FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Vyf lekker boeke

Ek het die afgelope tyd ‘n paar uiteenlopende boeke gelees. Die enigste ding wat hulle in gemeen het, is dat dit heerlike verhale is.

Die gewildste verhaal kom sekerlik uit die pen van Deon Meyer. Verstommend om te dink sy boeke word in 26 tale vertaal en dat Koreaanse mense ook nou kan lees oor Bennie Griessel se jongste eskapades! Vir my bly Bennie die lekkerste in Afrikaans. Deon het in Suid-Afrika, maar ook regoor die wêreld al ‘n swetterjoel pryse ontvang vir sy boeke, onder meer in Duitsland, Frankryk en Swede.
Die ander boeke is geskryf deur relatiewe nuwe skrywers, maar mense wat julle gerus op jul leeslysie kan sit.Elkeen was vir my ‘n vars en nuwe stem en ek sien uit om nog verhale deur hulle te lees. Ek was aangenaam verras deur al hierdie verhale en dit was beslis vir my die moeite werd om elkeen te lees.

Onthou om ons elektroniese winkel op Kalahari.com te koop om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kobra, Deon Meyer (Human & Rousseau, R240)
As mens een keer ‘n boek oor Bennie Griessel gelees het, dan wil jy elke storie waarin hy is ook lees. Bennie Griessel is ‘n onwaarskynlike held. Hy het die nuwe bedeling in die polisie oorleef en is deel van die Valke se span. Boonop beveg hy die hele tyd sy dranklus, want hy is ‘n rehabiliterende alkolis. In hierdie verhaal het hy ingetrek by die sangeres, Alexa Barnard (ons het haar in die vorige boek ontmoet), maar hy wonder of dit die regte besluit was. Op bladsy een word ons saam met Bennie gekonfronteer met die eerste lyk in die eksklusiewe gastehuis op ‘n wynplaas waar ‘n Britse man opgepas word deur lyfwagte van ‘n private sekuriteitsfirma. Daar is nog ‘n lyk. En nog een. Die enigste leidraad is ‘n paar koeëldoppies met ‘n kobra op en die letters NM. Terwyl Bennie en Vaughn Cupido saam met die ander Valke stoei met die moorde deur die gehuurde moordenaar wat hulle Kobra doop en die ontvoering van die Britse man met ‘n vervalste paspoort, betree Tyrone Kleinbooi die verhaal. Hy is ‘n sakkeroller en word ingesleep by ‘n skietery in die Waterfront. Hy ontsnap wonderbaarlik. Maar hoe pas hy in die verhaal? Op die skiettoneel in die Waterfront is koeëldoppies gevind – met ‘n kobra op. Meyer vleg behendig die drade van die verhaal saam. Die verhaal beweeg teen ‘n vinnige tempo en stelselmatig ontvou ‘n komplekse komplot wat gebaseer is op korrupsie op globale skaal, maar ook die wêreld se bankstelsels.  Oudergewoonte hou Meyer ‘n mens aan die lees tot op die laaste bladsy en eers daar vind jy uit of Bennie en Alexa se verhouding staande gaan bly.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mr Penumbra’s 24-Hour Bookstore, Robin Sloan (Atlantic Books, R217)
Hierdie boek is vir almal wat daarvan hou om nog regte egte papierboeke te lees. Sloan skryf in hierdie boek oor ’n kwessie wat alle boekliefhebbers raak – die oorlewing van gedrukte boeke teenoor e-boeke en of dit beter is dat meer mense toegang tot boeke het juis omdat dit in die kuberruimte beskikbaar is. Want met gedrukte boeke moet mense moeite doen om of na ‘n boekwinkel of na ‘n biblioteek te gaan om dit in die hande te kry. Clay, die held van die boek, is werkloos nadat die bagel plek waarvoor hy gewerk het, toemaak. Hy begin werk by Mr Penumbra se 24-uur boekwinkel. Maar dis ‘n baie eienaardige boekwinkel. Mense kom koop nie regtig boeke nie. En die mense wat wel soontoe kom, is eksentriek. Sy werk is om presies neer te skryf wat hulle aan het, wat hulle gesê het en hoe hul gemoedstoestand was. Hy kom agter hulle is almal besig om ‘n raaisel te probeer op los. Hy raak ingesleep in ‘n geheime wêreld en saam met sy vriende besluit hulle om moderne tegnologie in te span in ‘n poging om mnr. Penumbra te help. Hy voel skuldig, want as hy nie begin krap het nie, sou mnr. Penumbra nie nou in die pekel gewees het nie. As jy wil weet wat hulle uiteindelike bevindings is en of hulle die raaisel opgelos het, moet jy dié boek lees. Dis ‘n storie met ‘n klomp drade wat op ‘n boeiende en genotvolle manier bymekaar uitkom. Boonop is die karakters almal interessant.  Een van my gunstelinge vir die jaar!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

We need new names, NoViolet Bulawayo (Chatto & Windus, R269)
Die tienjarige Darling vertel die storie van haar en haar vriende se lewe in Paradise, ‘n plakkerskamp in Zimbabwe. Haar vriende het name soos Bastard en Godknows en van die mense in die gemeenskap is Forgiveness, MotherLove, Bornfree, Messenger en Prophet Revelations Bitchington Mborro. Die name gee subtiele aanduidings van die mense se karaktereienskappe. Wanneer sy vertel hoe hulle soos gewone kinders probeer speel, en hoe die gemeenskap in hul armoede probeer oorleef, is dit ‘n desperate  poging om ‘n normale lewe te probeer lei. Maar hulle lewe is nie normaal nie, ten spyte van die klein oomblikke van satiriese humor. Vir die kinders, en vir die groot mense, is die groot droom om te probeer ontsnap uit hul ellendige omstandighede – om Amerika toe te kan gaan, want op die oog af lyk dit of hul probleme dan op ‘n einde sal wees. Darling is gelukkig genoeg om na familie in Amerika te kan gaan. Daar kom sy agter dat sy glad nie gelukkig is nie, sy is ‘n buitestaander en die uitdagings om daar te oorleef is heeltemal anders as die waaraan sy gewoond was. Sy mis die spontaniteit van ‘n Afrika gemeenskap en van om te voel sy behoort.
Ek het baie van die boek gehou en het ‘n kykie uit ‘n ander oogpunt na ‘n ander gemeenskap in Zimbabwe gekry, een wat ek weens my sosiale omstandighede nie ken nie. Ek het besef mense is net mense en almal streef eintlik na een ding – om ‘n gelukkige en sinvolle lewe te probeer lei. Bulawayo is ‘n verfrissende jong stem, wat met haar woorde ‘n boeiende verhaal vertel. Haar nominasie vir die Booker-prys vanjaar is welverdiend.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Shine Shine Shine, Lydia Netzer (Simon & Schuster, R200)
Ek gaan nie vir julle jok nie. Hierdie is ‘n vreemde boek, met baie vreemde karakters en vreemde goed wat gebeur, maar ek is absoluut gek daaroor. Eerste die karakters: Sunny is gebore sonder hare, wenkbroue of wimpers. Haar ma, Emma, het weggeloop uit haar huwelik om te ontsnap van ‘n vreemde evangelis en ly nou aan kanker. Die twee hou nie verband met mekaar nie. Dan is daar Maxon, Sunny se childhood sweetheart –  nou haar man. Hy is geniaal, werk by NASA en bou robotte wat op die maan ontplooi gaan word, natuurlik deur homself! Hou jou hart vas, want laastens is daar Bubber, Maxon en Sunny se outistiese seuntjie, wat eintlik ‘n mini-Maxon is. Storie in kort: Sunny probeer om ‘n baie normale, voorstedelike lewe te lei en wend ‘n poging aan om so normaal en gewoon as moontlik voor te kom. Niemand weet Sunny het nie hare nie . . . Sunny is hoog swanger met hul tweede baba, terwyl Maxon op sy ekspedisie na die maan is. ‘n Meteoriet tref hul tuig en daar is allerhande komplikasies, want dalk gaan die NASA-span nie oorleef nie. Reusagtige skuldgevoelens teister Sunny, want sy het ‘n vieslike argument met Maxon gehad voor sy vertrek en sy het hom eintlik onvergeefbare goed toegesnou. Sunny is in ‘n motorongeluk, sy verloor haar pruik en besluit om nooit weer ‘n pruik te dra nie. Nou ja, julle kan dink hoe reageer al die ander voorstedelike Stepford-vroue. Die verhaal word deur Sunny, Maxon en Emma vertel. Veel meer wil ek nie van die storie weggee nie, maar ek het hierdie ‘af’-verhaal geweldig geniet en as jy hou van onkonvensionele mense wat onkonvensionele dinge doen, is hierdie boek net vir jou.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Professor of Poetry, Grace McCleen (Sceptre, R269)
Hierdie boek is wonderlik geskryf en jy kan nie anders om empatie te hê met Elizabeth Stone nie. Ons ontmoet haar wanneer sy die nuus kry dat haar kanker vir die oomblik hok geslaan is en dat haar onkoloog aanbeveel dat sy ‘n welverdiende ruskans neem. Maar nee, sy gaan onmiddellik biblioteek toe om te begin beplan aan haar volgende boek. Sy is ‘n professor in Engels wat die werke van Milton in diepte bestudeer. Dis ook die onderwerp van haar vorige boek. Sy loop in die biblioteek verby ‘n uitstalkas met goed oor T.S Eliot en besluit summier haar nuwe boek gaan oor hom gaan. Dit beteken sy moet teruggaan na haar alma mater waar sy professor Hunt, haar eerste leermeester in haar vakgebied, weer gaan raakloop. As student het sy ‘n heldeverering vir hom gehad. En heimlik was sy verlief op hom, maar dit het sy nie besef nie. Sy is as kind deur ‘n liefdelose egpaar ingeneem, nadat haar eie ma verdwyn het. Sy het nooit geleer wat liefde is nie en ook nie geleer hoe om sosiaal op te tree nie. Sy het haarself reeds van haar kinderdae af verdiep in boeke en so ontsnap van die werklikheid van ‘n wêreld waar mense emosies ervaar en probeer uitleef. Wanneer sy professor Hunt weer sien, kom al die jarelange onderdrukte gevoelens weer na vore.  Jy kan nie anders as om diep geraak te word deur Elizabeth se onhandigheid en onvermoë om die groeiende gevoelens tussen haar en professor Hunt te verwerk in ‘n meer vleeslike, maar ook emosionele verhouding nie. Die verhaal se sukses lê in hoe die skrywer die eensaamheid, onsekerheid, emosionele pyn en uiteindelike rypwording van die menslike psige beskryf. ‘n Roerende verhaal oor die wese van menswees.