FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Wees gewaarsku: rowwe roman binne!

Theunis Engelbrecht se roman, Papegaaislaai, kom met ’n waarskuwing. Op die voorblad word dit as ’n “rowwe” roman beskryf.

Dit is sy eerste boek sedert 1986 se “Om ‘n laaitie te maak”. Die skrywer R.R Ryger het Papegaaislaai (Umuzi ) gelees en met Theunis Engelbrecht daaroor gesels.

Die aankondiging op die omslag is seker veronderstel om voornemende lesers te waarsku om eers ’n bietjie deur die boek te blaai voor hulle dit aanskaf en dan ’n vloermoer oor die inhoud gooi. Die meeste mense doen dit darem seker in elk geval, maar toemaar.

Goed, die taalgebruik is seker ’n bietjie rof. Die twee hoofkarakters in die boek rook dagga en meng hul taal met alles behalwe Esperanto. Hulle is nogal snaaks, hierdie mannetjies genaamd Malletjie en Rocky. Hulle het geld nodig en besluit om hul lywe privaatspeurders te hou.

So raak hulle betrokke by ’n soektog na ’n gewilde sanger wat verdwyn het. Sukkel-sukkel spoor hulle die vent (hy is nie so ’n voorbeeldige kêrel as wat sy bestuurder sê hy is nie) op en kry darem genoeg geld bymekaar om ’n lekker partytjie te hou.

Dié partytjie vind plaas op die dag wanneer die wêreld veronderstel is om te vergaan. Dit word by Malletjie se Ouma se plek gehou. Ouma is op haar einde en verbeel wyle Gé Korsten besoek haar. Gepraat van Gé, Ouma se papegaai ken die woorde van ’n paar van sy liedjies.

Ek het die boek baie geniet. My omtrent pap gelag. Nie almal sal nie. Maar van my kant af sê ek dankie aan die uitgewers dat hulle darem met so ietsie anders as die gewone gewaag het.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jy skryf nie voltyds nie. Wat doen jy om aan die lewe te bly?
Ek werk as ’n sub in ’n dagblad se nagkantoor.

Die boek, het jy ’n idee wanneer jy dit begin het en wanneer het jy geskryf?
Ek het in 1999 daaraan begin werk, maar ’n jaar later Kaap toe getrek en dit het alles in ’n boks in my garage beland en ek het daarvan vergeet. Vroeg verlede jaar het Fourie Botha, my uitgewer by Umuzi, my aangepor om dit te gaan uitkrap. Hy het daarvan gehou en my aangemoedig om dit klaar te skryf. Ek het toe besluit die skrywery sal ’n goeie ding wees om die winter draaglik te maak, want ek voel in die winter gewoonlik soos ’n vermufte hoender op ’n lendelam stellasie. Ek het toe elke Saterdag en Sondag gewerk en die eerste draft was vyf maande later klaar.

Wat het aanleiding tot die boek gegee – die worteltjie?
In 1999 het ek in Barrie Hough se agterplaas in Brixton, Johannesburg, geloseer. Hy het ’n poedel gehad met die naam Bambi en ’n foksterriër, Jenny, en alle hel was altyd los op die erf wanneer Bambi katools geraak het. Dit was die vonk vir die eerste episode in Papegaaislaai, en ek het die seksskandaal in die Afrikaanse musiekbedryf waaroor die boek onder meer ook handel daarna bygeroer in die slaai en die storie het toe maar basies sy eie loop geneem.

Dis duidelik uit die boek dat musiek jou na aan die hart lê. Wie is jou gunsteling musos?
Vir my is Bob Dylan, Leonard Cohen, Tom Waits, Lou Reed, Neil Young en Johnny Cash koning. Hou ook baie van Sinead O’Connor, Nina Hagen, Talking Heads, Beck, Arcade Fire. . . te veel om op te noem.

Daar is ’n aanhaling uit ’n Ena Murray-boek voor in Papegaaislaai; lees jy haar boeke, indien wel, watter een is jou gunsteling?
Ek het haar werk leer ken toe ek dit moes proeflees. Dis hoe ek op die betrokke aanhaling afgekom het. Toe ek dit lees, het ek net gekliek dit sal ook ’n soort “sleutel” wees tot sekere elemente van Papegaaislaai, soos onder meer die hoofstuktitels. So, ek het dit nie gebruik om snaaks te probeer wees nie, ek het te veel van ’n sagte plekkie vir haar – veral nadat sy my laat weet het sy was tevrede met die proefleeswerk en dat ek vir haar voel soos die seun wat sy nooit gehad het nie, of ’n verlore seun of so iets (ek kan nie meer die presiese woorde onthou nie, maar dit was iets in daai lyn.)

Voor dié boek het jy laas in 1986 gepubliseer, enige rede vir die lang stilte of is jou werk net nie tot nou weer deur uitgewers aanvaar nie?
In die tyd toe my laaste boek gepubliseer is, het ek die musiek van Marcel van Heerden en Gys de Villiers se groep Koos ontdek en dit het my weggeblaas. Ek wou toe ook eerder rocklirieke skryf en my eerder met musiek bemoei as die letterkunde. So het ek uiteindelik heelwat geskryf vir eers Randy Rambo & die Rough Riders en daarna Die Naaimasjiene, ons het twee CD’s gemaak en ook hier en daar opgetree. ’n Jaar na my laaste boek het ek ook begin werk as vermaakjoernalis, en omdat ek elke dag moes skryf, was ek by die huis nie nog lus om ander goed ook te skryf nie en naweke wil ’n ou eerder jol. Ek het toe so vier jaar gelede ná 25 jaar opgehou om ’n aktiewe joernalis te wees, en toe my kop uiteindelik skoon was van daardie ervaring het Papegaaislaai soort van vanself gebeur.