FOTO: Ryk Hattingh

FOTO: Ryk Hattingh

Boeke

Weet jy wie Ryk Hattingh is?

Dis nogal vir my teleurstellend hoe min mense Ryk Hattingh se boeke lees of ken. Ryk wie?

Ja, ongelukkig tel Hattingh onder een van daardie Afrikaanse skrywers wie se boeke kamstig nie ’n groot mark het nie. Daar word min van sy boeke gedruk en dan word dit swak versprei. Terwyl ander kommersiële twak landwyd in boekwinkels se rakke staan en aan lesers ’n baie klein keuse bied, lê sy boeke in dose by die uitgewers. Hopelik nie weer met Huilboek (Human & Rousseau, R216) nie. As jy Michael Ondaatje, wat onder andere The English Patient geskryf het,  se werk bewonder, behoort jy Hattingh se boeke ook te geniet. Hattingh is ’n woordkunstenaar. Anders as Ondaatje volg hy soms ’n byna poëtiese gedeelte op met ’n, kom ons noem dit maar, rou geskribbel oor seks of verslawing.
In Huilboek begewe Hattingh hom onder meer in sy kinderjare in Benoni. Omdat hy so baie gehuil het, het sy ma vir hom ’n boek gegee en elke keer as hy huil moes hy ’n merkie in die boek gaan maak. Dit was om sy aandag van die huilery af te trek. Maar klein Ryk het nog vir baie lank gehuil. Hy huil nog steeds, daar waar hy in Nieu-Seeland, waarheen hy en sy gesin nou al lankal heen emigreer het, sit en skoene regmaak. Oor sy pa (wat skynbaar lyfstraf met oorgawe uitgedeel het), oor sy ou, én sy nuwe lewe. Huilboek het sy donker en sy ligte oomblikke en Hattingh kry dit reg om aan ene “Outa Toon” ook ’n stem te gee.
En as dit alles verwarrend klink ­– jammer. Dis nie maklik om ’n resensie oor ’n boek te skryf waarin ’n vriend sy hart uitgepluk en op die bladsye neergesmyt het nie. Ek volstaan daarby deur lesers te vra, nee te smeek, om so nou en dan ook iets “alternatiefs” in Afrikaans te lees. Begin sommer by Huilboek. ­

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf


Huilboek is intens persoonlik met die foto’tjies daarin van jou kinderjare (neem ek aan) en ek neem aan ’mens kan die boek sekerlik as ’n tipe outobiografie (weliswaar met net sekere dele wat uitgelig word) beskou? Voel jy of die skryf daarvan vir jou terapeuties was?
Die kiekies is voorwaar uit my kleuterjare wat in die laat vyftiger- en vroeë sestigerjare geneem is. En ja, hoewel ek die term “outofiksie” verkies, sou ’n mens seker ook daarna as ’n soort outobiografie kon verwys. Skryf was nog nooit maklik vir my nie, en met my en my gesin se hervestiging in Nieu-Seeland in 1997, het dit vir my gevoel of ek nooit weer sal skryf nie.

Ek het wel pligsgetrou dagboek gehou, en buiten die paar kriptiese skryfsels om die trauma van die immigrant te beskryf, was die meeste van daardie aantekeninge bloot om dié plek te probeer verstaan. Om die plante en die diere en die voëls en natuurlik ook die geskiedenis van my nuwe tuiste onder die knie te kry. Dis nie maklik om van voor af te begin nie. Dit was eers hier 2010 dat ek weer ’n langerige stuk prosa geskryf het. Ek kon sien dat my stem verander het, dat ek anders, meer sorgvuldig, met die taal omgaan, en dié betrokke stuk het grotendeels die grondslag vir Huilboek gelê.

Skryf was nog nooit werklik ’n terapeutiese onderneming vir my nie; in die verlede het skryf die teenoorgestelde invloed op my gehad. Ek moes eers uitmekaar val, uitrafel, ten gronde gaan, om dan, as die boek of toneelstuk voltooi is, triomfantelik, albeit as wrak, die produk op te hou en sê, siedaar, dis klaar. Dan kon ek weer begin om tonikums te drink en my vervalle gestel op te bou. Maar dit was anders in Huilboek se geval. ’n Groot knieoperasie in 2013 het my vir twee maande buite aksie gestel en ek het dié tyd gebruik om die eerste weergawe van Huilboek te voltooi. So, ja, die skryf van Huilboek was terapeuties in ’n sin.

Aansluitend by die eerste vraag, vertel asseblief meer oor jou manier van skryf aan die boek.
Met die luukse van twee maande tot my beskikking om veertien, vyftien jaar se aantekeninge en dagboekinskrywings deur te werk en te verwerk, het ek stadig maar seker aan ’n nuwe teks begin bou. Ek gebruik die woord “bou”, want so het dit gevoel. Om te probeer om vanaf die openingsin ’n fondasie te lê, en dan steen vir steen, kom ons sê eerder woord vir woord, aan die boek te bou, tot en met die laaste sin wat dan as ’n soort sluitsteen van die hele gebou moet dien. Maar daar was natuurlik die een groot probleem met die storie, en dit is dat ek vanaf die begin bewus was daarvan dat ek eintlik die onmoontlike aangepak het, want dis tog nie moontlik om jou in iemand anders se skoene in te dink nie, bedoelende Outa Toon, ’n sentrale figuur in my kleuterjare, nog voordat ek kon praat, en hóé doen ’n mens dit? Of ek wel die struikelblok suksesvol oorkom het, sal ons nog moet sien. Dan net nog iets betreffende Huilboek: vir die eerste keer in my skrywersloopbaan het ek my manuskrip aan vriende en vertrouelinge gegee om te lees en kommentaar daarop te lewer, en was dit nie vir mense soos Antjie Krog en Gerrit Olivier en Elise van Wyk se insette, en natuurlik die ongelooflike sorg waarmee my uitgewer Nèlleke de Jager met die teks omgegaan het nie, weet ek nie of Huilboek sou wees wat dit is nie.

Is die Toon in Huilboek dieselfde Toon in een van jou vorige boeke, Ignatius Brand? Indien wel, hoe skakel Ignatius Brand by Huilboek in?
Ja, dis een en dieselfde Toon. Ignatius Brand is ’n boek wat my na aan die hart lê, deels omdat ek met daardie boek, my derde, werklik eers my stem gevind het. Of so voel dit. Dis in ’n ontstuimige tyd geskryf, die laat-tagtigerjare, en daar was ’n dringendheid omtrent alles. Om dié rede is dit dalk te vinnig geskryf, te vroeg uitgegee … Onder die ideale omstandighede sou ek graag nog ’n jaar of twee wou tob oor die boek voordat ek dit laat uitgee het. Daarom het ek Ignatius herbesoek en besluit om reg te laat geskied aan karakters en tonele daarin wat merkers in my lewe was. Soos Outa Toon, en Vincent in die bosveld. Miskien sou ’n mens Ignatius Brand, Witskrif, en Huilboek as ’n soort trilogie kon beskou.

Daar word soveel dinge aangeraak in Huilboek, (skoene regmaak, emigrasie, kinderjare, ensovoorts, ensovoorts), ’n mens kry die idee jou skeppingsdrang is kwaai losgeskud. Het hierdie boek, hoe moeilik dit dalk ook was om te skryf, jou liefde vir skryf weer lewendig gemaak?
Ja, gewis. Ná negentien jaar se stilte kan ’n mens dit dalk as ’n tweede debuut beskou. Dis in elk geval hoe dit vir my gevoel het toe Human & Rousseau dit vir publikasie aanvaar het. Die verligting! Ja, ek kan weer skryf! Dit laat my dink aan die einde van Samuel Beckett se The Unnamable: You must go on. I can’t go on. I’ll go on.

Die resensie en onderhoud is geskryf deur die skrywer, R.R. Ryger