ys4f2753
Boeke

Top-5 boeke vir Moedersdag!

The Mother’s Book, Elma van Vliet (Short Books, R159,95)
‘n Dagboek vir jou ma – maar een wat jy as dogter ook maar mag lees! Die boek is deur Van Vliet saamgestel toe sy in 2004 besef het haar ma is ernstig siek en dat sy onbeantwoorde vrae oor haar ma se lewe het. Sy het toe die boek ontwerp met vrae soos waar kom Ma vandaan, wanneer het jy die eerste keer verlief geraak, hoe het jy gevoel met die geboorte van jou kind, hoe voel jy oor jou ouderdom en ouer word … En wat wil Ma vir my vra? Tussenin is daar inspirerende aanhalings en plek vir foto’s. Die ideale geskenk vir enige dogter om terug te kry van haar ma.

A Cup of Comfort A Cup of Comfort for Mothers and Daughters, saamgestel deur Colleen Sell (Pearson Education, R173)
Jou ma is jou ma en jou verhouding met haar is ‘n draad wat deur jou hele lewe loop. Sell sê in haar voorwoord die band tussen ma’s en dogters bly omtrent altyd behoue, deur dik en dun en ten spyte van verskille in opinies, afstand en tyd. Hulle ruil raad uit, filosofeer oor lewenswyshede, deel intieme geheime en praat oor verhoudings. Die uiteenlopende verhale vertel van liefde, warmte, uitdagings en bowenal van vergifnis en mededeelsaamheid.
Just like Mum says


Just like Mum says, Rosemarie Jarski (Ebury Press, R185)
Soms moet ‘n mens die spot kan dryf met ernstige goed sodat jy die erns daarvan kan oorleef. Moederskap is een van daardie goed. Die boek is vol humoristiese aanhalings oor wat dit is om ‘n ma te wees. Dit bevestig die rol van ‘n ma. In die woorde van Erma Bombeck: “Moederskap is die tweede oudste beroep en die grootste on-the-job opleidingsprogram.” “Ek weet hoe om enigiets te doen – ek is ‘n ma, ” sê Roseanne. En laastens, Dorothy in die Golden Girls sê: “Dis nie maklik om ‘n ma te wees nie. As dit was, sou pa’s dit wou doen.”

Mothers-in law

The Complete Book of Mothers-in-law, Luisa Dillner (Faber & Faber , R229,95)
Dillner sê in haar boek: “Skoonma’s word gevrees, gehaat, bespot, gewaardeer en selfs gelief, maar nooit ooit geïgnoreer nie.” Sy beskryf die geskiedkundige rol van die skoonma, kyk na die rol van skoonma’s in verskillende kulture en bespreek ook die verskillende kategorieë waarin skoonma’s ingedeel kan word: gekkes, slegtes, konkelendes en goeies. Sy sluit haar boek af met ‘n hoofstuk van raad hoe om ‘n goeie skoonma te wees, want, sê sy, “die meeste vroue gaan een of ander tyd in hul lewe ‘n skoonma wees.”

Something I&aposm not

Something I’m Not, Lucy Beresford (Duckworth, R222,15)
Amber is gelukkig getroud en het ‘n suksesvolle beroep. Sy het besluit om nie kinders te hê nie. Ewe skielik begin al haar vriendinne swanger raak. Selfs haar beste vriend en sy gay lewensmaat besluit om ‘n baba aan te neem. Amber se perfekte wêreld begin rondom haar intuimel. Dit laat haar wonder of sy die regte besluit geneem het. Sy begin selfondersoek doen en in die proses moet sy haar verhouding met haar ma ook konfronteer. ‘n Verhaal oor ‘n generasie vroue wat besluit om nie kinders te hê nie en wat nie bang is om daaroor te praat nie.