FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Boeke

Yolandé Korkie beskryf die rouproses as ’n vingerafdruk

Die rouproses is vir elkeen anders. Dis soos ’n vingerafdruk, verduidelik Yolandé Korkie. “My vingerafdruk is uniek. Net so is elke mens se vingerafdruk uniek. So is dit ook met rou. Elkeen hanteer hierdie proses op sy eie manier.”

Sy praat sag en weeg eers haar woorde voordat sy op my vrae antwoord. Wanneer jy haar boek, 558 Dae (Christelike Uitgewersmaatskappy, R299,95) lees, verstaan jy waarom sy eers haar gedagtes agtermekaar kry voordat sy iets sê. Tydens haar en haar man, Pierre, se ontvoering en aanhouding in Jemen is hulle verskeie kere ondervra. Die ondervraging was meëdoenloos en moes hulle oor en oor dieselfde vrae antwoord. Yolandé is verkeerdelik aangesien vir ’n Amerikaner en deur die ondervraging is daar gepoog om haar te laat erken sy is Amerikaans. Dis ’n dramatiese vertelling van hoe die gebeure uitgespeel het. Jy is saam met haar en Pierre waar hulle in ’n warm, asemlose vertrek aangehou het. Jy beleef deur haar vertelling hulle angs, afgryse, kommer oor hul kinders en spanning oor hul situasie. Saam met haar ervaar jy die verligting wanneer sy uiteindelik ná spanningsvolle onderhandelings vrygelaat word. Dan kom die onsekere tye van wag – op nuus van Pierre, en op sy vrylating. Helaas . . . Daar was nie ’n gelukkige einde van ’n pa wat met sy vrou en kinders herenig is nie. Maar in hierdie roerende boek bring sy hulde aan haar geliefde eggenoot en die liefde tussen hulle wat haar help oorleef het. Dis ’n intens persoonlike verhaal oor ontsaglike ontberings en sterk geloof, wat jou nie onaangeraak sal laat nie.
558 dae

Was dit moeilik om die boek te skryf?
Ek het in Februarie verlede jaar begin, maar so stadig, so staan en val. Ek het nie eintlik geweet hoe ek hierdie ding gaan aanpak nie. Ek het elke keer gedink ek weet wat ek in dié hoofstuk gaan skryf en dan stuur die Here die hoofstuk in ’n ander rigting. As ek klaar is met ’n hoofstuk, dan dink ek, sjoe. As ek terugkyk besef ek dis nie ek wat gaan uitpluis het hoe en wat daar gebeur het nie. Dit was ’n geweldige openbaring vir my om te sien hoe die Here die drade stukkie vir stukkie uittrek, die temas uitmekaar haal, die punte, die emosies en die gebeurtenisse. Dit was alles deurmekaar binne my. Daar was goed wat ek nie geweet het ek sou onthou nie. Daar is goed wat ek nou onthou, wat ek nooit onthou het nie.

Ek het gelees dat Pierre se joernale by jou uitgekom het, terwyl jy aan die boek geskryf het. Was dit baie emosioneel vir jou?
Dit was in April. Toe hou ek sommer op skryf. Ek wou net daar stop. Dit was te erg om te lees. Ek was weer daar. Omdat ek geweet het hoe dit voel, was ek weer daar. Om sy reis te sien, maar daar was dele wat ons nie gekry het nie. Gelukkig het Maretha Maartens (vertaler) so aan die kant gestaan en my aangepor. Sy het my opgeklop en gesê: “Skryf net hierdie hoofstuk waar jy nou is. Ons sal kom by die ander goed.” Die einde van April het ek weer weggetrek en geskryf. Toe gaan ons weer hoofstuk vir hoofstuk aan. Dit was ’n geweldige skok om die journals te kry, maar ek is dankbaar. Wat ’n ongelooflike voorreg om daai briewe van hom, sy gedagtes, en sy liefdesbriewe aan ons, te kon sien.

Hoekom wou jy die boek skryf?
Ek het al vroeg in die eerste ure van die ontvoering besef ek moet hierdie goed wat met ons gebeur dagboek sodat ek vir die kinders, en hulle vir hulle kinders, eendag kan vertel. Sodat ons kan terugkyk. Baie keer met die terugkyk, sien ons wat die Here se plan was. Ons kan dit nie altyd in die oomblik sien nie. Maar ons wou die gebeure so eg as moontlik in reële tyd skryf in dagboekvorm: wat gebeur, hoe voel ons nou, sodat ons die storie kan vertel. Dis ’n opdrag van die Here en toe ek uitkom, toe besef ek ek sal nog by die storie uitkom, Pierre se storie. Ek gaan vir hom wag . . . Dis hoekom niemand die storie gehoor het nie. Ek het nie gepraat nie. Ons was besig met Pierre. Ons het hom geslaap, geëet, gedrink. Letterlik toe hy dood is, toe besef ek dis nie meer net ons storie nie, dis ook God se storie. Ek het dit neergeskryf soos dit gekom het. Dis regtig net ’n openlike woord vir woord, minuut vir minuut vertelling. Dis letterlik hoe dit gebeur het.

Het jy ’n mate van afsluiting ervaar deur die skryf van die boek?
Mense vra dit nogal. Ek dink afsluiting is soos die rouproses, dis ’n reis. Dis nie iets wat noodwendig op een oomblik gebeur en dis klaar nie. Die boek het definitief bygedra tot ’n verheldering van wat presies gebeur het en het emosies uitgesorteer. Bo alles was dit ’n duidelike boodskap wat ek en die kinders gesien het: Pierre is dood, maar God se liefde het nie gesterf nie.

Het jou kinders, Lize-Mari en Pieter-Ben, die boek gelees?
Ja. Dit het moeilik gegaan met tye. Ek het party stukke wat ek gevoel het vir hulle te swaar was vir hulle voorgelees.

Vir jou as ma moes dit baie erg gewees het, die onsekerheid oor hoe dit met jou kinders gaan, terwyl julle in aanhouding was.
Dit was. Ons was daai eerste paar dae verteer deur die nie weet wat gebeur met die kinders nie . . . Dit het gevoel of ’n stuk uit my geskeur het. Dit was intense dae. As jy regtig nie meer kan beheer hê nie. Dis vertroue – op die Here en op die mense rondom jou.

Hoe moeilik was dit vir die kinders toe hulle alleen agtergebly het ná julle ontvoering?
Ek verstaan nou eers as ek sien hoe hulle gecope het. Hoe hulle mekaar ondersteun het en ’n aflos gemaak het. Dan’s die een okei en neem oor, dan’s die ander een weer okei en neem weer oor. Hulle het hul eie verhaal en hul eie pad wat nie altyd sigbaar was vir die wêreld nie. En dis ook reg so. Ons was so dankbaar dat Lize-Mari nie daardie dag saam met ons was nie. Dit was so amper of sy het nie by die huis gebly nie . . .

Julle het eers heelwat later uitgevind wie julle verraai het. Toe julle uitgevind het dit was die hekwag, was dit ’n skok?
Dit was ’n ontsettende skok. Ek dink beide ek en Pierre het ’n bietjie naïewiteit oor mense. Ons het regtig ’n pad gestap saam met die mense saam met wie ons gewerk het en die wat vir ons gewerk het. Ons het almal die voordeel van die twyfel gegee. Ons het onrustigheid gehad oor hom spesifiek, oor ander insidente wat ons gesien het, maar die goed het nie lekker inmekaar gesteek nie. Dit was ’n skok om te besef dit was hy en ons het gewonder wie dan nog in ons binnekring Judasse was.

Waarom wou julle juis in Jemen gaan werk het? Uit jou boek is dit duidelik dat daar reusekultuurverskille is?
Die kultuur was ’n dag en nag-verskil. Ons het gegaan, want ons het gevoel ons gaan om te dien en het aangepas by die kultuur sover ons kon. Ons het nie ons waardes gekompromiteer nie, maar ons het regtig gegaan met respek. Ons raak voor die Grieke soos die Grieke, en voor die Romeine soos die Romeine. Ons het ontsettend baie geleer uit daardie kultuur, wat vir ons baie verrykend was. Ons het nie besef hoeveel goed in ons Suid-Afrikaanse kultuur agterstevoorom is nie. Ons is in die Westerse wêreld baie selfgesentreerd. Dit gaan oor die ek en alles wat myne is. En jy en joune is verkeerd. Ons is nooit regtig op ’n plek van “wat is dit van hierdie kultuur wat sinvol is” nie. Iets wat vir my regtig spesiaal was, is die manier hoe die gesinne in die Arabiese kultuur vir hul ouers en hul grootouers sorg. Huise word gebou sodat die oupa en ouma by hulle kan inwoon. Daar word elke keer nog ’n laag op ’n huis gebou, oupa en ouma heel onder, pa en ma op die middel-verdieping en die kinders heelbo.Hulle het ’n sorg-mentaliteit. As oupa en ouma nie kan eet nie, eet hulle by ons. As kinders grootgemaak word, is dit ’n familie besigheid. Almal neem deel.

Jy skryf in die boek dat jou en Pierre se verhouding in aanhouding verdiep het. Het die spanning en ongewone situasie julle nie juis uitmekaar gedryf nie?
Dit kon so gewees het. Ons het nie iets spesifiek gedoen nie, maar Pierre het dit so mooi gesê: ons is ’n driedubbele tou saam met die Here. Hy hou ons aan mekaar vas en ons hou aan Hom vas. Daaruit het ’n praktiese uitlewing gekom van die Here se gedagtes en Sy wil vir ons. Ons kon dit uitleef teenoor mekaar. Dit kon so maklik verkeerd verloop het, maar die teenoorgestelde het gebeur. Dit was ’n kosbare geskenk wat ek vir die res van my lewe sal koester ten spyte van ’n horrendous situasie.

Was daar tye wat jy gevoel het ‘dis te veel, ek kan nie aangaan nie.’?
Daar was definitief sulke dae. Daar was vir ons altwee sulke dae en uit Pierre se joernale kan ek sien daar was vir hom baie sulke dae. Ten minste toe ons saam was, kon ons mekaar bemoedig, oplig, lief hê. As jy alleen is, of as jy saam met ander mense is wat jy nie ken of kan vertrou nie, dan is jy regtig alleen.

Wat was die moeilikste, die fisieke of die emosionele ongemak?
Die emosionele was by verre die ergste. Ons kan regtig sonder al ons fieterjasie-goedjies klaar kom, ons klere, haardroër en grimering. Dis nie lekker nie, maar die emosionele was die swaarste. Om nie met ons mense te kon praat nie, om nie te connect met ons geliefdes daar buite nie, dit was die ergste.

Het julle nog kontak met jul Jemeense vriende?
Ja, baie. Dit gaan baie sleg in Jemen met die oorlog wat aan die gang is. Hulle stuur foto’s van plekke waar ons geloop het, piekniek gehou het, dis weggeblaas. Hulle is die heeltyd in trauma. Die verhouding het ook verdiep met alles wat gebeur het, vantevore met Pierre se dood en nou weer met die oorlog. Dit is regtig ’n kosbare geskenk dat ek hulle nog as vriende kan hê.

Hoe gaan mens aan met jou lewe ná so ingrypende en lewensveranderende gebeurtenis?
Elke dag kies ons om aan te gaan. Omdat ons Christene is, gaan ons nie heeldag rond sweef op wolkies nie. Ons moet elke dag die Here se woord vertrou. Ons kies elke dag ons houdings, hoe gaan ons met mekaar wees, hoe gaan ons die dag sien. Elke dag is belangrik. Vandag is dié dag.

Belangrikste les wat jy aan ander wil oordra?
Dis ’n moeilike vraag. Dat God regtig in staat is om ons deur sy gees te dra, as ons nie meer kan nie. Ons hoef dit nie te voel nie, ons hoef dit nie te beleef nie. Ons moet net vertrou.

Jy skryf in die boek oor vergifnis. Waar is jy nou in dié proses?
Op die mediakonferensie het ons gesê ons vergewe die mense. Ná die tyd het hulle gevra wat van die Amerikaners en wat nou van die regering en die en daai. Ek het besef almal hoort in daardie een boksie. Ek kan nie een ou uit daardie boksie haal nie. Ons gaan hierdie klomp vergewe, maar ons gaan nie daardie klomp vergewe nie. So vergifnis is vir almal. Omdat die Here ons vergewe het, kan ons almal vergewe. Dis weereens ’n keuse. Vergifnis beteken nie om die dade goed te keur nie. Dis nie dieselfde nie. Vergifnis spreek vry. Dis elke dag se keuse. Dis nie een keer se vergewe en nou is dit great nie. Dis ’n proses. Mense moet nie dink hierdie is ’n feëverhaal nie. Dit is hoekom ek gekies het om die storie te vertel. Dit is so, ons kry swaar en daar is slegte dae en daar is tye wat ons dink, ek kan nie meer nie. Maar ons kom met die hulp van die Here daardeur.

Hoe gaan dit met jou kinders?
Hulle gaan vorentoe dag vir dag. Ons ondersteun mekaar, wanneer een swaar trek, dan help die ander twee. Dis ’n spanpoging.