FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Wilna Adriaanse oor Dubbelspel se Ellie McKenna

Wilna Adriaanse se hoofkarakter in Dubbelspel is ene Ellie McKenna.

Dié rooikop polisievrou se hele wêreld is op sy kop gekeer. Haar polisieman-pa is doodgeskiet terwyl hy besig was met ’n padblokkade. Sy wil betrokke raak by die ondersoek na sy dood, maar dit word nie toegelaat nie. Sy kan ook nie eens lank van die werk af bly nie (nie dat sy wil nie!), want die eenheid vir ernstige misdade waarin sy werk het elke moontlike ondersoeker nodig. Die land beleef ’n aanslag van skelms wat met onderduimse dinge besig is, van die Chinese triades tot die Russiese mafia. En Ellie is betrokke in ondersoeke na die hele spul. Haar kêrel, Albert Greyling is ook in die polisie. Hy ondersoek dwelmbase wat die Kaap beheer. Hy sien ’n geleentheid om Ellie klandestien betrokke te kry in sy ondersoek. Natuurlik beteken dit Ellie moet bedank uit die polisie. Die nuwe werk bring haar in aanraking met die hele ou spulletjie wat op een of ander manier besig is met dwelms, geldwassery en smokkelry. En ook met Nick Malherbe wat aan die hoof staan van die een van die skelm families se veiligheid. Ek gaan nie uitbrei oor die storie nie, want dis een wat julle moet lees! Die storie vloei vlot en vinnig en boei van begin tot einde.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Al wat ek kan sê is dat die boek ’n baie gepaste titel het – die boek is vol van karakters wat besig is met daardie spel. Ek kan nie wag vir die volgende aflewering in Ellie McKenna se lewe nie. Dubbelspel word uitgegee deur Tafelberg.

Hierdie boek is ’n spanningsverhaal. Was dit ’n sprong om van die romantiese genre oor te beweeg na spanningsverhaal?
Ek het nie die sprong beplan nie en was self ietwat verbaas. Maar na 14 jaar van stories maak, vind ek dat stories universele eienskappe het. Selfs die romantiese genre het ook ’n spanningselement. En spanningsverhale het dikwels ook ’n romantiese draad. Die klem verskil dalk net. Op die ou end was die sprong toe nie so groot soos ’n mens sou verwag nie.

Waar het die inspirasie vir die storie vandaan gekom?
Ek het nie soseer inspirasie vir die storie gekry nie. Die hoofkarakter, Ellie McKenna het op ’n dag haar opwagting gemaak en ek moes maar net agter haar aanloop en kyk waarheen sy my neem.
Baie skrywers sê hulle begin altyd met ’n storie-idee, maar by my was dit sover altyd ’n karakter wat hom/haarself kom aanmeld.
Ek weet nie eers waar ek aan Ellie se van gekom het nie. Die van het een aand laat by my opgekom en ek moes dit Google om te sien of daar wel so ’n van bestaan.

Het jy die storielyn vooraf uitgeplot en streng daarby gehou of het die verhaal sy eie loop begin neem?
Ek is baie swak met ‘plotting’. Daar is sekere basiese dinge wat ek doen, soos byvoorbeeld om karakterbybels vir al die belangrike karakters op te stel. Daarin kom alle moontlike inligting – selfs irrelevante inligting soos waar hulle gebore is en op skool was.
Verder probeer ek soms ’n bietjie beplan, maar ek vind ek skryf op my beste as ek maar die storie sy loop laat neem. Dis soms senutergend, want jy weet nie waarheen dit jou gaan neem nie, maar dis ook baie opwindend en hou my op my tone.

Moes jy baie navorsing doen?
Ja, uiteraard weet ek nie veel van die wêreld waarin die verhaal afspeel nie, maar ek het wonderlike mense raakgeloop wat bereid was om met my hulle ervaring en kennis te deel. Dit is een van die lekkerste byvoordele van skryf – die interessante mense wat ’n mens so deur die navorsing ontmoet.
Wat ook interessant is, is hoe die werklikheid dikwels die verhaal waarmee ek besig is naloop. Miskien is ek net baie meer oplettend, maar gedurende die skryf van die storie het daar ’n hele paar dinge in die nuus gebeur wat baie mooi by die storie ingepas het. En het ek ook toevallig in gesprekke beland waar ek waardevolle inligting gekry het.

Waar kom die hoofkarakter Ellie vandaan?
Ek het een aand na ’n musiekuitvoering in ’n kerk geluister en terwyl ek op ’n stadium ietwat verveeld rondkyk, het ek in my verbeelding ’n jong vrou sien orrel speel. Die volgende oomblik het twee mans agter in die kerk ingeloop en sy het dadelik geweet hulle soek haar. En ek was nuuskierig . . .

Dan is daar Nick. . .
Nick was van die begin af daar, maar dit het lank geneem voor hy uit die skadu’s gekom het. Dit was asof hy eers die kat uit die boom gekyk het voor hy bereid was om deel van die storie te word.

Jy raak weer aan verhoudings in hierdie verhaal, veral Ellie se verhoudings. Waarom?
Die dinamika in verhoudings interesseer my. Of dit tussen ouers en kinders, tussen vriende of geliefdes is. Daar lê oneindige storiemoontlikhede in verhoudings. In my navorsing en gesprekke wat ek gehad het, het ek ook net weer besef dit maak nie saak wie en wat jy is, of watter soort werk jy doen nie. Êrens in jou lewe is jy in ’n verhouding/verhoudings betrokke.

Was dit ’n moeilike boek om te skryf?
Ja, maar nie soseer oor die storielyn nie. Ek het my vorige boek as deel van my Meestersgraad-kursus in Kreatiewe Skryfkuns geskryf. Dit was ’n heel ander soort boek. Met ’n Klein lewe (wat ’n soort memoir is), het ek die storie voor die tyd geken. Die verrassing was nie soseer wat volgende gaan gebeur nie, maar hoe ek my belewenisse gaan verwoord.
Met Dubbelspel het ek weer teruggekeer na my vorige skryfstyl, naamlik om ’n storie sy eie loop te laat neem, nie seker wat volgende gaan gebeur nie.

Die titel, Dubbelspel, hoe het jy dit gekies?
Titels kan soms ’n nagmerrie wees, veral as ’n mens feitlik klaar is met ’n boek en jy het steeds nie ’n idee wat ’n geskikte titel sal wees nie. Ek was een aand besig om ’n gedeelte te redigeer toe ek besef hoe die karakters eintlik met ’n spel besig is. Veral Nick en Ellie. En die spel wat jy sien, is ook nie noodwendig die enigste spel wat aan die gang is nie.

Wat het jou verras in die verhaal?
Die karakters wat hulleself kom aanmeld het, soos Brenda en Happy, om maar net twee te noem. Ek sou nooit twee sulke karakters kon beplan nie. Hulle was maar net op ’n dag daar, met al hulle hebbelikhede.

Kan jy so klein voorsmakie gee van wat met Ellie gaan gebeur in die volgende boek; gaan Nick weer oor haar pad kom?
Dinge gaan vir Ellie in die volgende boek ’n bietjie warm word. Nick is steeds op die toneel, soos die meeste van die oud-kollegas. Albert is ook nog daar. Wie op die ou end heelhuids daar gaan uitkom, sal ek ook maar nog moet sien.

Is dit maklik vir jou om elke keer ’n nuwe boek aan te pak, of kry jy soms skrywersblok?
Elke boek is moeilik. Selfs al kom meld die karakters aan. Dit is nie asof hulle met ’n klaar storie aankom nie. Ek moet hard werk om te sien waarheen hulle my wil neem. Die ergste is as hulle dae lank, selfs soms ’n week of twee stil raak. Dit is dan wanneer ’n mens soms ure lank na ’n wit muur kan staar, en niemand dit verstaan as jy sê jy is besig om te werk nie!