FOTO: verskaf

Boeke

Woorde is al vir baie jare Isabel Uys se besigheid.

Sy skryf reeds sedert 1996 veeltalige woordeboeke, feiteboeke en taalgidse. Woorde is die ding waarmee sy haar brood verdien, maar hopelik help dit ook duisende mense om woorde te leer.

Sy skryf ook feitegidse en daarin is soms ongewone plekke. En ja, daar is ‘n woord soos “Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskiet”. Isabel weet selfs waar dit is.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die mees onlangse boek wat uit haar pen kom, is The Basic English Afrikaans Xhosa Zulu Aid (Naledi, R134,56). Die boekie is gemik op almal wat wil leer hoe om mense in hul eie taal te groet en om darem te kan vra hoe dit gaan. Die formaat maak dit ideaal om saam met mens rond te dra, want dit is klein genoeg om in ‘n handsak te pas. Die woorde is ook ingedeel in onderwerpe soos musiek, beroepe, tuin ens. Dit maak dat mens nie hoef rond te soek nie. Wat ook help, is die kleurfoto’s van elk van die items wat gelys word.

Ek het per e-pos met Isabel gesels oor woorde.

Jy skryf feiteboeke, taalgidse en veeltalige woordeboeke. Hoe het dit gebeur?
Eintlik was ek net baie gelukkig. Ek het die regte boek op die regte tyd saamgestel. Toe ek ‘n jong ma met laerskoolkinders was, het ek baie tyd spandeer om hulle met huiswerk te help. Na jare van onderwys gee en 5 jaar as boekkeurder, waar ek aan ‘n magdom boeke blootgestel was en kosbare kennis oor alle boeke opgedoen het, was ek vol entoesiasme. Ek wou ‘n boek saamstel wat die meeste inligting wat leerders oor taal benodig, in een bron verskaf. So het The New Macro English Aid (huidige titel) ontstaan en dit was ‘n wegholsukses. Die boek is in 2013 vir die 15de keer herdruk en opgedateer.
Nou was ek begeesterd en die een boek na die ander het gevolg. In 1996 het my eerste veeltalige woordeboek verskyn, The English Afrikaans Xhosa Zulu Aid en in 1998 Die Afrikaanse Makro Gids. Daarna het daar nog talle boeke van my verskyn en ek is baie dankbaar dat die meeste baie goed gevaar het.
Vir aspirant skrywers wil ek net sê – ses uitgewers het nie belang gestel om my eerste boek (nou 20 jaar op die mark) te publiseer nie. So – moenie moed opgee nie!

Waar kom jou liefde vir skryf vandaan?
Skryf is nie my groot liefde nie, diere is. Maar ek is absoluut verslaaf daaraan en geniet die stimulasie, uitdagings en bevrediging wat ek daaruit kry. Ek kan nie ophou nie!

Wat is die moeilikste van woordeboeke en feiteboeke skryf?
Bronne wat kontrasterende en onakkurate inligting verskaf. Ek sukkel soms vir weke om, wat ek hoop, die korrekte inligting te kry. Ek werk deur baie bronne en gebruik dan die inligting wat in die meeste bronne soortgelyk is. Die lengte van riviere en hoogte van berge is hier ‘n goeie voorbeeld. Dis ook belangrik om die nuutste inligting te bekom.
In veeltalige woordeboeke met Afrikatale is die probleem om die maklikste woord te kry wat vir taalaanleerders geskik is. Ek gebruik alle moontlike woordeboeke in die tale wat ek soek om ‘n aanvaarbare woord te kry wat korrek is.

Gebruik jy self woordeboeke?
My boekrak is vol woordeboeke. Op my lessenaar is gewoonlik ‘n paar. Ek kan nie daarsonder skryf nie. Ek soek soms die eenvoudigste woord op en leer ook baie, veral van “nuwe” Afrikaanse woorde.

Wat is die mees ongewone woord wat jy al teegekom het?
In die Afrikatale is daar baie wat my my arms in die lug laat gooi . Dis nie altyd ongewone woorde nie, maar so lank en moeilik om te spel. Horoskoop  in Xhosa is bv. ukuma kweenkwenkwezi ngexesha elithile ekufundwa kuko ikamva lomntu. Dis eintlik ‘n beskrywing van wat ‘n horoskoop is, maar daar is nie ‘n ander woord beskikbaar nie.
In Afrikaans is daar ‘n hele verskeidenheid ongewone woorde waarvan die bekende naam “Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskiet” seker die algemeenste is. Dis die naam van ‘n plaas 200 km wes van Pretoria.

Wat is die waarde van ander tale in mense se lewens?
Ek dink veeltaligheid is baie nodig in Suid-Afrika. Dit verbeter verhoudings en vorm nuwe vriendskappe. Dit maak ook deure oop vir werksoekers. Alle mense hou daarvan om in hul eie taal aangespreek te word. Ons waardeer dit as iemand moeite doen om in ons taal te probeer praat al kom die woorde ook krom en skeef uit. Dis ook nie nodig om aanvanklik baie van bv. ‘n Afrikataal te weet nie. Slegs ‘n paar woorde is vir eers genoeg. Woorde soos “dankie”, “asseblief”, “môre”, “totsiens” en ‘n paar frases soos “Hoe gaan dit?” (Unjani in Xhosa en Zoeloe) sal ‘n groot glimlag veroorsaak en ‘n goeie begin wees.

Nelson Mandela se aanhaling is baie waar: “Speak to a person and you speak to his mind. Speak to a person in his own language and you speak to his heart.”

Volgens jou, watter ander taal moet Afrikaanssprekendes (buiten Engels) aanleer?
Ek dink mense moet die Afriktaal aanleer wat die meeste in hulle woongebied gepraat word, bv. Xhosa in die Wes-Kaap en Zoeloe in KwaZulu-Natal.