penguin_boek_van_sa_sporttrivia
Boeke

5 Boekminute vir Vadersdag

Ek het spesiaal gaan soek na boeke waarin ek voel die manne sal belangstel. Daar is iets vir die ouens wat hou van sport, vir dié wat hou van motors en bote en vliegtuie, en dan vir dié wat hou van rondrits. Ek het sommer terselfdertyd goed raakgelees wat my gaan help om te kan saam praat oor ‘n hele paar onderwerpe! Gelukkige Vadersdag aan al die manne.

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Die Penguin Boek van Suid-Afrikaanse Sporttrivia, David O’Sullivan en Kevin McCallum (Penguin Books, R130)
My mond hang soms oop as ek hoor hoe die manne sport praat. Die feite oor wedstryd-statistiek, spelers se vaardighede en staaltjies oor sportmense rol so van hul tonge af. Hoe onthou hulle al hierdie goed en waar kom hulle aan al hierdie stories? Hier is nou ‘n baie oulike boekie wat daardie repertoire van stories nog meer gaan uitbrei. O’Sullivan en McCallum is ou hande in sportjoernalistiek en het ‘n magdom sporttrivia versamel. Hier is ‘n lekker enetjie: “Wie was Bliksem en Wendy? Hulle was bekende honde wat aan Suid-Afrikaanse sportmanne behoort het.” Ek gaan nie hier die haas uit die hoed laat deur die volledige antwoord te gee nie – gaan soek dit maar in die boek op! Staan opsy Pa, hier kom Ma met haar eie sporttrivia. . .

Padlangs deur Suid-Afrika Padlangs deur Suid-Afrika: ‘n streek-vir-streek reisgids, Pat Hopkins, Willie Olivier, Denise Slabbert en Jéan du Plessis (Struik, R250)
Hierdie boek hoort in jou kar, elke keer as jy die pad aandurf om op reis te gaan. Dis een van die nuttigste gidse wat jou gaan help met jou vakansiebeplanning. Dit bespreek elke streek in die land, met die vernaamste dorpe in daardie streek en al die besienswaardighede. Plantegroei, dierelewe en klimaat word ook bespreek. Dit gee jou dus ‘n baie goeie aanduiding van hoe jy jou reis moet beplan. Verder is daar brokkies met interessante inligting oor plekkies. Jy kan ook beplan vir aktiwiteite soos warmlug-ballonritte, 4×4-roetes, want al die inligting oor wat te doen is in streke word ook bygewerk. Dis ‘n lekker kykboek ook, want dit is vol foto’s en kaarte. Jy hoef nie op reis te gaan met die boek nie, jy kan maar Jan Tuisbly se karretjie ook daarmee ry!
Talking Balls Talking Balls: A Collection of Light-Herated Writings about Sport, John Bishop en Tiki Dickson (Zebra Press, R169,95)
Die stories in die bundel gaan oor die goed wat agter die skerms gebeur by sportgebeurtenisse, waaraan mens nooit blootgestel word nie. Al die stories is geskryf of deur joernaliste, oud-spelers, afrigters of mense wat op een of ander manier by sport betrokke is. Baie van die stories is speels en amusant en vertel van die snaakse goed wat gebeur. Daar is ‘n baie interessante storie deur die oud-speler Mark Andrews waarin hy vertel van ‘n poets wat op Nick Mallett gespeel is deur Dick Muir. John Bishop vertel ook van Muir se poetsbakkery, wat glo ‘n groot platjie was. Hy het baie van sy mede-spelers glo grys hare gegee met sy streke. Daar is heerlike stories oor sokker, gholf, krieket en hardloop-sporte. ‘n Boek wat sportmal mans beslis interessant sal vind.
Porsche Icons Porsche Icons, Elmar Brümmer met fotos deur Frank M. Orel (TeNeues, R1 334,99)
‘n Porsche was nog altyd een van daardie droomkarre wat manne se harte warmer en vinniger laat klop. Eerstens is daar die ontwerp met die vaartbelynde vorm en dan is daar natuurlik die groot klomp perdekrag onder die enjinkap! Hierdie boek is ‘n ode aan hierdie ikoniese motor se ontwerp deur ses dekades. Dit begin by die ontstaan van die eerste Porsche in 1939 en eindig by die nuutste en jongste model. Die foto’s is ‘n absolute inspirasie, kreatiewe swart en wit studies van elke faset van die motor. Die teks is kort, maar propvol inligting. Watter man kan die volgende woorde weerstaan: “Where do ideas come from? Ferdinand Porsche’s work at the drawing board was like that of a playwright, with technology always cast in the leading role. Working intuitively, he made aesthetics an integral part of his solutions. Right from the start, Porsche saw the road as a stage where he would put on a gala performance.”
Luxury Toys Luxury Toys, Anja Llorella Oriol (teNeues, R204,95)
Die boek is vir die man wat alles het, of vir die een wat droom om een van hierdie luukse speelgoedjies te besit. As jou begroting soos myne lyk, gaan die man in jou lewe beslis net die boek vir Vadersdag kry en dan sal hy tevrede moet wees met die prentjies! In hierdie blaaie is motors, vliegtuie en seiljagte, die een luukser as die ander. Elkeen se spesifikasies word gegee, spesiaal vir manne wat wil weet hoeveel perdekrag onder daai enjinkap brul, of hoe groot die jag se oppervlak nou eintlik is. Ek het hier motors gesien wat ek nog net maar van gehoor het: Bugatti Veyron, Maybach, Bentley en Aston Martin. Mens kan net kyk en droom!
  • http://kmpzcljlkfhb.com/ nrrkkbo

    IrES2C ohcurasmplcd, [url=http://qfsjrqdpzfel.com/]qfsjrqdpzfel[/url], [link=http://klodftuzscgv.com/]klodftuzscgv[/link], http://avgmprfzgboi.com/