FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Vroue doen dit vir hulself!

Die dae dat vroue gewag het vir iemand om iets vir hulle te doen, is lankal verby. Vroue doen hul eie ding op hul eie manier.

In die liedjie, Women’s World, sing Cher: All the women in the world/Stand up come together now/This is a woman’s world. En dit is juis waarin die krag van vroue lê, om saam te staan en die wêreld vir hulself beter te maak.

Own your space, Nadia Bilchik & Lori Milner (Macmillan, R282)
Volgens Bilchik en Milner is enige vrou se belangrikste bate selfvertroue, veral in die werkplek, of jy vir ’n groot firma werk en of jy ’n entrepeneur is en vir jouself werk. In hierdie boek gee hulle basies vir jou die gereedskap om jou lewenspad makliker te navigeer. Die eerste stuk gereedskap in jou gereedskapkis is selfvertroue, daarmee kan jy berge versit. Dit is dan ook die eerste hoofstuk van hierdie praktiese werkboek, wat onderhoude met suksesvolle vroue insluit. In die tweede hoofstuk gaan dit oor jou persoonlike ruimte en hoe jy jouself dra. Al moet mense nie op hul baadjie getakseer word nie, is eerste indrukke tog blywend. So neem hierdie boek jou stap-vir-stap deur al die vaardighede wat jou gereedskap word in jou lewe. Dis gepak met wenke en advies wat jou sal help om jou vaardighede te verbeter wat jou sukses in die werkplek sal verseker. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

A Fox’s Tale, Chantell Ilbury soos vertel aan Daryl Ilbury (Penguin, R230)
Die subtitel van hierdie boek is: Insights from one of Africa’s most creative strategic thinkers. Dis haar memoires wat sy met lesers deel en strek oor ’n groot deel van haar lewe. Die boodskap wat mens uit haar lewe neem, is dat jy in die oomblik moet leef en dat geleenthede wat oor jou pad kom, gebruik moet word. “The secret was to approach it head-on, soak up what the occasion offered, and then find a place for it in my library of learning, knowing that one day I might need it.”  Reg deur haar lewe gebruik sy elke geleentheid wat na haar kant toe kom, en so het sy saam met Clem Sunter ’n boek, The Mind of a Fox geskryf. Hierin het hulle ’n moeilike konsep op ’n eenvoudige manier oorgedra aan sakelui wat met strategie werk. Daarna het nog twee boeke gevolg wat ook oor strategiese denke gaan. Ilbury se lewensverhaal gee mens baie insig in besigheid en hoe sy haar loopbaan bestuur het. Maar moet assbelief nie dink dis ’n saai besigheidsboek nie, dis ’n boeiende lewensverhaal wat toevallig draai om besigheid! – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Live Your Dream, Felicia Mabuza-Suttle (Victory International Publishers, R225)
Dis die opvolg van Felicia se boek, Dare to Dream, waarin sy haar lewenverhaal vertel het. Sy sê oor hierdie boek: “I hope this book, Live Your Dream, which is part memoir and part inspirational book, will ignite your passion.” Haar boek gaan oor hoe sy haar doel bereik het, maar dat sy gedroom het oor bereikbare doele, en nie oor goed wat sy geweet het sy nooit sukses mee sal behaal nie. Sy sê niks moet jou daarvan weerhou om jou droom uit te leef nie, veral nie jou omstandighede nie. Die boek gaan nie net oor haar droom nie, maar sê sy: “It’s a story of hope, determination, and persistence. The quotes in this book inspired me and moved me to action to make my dreams a reality. I hope the same will happen to everyone who reads this book.”  As jy soek na motivering om jouself meer durf en waagmoed te gee, dan is hierdie boek vir jou. As Felicia al die dinge waaroor sy skryf, kon oorkom, dan gee dit mens die insig om te besef dat jy self struikelblokke in jou pad lê. Daar is maniere om jou struikelblokke te oorkom, as jy net die moeite doen. – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hy kom met die skoenlappers, Valda Jansen (Human & Rousseau, R200)
Elkeen wat al ’n liefde in sy lewe verloor het, sal aanklank kan vind by hierdie verhaal. Dit gaan oor ’n vrou wat terugkyk oor haar lewe en treur oor haar een groot verlore liefde. Maar die vrou kyk ook terug na haar verhouding met haar pa en hoe dit haar herinneringe van haar kinderdae beïnvloed. Dis ’n intense persoonlike verhaal wat die vrou vertel, maar dis terselfdertyd ook die leser se verhaal. Dis amper asof jy in die vrou se skoene staan en ook terugkyk oor jou eie lewe. Een van die vrou se belangrikste gewaarwordings is hoe sy eers jare nadat dinge gebeur het die dieper betekenis kan sien en hoe sy “nou weet [..] wat ek toe moes gesê het, nou jeuk my hand om te skryf”  en dis die skryf wat haar na ’n ander dimensie neem. Die roerende boek laat jou besef hoe kort die lewe is en dat mens in die oomblik moet leef, sonder vrees en voorbehoud. – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Finding me, Michelle Knight en Michelle Burford (Weinstein, R409)
’n Onsettende ontstellende memoires van ’n jong vrou wat vir langer as ’n dekade gyselaar gehou is deur ’n skoolbusdrywer, Arial Castro.

Skaars uit haar eie ontstuimige kinderjare, en midde in ’n toesigstryd oor haar jong seuntjie, word sy in 2002 deur ’n vriendin se pa ontvoer.  In 2003 sluit Amanda Berry by haar aan en in 2004 Gina DeJesus. Hulle is ook ontvoer deur Castro. Hul ontsnapping op 6 Mei 2013 het wêreldwyd opslae gemaak. In dié boek kry die leser ’n blik op die verskriklike gebeure wat die drie vroue moes deurmaak.

Die hartverskeurende, skokkende en uiteindelik triomfantlike Finding me, openbaar Michelle se storie, asook haar gedagtes en gebede wat haar gehelp het om die krag en moed te hê om hierdie beproewing te oorleef. – Nadia de Jongh

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mishandel, Misbruik, Misken, Joey Haarhoff was my ma, Carla van der Spuy en Amor van der Westhuyzen (LAPA Uitgewers, R200)
Die naam Joey Haarhoff word gewoonlik in dieselfde asem genoem as die van Gert van Rooyen, die berugte pedofiel wat byna dertig jaar gelede die nuus in Suid-Afrika oorheers het. Haarhoff was Van Rooyen se meeloper, die vrou wat selfs haar eie susterskind ontvoer het. Yolanda Wessels is soos vyf ander jong meisies nooit weer gesien nie en tot vandag is hul raaiselagtige verdwyning een van die die grootste onopgeloste misdade in die land.

Van Rooyen het Haarhoff en homself geskiet toe die polisie op hulle toegeslaan het en so is hul geheim saam met hulle graf toe. Hul gesinslede moes vir jare daarna steeds die spit afbyt want almal is as verdagtes beskou, insluitend Haarhoff se dogter, Amor van der Westhuyzen en haar man Wessie. Wat niemand egter besef het nie was dat Amor self ’n slagoffer was wat vir jare deur haar ma mishandel en afgetakel is en deur haar pa en broers seksueel misbruik is.

Sy vertel van haar grootword jare in ’n militêre kamp waar die bure moes vermoed het dat alles nie pluis was in die Haarhoff huishouding nie. Tog het niemand tot die jong Amor se redding gekom nie. Ná Van Rooyen en Haarhoff se dood is Amor en Wessie deur die polisie geteister wat vir lank nie wou aanvaar dat hulle onskuldig is en niks van die ontvoerings geweet het nie.  Erger dalk was die verwerping van die gemeenskap vir wie Amor altyd Joey Haarhoff se dogter sou bly.

Amor ontbloot haar eens gekneusde siel aan die skrywer, Carla van der Spuy, wat dit met groot vaardigheid omskep in ’n storie wat die leser moeilik sal vergeet. Dis ’n merkwaardige verhaal van oorlewing en genesing wat spreek van ongelooflike deursettingsvermoë en ’n doelgerigte strewe om van ’n pynlike verlede weg te kom.

Amor van der Westhuyzen se lewensreis is inderdaad ’n inspirerende tog wat by tye moeilik is om mee te maak, maar nie gemis moet word nie. – Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Lady of Misrule, Suzannah Dunn (Little Brown, R305)
Die sewentienjarige Lady Jane Grey was bekend in die geskiedenis as die 9-dae koningin. Sy is deur die jong sterwende koning Edward VI, haar neef, benoem as troonopvolger. Daardeur het hy sy twee halfsusters die troon ontsê.  Mary Tudor, die ouer halfsuster, het die jongeling egter ná slegs 9 dae onttroon. Daarna is Lady Jane en haar man Guilford Dudley,  gevange gehou in aparte huise in die Toring van Londen totdat die nuwe koningin besluit het wat hul lot sou wees.
Hierdie geskiedkundige “roman” handel oor die tydperk van ballingskap en word vertel deur Elizabeth Tilney, self 17 jaar oud, wat vrywillig as geselskapdame saam Lady Jane gebly het.  Elizabeth het haar eie redes gehad waarom sy wou wegkom van die huis en alhoewel die twee meisies absolute teenoorgesteldes van mekaar was, het hulle tog gemeenskaplike grond gevind.

Hierdie is nie ’n vinnige bladsydraaier nie aangesien ons reeds uit die geskiedenis weet wat met Lady Jane gebeur het. Maar dis eerder ’n boeiende intrige  om te sien hoe hulle daar gekom het! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Last Painting of Sara de Vos, Dominic Smith (Penguin Random House, R290)
Sara de Vos leef in ’n sewentiende eeuse Holland en sukkel om haar man se skuld af te betaal. Sy is ’n skilder en word in 1631 tot die gilde van Sint Lukas toegelaat, maar omdat sy ’n vrou is mag sy nie landskappe verf nie. Ellie Shipley is ’n kunsstudent wat in 1957 oor Sara navorsing doen vir haar PhD-studies. Vir ’n inkomste restoureer sy ou skilderye en toe sy ’n kommissie van ’n ietwat verdagte kunshandelaar aanneem, het dit ’n onherroeplike invloed op die res van haar lewe.

Marty de Groot is ’n miljoenêr wat nie die einde van sy rykdom ken nie. Sy voorvaders was ryk Hollanders en die woonstel, sowel as al die kunswerk teen die mure, het hy by sy vader geërf. Maar sy gunsteling-skildery is At the edge of a wood, die enigste oorblywende skildery deur Sara de Vos. Wanneer Marty agterkom dat sy geliefde skildery deur ’n kopie vervang is, dwing sy soektog na die oorspronklike hom op paaie waarvoor hy nie gereed is nie.

Dominic Smith is ’n meestervolle skrywer en die navorsing is so goed gedoen dat dit maklik is om te vergeet dat jy jou in ’n fiktiewe wêreld bevind. Alhoewel dit ’n historiese roman is, lees dit amper soos ’n biografie omdat Smith moeite met al die besonderhede van sy atmosfeer gedoen het. Die beskrywings van die individuele skilderye, sowel as die verftegnieke, is briljant. Hierdie boek is ’n absolute plesier vir enige kuns- en storieliefhebber. – Antoinique van Staden