Boeke

Top-5 vreemd en fassinerende boeke

In die ander verhale is die gebeure baie vreemd, tot so mate dat jy nie kan as om elke woord te wil lees nie. Ek hoop julle geniet my keuse.

Onthou, jy kan die boeke aanlyn by ons boekwinkel bestel.

Lammervanger, Frans van Rensburg (LAPA, R140)
In Lammervanger vertel Van Rensburg die verhaal van die negentienjarige Johannes. Dis ‘n ontroerende verhaal wat handel oor die verbrokkeling van ‘n hegte gesin en hul gesinswaardes as gevolg van armoede. Weens ekonomiese omstandighede bevind die Van Stadens hulle as bywoners op die plaas van die ryk en kinderlose Alfred Botha. Johannes besef dat oom Alfred se vriendelikheid en toenadering oor meer as net vriendskap gaan. Hy besef ook dat sy reaksie hierop die toekoms van hom en sy gesin grootliks kan beïnvloed. As negentienjarige doen hy wat hy dink reg is vir die voortbestaan van sy gesin. Toe sy ma egter ondek die verhouding tussen hom en die plaaseienaar is meer as net vriendskap, pleeg Johannes uit skaamte selfmoord. Vanuit die wêreld van die dooies moet Johannes nou magteloos toekyk hoe die omstandighede van sy gesin verder versleg en hoe sy pa, wat nie die selfmoord kan aanvaar nie, in die draaikolk van armoede en agteruitgang vasgevang word. Die verhaal sal jou help om die mag wat armoede op sy weerlose slagoffers het beter te kan verstaan. – Gert Venter

 

Die eerste lewe van Adamastor Die eerste lewe van Adamastor, André P. Brink (Human & Rousseau, R135)
Dié novelle, wat in 1988 verskyn het, is gegrond op die mite van Adamastor, ‘n reus wie se liggaam volgens oorlewering die berge van die Stormkaap gevorm het. Met hierdie heruitgawe besef jy hoe relevant die tema, die uitdaging van aanpassing tussen kulture, steeds is.

Die hoofkarakter, T’kama, is ‘n Khoi-Khoi wat verlief raak op ‘n wit vrou. Hy noem haar Khois (wat “meisie” of “vrou” beteken). Khois sit saam met ander Europiërs in Afrika voet aan wal. Die interaksie met die wit kultuur bring vir die Khoi-Khoi lyding, maar Khois doen moeite om by hulle aan te pas. Waar kommunikasie aanvanklik nie vlot nie en T’kama ‘n seksuele probleem het (sy van is Grootvoël!), blom die liefde sodra hulle mekaar se tale verstaan. Khois wil soms opgee, sy sê: “Niks wat ek doen, is reg nie. Ek verstaan niks van jou of jou mense of hierdie godverdomde land nie.”

Al is daar weird gebeure, soos mense wat uit eiers broei, en swaarkry, is die liefdesverhaal pragtig en soms selfs humoristies. Wyer gesien, ondersoek die novelle kolonialisme. Dit laat jou met die boodskap dat kulture met uiterse opoffering kan klaarkom… Met hul wortels wat bly roep.

Brink se taal is só beeldend. Soos: “Stil en volgestoot het die see gelê, so kalm soos die gesig van ‘n vrou wat ‘n leuen vertel.” – Riette Rust

Chanel Chanel, Edmonde Charles-Roux (Quercus, R245)
Chanel is ‘n ikoon in die mode- en skoonheidswêreld en elke vrou is bekend met dié ontwerper se logo. En natuurlik is dit ook menige vrou se droom om van die skeppings en produkte te besit! Maar wie is Chanel nou eintlik? Na die lees van hierdie uitstekende biografie kry mens ‘n baie beter prentjie van die uiters eksentrieke ontwerper wat nie net die mode herontwerp het nie, maar sommer vir haarself ook ‘n nuwe geskiedenis en selfs ‘n ander naam ontwerp het. Sy het uit ‘n baie beskeie agtergrond gekom, buite die eg gebore as Gabrielle Chanel, en is na haar ma se dood opgeneem in ‘n klooster-weeshuis vir behoeftige kinders in Aubazine. As jong vrou het sy ‘n droom gehad om ‘n sangeres te word en het selfs ‘n paar maal opgetree. Sy het egter nie ‘n sterk stem gehad nie en sou ongelukkig nooit vir haar sangtalent beroemd raak nie. Die naaldwerk wat sy as jong vrou geleer het, het uiteindelik haar beroep bepaal. Die boek lees meer soos fiksie, want Chanel het met vreemde mense gemeng, baie vreemde verhoudings gehad, was betrokke by kunstenaars en tog is sy nooit getroud nie en had ook nooit ‘n kind nie. Reg deur haar lewe het sy geglo sy kan net op haarself staatmaak en dit het sy ook inderdaad gedoen tot met haar dood. Sy was agt-en-tagtig en het steeds gewerk! Charles-Roux was ‘n persoonlike vriendin van Chanel en is ‘n voormalige redakteur van Vogue (Frankryk). Dis ‘n goed nagevorsde biografie. – Phyllis Green
A Fair Maiden A fair maiden, Joyce Carol Oates (Quercus, R245,95)
‘n Boeiende roman gelaai met kontraste: jeug en ouderdom, liefde en haat, eerlikheid en bedrog, aangetrokkenheid en walging, skoonheid en afstootlikheid.
‘n Straatslim jong meisie, Katya Spivak, pas twee kleuters op om geld te verdien in ‘n spogbuurt in New Jersey wanneer die skatryk, elegante Mark Kidder haar raaksien en uitkies. Soos die ou koning in die storie het hy ‘n plan met die mooi jong meisie en Oates maak die lesers deel van hul ontvouende sprokie.
Haar magiese skryfwyse bekoor, jy lees verder met groeiende onrus aan hierdie verhaal wat tegelyk herinner aan Aspoestertjie, na wie Mark Kidder verwys, en Lolita van Nabokov. Sy rykdom en aansien vlei die kind uit armoede wat suspisieus is oor iemand wat in haar belangstel, terwyl dit haar walg.
Die onthutsende, ongewone verhaal van verwarrende liefde tussen ‘n man aan die einde van sy lewe en ‘n jong meisie aan die begin van volwassenheid, asook hulle wedersydse verraad teenoor mekaar, is boeiend en sprekend van die skrywer se bekroonde werk as een van Amerika se gewildste romanskrywers. – Mariette Postma
The Silent Gift The Silent Gift, Michael Landon Jr (Bethany House Publishers, R153,95)
Wat ‘n boeiende verhaal! Mary Sinclair se seuntjie Jack is doofstom, maar op ‘n manier wat net sy en hy verstaan, kommunikeer hulle twee met mekaar. Mary is in ‘n totale disfunksionele huwelik, omdat haar ontroue man nie Jack se gebrek kan verwerk nie. Sy ontsnap deur weg te loop en ‘n nuwe lewe op ‘n ander plek te begin. Maa rsy is baie versigtig om nie te veel aandag te trek nie, want die aaklige man is nog iewers en hy sal haar dalk opspoor. ‘n Gewetenlose confidence trickster kry Mary onder haar invloed en so word Jack se “talent” gebruik om mense te help. Maar dan is daar ‘n lelike insident wat tot groot drama lei. Deur vreemde omstandighede word Mary en Jack van mekaar geskei en dan lei Jack ‘n van die hand tot die tand bestaan saam met ‘n ridder van die pad wat hom oor hom ontferm. Uiteindelik na ‘n lang soektog, kom ma en seun weer bymekaar uit en is daar ‘n verklaring vir Jack se talent. ‘n Uiters vreemde verhaal, maar met soveel menslike empatie dat jy nie anders kan as om dit in een sitting van hoek tot kant op te slurp nie. -P.G.