker (Tafelberg, R135)
Perdeliefhebbers, hierdie boek is vir jou! Zhan is gespanne en sien glad nie uit daarna om saam met haar langverlore pa en suster die vakansie deur te bring op ’n gasteplaas nie. Natuurlik moet Briggs, haar perd, saam. Uit die staanspoor word hulle deur die eienaar vertel (gewaarsku?) van naglopers in die onheilspellende inheemse woud. Zhan en twee seuns ontmoet en gaan op ’n rit in die duistere, geheimsinnige woud. Maar iets onverwags gebeur en Zhan verdwaal. Die avontuur speel hom uit met heelwat dele van die storie wat jou op die punt van jou stoel laat sit en maak dat jy jou naëls kou. Dit is’n riller en ek moes partykeer eers die boek los om asem te skep!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Siobhán van die sirkus, Jaco Fouchè (Human & Rousseau, R129,95)
Moet net nie Siobhán se naam verkeerd uitspreek nie! Sy sal jou vinnig reg help. Siobhán wil iets anders doen en verras haar ouers om die skool vakansie by ’n sirkusskool aan te sluit. Die jong meisie beleef die skool saam met uiteenlopende karakters, elkeen met sy eie ‘masker’ oor sy lewe, elkeen met sy eie siening en maniere om hulself uit te leef. Onbewustelik beïnvloed elkeen haar op sy eie manier in Siobhán se uitkyk op haar jong lewe. Werklik ’n lewensondervinding: haar ervaringe saam met Klein-Piet, wat die sirkusskool aanbied, die geheimsinnige Columbine, die stil teruggetrokke aan-en-af vriendin Greer wat glad nie inpas by so ’n opset nie, die wulpse Alet en die akrobatiese Elaine, en ook die omsigtige verhoudings met die jong mans betrokke by die skool. Uit Siobhán se oogpunt kry ons insig oor grootword, die ongemak van interaksies met ander en ’n soeke na self.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lotta se lewe: Bendes, swape en skape, Alice Pantermuller & Daniela Kohl met illustrasies deur Daniella Kohl (Human & Rousseau, R130)
Lotta, ’n 11-jarige meisie vertel van haar daaglikse ondervindings en gebeurtenisse met woorde en prentjies wat die stories laat lewe kry. Hierdie keer gaan dit oor bendes, die ‘cool’ meisies wat hulself die ‘Glamour girls’ noem, die ‘cool’ seuns is die ‘Rockers’. Lotta, haar vriendin en Paul (omdat hy ’n boomhuis het) vorm toe ‘Die Kwaai Konyne’. Die skoolsport is vanself vol snaakse gebeurtenisse en die begin van die stryd tussen die drie bendes. Lotta se ‘towerfluit’, ’n Indiese blokfluit, wat vreemde dinge laat gebeur, word ook ingespan teen die “Skaap Koppe’, Lotta se naam vir die ‘Glamour girls’, omdat hulle soos skape agter hul leier, Bernice Hoogenhout, aanloop, en die ‘Rockers’. Die gevolg is ’n lekker en maklike storie vol verrassings en grappige insidente, soveel meer werklik gemaak deur die toepaslike illustrasies.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lotta se lewe: Wieg, wurm, wieg, Alice Pantermuller & Daniela Kohl met illustrasies deur Daniella Kohl (Human & Rousseau, R130)
Nog ’n storie uit die lawwe lewe van Lotta in die besonderse interaktiewe woorde/prentjies skryfstyl wat hierdie boekies so lekker laat lees. Lotta en haar familie gaan vakansie hou op ’n organiese plaas, al wou sy en haar boeties eerder na ’n eksotiese eiland gaan. Met Lotta se blokfluit wat met Indiese susmusiek wurms laat dans (sy is oortuig hiervan) en allerhande ander vreemde gevolge het, is hulle weg plaas toe. Op die plaas leer hulle ski, en speel in die sneeu en Lotta vertel van al hulle ondervindings, vol pret en varrassings met die verskillende plaasdiere. Die prentjies tussen die woorde deur maak dit net nog beter om die stories te beleef.
Cailin se pa Arthur sê: DieLotta se lawwe lewe’-reeks bied heerlike humoristiese leesstof vir die jong tiener. Opmerklik is haar uitbeelding van haar ouers: Pa is ’n knorrige, nors, outokraat en Ma is saggeaard, misterieus en vergewensgesind – laat mens wonder hoe jou eie kinders jou ervaar!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Sanri Steyn – Doktor Zombos se geheime formule, Theresa van Baalen, met illustrasies deur Johann Strauss (Lapa Uitgewers, R89,99)
Die 12-jarige Sanri Steyn is vasbeslote om ’n joernalis te word en dus soek sy orals na ’n storie. Met haar en haar ma se aankoms op Raaiselfontein begin sy al agterdogtig raak oor die inwoners met starende oë en krakerige stemme en ’n waarskuwing om nie van die lekkers te eet wat orals by die huise afgelaai word nie. Kort voor lank is sy en haar nuwe vriend Markus (wat allergies is vir lekkers) aan die uitvind oor die geheim van die lekkers, wie daaragter skuil, en hoe om die vreemde gevolge op te los. ’n Lekkerlees, kort, eenvoudige storie oor ’n vreemde avontuur wat mens goed vermaak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Sanri Steyn – Die aliens oorkant die straat, Theresa van Baalen, met illustrasies deur Johann Strauss (Lapa Uitgewers, R89,99)
Die Gr 6-leerlinge, Sanri Steyn, wat haarself as ’n goeie joernalis ag, en haar vriend, Markus bevind hulself ná ’n hewige donderstorm met vreemde nuwe bure. Hulle maak kennis met die jong dogter en haar jonger boetie en word ingetrek by ’n verbeeldingryke avontuur waarby ruimtewesens (die aliens) met vreemde gewoontes betrokke is. Sanri word gekies om ’n moelike situasie te red op ’n buitengewone manier. Ongelukkig vir Sanri, om die wesens te beskerm, kan sy absoluut niks van die ware verhaal in haar koerantberig plaas nie. Sy maak egter ’n plan en lewer verslag oor alledaagse dinge – veral rondom die vreeslike donderstorms.

’n Verbeeldingryke kortverhaal wat mens se aandag aftrek so tussen die doen van nodige huiswerk.

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Kinders se Madiba. Die lewensverhaal van Nelson Mandela, Sean Fraser, met illustrasies deur Tom Kyffin (Puffin, R90)
Die volle verhaal van Rolihlahla Mandela, vanaf ’n jong Xhosa veewagter tot Suid-Afrika se eerste swart president. Eers op skool is hy die naam Nelson gegee omdat dit vir die onderwysers en ander mense moeilik was om sy Xhosanaam uit te spreek. Later het hy ook as die vader van die nasie, Tata Madiba, bekend geword en is wêreldwyd gesien as ’n vredemaker en held. Tydens die apartheidsjare het hy homself as prokureur bekwaam wat hom goed voorberei het vir sy stryd teen die onregverdighede van die apartheidsregering. Sy verset het hom 27 jaar in die tronk laat beland, maar sy volharding het tot gevolg gehad dat Suid-Afrika uiteindelik ’n demokraties verkose regering kon kry. Die storie van Madiba se lewe word gemik op kinders in maklike verstaanbare taal en boonop gee die boek baie meer detail oor sy lewe as wat ons leer op skool, wat dit makliker maak om te verstaan hoe ons land gevorm is.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die storie van Planeet Aarde, Abigail Wheatley, met illustrasies deur Sanna Mander (Protea Boekhuis, R124)
’n Pragboek wat op elke boekrak hoort, vertel in eenvoudige verstaanbare taal en baie goed uiteengesette wetenskaplike geskiedenis van ons planeet: die ontstaan vanaf die ‘Oerknal’ met detail deur die biljoene jare deur tot waar ons vandag is; die uitbreiding van die heelal, die vorming van ons sonnestelsel en ons planeet, die ontstaan en vorming van eerste lewe, deur die yseeue heen, dierelewe vanaf water na land – reptiele, dinosourusse en hul einde, die ontstaan van soogdiere, die vorming van die kontinente, eerste mense – tot in die moderne wêreld. Baie gepas word die konsep van verandering deurgaans uitgelig en ook ’n aparte hoofstuk word toegewy aan die hedendaagse probleem van aardverwarming met sy gevare en moontlike oplossings. Konsepte word deurentyd pragtig geïllustreer met verbeeldingryke, maar wetenskaplik gefundeerde prente (die uitgebreide bronnelys getuig hiervan) en baie natuurwetenskaplike insette dra by (met heelwat meer detail) tot dit wat op laerskool vlak by kinders ingeprent word. Bykomend word ’n handige, geïllustreerde tydlyn, woordelys en indeks verskaf. As jy al gewonder het hoe die aarde en al sy wonderlike lewensinhoud ontstaan het, lees hierdie boek!