FOTO: verksaf

FOTO: verksaf

Boeke

Wie is Debora en seuns?

Wie is Debora en seuns? Waar kom hulle vandaan en wat doen hulle?

Margot Scott is gefassineerd deur Debora en haar drie seuns, van die dag af wat die gesin uit die nag uit in die Oos-Vrystaatse dorp verskyn het. Sommer net so. Sonder ’n storie en sonder ’n verduideliking. Sy vertel die verhaal van dié gesin, die Schlagerfeldts, asook haar en haar ma Susan se storie in Helene de Kock se roman, Debora en seuns (Human & Rousseau, R230). Die verhaal speel af in die tydperk voor en tydens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Margot en haar ma Susan woon oorkant die Schlagerfeldts en raak bevriend met hulle. Daar word wyd en syd in die dorp geskinder oor die gesin wat uit die niet verskyn het. Susan hou haar daaruit, want sy weet hoe dit voel om onder die skindertonge deur te loop. Sy het hoeka self jare gelede met ’n baba in die arms, sonder ’n man, in die dorp aangekom om skool te hou op die dorp. Ja, kleindorpse politiek speel ’n rol in die geskiedkundige verhaal waarin ’n hele klompie geheime uit die karakters se lewens stelselmatig ontbloot word. Margot en die Schlagerfeldtseuns se lewens is verweef met mekaar en mens kan nie wag om te sien hoe die klein lewensdrama’s ontvou nie. Boeiende karakters en ’n heerlike storielyn, sowel as grondige geskiedkundige navorsing, maak hierdie boek ’n genotvolle leeservaring.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ek het per e-pos met Helene gesels.

Waar kom die inspirasie vir die verhaal vandaan? Is dit suiwer fiktief, of was daar ’n insident of gebeurtenis wat bygedra het tot die ontstaan van die verhaal?
Die verhaal self is suiwer fiktief alhoewel sekere insidente tydens die Blitz in Londen wel plaasgevind het – ware insidente wat ek in die verhaal ingewerk het. Die bronnelys agter in die boek getuig hiervan. Die stimulus van die verhaal was egter die lot van die deursnee buitestander. Mense wat nuut en vreemd op ’n dorp aankom, vind soms dat hulle as buitestanders beskou word. Dit leer mens waardevolle lewenslesse en tog ontstaan wonderlike vriendskappe uit nuwe verhoudings wat mettertyd so opgebou word. Debora Schlagerfeldt en haar gesin is sulke buitestanders. Die bure, Margot Scott en haar ma, is die mense met wie hulle ’n onbreekbare verhouding opbou.

Watter navorsing moes jy doen om die verhaal geloofwaardig te kon skryf? En hou jy daarvan om die navorsing te doen?
Ja, ek hou baie daarvan om navorsing te doen. Tydens my studies vir ’n PhD het ek geleer om daarvan te hou. Ek het vir hierdie roman onderhoude met mense gevoer asook geweldig baie naleeswerk gedoen. Byvoorbeeld: Die dokter wat my mangels in 1948 uitgehaal het, het tydens die Blitz in Guy’s Hospital in Londen gewerk. Ek het jare gelede met sy vrou ’n onderhoud oor daardie tyd gevoer. Dit is ook nie die eerste maal dat ek oor daardie tydperk skryf nie. My boeke, Die herfsbelofte asook Ballade vir ’n bruid speel ook tydens die Tweede Wêreldoorlog af. Dit is op Amazon.com beskikbaar. Verder het ek met mense gesels wat in die negentig is en daardie tyd persoonlik beleef het. Vanselfsprekend het ek talle geloofwaardige boeke oor die onderwerp gelees, onder andere biografieë, ensovoorts. Die BBC se argiewe was ook werklik nuttig.

Watter karakter het hom/haar van die begin af duidelik aangemeld vir die verhaal?
Debora (die vrou in die titel) en Margot (die heldin en fokaliseerder) het hulle gelyktydig aangemeld. Debora, omdat sy die eintlike buitestander is en Margot omdat sy as hooffokaliseerder en fyn waarnemer alles van die Schlagerfeldt gesin helder sou kon uitbeeld.

Hoe skep jy jou karakters; op mense wat jy ken, mense wat jy uitdink?
’n Mens se lewenservaring asook ’n skrywer se herinnering is grootliks verantwoordelik vir die karakters wat geskep word. Ek skoei nooit my karakters op iemand wat ek ken nie – ek beskou dit as oneties. Die karakters in my boeke is almal ’n mengsel van my ervaring van medemense, my saamgestelde herinnering en ook natuurlik verdigsel. Verbeelding beteken immers om jou in iemand anders se skoene te kan stel. Ek skat dis waar my karakters vandaan kom.

Waarom Margot as die verteller inspan?
Margot Scott is die ideale persoon om as hooffokaliseerder te gebruik omdat sy so deel het aan al die Schlagerfeldts se lewens. Sy leer almal goed ken en hulle doen en late raak haar ten seerste. Verder glo ek dat ’n enkele perspektief in so ’n historiese roman met sy vele karakters, beter werk. Daarby is Debora en seuns tot ’n mate ook ’n wordingsroman – of dan ’n ‘coming of age’ roman. Margot is bitter jonk en sy, sowel as die drie Schagerfeldt seuns, word vinnig volwasse omdat hulle die oorlog eerstehands beleef. Margot, as fokaliseerder, gee ook ’n interessante blik, dink ek, op die ontstaan en groei van die vakgebied fisioterapie.

Die proloog is eintlik die einde van die verhaal, want hoofstuk een begin lank voor 1946. Hoe skryf jy? Is jy baie metodies en begin by die begin en laat die verhaal sy loop neem tot die einde, of skryf jy die einde soms eerste?
Nee, ek skryf nooit die einde eerste nie. Ek werk uiters metodies en herskryf geweldig baie. Ek redigeer my eie werk ook streng. Hierdie proloog is spesifiek so aangebied. Dit is inderdaad die einde in verbloemde vorm. Die naam van die man in die proloog word byvoorbeeld nie genoem nie. Dit kan enigeen wees. Dit is deels om die leser dadelik van die era bewus te maak en andersyds om nuuskierigheid te prikkel.

Wat van hierdie verhaal het jou persoonlik getref?
Die hele tydperk vanaf 1939 tot anderkant 1946 interesseer my nogal baie. Moontlik is dit omdat ek as klein kind die naoorlogse arm jare toe alles skaars was, goed onthou. Dit is natuurlik ook ’n ‘lekker’ periode om oor te skryf want die konflik is as’t ware ingebou.

Het jy ’n roetine wanneer jy skryf en kry jy soms skrywersblok?
Enige professionele skrywer moet ’n sekere roetine hê. Ek skryf soggens en smiddae tot sowat 6 uur smiddae. Nee, ek kry nie werklik skrywersblok nie. Ek kry wel tye wat ek minder geesdriftig voel oor die harde werk – want skryf is baie harde werk. Nogtans is dit vir my lekker en wil ek niks anders doen nie.