'n Eksklusiewe uittreksel uit Dave Pepler se boek, Immergroen
Foto’s: Lien Botha Galery
Lees die eksklusiewe uittreksel uit sy nuwe boek: Klein katedrale van die veld
Immergroen Stories oor plante deur Dave Pepler en foto's deur Lien Botha (Human & Rousseau, R275) het pas verskyn. Dié stories fokus grootliks op inheemse plante en elkeen word met 'n nostalgiese anekdote ingelei en in pragtige, liriese Afrikaans beskryf.
Pepler het 'n M.Phil-graad in soölogie aan die Universiteit van Cambridge verwerf en is in 2007 met die Stevenson Hamilton-toekenning bekroon vir sy buitengewone bydrae in soölogie.
INHEEMSEBOME
Die krone van bome is die domein van voëls, kinders, malles en heiliges. Soos my groottante Ella, 'n oujongnooi van Robertson.Sy het langs ouma Lilly gebly, in 'n donker huis saam met haar suster Susie. Ella het die orrel gespeel by die Heilsleër en Ouma tot raserny gedryf deur elke dag in haar kookpotte te kom loer.
Een Sondagoggend het Ouma my gestuur om 'n ui by tante Ella te gaan leen. Ek het deur die somber voorhuis gestap, deur die kombuis, maar Ella was nêrens te siene nie. Op die agterstoep het ek "kooeeeee" geroep en tante Ella het uit die ruigtes van die tuin terugge-"kooeeeee". Dáár het ek haar gekry - in die hoogste takke van 'n nartjieboom, babamossie in die hand. Sy was besig om dit terug te sit in sy nes.
Die blik op haar toebroek onder die gebreide bruin rok spook nou nog by my. Boomklim was Ella se forte. Ek vermoed die mens het eers klip gesplyt voordat hy geleer het om hout te kloof. Maar toe hy die eerste keer die verborge grein van die stomp blootgelê het, was dit seker van ons grootste intellektuele spronge en 'n instrument van ontdekking. Gaan lees weer Jacob Bronowski se singende essays hieroor in The Ascent of Man. Bome neem ons terug na die begin van menswees. Omdat die denkende mens na die universele soek en iets daarvan in geometrie vind, is die boom 'n enigma. Want bome se ontwerp, hul argitektuur, is totaal chaoties.
|
|
Die wildelaburnum, Calpurnia aurea, is 'n klein boom Dit is inheems aan ons immergroen en rivierwoude, |
Gaan lê 'n slag op die naat van jou rug, dig teen 'n boomstam en kyk boontoe. Die enigste herkenbare vorm in die wilde ontwerp is die skadulyn wat gewooonlik rond is, maar die stam en takke groei woes. En tog, as jy jou oog toelaat om effens buite fokus te dwaal, kom daar geleidelik patrone en ontwerpe uit die verstrengeling.
Ons inheemse bome is van die mooiste op aarde. Die kremetart, die platkroon-akasias van die bosveld en die kokerbome van die Richtersveld leen hulle tot stilering. Met of sonder blare bly hulle hemelse ontwerpe, die klein katedrale van die veld.
My inventaris van gunstelingbome lyk só: Die soetdoring (Acacia karroo) is na my mening die veelsydigste boom in Afrika. Die blare is die geliefde peuselkos van wild, die bottergeel en roomkleurige blomme ruik soet en swaar, 'n horde vlinders is afhanklik van die boom, die soet gom ... En dan die witgat. Koedoes "snoei" dié beskermde boom regdeur sy lang lewe en laat ons met beeldhouwerke wat 'n ganse landskap bepaal. Die asbleek stam met die geronde blarekoepel daarbo vorm die perfekte rusplek. Wanneer ek in Namibië jag, eet ek 'n lemoen in die skadu van 'n witgat. Dít bevestig ek is hier.
Die Namakwa-vy of klipbreker (Ficus cordata) moet seker een van ons onversetlikste bome wees. Ry noord van Garies en daar, teen die kaal wang van 'n rotsplaat, groei hy verbete. Die wortels kronkel soos slange oor en deur die klip en die enigste rooivlerkspreeus in die landskap roep uit die lower.
Olienhout (Olea europaea subspesie Africana) is my laaste keuse. Plant hierdie ikoon in jou tuin en wag vir die herfs wanneer die pers vruggies begin val. Uit die niet verskyn die geelbekbosduif - daardie skimvoël van die ruigtes, meel-ogies en tiptolle. Dan het jy soet voëlgesang by jou venster, skadu teen die laatsomerson en 'n boom wat vir ewig sal staan. Kan jy 'n kind stiller kry as om hom te laat boomklim of tussen takke en blare te laat wegkruip? Kan jy sagter insluimer as onder die diep skadu van 'n wilg teen 'n lui stroom? Kan jy meer uitgelewer voel as wanneer jy in die groen diepte van 'n klam woud stap? Plant 'n inheemse boom en klim daarin wanneer hy dit toelaat. Dan is jy ge-áárd, en kan jy met die kulturele ekoloog David Abram saampraat oor "die betowering van die sinnelike".
![]() |
![]() |
| Karmosynrooi vreugde: die huilboerboon, Schotia brachypetala. |
Afrikamarmer: die bemoste bas van die soetdoring, Acacia karroo. |
![]() |
![]() |
|
Groen herehuis: die wildepruim, |
Afrikamarmer: die bemoste bas van die |
VYF VAN DIE BESTES
Die lys van nasionale bome is lank. Die eerste omvattende opname is in 1965 gedoen, en het uit 1 009 spesies, subspesies en variëteite bestaan. In 1986 het die Dendrologiese Stigting 'n boekie met 1 073 genommerde spesies (wat onder 370 genera en 97 families geklassifi seer word) uitgegee. Hier is inligting oor vyf van ons genommerde skoonhede wat jou kan aanmoedig om inheems te plant.
Witgat: Ewe windgat staan die witgat (Boscia albitrunca var. albitrunca) in die droër dele van ons land waar sy groen sambreel mens én dier lawe. Dis 'n immergroen boom waaraan die geelste en geurigste blomsterre in die lente verskyn. Die blomme maak later plek vir ronde geel vruggies. Langs toeka se wapad het die witgat se wortels ook goed te pas gekom as die koffi e pitte op was. Die witgat steur hom nie aan droogte nie.
Witstinkhout: Celtis africana (witstinkhout, ook bekend as Kamdeboo-stinkhout) is 'n sierlike boom wat sy kroon wyd sprei en 'n slim keuse vir groter tuine. As hy genoeg water en kos kry en in vrugbare grond staan, kan hy tussen 1 m en 2 m per jaar rek. In die winter skud hy sy blare af en spog met 'n verruklike glinsterwit stam.
Swartolienhout: Olea europaea word geklassifi seer as 'n klein tot middelslagboom wat meestal tussen 5 m en 10 m hoog word. Dit sal goed aard in verskillende landstreke. Of jy dus 'n riviertuin het of op 'n koppie tuinmaak, oorweeg dié inheemse olyfboom met sy glansende grysgroen blare en bruinswart vruggies. Kan droogte en ryp vat.
Langblaargeelhout: Podocarpus henkelii, in die volksmond ook bekend as Henkel se geelhout of baster-outeniekwageelhout, is een van die mooiste en gewildste geelhoutsoorte. Dit is 'n bladhoudende naaldboom wat fi er groei en die wuiwende lower hang dikwels dig tot op die grond (mits die boom van alle kante genoeg lig kry), wat dit 'n wonderlike windskerm maak. Ook mooi is die boom se geelbruin bas wat in groot repe afskilfer om 'n satynsagte, rooibruin vel te wys.
Huilboerboon: Schotia brachypetala se opvallende karmosynrooi blomtrossies wat in die lente of vroegsomer aan ou hout verskyn, ruik hemelsoet en lok 'n magdom gevleuelde nektarjagters. Dié boom is halfbladhoudend en 'n goeie keuse vir 'n kleiner tuin omdat dit tussen 10 m en 12 m hoog word. Die jong blaartjies lyk of dit met brons getint is wanneer hulle oopvou, verkleur dan liggroen en word later blaargroen. As die winter aanbreek, skud die boom sy blommeprag af en dan verskyn groot, plat bruin peule. Die huilboerboon groei reg oor die land, veral in warm, droë gebiede. Die boom groei stadig, is droogtebestand, maar sensitief vir ryp as hy jonk is.
![]() |
![]() |
| Suiwer goud: die wilde laburnum, Calpurnia aurea |
Aantreklikste immergroen plant: Henkel se gellhoutboom, Podocarpus henkelii |
![]() |
![]() |
| Die Transvaalse liguster, Galpinia transvaalica |
Die kuskoraalboom, Erythrina caffra |
DIE BASIESE DINGE
- Kies die plek en soort boom uiters sorgvuldig. Kry kundige raad en stel vas hoe groot die volgroeide boom gaan wees. Plant 'n boom wat te groot gaan wees vir sy staanplek, en uiteindelik gaan dit sy dood beteken.
- Bereken die posisie van die son dwarsdeur die jaar, en waar die skaduwee in die somer en in die winter gaan val.
- Maak seker die boom gaan nie mettertyd te naby 'n muur of gebou groei nie, en dat sy blaredak nie tot in die buurtuin gaan strek nie. Bure is gewoonlik baie puntenerig as dit by 'n boom kom.
- Onthou dat die hoogte en ligging van omringende geboue die groei van die boom gaan beïnvloed, en dit opwaarts sal dwing.
- Groot bome is beskikbaar by spesialiskwekers, maar klein bome, wat op 'n goeie plek geplant is en deeglik natgelei word, aard makliker en groei vinniger.
- Herfs en winter is die ideale boomplanttyd, omdat die wortels tyd het om in die dormante seisoen gevestig te raak as die grond koel is.
- Vorm jou boom van vroeg af. Verwyder oortollige takke as dit minder as 1 cm dik is.
Verwante artikels
-
60 sekondes met Dave Pepler
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 1
Dié stories fokus grootliks op inheemse plante en elkeen word met 'n nostalgiese anekdote ingelei en in pragtige, liriese Afrikaans beskryf.
-
Dave Pepler blog: Die blondine in die kryt-wit Austin Healey
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Nee, hulle vra om ’n vrou wat ’n soliede sin van self het, en wat haar nie steur aan wat die mode voorskryf nie.
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
SARIE - November 2010
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
-
Dave Pepler blog: Snuf in die neus deel 2
SARIE - April 2010
Hoe breek jy weg van die bekende botteltjies op jou spieëlkas?
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Die reënboog van reuk
SARIE - Mei 2010
Dis maklik om kleur vas te pen, want ons het mos die rëenboog; geen wonder dat daar onlangs gevind is dat gesofistikeerde tale ryk is aan kleurbeskrywings nie.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Donker geure, wilde geure
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
As jy na ‘n roos wil ruik, dra een, en as jy na ‘n deurmekaar-tuin wil ruik, koop goedkoop reukwater.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Katjiepiering
SARIE - Mei 2010
Ek het vergeet hoe jonk ek was toe ek vroeg een oggend, in die lente van 1984, die lang kronkelpad opgestap het na die Alhambra in Granada, Spanje.
-
Jason Hartman oor roem, senuwees en bonsai-boompies
SARIE - Oktober 2009
-
Organiese pottetuinboek
SARIE - April 2009
Maak nie saak hóé groot jou tuin of patio is nie: Deur in potte te plant is dit maklik om die ontwerp van jou tuin te verander deur die potte rond te skuif soos die seisoene wissel. 'n Mens kan boonop byna enigiets in potte plant. The Organic Container...
-
Uit jou tuin-spens
SARIE KOS Herfs 2009
Om daagliks groente in jou eie agterplaas te pluk is hoogmode – en die kombuistuin word glad nie agter ’n muurtjie weggesteek nie
-
Uit my kruietuin
SARIE KOS - Herfs 2008
Spysenier Annalize Buchanan is op haar gelukkigste wanneer sy kruie kan proe in haar uithaler-disse



































Kommentaar
www.sarie.com het gesê:
Www sarie.. Super :)
3de Jun. 2011, 15:02marie het gesê:
Ek soek inligting oor die inheemse bome en bosse van Namibie. Veral die Aranos omgewing. webwerf of naam van boeke sal welkom wees.
24ste Mei. 2011, 17:18Heleen van Vuuren het gesê:
Inspirerend en baie besield.
17de Des. 2009, 11:26LIZETTE SWART het gesê:
as jy insperasie soek na 'n lang dag op kantoor of net wil relax - daar is een antwoord SARIE. as jy nie onbeperkte fo9ndse tot jou beskiking het nie en jy wil na mooi dinge in die lewe kyk - SARIE dankie vir 'n puik tydskrif
20ste Nov. 2009, 08:09