Boeke

Top-5 boeke vir kleintjies

Ek kan ure deur kinderboeke blaai en myself heeltemal verloor in die detail van die illustrasies. Die week se boeke is dan spesiaal vir die kleintjies – vir kyk en voorlees.

Sebastiaan se glimlag, Catherine Rayner, vertaal deur Jaco Jacobs (LAPA, R60)
‘n Boek met uitsonderlike mooi illustrasies van Sebastiaan, die tier. Sebastiaan is hartseer, want hy het nie meer ‘n glimlag nie. Dis weg – hy het dit verloor. ‘n Plan moet hy maak, want hy kan nie deur die lewe gaan sonder ‘n glimlag nie. Die enigste plan wat hy sien, is om die pad te vat en sy glimlag te gaan soek. Op sy tog kom hy in aanraking met allerhande mooi goed van die wêreld, wat hy andersins nooit sou sien nie. Goed wat hom herinner hoe gelukkig hy eintlik is en as hy gelukkig is, dan is sy glimlag outomaties daar. Lekker vir voorlees deur Mamma.
Bestel by www.kalahari.net

Woorde Vorms

Woorde, Roger Priddy (Priddy Books, R59,95) en Vorms, Roger Priddy (Priddy Books, R39,95)
Die oulike boekies is spesiaal gemik op babas en peuters se kennismaking met boeke. Die ontwerpe is kleurryk, kreatief en interaktief. Die baba kan voel hoe voel ‘n hond se pels en hoe voel die leer waarvan die bal gemaak is. Verder is daar driedimensionele plakkers wat die vorms reflekteer en wat beslis die kleintjie se aandag sal trek. Daar is nog boeke in die Vat en Voel-reeks. Die boekies is ook almal beskikbaar in Engels en verder is daar ‘n hele uitgebreide reeks oor ander onderwerpe ook.
Boonop is Priddy ‘n uitgewer met ‘n gewete en word hul boeke gedruk met soja-ink op papier wat van volhoubare woude kom en op so ‘n manier dat dit volkome veilig vir kinders is.
Bestel die Engelse boekies by www.kalahari.net

Boetie vir Natasha Tatta, doeke!

‘n Boetie vir Natasha en Tatta, doeke!, Martie Kruger (LAPA, R60)
Die twee boekies kom uit die Mylpaal-reeks en is spesiaal ontwerp om kinders met belangrike mylpale in hul lewe te help. In die eerste word die nuus van ‘n nuwe bababoetie wat sy opwagting in die gesin gaan maak op ‘n eenvoudige en verstaanbare manier aan die eersgeborene verduidelik. Die tweede boekie is daarop gemik om baba te leer om tot siens te sê aan doeke en die peuterwêreld van broekies te betree. Elkeen van die boekies bevat nuttige wenke vir die ouers, sodat hulle die kleintjies op ‘n prettige manier kan leer.
Daar is nog heelparty ander titels in die reeks.
Bestel by www.kalahari.net

Otto se pretjaar Otto se spesiale dag Otto se uitstappie

Otto se pretjaar, Eric Hill (Human & Rousseau, R130)
Wat ‘n bonus, twee stories oor Otto in een boekie! Otto gaan skool toe beskryf alles wat hy saam met sy maats doen. Hoe hy leer sing, spel en ‘n prentjie verf saam met sy maats. Alles wat by die skool gebeur, word saam met Otto ervaar. In die tweede boekie, Otto se vakansie, gaan almal see toe. Hier vertel hy van pret saam met sy maats, van sandkastele bou, bal speel, swem en visvang. Wat die boekies nog lekkerder maak, is dat daar flappies is om op te lig en onder te loer wat Otto sien! Die skrywer het die oorspronklike stories oor ‘n hondjie geskep om vir sy eie seuntjie te lees. In hierdie reeks is daar nog twee boekies: Otto se uitstappie en Otto se spesiale dag.
Bestel boekies uit die reeks by www.kalahari.net

Soek die koek Mevrou Skaap, die piekniek en die koek

Soek die koek! en Mevrou Skaap, die piekniek en die koek, Thé Tjong-Khing (Protea Boekhuis, R100)
Die twee pretboeke is soortgelyk aan die Where’s Wally-reeks. Dis ryklik geïllustreer met tonne detail waarin kinders hulle ure sal verloor (ouers ook). In Soek die koek! word meneer en mevrou Hond se twee pragtige koeke gegaps en op ‘n tog deur die diereryk geneem. Almal span saam om die koeke te soek, want hulle weet dis vir ‘n piekniek waar hulle ook van die koek gaan kry. Die tweede boek se soek-die-koeke-tema is min of meer dieselfde, behalwe dat die sketse ‘n hele ander storie vertel en dat die omstandighede waaronder die koeke verdwyn, verskil van die eerste boek. Thé Tjong-King het as sprokiesprentkunstenaar gewerk, voordat hy voltyds begin het om as vryskutkunstenaar oorwegend kinderboeke te illustreer. Soek die koek! is in 2005 o.m. bekroon met die Woutertje Pieterse-prys en die Zilveren Penseel.
Bestel Soek die koek! by www.kalahari.net.