Boeke

Voorsmakie uit Onder Ewige Vlerke, Izak de Villiers se laaste boek.

In die boek is die laaste oordenkings wat hy oor die Psalms geskryf het, gebede, gedigte en ander lewenswyshede uit vorige boeke, huldeblyke aan hom en foto’s uit sy persoonlike albums. Die boek beloof om ‘n versamelaarsitem te word en is ‘n gepaste huldeblyk aan ‘n besondere skrywer en mens.

Tussen Jerusalem en Jerigo

O God, u weë is heilig.
Is daar enige god so magtig soos U?
U is die God wat wonders doen!

~ Psalm 77:14-15 ~

Loop God op ‘n pad? Sê van een sonnestelsel na ‘n ander? Is daar
‘n sterreweg vir sy voete? Is die Melkweg soos die kindergediggie
gesê het die mooiste hemelstraat? Alles mooi beelde, alles metafore,
alles menslik gedink, maar nee, God loop nie tussen
Jerusalem en Jerigo nie.
Hy is nie aan paaie gebind nie. Hy is immers oral. Sy weë is sy
onbegryplike beplanning, sy andersheid, sy diepte van wat ons
gedagtes noem. Ons kan soos studente destyds met baarde
laatnag sit en redeneer oor God, en dan nog niks weet nie en
nog niks verstaan nie en nie een verstaan dat ons nie kán verstaan
nie.
God se weë is heilig, onaanraakbaar, onverklaarbaar. Maar
Jesus, sy Seun, sy menslike gestalte, het saam met ons kom loop!
Van Jerusalem na Jerigo en terug. Hy stap met ons saam. Tree vir
tree. Of ek dit kan verklaar? Nee. God se manier, sy weë, is heilig.

God by ons

Selfs ‘n mossie kry hier ‘n plek,
en die swaeltjie bou haar nes en maak haar kleintjies groot,
naby u altare, magtige HERE, my Koning en my God!

~ Psalm 84:4 ~

Buite ons huis was jare lank talle mossies. Nou is hulle weg. Ons weet
nie waarom en waarheen nie. Die houtkappers is ook weg. Maar
die piet-my-vrou roep nog saans en soggens. Ons vermoed ander
voëls soos die hadidas het die mossies verdryf, ons raai maar. Maar
die ander dag in ‘n parkeergarage was daar dosyne mossies. Hulle
maak neste op die balke onder die sinkplaat. Hulle het ‘n ander
plek gekry, ‘n veilige plek, presies soos die Woord sê.
Jesus het ook die mossies dopgehou. Hy het gesê God weet
van hulle almal, elkeen. Hy “vergeet” hulle nie. Die klein voëltjies
wat vir offers verkoop is by die tempel (twee vir ‘n stuiwer) – Jesus
het hulle raakgesien én oor hulle gepraat.
Ons is soos die mossies in die parkeergarage. Maar ons God
behandel ons soos kinders en nooi ons in sy huis, waar Hy woon.
Trouens, Hy kom woon by óns én sorg vir ons. God by ons en ons by
God: ons woon bymekaar. Amen.

Laat my wees waar U is
Ewige God

Om in die huis van die Here te bly, is so ‘n heerlike versoek.
Dis so ‘n grootse wens en ideaal:
Om al my dae die vreugde van u goedheid te beleef en
daaroor lank en stil na te dink met groot dankbaarheid.

Wanneer ek wel oor U nadink, is dit soms moeilik
omdat ander gedagtes hulle aan my opdwing,
gedagtes met ‘n sekere kommer,
gedagtes wat sommer net onsin is en nie twee sekondes werd nie,
gedagtes waar ek die sorge van doer ver gaan haal,
en my hele besinning oor U belemmer
terwyl ek my lysie van bekommernisse uithaal en aan U voorlê,
terwyl U weet wat in my hart is.

U goedheid: natuurlik moet ek my daarin verbly.
Maar ek besef nie altyd presies wat u goedheid is nie.
Soms voel ek soos Dawid dat alles nutteloos is,
dat ek gevang is soos ‘n wilde dier in ‘n kuil,
en dat u goedheid beter sal wees om my siel weg te neem.
Ek beleef nie altyd hierdie lewe as u goedheid nie.
Buitendien verstaan ek goedheid as geskenke
wat ek gedurig van U ontvang,
groot geskenke in sierpapier toegedraai:
van sukses, van sukses vir my kinders,
van elke gebed wat presies verhoor word,
en dat my wil in elke geval sal geskied.
Vir dit alles sê ek ekskuus. Jammer, Here.

Maar ek sou wou sit in ‘n heilige plek elke dag,
soos ek een middag laat gesit het toe monnike aandgebede gesing het
en ek daar vir altyd in die skemer wou bly
waar die kersies flikker by ‘n altaar
en die kleurglasvensters die laat lig in blou en rooi en geel en groen
op alles laat val het:
die atmosfeer het vir my laat voel U is daar,
daar waar kleur is en lied en gebed, waar sagte lig val
en selfs die donker hoekies getuig van ‘n Teenwoordigheid,
u Teenwoordigheid.

Soos Dawid sal ek dit bly soek om in die huis van die Here te bly
al weet ek dat ek in my lewe op aarde dit nie sal vind nie,
altans nie vir altyd nie,
en dat U my in u wêreld stuur omdat dit my taak is
om u Naam oral uit te roep, en van u goedheid te getuig,
selfs al het ek so ‘n skewe beeld van u goedheid.
Nou wag ek op U soos ‘n kind wat sê: As ek eendag groot is …
Ek wag op U in die wete dat ek reeds in u voorhof leef,
maar dat U my sal kom haal om in te gaan na u ewige, heilige plek,
daar waar die engele om u troon is
en ek U in u heilige dimensie kan beleef,
en ek deel word van u gedagtes en u goedheid en genade
terwyl U heers oor alles
en ek die Groot Plan kan sien soos U dit uitgewerk het
en steeds uitwerk.
Ek wil veral sien hoe U dit wat ek as neerlae beleef
in u goedheid ingeweef het,
en hoe U smart as onderdeel van vreugde aangebied het,
en hoe U die bose tot op ‘n punt toegelaat het
om net weer u mag te toon, u heerlikheid en u liefde.

Skerp dit gedurig by my in dat U is waar ek is,
ook al voel ek soms verlate.
En laat my onthou dat u goedheid vir ewig is
en dat in hierdie opsig die beste altyd voorlê.

Amen.
Uit: Manna oor die duine


. . . ek vind al meer tekens van ‘n Teenwoordigheid. My lewe
lank nog kry ek dit, hoewel ek nie die getrouste gelowige
of smettelose volgeling is nie. Net te veel vreemde patrone
in my lewe – goed en sleg – val iewers ewe skielik in plek
om as “toeval” af te skryf. Ek is nie meer jonk nie, maar het
nog nooit na Christus om hulp geroep en dit nie gekry nie,
en dit gebeur dikwels.


Hoe ouer ek word, hoe kleiner word my begrip vir redenasies
en hoe groter my aanvoeling vir die “gesprek” wat
Iemand met my voer. En wat ek voel en “hoor”, klop met
wat ek in die Bybel lees en beleef wanneer ‘n lied aangehef
of ‘n gebed gebid word. Ek weet dis die nabyheid van
Christus. In dié sin wéét ek Hy het opgestaan.


En ná Hy “weg” is, het Hy die wêreld agtergelaat met ‘n
onbegryplike en misterieuse kennis vir dié wat soek, en ‘n
vreemde sekerheid van ‘n Teenwoordigheid.

Izak de Villiers

Uit: Liedjies uit ‘n towerfluit


“God stuur ons nie in hierdie lewe
op ‘n strandvakansie nie. Ons moet werk
en bewerk. Ons moet sy mooi aarde benut.
Ons moet mekaar bystaan. Ons moet sy hulp in
alles soek, ook in Kanaän wat inderdaad ons
eie lewens is, maar nooit sonder probleme nie.
God is daar om te help.”

Uit: ‘n Seisoen met God

  • Heila

    Hierdie is n boek wat ek beslis gaan koop!

  • Alta Visser

    Mens kan jouself net baie verryk deur hierdie boek te lees. "n absolute nodigheid om sulke leesstof te hê in hierdie stresvolle tyd wat ons beleef.