FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Vir ontspan langs die see

Ek hou nie eintlik van sand nie. Ek gril as ek die tekstuur aan my voete voel. Maar dit is darem lekker by die see. Daarvoor sal ek die sand trotseer.

Die water staan my ook nie altyd aan nie, veral aan die Kaapse kus. Dis eenvoudig net te koud. Maar van Durban hou en baie, en al die strande al langs die Suidkus af. My gunsteling-bestemming is Mosambiek. Die sand voel ook sommer sagter daar en lyk boonop witter en skoner. Dan is daar die kleur van die water, turkoois en uitgestrek soos ’n kalm meer. Boonop is die water warm! Ek durf selfs die see aan daar, want ek vries nie as ek my toon in die water steek nie. My lekkerste lekker is egter om onder ’n groot sambreel op die strand te lê, boek in die hand, en yskoue bier vir lafenis teen die hitte!

One midlife crisis and a speedo, Darrel Bristow-Bovey (Zebra Press, R180)
Ek het lank laas ’n boek so geniet soos hierdie een. Die humoristiese verhaal wentel om die skrywer wat sukkel om die naderende middeljare te aanvaar en soos sy veertigste verjaardag naderkruip, besluit hy om vir homself ’n paar uitdagings te stel – onder andere om die Dardanelles in Turkye te swem. Nodeloos om te sê is dit ’n amper onbegonne taak vir iemand wat nie eers behoorlik kan swem nie, en daarby nog bang is vir water ook, om oor die sowat ses kilometer strook water te swem.

Die skrywer is brutaal eerlik oor sy tekortkominge en slaag daarin om in elke situasie met homself die spot te dryf. Hierdie boek is slim en snaaks, maar tog ook weldeurdag en insiggewend. Hierdie is die tipe boek wat mens onmiddellik weer wil lees sodra jy klaar is daarmee. Dit is die ideale geskenk om vir enigiemand te koop. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Someone, Alice McDermott (Bloomsbury, R280)
Die verhaal van ’n gewone, vaal en ordinêre vrou, Marie, wat net ‘iemand’ is wat vir almal in die buurt sit en kyk. Die vertelling is geensins chronologies nie, maar die roman begin en eindig siklies met dieselfde karakter wat haar eie dood grappenderwys voorspel.
Die meeste mense wat om hulle in Brooklyn woon, is ook van Ierse afkoms. Marie laat die sodabrood een Saterdagoggend verbrand en assosieer dit later met haar pa se dood. Sy werk by die begrafnisondernemer, waar haar verbeelding die lewelose liggame opkikker.
Marie sien wasgoed aan hulle some hang en voel duiselig uit simpatie met die waaiende arms van hemde. Sy verstaan baie gebeure eers jare later. Gabe, haar broer, studeer teologie en word eers ’n priester, maar sy geestelike aftakeling ontstel sy jong suster ten diepste.
Die liefdesverhale van Marie en twee uiteenlopende karakters is aangrypend. Geboortepyne wat amper haar dood veroorsaak, word baie eg verbeeld. Die verteltrant beeld Marie se emosies grasieus uit, met die beligting wat veranderende gevoelens vooruitgaan. Verruklik mooi geskryf. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Alibi klub, Jaco van Schalkwyk (Umuzi, R200)
Manhattan, New York in Afrikaans. Hierdie eietydse vertelling is gestroop en eg maar glad nie mooi, romanties of komies nie. Dis byna strak, en saamgestel uit kort sinne. Van Schalkwyk vertel ná nege jaar se verblyf daar van die harde lewe wat tussen die bekende bruin baksteengeboue geleef word, van mense wat gereeld te veel drink, soms vir dae aanmekaar.

Die Alibi-kroeg is nie ’n uithangplek vir elite nie, maar ’n donker, vuil en muwwe plek vir mense wat moed opgegee het. Die opwinding van oorsee gaan woon en werk, skemer deur in sy beskrywings van die omgewing. Detail oor die Alibi spreek van deurleefde lewensmoegheid, soos dat Budweiser-houers beter dien in die lente om die deur oop te hou.

’n Roman vir jonges wat nie sensitief is vir argelose Engelse woorde wat tussenin gegooi word nie. Dit is terselfdertyd in Engels ook vrygestel. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

In the Kingdom of Men, Kim Barnes (Hutchinson, R215)
Die boek begin met die ontdekking van ’n vermoorde jong Arabiese vrou en dan gaan die verhaal terug na Virginia “Gin” McPhee, ’n kaalvoet dogtertjie van Oklahoma. Gin word grootgemaak deur haar oupa, ’n uiters konserwatiewe Metodiste predikant wat sy gesag laat geld deur die lat in te lê. Gin rebelleer, raak swanger en trou met Mason, die skool se basketbal- held. Dis 1967 en Gin en Mason word verplaas na Saoedi-Arabië as Mason ’n pos aanvaar by ’n groot Amerikaanse oliemaatskappy. Gin is nie voorbereid op haar nuwe lewe as ‘maatskappy vrou’ nie – drankies en sigarette by die swembad, partytjies, inkopies, ’n persoonlike motorbestuurder en ’n voltydse ‘houseboy’.  Sy besef vinnig dat die lewe van weelde aangevuur word deur korrupsie. Die verhaal van Gin se lewe in Arabië word boeiend vertel, maar dit vat lank voordat daar regtig iets gebeur in die storie.  - Marian Cloete

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kruispad, Deon Opperman (Tafelberg, R240)
Die gesoute Deon Opperman skryf die trilogie Hartland en Donkerland en nou Kruispad vir televisie. Kerneels Breytenbach vul ons onlangse geskiedenis aan met hierdie baie suksesvolle verwerking in ’n roman. Kruispad begin in 1994 en eindig in 2006 en vertel van ’n tyd toe die meeste Afrikaners ontwortel en onseker was. Hierdie onsekerheid sypel deur in die optrede van die karakters en gesinslede raak vasgevang in rusies wat hulle uitmekaar skeur.

Soois van Rooyen het twee dogters, Sophia en Mariana. Sophia het ‘goed’ getrou, maar is nie so mededeelsaam, beginselvas of aangenaam as haar suster nie. Mariana en Andries Landman het dit nie breed nie. Sy onvergenoegdheid dryf hom verder weg van haar en hy probeer hard om sy sorge te verdrink.

Henk is die volwasse kleinkind, Izel verlaat die land eenvoudig en FG is oneerlik en oppervlakkig. Konflik tussen familielede raak groter na 1994. Kruispad beskryf die spanning wat veroorsaak word deur eksterne faktore en wat vererger word deur die innerlike spanning van elke familielid. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Flavours of Love, Dorothy Koomson (Quercus, R250)
Saffron en haar kinders, Phoebe en Zane, se lewens verander ingrypend ná haar man se onopgeloste moord. Joel was ’n ywerige kok – voor sy dood het hy aan ’n kookboek gewerk en in ’n poging om sin te maak van sy afsterwe, besluit Saffron om dit namens hom te voltooi. Op die oog af lyk dit of hulle vrede gemaak het met die tragedie, maar agter geslote deure heers daar emosionele wanorde; agtien maande ná Joel se oorlye ontvang Saffron die eerste in ’n reeks sinistere briewe, geskryf deur sy moordenaar, en daarnaas bely Phoebe ’n ontstellende geheim aan haar ma. Dié sielkundige riller is perfek vir lesers wat van makabere verhale hou – dit het ’n komplekse storielyn, lees lekker en hou jou van begin tot end aan die raai. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Liar’s Daughter, Laurie Graham (Quercus, R136 e-boek)
Nan is veertien en bly in Portsmouth. Haar ma, Ruby, werk in ’n bierhuis en verspil haar loon op drank. Om kop bo water te hou, dwing Ruby vir Nan om ’n sekswerker te word, maar gelukkig kom ’n weldoener spoedig tot haar redding en voorsien Nan van ’n behoorlike geleerdheid. Op dié manier kom Nan te hore dat admiraal Nelson se lyk in ’n vaatjie vol rum bewaar is en vertel dit vir haar ma. Ruby help haar egter reg – dit was wyngees en sy weet dit omdat sy daar was, swanger met Nan. Só kom die identiteit van Nan se pa op die lappe: sy is Ruby en lord Nelson se liefdeskind. Sy besluit om speurder te speel en loop weg Londen toe; sy kry werk by ’n apteker, bekwaam haar in farmakologie, trou met ’n dokter en begin ’n gesin. Soos sy Ruby se storie uitpluis, volg Nan die leidrade op – van die seeslag van Trafalgar tot by die uitbreek van die Krimoorlog. Lesers wat van historiese romans met ’n humoristiese aanslag hou, sal hierdie vertelling geniet. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Secret Chamber, Patrick Woodhead (Arrow Books, R 115)
In die Itari woud, in die noorde van die Demokratiese Republiek van die Kongo verdwyn Joshua Milton, ’n jong Engelse mediese dokter. Hy is nie die eerste of die laaste mens wat daar verdwyn nie. Lede van die plaaslike bevolking en verskeie buitelanders het in die laaste paar maande in dié gebied verdwyn. Maar sy verdwyning laat die Engelse regering ondersoek instel. Die intelligensie hoof Jack Milton nader Luca Matthews, sy peetkind en vriend van Joshua, om hom te vind. Beatrice Makuru, beter bekend as ‘Bear’ is ’n ‘troubleshooter’ vir die myne. Coltan, die mineraal wat in selfone en rekenaars gebruik word, is besig om uitgeput te raak. Die myne wat nie uitgeput is nie, word deur sabotasie beskadig. Bear is ’n gekwalifiseerde vlieënier en haar ondersoek lei haar na die Demokratiese Republiek van die Kongo waar sy paaie kruis in Goma met Luca. Hy huur haar om hom na die plek te vlieg waar Joshua laaste was. Sy stem in, want dis ook die gebied waarvandaan die meeste Coltan kom. Hulle vliegtuig word afgeskiet en hulle moet saamwerk om te oorleef. Dis ’n boeiende verhaal met ’n spannende einde. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Shadow Year, Hannah Richell (Orion, R225)
In 1980 besluit vyf vriende om ná universiteit vir ’n jaar in ’n verlate kothuis in die Engelse platteland te gaan woon. Die doel is om van die land af te leef, maar soos die maande aanstap en die seisoen van somer verander na winter begin die spanning tussen hulle ophoop. Kort ná Lila se pa se dood, sowat 30 jaar later, word die kothuis deur ’n onbekende persoon aan haar nagelaat. Lila gaan deur ’n baie moeilike periode in haar lewe, nadat sy haar ongebore baba verloor het toe sy by die trap in haar huis geval het. Omdat sy nie kan onthou wat in die paar uur voor die ongeluk gebeur het nie, plaas dit druk op haar huwelik. Sy besluit om na die kothuis te gaan en dit te restoureer. Tydens die renovasie woon sy in die kothuis en maak vriende met een van die bure.
Die storielyn bestaan uit twee verhale wat vervleg is. Aan die een kant is dit die verhaal van die groep vriende van jare gelede en aan die anderkant Lila se verhaal. Uiteindelik sien jy hoe die uiteenlopende verhale met mekaar verband hou. Die verhaal is boeiend en daar is ’n interessante ontknoping. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vuilspel, Bettina Wyngaard  (Umuzi, R180)
Nicci de Wee is ’n kaptein by die Khayelitsha polisiestasie. Sy word uitgeroep na ’n moordtoneel in ’n veld net buite dié woongebied. Sy kom af op die lyk van ’n goeie vriendin, Thandi wat verkrag en wreed vermoor is. Blackie en Peters moet haar help om die moordenaar op te spoor. Dit lyk egter of daar vier moordenaars is. Voordat hulle by die moordenaars kan uitkom, neem Thandi se gryskop pa, Ta’Sipho, sake in eie hande.
Die boek beskryf die wreedheid van die moord baie grafies. Daar word gediskrimineer teen Thandi se seksuele voorkeur omdat sy lesbies is. Nicci het ook ná al die jare by die polisiestasie waar sy werk, nog steeds nie uit die kas geklim nie. Arme Blackie, wat ’n uitstekende speurder is, word ook jaar ná jaar oor die hoof gesien vir bevordering omdat hy wit is. – Jenny du Toit