FOTO verskaf

FOTO verskaf

Boeke

Vlietende Olimpiese roem vir atleet

Mens sou dink dat iemand wat aan die Olimpiese Spele deelgeneem het vir baie lank bekend en beroemd sal wees.

Maar dit is nie noodwendig so dat atlete vir ewig bekend gaan wees ná deelname aan ’n groot sportgebeurtenis nie. Ek het onlangs ’n baie ontstellende boek gelees oor ’n atleet wat aan die Olimpiese Spele in Beijing deelgeneem het, en wat baie vlietende roem ervaar het. Sy is later onder tragiese omstandighede dood.

Little Warrior, Guiseppe Catozella (Faber and Faber, R330)
Ek was van die eerste woorde af ingetrek in hierdie hartverskeurende verhaal oor Samia Omar, die “little warrior”-atleet van Somalië wat aan die Olimpiese Spele in Beijing deelgeneem het. Hierdie boek is op haar lewensverhaal gegrond en jy kan nie anders as om daardeur geraak te word nie.

Somalië is vir jare reeds in ’n burgeroorlog gewikkel en die prentjie wat geteken word van die omstandighede waaronder gewone mense met hul lewens moet aangaan, is droewig. Vir Samia is die oorlog iets wat bestaan, die werklikheid wat elke dag sigbaar is, maar sy laat nie toe dat dit haar drome verydel nie. Ons leer haar ken as ’n agtjarige meisie wat ’n atleet wil word, die beste in haar land. Sy leef in armoede, het nie ’n afrigter of eens atletiekdrag nie, maar bly onder toesig van haar agtjarige maatjie, Ali, oefen. In ’n land waar Moslems aan die stuur van sake staan, is haar droom eintlik hopeloos, want vroue moet op die agtergrond bly, met bedekte hoof en geklee in ’n burka. Niks kry haar onder nie, nie die armoede nie, nie die droewige toestande waaronder sy moet oefen nie, nie die tragiese gebeure in haar familie nie. Sy kom uiteindelik as sestienjarige by die Olimpiese Spele, waar sy heel laaste eindig in die wedloop waarin sy hardloop. Daar het sy die harte van die mense en die media reg oor die wêreld geroer. So het haar storie oor die hele wêreld die aandag vir ’n kort rukkie op die omstandighede van atlete in Somalië geplaas. Mens dink dat dit ’n verskil in haar lewensomstandighede sou bring. Helaas nie. Hierdie verhaal het nie ’n gelukkige einde nie … Ek wil nie weggee wat gebeur het nie, maar dis ondenkbaar en hartverskeurend! Samia se verhaal het my diep geraak en net weer laat besef hoe bevoorreg ek is om in ’n demokratiese land in gemaklike omstandighede te kan leef. In Somalië gaan dit net oor oorlewing. Glo my, hierdie is ’n boek wat ek nie gou gaan vergeet nie.
Dis ’n roerende verhaal wat boeiend geskryf is en wat jou diep en lank laat dink oor die mensdom. Die boek is uit Italiaans vertaal en in ongeveer 12 lande uitgegee. Cozella se boek is aangewys as die wenner van die Premio Stega Giovani-prys vir 2014. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Endangered, C. J. Box (Head of Zeus, R200)
Joe Pickett, ’n wildbewaarder van Wyoming, is besig om die slagting van ’n hele gemeenskap korhoenders (sage grouse) te ondersoek wanneer hy die oproep kry wat elke ouer vrees. Die liggaam van ’n meisie is langs die pad buite hul tuisdorp gekry en daar word vermoed dat dit Joe se dogter, April, is wat weggeloop het van die huis. Sy leef, maar is in ’n koma met vermoedelik ernstige breinbeserings. Joe verdink dadelik vir Dallas Cates, die rodeo-kampioen saam wie sy weg is, maar die Cates-familie voorsien hul jongste seun van ’n alibi.

Boonop is daar leidrade wat wys na ’n ander moontlike verdagte. Intussen word een van Joe se beste vriende in ’n lokval gelei, geskiet en vir dood gelaat. Joe kan nie help om te wonder of hierdie gebeurtenisse met mekaar verband hou nie. In sy soeke na die waarheid kruis hy paaie met ’n gewelddadige familie en dit kos hom byna sy lewe. ’n Boeiende lees! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Renegade, Kerry Wilkinson (Pan Books, R155)
Silver Blackthorn en 11 ander tieners is vlugtelinge en word gesoek vir hoogverraad ná hul ontsnapping uit Windsor Kasteel, om koning Victor se tirannie te ontvlug. As “Offerings” is hulle gebruik deur die koning vir sy pret en plesier en geen vorige Offering is ooit weer gesien nie.  Silver word bestempel as gevaarlik en daar is ’n groot beloning vir haar arrestasie, lewend of dood!

Saam probeer die tieners uit die pad bly van die koning se eie polisiemag. Hulle probeer hul pad vind na ander rebellegroepe wat ook teen die koning gekant is. In die proses moet hulle honger, dors en baie gevare trotseer. Sal daar in die midde van die rebelle iemand wees wat hulle kan help om die koning en sy eerste minister te stop?

Renegade was ’n baie opwindende lees!  Hierdie is die tweede boek in die Silver Blackthorn-trilogie en kan op sy eie gelees word. – Caro Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Poles Apart with some pointy bits in between, Vaughan de la Harpe en Sean Disney soos vertel aan David Bristow (Pan Macmillan, R230)
De la Harpe en Disney is bergklimmers en avonturiers van die eerste water! In hierdie boek vertel hulle hoe hulle die wêreld se se sewe hoogste pieke geklim het en ook hoe hulle na die Noord- en Suidpool gereis het. Hulle gee mens ’n kykie na die gebeure agter die skerms van wat dit vat om so avontuur aan te pak, die reëlings vooraf bepaal dikwels die sukses van ’n ekspedisie. Hulle het in 2011 die “Grand Slam” vir bergklimmers voltooi en in die boek bespreek hulle hoe hulle elkeen van die sewe pieke aangepak het. Die verteltrant is informeel en dis amper asof jy na ’n gesprek tussen die twee klimmers luister waarin hulle oor uitdagings, snaakse en ook tragiese gebeure gesels. Al is jy nie ’n bergklimmer nie sal jy hierdie boek geniet. Dis vol lewenslesse, sonder om prekerig te wees. Dit gee mens ook ’n baie goeie idee van wat dit verg om ’n avonturier te wees. Hulle vertel hoe moeilik dit is om so lank van die huis weg te wees, om nie hul vroue en kinders te sien nie, maar gee ook raad van hoe hulle wel hul verhoudings bestuur om dit gesond te hou. Dis werklik ’n boek wat jou sal inspireer, al motiveer dit jou nie om ’n bergpiek te gaan klim nie.  – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Walking the Nile, Levison Wood (Simon & Schuster, R300)
Van die dramatiese openingstoneel op die eerste bladsy tot die laaste bladsy, mens kan nie ophou lees nie. Die boek gaan oor hoe Wood van die oorsprong van die Nyl al met die rivier langs gestap het tot daar waar dit uitmond in die Mediterreense See, ’n staptog van ongeveer 6 839 km. Die openingstoneel van die boek speel af in Bor, Suid-Soedan in 2014 en beskryf hoe Wood by die hotel aankom wat duidelik beskadig is deur ’n protes optog, daar is rookskade en koeëlgate in die mure. Maar die bestuurder verseker hom dat hy steeds kamers beskikbaar het! Hier skop Wood se staptog af wat hom neem deur moerasse, woestyngebiede, stede, asook oorloggeteisterde gebiede waar burgeroorlog woed. Boonop moes hy temperatuur uiterstes deurstaan en plek-plek soek na water. Kyk, dit was nie ’n stappie in ’n park nie. Soos jy lees, kan jy nie anders as om Wood te bewonder nie. Dit was ’n uitmergelende avontuur, maar wat die boek nog interessanter maak, is die agtergrond wat hy gee oor elke stad op sy roete en die besienswaardighede. Hy ontmoet ook vreemde mense op sy tog en dit maak vir kleurvolle leesstof. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Blacks do Caravan, Fikile Hlatshwayo (Jacana, R225)
Die skrywer verduidelik in die voorwoord dat sy uit ’n kultuur kom waar kampeer gesien word as iets wat wit mense doen. “Even if black people were to camp, they would not enjoy it because it is reminiscent of how many of us used to live …” Tenspyte hiervan koop hulle tog ’n karavaan en gaan op ’n kampeervakansie. Sy, haar man, Mathieu, en twee kinders, Lesdei en Leo, se avontuur het afgeskp op 15 September 2014 en het 3 maande geduur. Aan die einde van hul reis het hulle meer as 25 000 km gery en sowat 60 karavaanparke besoek. Dis roerend om te lees hoe Fikile gediagnoseer is met erge depressie en dat hierdie kampeervakansie ’n manier was hoe sy haar gesondheid probeer terugwen het. In hierdie boek deel sy haar en haar gesin se persoonlike verhaal, maar beskryf sy ook presies hoe hul ervaring by elke bestemming was, van die mense wat hulle ontmoet, die omgewing, geriewe en selfs die toestand van die pad. Aan die einde van hul reis kom sy tot die gevolgtrekking dat “Camping or caravanning brings, unity, laughter and excitement.” Dié reis het haar gesin nader aan mekaar gebring, maar het ook gehelp om brûe te bou tuseen mense uit diverse agtergronde. Al het jy nie ’n karavaan nie en al hou jy nie van kampeer nie, lees hierdie boek, want dis verfrissend om dinge uit iemand anders se perspektief te ervaar. – Phyllis Green